Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beoefen selfbeheersing

Beoefen selfbeheersing

‘Die vrugte van die gees is . . . selfbeheersing.’—GAL. 5:22, 23.

LIEDERE: 83, 52

1, 2. (a) Wat kan gebeur as ons nie selfbeheersing het nie? (b) Waarom is selfbeheersing veral vandag belangrik?

SELFBEHEERSING is ’n eienskap wat ons met Jehovah se hulp kan aankweek (Gal. 5:22, 23). Jehovah het volmaakte selfbeheersing. Maar mense is onvolmaak, en daarom is dit vir hulle moeilik om selfbeheersing te hê. Baie van vandag se probleme word veroorsaak omdat mense nie selfbeheersing het nie. Mense stel belangrike dinge uit en vaar sleg op skool of by die werk. Dit kan ook lei tot dronkenskap, geweld, egskeiding, onnodige skuld, verslawing, emosionele trauma, seksueel-oordraagbare siektes, ongewenste swangerskappe en daartoe lei dat jy ander beledig of dat jy in die tronk beland.—Ps. 34:11-14.

2 Mense wat nie selfbeheersing het nie, veroorsaak probleme vir hulleself en vir ander. En mense het al hoe minder selfbeheersing. Dit verbaas ons nie, want God se Woord het voorspel dat mense in “die laaste dae . . . sonder selfbeheersing” sal wees.—2 Tim. 3:1-3.

3. Waarom het Christene selfbeheersing nodig?

3 Waarom het jy selfbeheersing nodig? Hier is twee belangrike redes. Eerstens het mense wat hulle gevoelens en emosies in toom kan hou oor die algemeen minder probleme. Hulle maak makliker vriende, hulle word nie gou kwaad nie en lei nie so baie aan depressie en angstigheid soos mense wat oorhaastig optree nie. Tweedens moet jy versoekings weerstaan en slegte begeertes beheer as jy Jehovah se vriend wil bly. Dit is die fout wat Adam en Eva gemaak het (Gen. 3:6). Dink net aan al die probleme wat mense kon vermy het as hulle net selfbeheersing gehad het.

4. Wat sal ons help as ons sukkel om selfbeheersing te hê?

4 Geen onvolmaakte mens kan volmaakte selfbeheersing hê nie. Jehovah weet dit, en hy wil ons help om teen ons sondige neigings te stry (1 Kon. 8:46-50). Soos ’n liefdevolle vriend wil Jehovah almal help wat hom graag wil dien, maar wat dit moeilik vind om selfbeheersing te beoefen. Kom ons kyk na Jehovah se volmaakte voorbeeld. Ons gaan ook kyk na goeie en slegte voorbeelde in die Bybel en ons gaan leer hoe ons meer selfbeheersing kan hê.

JEHOVAH SE VOORBEELD

5, 6. Hoe beoefen Jehovah selfbeheersing?

5 Jehovah beoefen selfbeheersing volmaak, want hy is volmaak in alles wat hy doen (Deut. 32:4). Al is ons onvolmaak, kan ons nogtans baie uit Jehovah se voorbeeld van selfbeheersing leer sodat ons hom in hierdie opsig kan navolg. Wanneer moes Jehovah selfbeheersing toon?

6 Dink net aan hoe Jehovah selfbeheersing getoon het toe Satan in opstand gekom het. Jehovah moes iets doen. Die engele was waarskynlik geskok, kwaad en kon dit nie verstaan nie. Miskien voel jy ook so as jy dink aan al die lyding wat Satan veroorsaak het. Jehovah het egter nie oorhaastig opgetree nie. Sy optrede was regverdig en gepas. Hy het nie gou kwaad geword nie, en die manier waarop Jehovah Satan se opstand hanteer het, was heeltemal regverdig (Eks. 34:6; Job 2:2-6). Jehovah het dit toegelaat omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, “maar wil hê dat almal tot berou moet kom”.—2 Pet. 3:9.

7. Wat leer ons uit Jehovah se voorbeeld?

7 Jehovah se voorbeeld van selfbeheersing toon dat ons twee keer moet dink voor ons iets sê of doen. Ons moet nie oorhaastig optree nie. As jy voor ’n groot probleem te staan kom, moet jy mooi daaroor nadink sodat jy wys kan optree. Bid vir wysheid sodat jy die regte ding sal sê of doen (Ps. 141:3). Wanneer ons kwaad is, is dit baie maklik om ons humeur te verloor. Ons almal was al spyt oor iets wat ons gesê of gedoen het terwyl ons kwaad was.—Spr. 14:29; 15:28; 19:2.

