Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die woord van God . . . oefen krag uit”

“Die woord van God . . . oefen krag uit”

“Die woord van God is lewend en oefen krag uit.”—HEB. 4:12.

LIEDERE: 114, 113

1. Wat oortuig jou dat God se Woord krag het? (Sien prent aan begin van artikel.)

JEHOVAH se knegte is oortuig daarvan dat sy Woord, sy boodskap aan mense, ‘lewend is en krag uitoefen’ (Heb. 4:12). Baie van ons het al gesien hoe die Bybel ons en ander mense se lewens verander. Party van ons broers en susters was voorheen diewe, seksueel onsedelik of verslaaf aan dwelms. Ander was suksesvol in hierdie wêreld, maar het nog steeds ’n leemte in hulle lewe gevoel (Pred. 2:3-11). Die krag wat die Bybel het om lewens te verander, het hulle gehelp om nou ’n doel in die lewe te hê. Ons geniet dit om sulke ondervindinge in Die Wagtoring in die reeks “Die Bybel verander lewens” te lees. En selfs nadat hulle Christene geword het, moet hulle hard werk om met die hulp van die Bybel hulle verhouding met Jehovah te versterk.

2. Hoe het die krag van God se Woord mense in die eerste eeu gehelp?

2 Dit moet ons nie verbaas dat baie mense vandag groot veranderinge in hulle lewens gemaak het omdat hulle die Bybel gestudeer het nie. Hierdie ondervindinge herinner ons aan die eerste-eeuse broers en susters wat die hemelse hoop gehad het. (Lees 1 Korintiërs 6:9-11.) Nadat Paulus van mense gepraat het wat nie God se Koninkryk sal beërf nie, het hy gesê: “En tog is dit wat party van julle was.” Maar hulle het verander met die hulp van die Bybel en God se heilige gees. Selfs nadat hulle Christene geword het, het party weer ernstige foute gemaak. Byvoorbeeld, die Bybel vertel van een gesalfde broer wat uitgesit moes word, maar wat later herstel is (1 Kor. 5:1-5; 2 Kor. 2:5-8). Dit is aanmoedigend om te sien hoe ons broers en susters met die hulp van die Bybel hulle lewe verander het.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 God se Woord het baie krag, en daarom wil ons goed gebruik maak daarvan (2 Tim. 2:15). In hierdie artikel gaan ons kyk hoe God se Woord ons kan help (1) in ons persoonlike lewe, (2) wanneer ons velddiens doen en (3) wanneer ons toesprake hou. Dit sal ons help om liefde en waardering te hê vir ons hemelse Vader, die een wat ons leer om onsself te bevoordeel.—Jes. 48:17.

IN ONS PERSOONLIKE LEWE

4. (a) Wat moet ons doen sodat God se Woord ons kan help? (b) Wanneer lees jy die Bybel?

4 As ons wil hê dat God se Woord ons moet help, dan moet ons probeer om dit elke dag te lees (Jos. 1:8). Ons is almal baie besig, maar ons moenie toelaat dat enigiets, selfs nie eers ons verantwoordelikhede, met ons daaglikse Bybellees inmeng nie. (Lees Efesiërs 5:15, 16.) Party van Jehovah se knegte maak tyd vir hulle daaglikse Bybellees in die oggend, in die aand of deur die dag. Hulle voel net soos die psalmis wat gesê het: “Hoe lief het ek u wet tog! Die hele dag oordink ek dit.”—Ps. 119:97.

5, 6. (a) Hoekom is dit belangrik om na te dink oor wat ons in die Bybel lees? (b) Hoe kan ons dit doen? (c) Hoe het daaglikse Bybellees en bepeinsing jou gehelp?

5 Ons moenie net die Bybel lees nie. Ons moet ook nadink oor wat ons lees (Ps. 1:1-3). Dan sal ons die wysheid in die Bybel in ons eie lewe kan toepas. Of ons nou die Bybel op ’n tablet of op papier lees, moet die boodskap daarin ons help om te verander.

6 Wat het baie gehelp om na te dink oor wat hulle lees? Party lees ’n kort stukkie uit die Bybel en dan dink hulle oor wat hulle gelees het. Hulle vra dalk: ‘Wat vertel dit my oor Jehovah? Hoe pas ek alreeds hierdie beginsels in my lewe toe? Hoe kan ek verbeter?’ As ons biddend oor God se Woord nadink, sal ons die raad daarin nog beter wil toepas. Dan sal ons die krag van die Bybel in ons eie lewe sien.—2 Kor. 10:4, 5.

WANNEER ONS VELDDIENS DOEN

7. Hoe kan ons goed gebruik maak van God se Woord wanneer ons velddiens doen?

7 Wat kan ons help om goed gebruik te maak van God se Woord wanneer ons velddiens doen? In die eerste plek moet ons dit soveel as moontlik in ons bediening gebruik. Een broer het gesê: “As jy saam met Jehovah velddiens sou doen, sal jy al die praatwerk doen of sal jy eerder wil hê dat Hy moet praat?” Wat het hy bedoel? Wanneer ons vir mense ’n teks uit God se Woord lees, praat Jehovah in werklikheid met die huisbewoner. Die regte teks is baie beter as enigiets wat ons kan sê (1 Tess. 2:13). Vra jou af: ‘Lees ek by elke geleentheid ’n teks uit die Bybel wanneer ek velddiens doen?’

8. Hoekom moet ons nie tekste net lees wanneer ons velddiens doen nie?

8 Ons moet natuurlik nie net Bybelverse vir mense lees nie. Die meeste mense verstaan nie regtig die Bybel nie. Dit was in die eerste eeu ’n probleem en dit is vandag nog die geval (Rom. 10:2). Ons moenie dink dat mense ’n teks sal verstaan net omdat ons dit gelees het nie. Nadat ons die teks gelees het, moet ons die hoofgedagte beklemtoon, of dit selfs weer lees, en verduidelik wat dit beteken. As ons dit doen, sal dit mense help om God se Woord te verstaan.—Lees Lukas 24:32.

