Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouers, help julle kinders om geloof op te bou

Ouers, help julle kinders om geloof op te bou

“Jong manne en ook maagde . . . Laat hulle die naam van Jehovah loof.”—PS. 148:12, 13.

LIEDERE: 88, 115

1, 2. (a) Voor watter uitdaging kom ouers te staan, en wat kan hulle hiermee help? (b) Watter vier punte sal ons nou bespreek?

“ONS glo in Jehovah, maar dit beteken nie noodwendig dat ons kinders sal glo nie”, het ’n egpaar in Frankryk gesê. Hulle het bygevoeg: “Geloof is nie iets wat jy erf nie. Ons kinders bou dit bietjie vir bietjie op.” ’n Australiese broer het geskryf: “Om jou kind te help om geloof op te bou, is waarskynlik die grootste uitdaging waarvoor jy ooit te staan sal kom. Jy moet elke beskikbare hulpmiddel gebruik. Jy dink dalk dat jou antwoord op jou kind se vraag hom tevrede gestel het. Dan vind jy dat hy later dieselfde vraag weer vra! Die antwoorde wat jou kind se weetgierige verstand vandag tevrede stel, is dalk nie môre vir hom genoeg nie. Jy moet party onderwerpe dalk gereeld bespreek.”

2 Wonder jy as ’n ouer soms of jy werklik daarin sal slaag om jou kinders te leer en te vorm sodat hulle sterk geloof sal hê? Eintlik sal nie een van ons dit kan doen as ons op ons eie wysheid staatmaak nie! (Jer. 10:23). Maar ons kan sukses behaal as ons op God se leiding vertrou. Kom ons bespreek vier dinge wat jou in staat kan stel om jou kinders te help om geloof op te bou: (1) Jy moet hulle goed ken. (2) Onderrig hulle uit jou hart. (3) Gebruik goeie illustrasies. (4) Wees geduldig en maak staat op gebed.

JY MOET JOU KINDERS GOED KEN

3. Hoe kan ouers Jesus se voorbeeld volg wanneer hulle onderrig?

3 Jesus was nie bang om sy volgelinge te vra wat hulle glo nie (Matt. 16:13-15). Volg sy voorbeeld. Vra jou kinders, in ’n ontspanne atmosfeer, om hulle gevoelens uit te druk. Dit sluit in dat hulle moet praat oor dinge waaroor hulle onseker voel of twyfel. ’n Vyftienjarige broer in Australië het geskryf: “My pa praat dikwels met my oor my geloof en help my om te redeneer. Hy vra: ‘Wat leer die Bybel?’ ‘Glo jy wat dit sê?’ ‘Waarom glo jy dit?’ Hy wil hê dat ek in my eie woorde moet antwoord en nie net sy of my ma se woorde moet herhaal nie. Namate ek ouer geword het, moes ek beter verduidelikings gee.”

4. Waarom is dit belangrik om ’n kind se vrae ernstig op te neem? Gee ’n voorbeeld.

4 As ’n kind onseker is oor ’n leerstelling, moet jy nie oorreageer of te gou wees om sy beskouing reg te stel nie. Help hom geduldig om oor die saak te redeneer. “Neem jou kind se vrae ernstig op”, het een pa gesê. “Moenie dink dat dit onbelangrik is nie en moenie ’n onderwerp vermy bloot omdat dit jou ongemaklik laat voel nie.” Dit is eintlik goed om jou kind se opregte vrae te beskou as ’n teken dat hy omgee en wil verstaan. Toe Jesus maar net 12 jaar oud was, het hy ernstige vrae gevra. (Lees Lukas 2:46.) “Toe ek gesê het dat ek wonder of ons die ware godsdiens het”, vertel ’n 15-jarige seun in Denemarke, “het my ouers kalm gebly—al was hulle moontlik bekommerd oor my. Hulle het die Bybel gebruik om al my vrae te beantwoord.”