GOEIE EN SLEGTE VOORBEELDE

8. (a) Waar kan ons voorbeelde van persone kry wat God se eienskappe weerspieël het? (b) Wat het Josef gehelp om te vlug toe Potifar se vrou hom probeer verlei het? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 Watter Bybelvoorbeelde toon hoe belangrik dit is om selfbeheersing te hê? Jakob se seun Josef is ’n goeie voorbeeld van iemand wat selfbeheersing gehad het. Hy was ’n slaaf in die huis van Potifar, die hoof van Farao se lyfwagte. Josef was “mooi van gestalte en mooi in voorkoms” en Potifar se vrou het hom probeer verlei, maar hy het selfbeheersing getoon. Waarom het Josef nie na haar geluister nie? Hy het ongetwyfeld gedink aan wat sou gebeur as hy na haar sou luister. En voor die situasie kon handuit ruk, het hy gevlug. Hy het gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?”—Gen. 39:6, 9; lees Spreuke 1:10.

9. Wat moet jy doen om versoekings te weerstaan?

9 Wat leer ons uit Josef se voorbeeld? Ons moet vlug voor die versoeking om een van God se wette te oortree. Voor hulle Getuies geword het, het party te veel geëet en gedrink, gerook, dwelms gebruik en ’n onsedelike lewe gelei. Selfs nadat hulle gedoop is, kan hulle nog steeds in die versoeking kom om weer hierdie slegte dinge te doen. As jy ooit in die versoeking kom om een van Jehovah se wette te verbreek, moet jy nadink oor hoe ’n gebrek aan selfbeheersing jou vriendskap met Jehovah sal benadeel. Dink aan situasies waar jy in die versoeking kan kom en besluit hoe jy dit kan vermy (Ps. 26:4, 5; Spr. 22:3). As jy ooit voor so ’n toets te staan kom, moet jy Jehovah vra om jou wysheid en selfbeheersing te gee om die versoeking te weerstaan.

10, 11. (a) Watter probleme het jongmense op skool? (b) Hoe kan jong Christene die versoeking weerstaan om verkeerde dinge te doen?

10 Wat met Josef gebeur het, gebeur vandag ook met baie jong Christene. Kyk na wat met Kim gebeur het. Haar klasmaats het dikwels gespog oor hoe hulle oor die naweek seks gehad het. Maar Kim kon nie saampraat nie. Sy het erken dat sy partykeer baie eensaam gevoel het en dat haar vriende gedink het dat sy dom is omdat sy nie met iemand uitgegaan het nie. Maar Kim was glad nie so dom nie. Sy het geweet dat die versoeking om seks te hê baie sterk is wanneer jy jonk is (2 Tim. 2:22). Haar skoolmaats wou dikwels weet of sy al seks gehad het. Dit het haar die geleentheid gegee om haar standpunt te verduidelik. Ons is baie trots op jong Christene wat vasbeslote is om nie ’n onsedelike lewe te lei nie, en Jehovah is ook trots op hulle!

11 Daar is ook voorbeelde in die Bybel van persone wat nie selfbeheersing gehad het nie en onsedelik was. Dit vertel ook van die tragiese gevolge van ’n gebrek aan selfbeheersing. As jy ooit in Kim se situasie is, kan jy nadink oor wat met die dwase jong man in Spreuke 7 gebeur het. Dink ook aan wat Amnon gedoen het en wat met hom gebeur het (2 Sam. 13:1, 2, 10-15, 28-32). Ouers kan hierdie voorbeelde met hulle kinders bespreek om hulle te help om selfbeheersing te hê en om wys te wees.

12. (a) Hoe het Josef sy gevoelens in toom gehou toe hy sy broers gesien het? (b) Onder watter omstandighede moet ons dit ook doen?

12 By ’n ander geleentheid was Josef weer eens ’n goeie voorbeeld van selfbeheersing. Hy wou weet wat werklik in sy broers se harte is, en daarom het hy nie vir hulle gesê wie hy is toe hulle by hom in Egipte kom kos koop het nie. En toe hy wou huil, het hy weggegaan sodat hulle nie kon sien hoe hy voel nie (Gen. 43:30, 31; 45:1). Wanneer ’n mede-Christen of iemand in jou familie jou seergemaak het, sal Josef se voorbeeld jou help om te dink voordat jy iets doen (Spr. 16:32; 17:27). As iemand in jou familie uitgesit is, moet jy jou gevoelens beheer sodat jy nie onnodig met hulle wil praat nie. Sulke selfbeheersing kom nie vanself nie, maar dit sal help as ons God se voorbeeld navolg en na sy raad luister.

13. Watter lesse kan ons uit die lewe van koning Dawid leer?

13 Koning Dawid is vir ons ’n baie goeie voorbeeld. Al het hy baie gesag gehad, het hy nie sy mag misbruik toe Saul en Simeï hom onregverdig behandel het nie (1 Sam. 26:9-11; 2 Sam. 16:5-10). Maar Dawid het homself ook nie altyd beheer nie. Dink net aan sy sonde met Batseba, en hoe hy eers gereageer het toe Nabal geweier het om hom te help (1 Sam. 25:10-13; 2 Sam. 11:2-4). Ons kan nogtans goeie lesse by Dawid leer. Eerstens moet opsieners onder God se volk ook selfbeheersing hê. Hulle moet baie versigtig wees om nie hulle gesag te misbruik nie. Tweedens moet niemand dink dat hulle nie ook in die versoeking kan kom nie.—1 Kor. 10:12.

