Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees medelydend soos Jehovah

Wees medelydend soos Jehovah

‘Jehovah het medelye met sy volk gehad.’—⁠2 KRON. 36:⁠15.

LIEDERE: 142, 12

1. Wat het Jehovah vir Moses gesê, en waarom is dit vir ons ook belangrik?

BY EEN geleentheid het God sy naam en sy eienskappe aan Moses bekendgemaak. Barmhartigheid en genade, of medelye, was die eerste eienskappe wat Hy genoem het. (Lees Eksodus 34:​5-⁠7.) Jehovah kon sy krag of sy wysheid eerste genoem het. Maar Moses wou weet of Jehovah hom regtig sou help. Daarom het Jehovah eienskappe genoem wat wys dat hy werklik sy knegte wil help (Eks. 33:​13). Is dit nie vertroostend dat God hierdie eienskappe eerste genoem het nie? In hierdie artikel sal ons medelye bespreek. Medelye is wanneer ons simpatie vir ander voel en hulle graag wil help.

2, 3. (a) Hoe weet ons dat dit eie aan mense is om medelye te voel? (b) Waarom moet ons weet wat die Bybel oor medelye sê?

2 Jehovah is medelydend en mense is na sy beeld gemaak. Daarom is dit natuurlik vir mense, selfs dié wat Jehovah nie ken nie, om medelydend te wees en vir ander om te gee (Gen. 1:​27). Daar is baie voorbeelde in die Bybel van mense wat medelydend was. Dink aan die twee vrouens wat voor Salomo gestry het oor wie se baba die lewende een was. Toe Salomo wou uitvind wie die regte ma is, het hy gesê dat die baba in twee gesny moet word. Omdat die regte ma medelye vir haar kind gehad het, het sy die koning gesmeek om eerder die baba vir die ander vrou te gee (1 Kon. 3:​23-27). Dink ook aan Farao se dogter wat Moses gered het toe hy ’n baba was. Hoewel sy geweet het dat die baba ’n kind van die Hebreërs was en eintlik doodgemaak moes word, “het sy medelye vir hom gevoel” en hom as haar eie kind grootgemaak.​—⁠Eks. 2:⁠5, 6.

3 Waarom moet ons weet wat medelye is? Want Jehovah wil hê ons moet hom navolg (Ef. 5:⁠1). Ons is gemaak om medelydend te wees, maar omdat ons onvolmaak is, is ons soms selfsugtig. Dit is dalk vir ons moeilik om te besluit of ons ander gaan help en of ons eerder op onsself gaan fokus. Wat kan ons help om meer medelye te hê? Eerstens gaan ons kyk hoe Jehovah en ander medelydend was. Tweedens gaan ons kyk hoe ons Jehovah se voorbeeld kan navolg en hoe dit vir ons goed kan wees.

JEHOVAH​—⁠DIE VOLMAAKTE VOORBEELD VAN MEDELYE

4. (a) Waarom het Jehovah engele na Sodom toe gestuur? (b) Wat leer ons uit die verslag van Lot en sy dogters?

4 Daar is baie voorbeelde in die Bybel van Jehovah se medelye. Dink aan wat God vir Lot gedoen het. Hierdie regverdige man was “baie ontsteld” oor die losbandige gedrag van die mense in Sodom en Gomorra. En Jehovah het besluit dat hierdie onsedelike mense vernietig moet word (2 Pet. 2:​7-10). God het engele gestuur om Lot te red. Hulle het gesê dat hy en sy gesin dringend moet vlug. “Toe hy bly talm, het die [engele], omdat Jehovah medelye met hom gehad het, sy hand en die hand van sy vrou en die hand van sy twee dogters gegryp, en hulle het hom uitgebring en hom buite die stad laat staan” (Gen. 19:​16). Net soos Jehovah Lot se probleme verstaan het, kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons probleme ook verstaan.​—⁠Jes. 63:​7-⁠9; Jak. 5:​11; 2 Pet. 2:⁠9.

5. Hoe help 1 Johannes 3:​17 ons om medelydend te wees?

5 Jehovah het nie net gewys dat hy medelye het nie, hy het ook gesê dat sy knegte medelydend moet wees. Dink byvoorbeeld aan ’n wet wat Jehovah aan die Israeliete gegee het. ’n Skuldeiser kon die klere neem van iemand wat hom geld geskuld het as ’n waarborg dat hy hom sou terugbetaal. (Lees Eksodus 22:​26, 27.) Maar iemand sonder medelye kon sy klere vat en dit nie teruggee nie. Dan sou die persoon niks gehad het om hom warm te hou nie. Maar Jehovah het sy knegte geleer om medelye te hê. Wat leer ons uit hierdie wet? As ons broers en susters swaarkry en ons kan hulle help, moet ons dit doen.​—⁠Kol. 3:​12; Jak. 2:⁠15, 16; lees 1 Johannes 3:⁠17.