5. Hoe kan ouers toon dat hulle nie net aanneem dat hulle kind geloof het nie?

5 Leer jou kinders goed ken—hoe hulle dink, hoe hulle voel en wat hulle bekommernisse is. Moet nooit aanneem dat hulle geloof het net omdat hulle saam met jou Christelike vergaderinge bywoon en velddiens doen nie. Praat oor geestelike sake wanneer jy met jou daaglikse bedrywighede besig is. Bid saam met en vir jou kinders. Wees bewus van enige toetse van geloof waarvoor hulle te staan kom en help hulle daarmee.

ONDERRIG HULLE UIT JOU HART

6. Hoe help dit ouers om onderrigters te wees as hulle self lief is vir Bybelwaarheid?

6 As ’n onderrigter het Jesus harte bereik omdat hy lief was vir Jehovah, God se Woord en mense (Luk. 24:32; Joh. 7:46). Sulke liefde sal ouers ook help om hulle kinders se hart te bereik. (Lees Deuteronomium 6:5-8; Lukas 6:45.) Ouers, julle moet dus goeie studente van die Bybel en van ons studiehulpe wees. Leer meer oor die skepping en lees artikels in ons publikasies wat hierdie onderwerp bespreek (Matt. 6:26, 28). Dit sal julle kennis uitbrei, julle waardering vir Jehovah vergroot en julle beter toerus om julle kinders te leer.—Luk. 6:40.

7, 8. Wat sal die resultaat wees as Bybelwaarheid in ’n ouer se hart is? Gee voorbeelde.

7 Wanneer Bybelwaarheid in jou hart is, sal jy met jou gesin daaroor wil praat. Moet dit nie net doen tydens gesinsaanbidding of wanneer julle vir Christelike vergaderinge voorberei nie, maar ook op ander tye. Sulke besprekings moet natuurlik en spontaan wees—dit moet deel wees van julle daaglikse gesprekke. ’n Egpaar in die Verenigde State praat oor Jehovah wanneer hulle iets moois in die natuur sien of lekker kos geniet. “Ons herinner ons kinders aan die liefde en beplanning wat gepaardgegaan het met alles wat Jehovah aan ons voorsien het”, sê die ouers. Wanneer ’n egpaar in Suid-Afrika saam met hulle twee dogters in die tuin werk, gesels hulle oor die wonders van die skepping, soos die feit dat sade ontkiem en plante word. Hulle sê: “Ons probeer diep respek in hulle opbou vir lewe en hoe kompleks dit is.”

8 ’n Pa in Australië het sy seun na ’n museum toe geneem toe hy omtrent tien jaar oud was. Die pa het besluit om hierdie besoek te gebruik om sy seun te help om sy geloof in God en die skepping te versterk. “Ons het ’n uitstalling gesien van seediertjies uit die oertyd, wat ammoniete en trilobiete genoem word”, sê die pa. “Ons het opgemerk dat hierdie uitgestorwe diertjies pragtig, kompleks en volledig is—net soos die seediere wat ons vandag sien. As komplekser lewensvorme uit eenvoudige lewensvorme geëvolueer het, waarom was hierdie diertjies alreeds so kompleks? Dit was ’n les wat ’n groot indruk op my gemaak het en wat ek aan my seun oorgedra het.”

GEBRUIK DOELTREFFENDE ILLUSTRASIES

9. Waarom is illustrasies doeltreffend, en hoe het een ma getoon dat dit die geval is?

9 Jesus het dikwels illustrasies gebruik omdat dit mense laat dink, hulle hart bereik en hulle help om te onthou (Matt. 13:34, 35). Kinders het gewoonlik ’n lewendige verbeelding. Ouers, julle moet dus goed gebruik maak van illustrasies wanneer julle onderrig. ’n Ma in Japan het dit gedoen. Toe haar twee seuns onderskeidelik agt en tien jaar oud was, het sy hulle geleer omtrent die aarde se atmosfeer en met hoeveel sorg Jehovah dit gemaak het. Sy het dit gedoen deur vir die seuns melk, suiker en koffie te gee. Toe het sy elkeen gevra om vir haar ’n koppie koffie te maak. “Hulle het dit met groot sorg gedoen”, het sy verduidelik. “Toe ek hulle gevra het waarom hulle dit met soveel sorg gedoen het, het hulle gesê dat hulle die koffie wou maak soos ek daarvan hou. Ek het verduidelik dat God die gasse in die atmosfeer met soortgelyke sorg gemeng het—sodat dit net reg is vir ons.” Hierdie illustrasie was gepas vir hulle ouderdom, en dit het hulle aandag meer geboei as wat net haar woorde sou. Ons kan seker wees dat hulle die les lank onthou het!

