Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Ek was bevoorreg om saam met geestelike manne te werk

Ek was bevoorreg om saam met geestelike manne te werk

IN DIE 1930’s het my ma en pa​—⁠Jessie en James Sinclair​—⁠na die Bronx in New York getrek. Daar het hulle Willie Sneddon ontmoet wat ook van Skotland af gekom het. Kort nadat hulle ontmoet het, het hulle oor hulle families begin praat. Dit was ’n paar jaar voor ek gebore is.

My ma het vir Willie vertel dat haar pa en ouer broer kort voor die Groot Oorlog verdrink het toe hulle vissersboot in die Noordsee ’n seemyn getref en gesink het. Willie het gesê: “Jou pa is in die hel!” Willie was een van Jehovah se Getuies, en dit was een van die eerste Bybelwaarhede wat my ma geleer het.

Willie en Liz Sneddon

Willie se woorde het my ma baie ontstel, want sy het geweet dat haar pa ’n goeie man was. Maar toe sê Willie: “Sal jy beter voel as ek vir jou sê dat Jesus ook hel toe gegaan het?” My ma het die kerk se geloofsbelydenis onthou wat gesê het dat Jesus hel toe gegaan het en op die derde dag opgewek is. Toe wonder sy: ‘As die hel ’n vurige plek is waar sondaars gemartel word, hoekom het Jesus daarheen gegaan?’ Dit is waar my ma se belangstelling in die waarheid begin het. Sy het vergaderinge by die Bronxgemeente begin bywoon en is in 1940 gedoop.

Saam met my ma, en ’n paar jaar later saam met my pa

In daardie jare was Christenouers nie juis aangemoedig om die Bybel met hulle kinders te studeer nie. Toe ek klein was, het my pa na my gekyk wanneer my ma vergaderinge toe gegaan het en naweke velddiens gedoen het. Ná ’n paar jaar het ek en my pa saam met haar vergaderinge begin bywoon. Sy het ywerig velddiens gedoen en het baie Bybelstudies gehou. Soms het sy selfs ’n paar van haar studies saam gehou omdat party van hulle naby mekaar gebly het. Gedurende skoolvakansies het ek saam met haar velddiens gedoen. Ek het baie oor die Bybel geleer en ook hoe om ander te leer wat die Bybel sê.

Ek is jammer om dit te erken, maar toe ek klein was, het ek nie regtig ’n waardering vir die waarheid gehad nie. Maar toe ek amper 12 was, het ek ’n verkondiger geword en gereeld velddiens gedoen. Toe ek 16 was, het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek op 24 Julie 1954 by ’n byeenkoms in Toronto, Kanada, gedoop.

BETHELDIENS

Party broers in ons gemeente was in Bethel en hulle het ’n baie goeie invloed op my gehad. Die manier waarop hulle toesprake gehou en Bybelwaarhede verduidelik het, het my baie beïndruk. My onderwysers wou hê dat ek universiteit toe moes gaan, maar my doelwit was om Bethel toe te gaan. Daarom het ek by daardie byeenkoms in Toronto my aan­soekvorm vir Betheldiens ingegee. En in 1955 het ek nog ’n Bethelaansoekvorm ingegee by die byeenkoms in Yankee-stadion, New York. Nie lank daarna nie, toe ek 17 was, is ek gevra om by Bethel in Brooklyn te gaan dien, en ek het op 19 September 1955 daar begin. Op die tweede dag by Bethel het ek in die Boekbindery in Adamsstraat 117 begin werk. Ek het op ’n masjien gewerk wat dele met 32 bladsye elk bymekaargesit het sodat hulle aanmekaar gewerk kon word.

Hier is ek 17 jaar oud toe ek by die Bethel in Brooklyn begin werk het

Nadat ek omtrent ’n maand lank in die Bindery was, is ek na die Tydskrifafdeling gestuur omdat ek kon tik. In daardie jare het broers en susters adresstensils (klein metaalplaatjies) getik vir nuwe intekenaars op Die Wagtoring en Ontwaak! ’n Paar maande later het ek in die Versendingsafdeling begin werk. Die opsiener, Klaus Jensen, het my gevra om saam met die broer te gaan wat die bokse lektuur na die hawe toe gevat het. Daar was ook sakke vol tydskrifte wat na die poskantoor toe gevat moes word om dit na gemeentes in die Verenigde State te stuur. Broer Jensen het gesê dat fisiese werk goed vir my sal wees. Ek het net 57 kilogram geweeg en was so maer soos ’n kraai. Hierdie werk het my gehelp om sterker te word. Broer Jensen het blykbaar geweet dat die werk goed sou wees vir my!

Die Tydskrifafdeling het ook die gemeentes se maandelikse tydskrifte gestuur. Hier het ek vir die eerste keer van tale gehoor waarin ons tydskrifte gedruk word, en ek was baie bly dat duisende tydskrifte regoor die wêreld gestuur is. Ek het op daardie stadium nie geweet dat ek die voorreg sou hê om baie van hierdie plekke te besoek nie.