6. Watter les leer ons uit Jehovah se medelye vir die sondige Israeliete?

6 Jehovah het medelye met die Israeliete gehad, selfs toe hulle teen hom gesondig het. Ons lees: “Jehovah, die God van hulle voorvaders, het deur middel van sy boodskappers keer op keer waarskuwings aan hulle gestuur, omdat hy medelye met sy volk en met sy woonplek gehad het” (2 Kron. 36:​15). Ons moet ook medelye hê vir dié wat Jehovah nog nie ken nie, want hulle kan nog altyd berou toon en Jehovah se vriende word. Jehovah wil nie hê dat enigiemand in die komende oordeel vernietig moet word nie (2 Pet. 3:⁠9). Totdat God die goddeloses vernietig, wil ons aanhou om hierdie waarskuwingsboodskap te verkondig sodat almal by God se medelye kan baat vind.

7, 8. Waarom glo een gesin dat Jehovah medelye met hulle gehad het?

7 Daar is baie voorbeelde van Jehovah se medelye. Kom ons kyk wat met ’n 12-jarige seun met die naam Milan en sy gesin gebeur het. Gedurende die vroeë 1990’s was daar oorlog in Bosnië. Milan en sy boetie, sy ouers en nog ’n paar Getuies was op pad van Bosnië na Serwië. Hulle was op pad na ’n byeenkoms waar Milan se ouers gedoop wou word. By die grens het die soldate gesien dat hulle van ’n ander etniese groep was en het hulle beveel om uit die bus te klim. Die ander broers was toegelaat om verder te ry. Nadat hulle twee dae lank by die grens aangehou is, het die offisier oor die radio gevra wat hy met hulle moet doen. Die gesin kon duidelik die antwoord hoor: “Vat hulle weg en skiet hulle!”

8 Terwyl die offisier met sy manne gepraat het, het twee mans daar aangekom en stilletjies vir die gesin gesê dat hulle ook Getuies is. Die broers op die bus het hulle vertel wat gebeur het. Die twee broers het gesê dat Milan en sy boetie in hulle kar moet klim en saam met hulle oor die grens moet gaan, want die soldate het nie kinders se dokumente nagegaan nie. Toe het die broers gesê dat Milan se ouers agter om die grenspos moet loop en hulle aan die ander kant ontmoet. Milan was baie bang en het nie geweet wat gaan gebeur nie. Sy ouers het gevra: “Dink jy hulle gaan ons net laat wegkom?” Maar toe sy ouers wegloop, het dit gelyk asof die soldate hulle nie eers raaksien nie. Milan en sy boetie het hulle ouers aan die oorkant van die grens gekry en na die byeenkoms toe gegaan. Hulle was vas oortuig dat Jehovah hulle opregte gebede verhoor het. Volgens die Bybel beskerm Jehovah natuurlik nie altyd sy knegte op hierdie manier nie (Hand. 7:​58-60). Maar Milan sê: “Dit het vir my gelyk asof die engele die soldate verblind het en dat Jehovah ons gered het.”​—⁠Ps. 97:⁠10.

9. Hoe het Jesus gevoel toe hy die skare gesien het? (Sien prent aan begin van artikel.)

9 Jesus is ’n goeie voorbeeld van iemand met medelye. Hy het innig jammer vir die skare gevoel, want “hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder”. Wat het Jesus toe gedoen? “Hy het hulle baie dinge begin leer.” (Matt. 9:​36; lees Markus 6:​34.) Hy was heeltemal anders as die Fariseërs wat mense glad nie wou help nie (Matt. 12:​9-14; 23:⁠4; Joh. 7:​49). Wil jy nie ook, soos Jesus, mense help en hulle van Jehovah leer nie?

10, 11. Moet ons altyd medelydend wees? Verduidelik.

10 Dit beteken nie dat jy altyd medelydend moet wees nie. Byvoorbeeld, koning Saul het dalk gedink dat hy medelydend was toe hy Agag, ’n vyand van God se volk, nie doodgemaak het nie. Hy het ook nie al die diere van die Amalekiete doodgemaak soos Jehovah hom beveel het nie. Omdat Saul ongehoorsaam was, het Jehovah hom as koning verwerp (1 Sam. 15:​3, 9, 15). Jehovah is die regverdige Regter. Hy weet wat in ons harte is en wanneer om medelydend te wees (Klaagl. 2:​17; Eseg. 5:​11). Binnekort gaan hy almal oordeel wat nie gehoorsaam aan hom wil wees nie (2 Tess. 1:​6-10). Wanneer dit gebeur sal Jehovah nie medelydend wees teenoor die goddeloses nie. Deur hulle te vernietig, wys hy dat hy medelydend is teenoor die gehoorsame mense, wat hy gaan red.