Jy kan algemene dinge gebruik om geloof in God as die Skepper op te bou (Sien paragraaf 10)

10, 11. (a) Watter illustrasie kan jy gebruik om jou kind te help om geloof in God op te bou? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Watter illustrasies het jy doeltreffend gevind?

10 Jy kan selfs ’n resep gebruik om jou kind te help om sy geloof in God op te bou. Hoe? Nadat jy ’n koek of koekies gebak het, kan jy verduidelik dat ’n resep nodig was. Gee dan vir jou kind ’n vrug, miskien ’n appel, en vra: “Het jy geweet dat hierdie appel eintlik met ’n ‘resep’ begin het?” Sny die appel middeldeur en gee vir hom ’n pitjie. Jy kan vir hom sê dat die resep in die pitjie, of saadjie, “geskryf” is, maar in ’n taal wat baie ingewikkelder is as die woorde in ’n resepteboek. Jy kan vra: “As iemand die resep vir die koek geskryf het, wie het dan die resep vir die appel geskryf?” Jy kan aan ’n ouer kind verduidelik dat die resep vir die appel—trouens, die resep vir die hele boom waaraan dit gegroei het—deel van die kode in die DNS is. Julle kan dalk saam kyk na party van die prente op bladsy 10 tot 20 van ons brosjure Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe.

11 Baie ouers geniet dit om artikels in die reeks “Is dit ontwerp?” in die Ontwaak! met hulle kinders te bespreek. Of hulle gebruik hierdie artikels om inligting op ’n eenvoudige manier aan jong kinders oor te dra. ’n Egpaar in Denemarke het vliegtuie byvoorbeeld met voëls vergelyk. “Vliegtuie lyk soos groot voëls”, het hulle gesê. “Maar kan vliegtuie eiers lê en klein vliegtuigies uitbroei? Het voëls ’n spesiale plek nodig om te land? En klink die geluid wat ’n vliegtuig maak vir jou soos die gefluit van ’n voëltjie? Wie dink jy is slimmer—die man wat ’n vliegtuig gemaak het of die Persoon wat voëls geskep het?” As jy so redeneer en goeie vrae gebruik, kan jy jou kind help om “denkvermoë” te ontwikkel en geloof in God op te bou.—Spr. 2:10-12.

12. Hoe kan illustrasies kinders help om geloof in die Bybel op te bou?

12 Doeltreffende illustrasies kan ook ’n kind se geloof in die akkuraatheid van die Bybel versterk. Kyk byvoorbeeld na Job 26:7. (Lees.) Hoe kan jy toon dat hierdie teks geïnspireerd is? Jy kan net feite noem, maar sal dit nie beter wees om jou kind se verbeelding aan die gang te sit nie? Noem die feit dat Job gelewe het lank voordat daar teleskope en ruimtetuie was. Jou kind se taak kan wees om te wys hoe moeilik dit vir party mense sou wees om te glo dat ’n groot voorwerp, soos die aarde, op niks rus nie. Die kind kan ’n bal of ’n klip gebruik om te toon dat ’n voorwerp nie vanself in die lug kan bly nie. So ’n les sal jou kind help besef dat Jehovah feite in die Bybel laat opteken het lank voordat mense dit kon bewys.—Neh. 9:6.

HELP HULLE OM DIE WAARDE VAN BYBELBEGINSELS TE SIEN

13, 14. Hoe kan ouers hulle kinders help om die waarde van Bybelbeginsels te sien?

13 Dit is baie belangrik dat jy jou kinders help om die waarde van Bybelbeginsels te sien. (Lees Psalm 1:1-3.) Daar is baie maniere waarop jy dit kan doen. Jy kan jou kinders byvoorbeeld vra om hulle te verbeel dat hulle op ’n afgeleë eiland gaan bly en ’n paar mense moet kies om saam met hulle daar te gaan bly. Vra dan: “Watter eienskappe moet elke persoon hê sodat almal in die groep in vrede kan saam woon en goed oor die weg kan kom?” Jy kan ook met hulle gesels oor die wyse riglyne in Galasiërs 5:19-23.