9. Hoe kan ons mense help om respek vir die Bybel te hê wanneer ons vir hulle ’n teks wil lees? Gee ’n voorbeeld.

9 Die manier waarop ons ’n teks inlei, kan mense ook help om respek vir die Bybel te hê. Ons kan byvoorbeeld sê: “Kom ons kyk wat sê ons Skepper hieroor.” As ons met iemand praat wat nie ’n Christen is nie, kan ons dalk sê: “Kom ons kyk wat die Heilige Skrif hieroor sê.” As ons met iemand praat wat nie regtig in godsdiens belangstel nie, kan ons dalk vra: “Ken jy hierdie ou gesegde?” Ons respekteer mense in die velddiens en benader elkeen anders.—1 Kor. 9:22, 23.

10. (a) Hoe het die Bybel iemand in die velddiens gehelp? (b) Hoe het jy al die krag van God se Woord ervaar wanneer jy velddiens doen?

10 Baie het al gesien hoe God se Woord ’n groot uitwerking op mense in die velddiens het. Kom ons kyk na ’n voorbeeld. ’n Broer het ’n herbesoek gedoen by ’n bejaarde man wat al jare lank ons tydskrifte lees. Maar in plaas daarvan om net die nuutste Wagtoring aan te bied, het die broer vir hom ’n teks gelees wat in die tydskrif aangehaal is. Hy het 2 Korintiërs 1:3, 4 gelees, wat sê: ‘Die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting vertroos ons in al ons verdrukking.’ Die huisbewoner het so baie van die teks gehou dat hy die broer gevra het om dit weer te lees. Die man het gesê dat hy en sy vrou vertroosting nodig het, en hy wou nou meer oor die Bybel weet. As ons God se Woord in die velddiens gebruik, kan dit mense regtig help.—Hand. 19:20.

WANNEER ONS TOESPRAKE HOU

11. Watter verantwoordelikheid het broers wat toesprake in die gemeente hou?

11 Ons almal hou daarvan om ons Christelike vergaderinge en byeenkomste by te woon. Die belangrikste rede waarom ons dit bywoon, is om Jehovah te aanbid. Ons vind ook baat by wat ons daar leer. Dit is ’n groot voorreg vir broers om toesprake by sulke geleenthede te hou. Maar hulle moet besef dat dit ’n baie groot verantwoordelikheid is (Jak. 3:1). Hulle moet seker maak dat dit wat hulle ander leer uit die Bybel kom. As jy ’n toespraak moet hou, hoe kan jy die krag van die Bybel gebruik om jou gehoor te onderrig?

12. Hoe kan ’n spreker die Bybel die middelpunt van sy toespraak maak?

12 Die spreker moet die Bybel die middelpunt van sy toespraak maak (Joh. 7:16). Hy moenie toelaat dat ondervindinge, illustrasies of selfs die manier waarop hy die toespraak hou die aandag van die Bybeltekste aflei nie. Om in die gemeente te onderrig, moet die spreker nie net ’n klomp Bybeltekste lees nie. As ons te veel tekste lees, sal daar dalk niks wees wat vir die gehoor uitstaan nie. Soek die tekste wat die hoofpunte beklemtoon en laat genoeg tyd toe om dit te lees, te verduidelik en te wys wat die toepassing is (Neh. 8:8). As jy ’n toespraak van ’n skets moet hou wat deur die organisasie voorsien is, moet jy die skets en die tekste deeglik bestudeer. Let op hoe die tekste die punte in die skets bevestig. Kies dan tekste wat jy in die toespraak wil gebruik om die punte in die skets oor te dra. (Daar is praktiese raad in studie 21 tot 23 van die boek Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool.) Maar jy moet Jehovah bowenal vra om jou te help om die kosbare gedagtes in sy Woord aan ander oor te dra.—Lees Esra 7:10; Spreuke 3:13, 14.

13. (a) Hoe het ’n suster baat gevind by Bybeltekste wat by ’n vergadering gebruik is? (b) Hoe het jy al baat gevind by Bybelraad wat jy by ons vergaderinge gehoor het?

13 ’n Suster in Australië het baie baat gevind by Bybeltekste wat by ’n vergadering gebruik is. Ten spyte van ’n moeilike kinderlewe, het sy die Bybel se boodskap aanvaar en haar lewe aan Jehovah toegewy. Dit was nogtans vir haar baie moeilik om te glo dat Jehovah vir haar lief is. Maar sy het later besef dat Jehovah haar werklik liefhet. Wat het haar gehelp om dit te aanvaar? Sy het begin nadink oor ’n teks wat sy by die vergadering gehoor het en wat haar ook aan ander tekste laat dink het. * Was daar al ooit ’n teks wat by ’n byeenkoms of by ’n vergadering bespreek is wat jou baie gehelp het?—Neh. 8:12.

14. Hoe wys ons dat ons Jehovah se Woord waardeer?

14 Ons is baie dankbaar vir Jehovah se Woord, die Bybel. Hy het vir ons die Bybel gegee en hy het belowe dat dit sal bly bestaan (1 Pet. 1:24, 25). Daarom wil ons Jehovah se Woord gereeld lees, dit in ons lewe toepas en dit gebruik om ander te help. As ons dit doen, wys ons dat ons die Bybel, en bowenal die Outeur van die Bybel, Jehovah God, waardeer en liefhet.

^ par. 13 Sien die venster “ ’n Keerpunt”.