Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind baat by die leiding wat Jehovah vandag gee

Vind baat by die leiding wat Jehovah vandag gee

’N WYSE BESLUIT IN POLE

“EK IS gedoop toe ek 15 jaar oud was en het ses maande later as ’n hulppionier begin dien. Ná ’n jaar het ek aansoek gedoen om as ’n gewone pionier te dien. Toe ek my hoërskoolopleiding voltooi het, het ek aangebied om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Ek wou my tuisdorp verlaat en ek wou nie meer by my ouma bly, wat nie een van Jehovah se Getuies was nie. Dit was vir my ’n groot teleurstelling toe die kringopsiener vir my sê dat my tuisdorp my gebied sal wees! Ek het my gevoelens vir hom probeer wegsteek. Toe het ek bedruk weggestap en gedink aan wat hy gesê het. Ek het vir my velddiensmaat gesê: ‘Ek dink ek is nou soos Jona. Maar op die ou end het Jona wel na Nineve gegaan. Ek sal dus ook dien waar ek gestuur word.’

“Ek dien nou al vier jaar lank as ’n pionier in my tuisdorp en ek kan sien hoe wys dit was om die leiding te volg wat ek ontvang het. My negatiewe gesindheid was die grootste probleem. My toewysing bring nou vir my groot vreugde mee. Ek het een maand 24 Bybelstudies gehou. Met Jehovah se hulp het ek selfs ’n Bybelstudie begin hou met my ouma, wat my voorheen teëgestaan het.”

’N GELUKKIGE UITEINDE IN FIDJI

’n Bybelstudent in Fidji moes kies of sy ’n Christelike byeenkoms sou bywoon en of sy saam met haar man na ’n familielid se verjaarsdagpartytjie sou gaan. Haar man het ingestem dat sy die byeenkoms kan bywoon. Sy het vir hom gesê dat sy agterna na die partytjie sal kom. Maar toe sy ná die byeenkoms by die huis kom, het sy besluit dat dit vir haar beter sou wees om haar nie in ’n situasie te plaas wat geestelik skadelik kon wees nie, en daarom het sy nie gegaan nie.

Toe haar man vir sy familielede sê dat sy vrou op sy versoek by hom sou aansluit nadat sy haar “Getuievergadering” bygewoon het, het hulle geantwoord: “Sy sal nie kom nie; Jehovah se Getuies vier nie verjaarsdae nie!” *

Haar man was toe baie trots daarop dat sy vrou ’n standpunt ingeneem het wat in ooreenstemming was met haar opvattings en gewete. Haar getrouheid het haar later die geleentheid gegee om vir hom sowel as ander te getuig. Wat was die gevolg? Haar man het ’n Bybelstudie aanvaar en vergaderinge saam met haar begin bywoon.

^ par. 7 Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Desember 2001.