11 Dit is nie ons werk om te besluit wie vernietig en wie gered moet word nie. Ons moet eerder alles in ons vermoë doen om mense te help. Hoe kan ons wys dat ons vir ander medelye het? Kom ons kyk na ’n paar maniere hoe ons dit kan doen.

HOE KAN ONS WYS DAT ONS MEDELYE HET

12. Hoe kan jy wys dat jy medelye het?

12 Wees elke dag bereid om iemand te help. As jy Jesus wil navolg, is dit belangrik dat jy medelye vir jou naaste en ook vir jou broers en susters het (Joh. 13:​34, 35; 1 Pet. 3:⁠8). Een betekenis van medelye is om ‘saam met ander te ly’. ’n Persoon wat medelydend is, wil ander graag help. Soek na geleenthede om dit te doen! Jy kan hulle miskien by die huis met iets help of inkopies vir hulle doen.​—⁠Matt. 7:⁠12.

Wys dat jy medelye vir ander het deur hulle te help (Sien paragraaf 12)

13. Hoe help God se knegte mense wat deur ’n ramp getref is?

13 Help met noodlenigingswerk. Baie mense het medelye met dié wat deur natuurrampe getref is. Jehovah se knegte help mense graag in tye van nood (1 Pet. 2:​17). ’n Suster in Japan het in ’n gebied gewoon wat deur die aardbewing en tsoenami van 2011 getref is. Sy sê dat sy “baie aangemoedig en vertroos” is deur die vrywilligers van Japan en regoor die wêreld wat kom help het om huise en Koninkryksale reg te maak. Sy skryf: “Dit het my laat besef dat Jehovah vir ons omgee. En dat medegelowiges ook vir mekaar omgee. Baie van ons broers en susters van regoor die wêreld bid vir ons.”

14. Hoe kan jy dié help wat siek en bejaard is?

14 Help dié wat siek en bejaard is. Ons voel medelye wanneer ons sien hoe mense ly as gevolg van onvolmaaktheid. Ons sien daarna uit wanneer mense nie meer siek en oud sal word nie, en daarom bid ons dat God se Koninkryk moet kom. Intussen doen ons ons bes om ander te help wat hulp nodig het. ’n Skrywer vertel wat met sy bejaarde ma, wat Alzheimersiekte gehad het, gebeur het. Eendag het sy haar vuilgemaak. Terwyl sy besig was om haarself skoon te maak, het die deurklokkie gelui. Dit was twee Getuies wat die vrou gereeld besoek het. Die susters het gevra of hulle haar kon help. Hoewel dit vir haar ’n verleentheid was, het sy ja gesê. Nadat hulle haar gehelp het, het hulle vir haar tee gemaak en ’n bietjie by haar gekuier. Haar seun was baie dankbaar en hy het gesê: “Ek bewonder julle mense. Die Getuies se dade en woorde stem ooreen.” Het jy medelye vir die siekes en bejaardes? Doen dan alles wat jy kan om hulle te help.​—⁠Fil. 2:​3, 4.

15. Hoe help ons predikingswerk ander?

15 Help mense om Jehovah te leer ken. Ons kan mense help wat probleme en bekommernisse het deur hulle van Jehovah en sy Koninkryk te leer. Ons kan hulle ook help om te sien waarom dit goed is om Jehovah te gehoorsaam (Jes. 48:​17, 18). Die predikingswerk is ’n goeie manier om te wys dat jy Jehovah liefhet en dat jy vir ander medelye het.​—⁠1 Tim. 2:​3, 4.

MEDELYE IS OOK GOED VIR JOU!

16. Hoe help dit ons wanneer ons medelye vir ander het?

16 Geleerdes sê dat as ons vir ander medelye het, dit goed is vir ons gesondheid en ons verhouding met ander. Wanneer jy mense help wat ly, maak dit jou gelukkiger. Jy sal ook minder eensaam voel, meer hoop hê en meer positief wees. Om medelydend te wees, is goed vir jou (Ef. 4:​31, 32). Christene wat ander help, sal ’n goeie gewete hê omdat hulle doen wat Jehovah van hulle verwag. Dit sal jou help om ’n beter ouer, ’n beter huweliksmaat en ’n beter vriend te wees. Mense sal meer geneig wees om jou te help as jy medelye vir hulle het.​—⁠Lees Matteus 5:⁠7; Lukas 6:⁠38.

17. Waarom wil jy medelydend wees?

17 Ons moenie net medelydend wees omdat dit goed is vir ons nie. Die hoofrede moet wees omdat ons Jehovah God, die Bron van liefde en medelye, wil navolg (Spr. 14:​31). Hy stel vir ons die volmaakte voorbeeld. Laat ons alles in ons vermoë doen om hom na te volg. As ons medelydend is, sal dit ons liefde vir ons broers en susters vergroot en sal ons beter oor die weg kom met ons naaste.​—⁠Gal. 6:​10; 1 Joh. 4:⁠16.