14 Deur dit te doen, kan jy jou kinders twee belangrike lesse leer. Eerstens, God se standaarde bevorder ware vrede en eenheid. Tweedens, Jehovah berei ons voor vir die lewe in die nuwe wêreld deur die opleiding wat hy nou voorsien (Jes. 54:13; Joh. 17:3). Jy kan die praktiese waarde van hierdie punte toon deur ’n ondervinding uit ons publikasies te gebruik. Dit kan kom uit die reeks “Die Bybel verander lewens”, wat in Die Wagtoring verskyn. Of as iemand in jou gemeente groot veranderinge in sy lewe aangebring het om Jehovah te behaag, kan jy hom nooi om sy verhaal vir julle te kom vertel. Sulke voorbeelde help jou kinders om die waarde van Bybelbeginsels te sien!—Heb. 4:12.

15. Wat sal jou help om jou kinders te leer?

15 Die punt is: Wanneer jy jou kinders leer, moet jy nie dieselfde metodes oor en oor gebruik nie. Gebruik jou verbeelding. Kry jou kinders aan die dink en hou hulle ouderdom in gedagte. Maak die leerproses opwindend en geloofversterkend. “Moet nooit ophou om na nuwe maniere te soek om ou onderwerpe te bespreek nie”, het een pa gesê.

WEES GETROU, GEDULDIG EN MAAK STAAT OP GEBED

16. Waarom is geduld belangrik wanneer jy jou kinders leer? Gee voorbeelde.

16 God se gees is nodig om sterk geloof op te bou (Gal. 5:22, 23). Maar geloof het ook tyd nodig om sterk te word. Dit sal dus geduld en volharding verg om jou kinders te leer. “Ek en my vrou het ons kinders baie aandag gegee”, het ’n pa met twee kinders in Japan gesê. “Vandat hulle baie jonk was, het ek 15 minute elke dag met hulle gestudeer, behalwe op die dae dat ons Christelike vergaderinge gehad het. Vyftien minute was nie te moeilik vir hulle of vir ons nie.” ’n Kringopsiener het geskryf: “As ’n tiener het ek nie oor al my vrae of twyfelgedagtes gepraat nie. Mettertyd is baie hiervan by die vergaderinge of gedurende gesins- of persoonlike studie bespreek. Daarom is dit belangrik dat ouers hulle kinders bly leer.”

Om ’n doeltreffende onderrigter te wees, moet God se Woord eers in jou hart wees (Sien paragraaf 17)

17. Waarom is dit belangrik dat ouers ’n goeie voorbeeld stel, en hoe het ’n egpaar so ’n voorbeeld vir hulle dogters gestel?

17 Jou voorbeeld van geloof is natuurlik baie belangrik. Jou kinders sal dit sien, en dit sal beslis ’n goeie uitwerking op hulle hê. As ouers moet julle dus aanhou om julle eie geloof op te bou. Laat julle kinders sien hoe werklik Jehovah vir julle is. Wanneer ’n egpaar in Bermuda voor moeilikhede te staan kom, bid hulle saam met hulle kinders om Jehovah se leiding te vra, en hulle spoor hulle kinders aan om ook op hulle eie te bid. “Ons sê ook vir ons oudste dogter: ‘Vertrou ten volle op Jehovah, bly besig in Koninkryksdiens en moet jou nie te veel bekommer nie.’ Wanneer sy sien hoe dinge uitwerk, weet sy dat Jehovah ons help. Dit het wondere verrig vir haar geloof in God en in die Bybel.”

18. Wat moet ouers nooit vergeet nie?

18 Op die ou end moet kinders natuurlik hulle eie geloof opbou. As ouers kan julle plant en natgooi. Net God kan dit laat groei (1 Kor. 3:6). Bid dus vir sy gees en werk hard om julle kosbare kinders te leer, want sodoende gee julle Jehovah baie om te seën.—Ef. 6:4.