Saam met Robert Wallen, Charles Molohan en Don Adams

In 1961 het ek die toewysing ontvang om in die Rekeningafdeling te werk en Grant Suiter was die opsiener. ’n Paar jaar later is ek gevra om na Nathan Knorr se kantoor toe te gaan. Op daardie stadium het hy die leiding in die wêreldwye werk geneem. Hy het verduidelik dat ’n broer wat in sy kantoor werk ’n maand lank weg sou wees om die Koninkryksbedieningskool by te woon en dat hierdie broer daarna in die Diensafdeling sou werk. Ek is gevra om sy werk te doen en ek het saam met Don Adams gewerk. Don was die broer vir wie ek my aansoekvorm vir Bethel by die byeenkoms in 1955 gegee het. Robert Wallen en Charles Molohan het ook in die kantoor gewerk. Ons vier het meer as 50 jaar lank saam gewerk. Ek het dit baie geniet om saam met sulke getroue, geestelike manne te werk!​—⁠Ps. 133:⁠1.

My eerste sonebesoek in 1970 in Venezuela

Vanaf 1970 het ek elke jaar of twee ’n paar van die takkantore van die Wagtoringgenootskap besoek, wat ons destyds sonebesoeke genoem het. Ek het Bethelgesinne en sendelinge besoek, hulle geestelik aangemoedig en die takkantoor se verslae deurgegaan. Dit was ’n groot voorreg om mense te ontmoet wat die eerste klasse van Gileadskool bygewoon het en nog steeds getrou in hulle toewysings gedien het! Ek het dit baie geniet om hierdie werk in meer as 90 lande te doen.

Ek het dit baie geniet om broers in meer as 90 lande te besoek!

’N GETROUE LEWENSMAAT

Almal by Bethel in Brooklyn het na gemeentes in New York gegaan. Ek was na die gemeente in die Bronx toegewys. Daar was mettertyd twee gemeentes in daardie deel van die stad. My gemeente was die oorspronklike een, die Upper Bronx-gemeente.

In die 1960’s het ’n gesin uit Letland die waarheid in die Bronx geleer en toe na ons gemeente gekom. Die oudste dogter, Livija, het begin pionier toe sy skool klaargemaak het. ’n Paar maande later het sy na Massachusetts gegaan om daar te gaan pionier. Ek het vir haar geskryf oor nuus van ons gemeente en sy het teruggeskryf en van haar pionierdiens in Boston vertel.

Saam met Livija

’n Paar jaar later is Livija aangestel as ’n spesiale pionier. Sy het ook vir Betheldiens aansoek gedoen omdat sy soveel as moontlik in Jehovah se diens wou doen. Sy het in 1971 by Bethel begin werk. Miskien het Jehovah vir my iets probeer sê! Op 27 Oktober 1973 is ons getroud en broer Knorr het ons troutoespraak gehou. Wat ’n voorreg was dit tog nie! Spreuke 18:​22 sê: “Het iemand ’n goeie vrou gevind? Hy het iets goeds gevind, en hy verkry welwillendheid van Jehovah.” Ek en Livija dien nou meer as 40 jaar lank saam in Bethel. En ons dien nog steeds in ’n gemeente in die Bronx.

SKOUER AAN SKOUER MET CHRISTUS SE BROERS

Dit was baie lekker om saam met broer Knorr te werk. Hy het baie hard gewerk en het die sendelinge regoor die wêreld geweldig baie waardeer. Baie van die sendelinge was die eerste Getuies in die lande waarheen hulle gestuur is. Die tyd toe broer Knorr aan kanker gely het, was vir ons baie moeilik. Toe hy bedlêend was, het hy my eenkeer gevra om vir hom iets te lees. Hy het my gevra om Frederick Franz te roep om ook daarna te kom luister. Ek het later uitgevind dat broer Knorr baie dinge vir broer Franz moes lees, want broer Franz kon nie meer so goed sien nie.

’n Sonebesoek saam met Daniel en Marina Sydlik, 1977

Broer Knorr is in 1977 oorlede. Maar almal wat hom geken het, was vertroos omdat hy sy aardse loopbaan getrou voltooi het (Op. 2:​10). Broer Franz het toe die leiding in ons werk geneem.

Op daardie stadium het ek Milton Henschel gehelp. Hy het baie jare saam met broer Knorr gewerk. Broer Henschel het toe vir my gesê dat ek broer Franz met enigiets moet help wat hy nodig het. Ek het altyd vir hom die publikasies gelees voordat dit gedruk is. Broer Franz het ’n uitstekende geheue gehad en kon baie goed konsentreer op wat ek vir hom gelees het. Dit was ’n groot plesier om hom te help totdat hy sy aardse loopbaan in Desember 1992 voltooi het!

Columbia Heights 124, waar ek vir baie jare gewerk het

Ek is al 61 jaar lank in Bethel, en die jare het vinnig verbygegaan. My ouers was tot hulle dood getrou aan Jehovah. Ek sien daarna uit om hulle in ’n baie beter wêreld terug te verwelkom (Joh. 5:​28, 29). Niks in hierdie wêreld kan vergelyk word met die wonderlike voorreg om saam met getroue manne en vroue te werk om God se knegte regoor die wêreld te help nie. Ek en Livija kan eerlik sê dat “die vreugde van Jehovah [ons] vesting” was gedurende al ons jare in die voltydse diens.​—⁠Neh. 8:⁠10.

Niemand in Jehovah se organisasie is onmisbaar nie, en die werk om die goeie nuus te verkondig gaan voort. Dit was ’n groot voorreg en ’n plesier om oor die jare saam met lojale en getroue broers en susters te werk. Die meeste van die gesalfdes saam met wie ek gewerk het, is nie meer hier op aarde nie. Maar ek was bevoorreg om saam met sulke getroue, geestelike manne in Jehovah se diens te werk.