WAT JY KAN DOEN

14. Wat het met ’n broer gebeur, en waarom is ons reaksie onder sulke omstandighede baie belangrik?

14 Wat kan jy doen om meer selfbeheersing te hê? Kom ons kyk wat met Luigi gebeur het. ’n Kar het van agter in sy kar vasgery. Hoewel dit die ander man se skuld was, het hy Luigi uitgeskel en het die man probeer om ’n bakleiery te begin. Luigi het gebid en Jehovah gevra om hom te help om kalm te bly. Luigi het ook probeer om die man tot bedaring te bring, maar dit het nie gehelp nie. Selfs in hierdie moeilike situasie het Luigi kalm gebly. ’n Week later het Luigi ’n herbesoek by ’n vrou gedoen, en hy was verbaas om te sien dat haar man die ander bestuurder was! Die man was baie jammer en het om verskoning gevra. Hy het gesê dat hy Luigi se versekeringsmaatskappy sal bel om die eis so gou as moontlik af te handel. Luigi het lekker met die man oor die Bybel gepraat en hy het dit baie geniet. Luigi kon sien hoe belangrik dit was om kalm te bly na die ongeluk en hoe dinge lelik kon skeefloop as hy kwaad geword het.—Lees 2 Korintiërs 6:3, 4.

Hoe ons in sekere situasies optree, kan ’n uitwerking hê op hoe ander op die goeie nuus reageer (Sien paragraaf 14)

15, 16. Hoe kan die Bybel jou en jou gesin help om selfbeheersing te hê?

15 As ons die Bybel ywerig en gereeld studeer, sal dit ons help om selfbeheersing aan te kweek. Dink aan God se woorde aan Josua: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, en jy moet dag en nag op gedempte toon daarin lees, sodat jy sorgvuldig kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy jou weg suksesvol maak en dan sal jy wys handel” (Jos. 1:8). Maar hoe kan Bybelstudie jou help om selfbeheersing aan te kweek?

16 Soos ons gesien het, wys die Bybel wat die voordele van selfbeheersing is en wat die gevolge is as jy nie selfbeheersing het nie. Jehovah het hierdie voorbeelde nie verniet laat opteken nie (Rom. 15:4). Ons moet hierdie verslae lees, dit studeer en daaroor nadink. Kyk hoe jy en jou gesin dit kan toepas. Vra Jehovah om jou te help om dit te doen. As jy sien dat jy meer selfbeheersing nodig het, moet jy dit erken. Bid oor die saak en doen jou bes om te verbeter (Jak. 1:5). Ons Christelike publikasies bevat baie inligting wat jou ook kan help.

17. Hoe kan ouers hulle kinders help om selfbeheersing aan te kweek?

17 Hoe kan jy jou kinders help om selfbeheersing aan te kweek? Ouers weet dat hulle kinders nie hiermee gebore word nie. Hulle moet natuurlik die voorbeeld stel as hulle wil hê dat hulle kinders goeie eienskappe moet aankweek (Ef. 6:4). As jy sien dat jou kinders min selfbeheersing het, moet jy jou afvra of jy vir hulle ’n goeie voorbeeld is. As jy gereeld velddiens doen, vergaderinge bywoon en gesinsaanbidding doen, sal dit ’n goeie uitwerking op hulle hê. Moenie bang wees om vir jou kinders nee te sê wanneer dit nodig is nie! Jehovah het ook vir Adam en Eva perke gestel. Dit sou hulle gehelp het om respek vir Jehovah se gesag te hê. As ouers hulle kinders dissiplineer en vir hulle ’n goeie voorbeeld stel, sal dit hulle help om selfbeheersing te hê. Van die kosbaarste dinge wat jy jou kinders kan leer, is om God se gesag lief te hê en sy wette te respekteer.—Lees Spreuke 1:5, 7, 8.

18. Hoekom moet ons goeie vriende hê?

18 Of jy nou ’n ouer is of nie, jy moet jou vriende wyslik kies. Wees vriende met mense wat jou sal help om goeie doelwitte te stel en bly weg van mense wat jou in die moeilikheid kan laat beland (Spr. 13:20). Vriende wat lief is vir Jehovah sal ’n goeie invloed op jou wees en hulle voorbeeld sal jou help om ook selfbeheersing te hê. En jou goeie gedrag sal hulle beslis ook aanmoedig. Die selfbeheersing wat ons as gevolg hiervan aankweek, sal Jehovah gelukkig maak en ons sal almal daarby baat vind.