Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Wees moedig . . . en tree op”

“Wees moedig . . . en tree op”

“Wees moedig en sterk en tree op. Moenie bang of verskrik wees nie, want Jehovah . . . is met jou.”1 KRON. 28:20.

LIEDERE: 60, 29

1, 2. (a) Watter belangrike werk moes Salomo doen? (b) Hoekom was Dawid besorg oor Salomo?

SALOMO moes een van die belangrikste bouprojekte in die geskiedenis organiseer—die bou van die tempel in Jerusalem. Die gebou moes “alles in luisterrykheid oortref, tot ’n sieraad en ’n roem vir al die lande”. Maar wat meer is, die tempel sou “die huis van Jehovah, die ware God” wees. Jehovah het gesê dat Salomo toesig moes hou oor die bouwerk.—1 Kron. 22:1, 5, 9-11.

2 Koning Dawid het geweet dat God Salomo sal help, maar Salomo was jonk en onervare. Sou hy die moed hê om die tempel te bou? Sou die feit dat hy jonk en onervare was hom keer om die tempel te bou? Salomo moes moedig wees en aan die werk spring.

3. Wat kon Salomo by Dawid leer?

3 Salomo het heel waarskynlik baie by sy pa, Dawid, geleer oor wat dit beteken om moedig te wees. Toe Dawid jonk was, het hy sy pa se skape teen wilde diere beskerm (1 Sam. 17:34, 35). Hy was ook baie dapper toe hy teen Goliat geveg het. Met die hulp van God en ’n gladde klip, het Dawid die reus doodgemaak.—1 Sam. 17:45, 49, 50.

4. Hoekom het Salomo moed nodig gehad?

4 Ons kan sien hoekom Dawid Salomo later aangemoedig het om moedig te wees en die tempel te bou. (Lees 1 Kronieke 28:20.) As Salomo nie moedig was nie, sou hy bang gewees het en sou hy nie die tempel gebou het nie. Om niks te doen nie, sou erger wees as om te misluk.

5. Hoekom het ons moed nodig?

5 Net soos Salomo het ons Jehovah se hulp nodig om moedig te wees en die werk te voltooi. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van mense uit die verlede wat moedig was. Dink dan na oor hoe jy moedig kan wees en jou werk kan voltooi.

VOORBEELDE VAN MOED

6. Wat leer ons uit die moed wat Josef gehad het?

6 Dink net hoe moedig Josef moes wees toe Potifar se vrou hom wou verlei het. Hy moes geweet het wat met hom kon gebeur as hy vir haar nee gesê het. Maar hy het nogtans moed aan die dag gelê en gevlug.—Gen. 39:10, 12.

7. Hoe het Ragab gewys dat sy moedig was? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Ragab is nog ’n voorbeeld van iemand wat moedig was. Toe die Israelitiese spioene na haar huis in Jerigo gegaan het, kon sy gesê het dat hulle nie kan inkom nie omdat sy bang was. Maar omdat sy op Jehovah vertrou het, het sy moedig die twee mans weggesteek en hulle gehelp om veilig uit die stad te kom (Jos. 2:4, 5, 9, 12-16). Ragab het Jehovah as die ware God aangeneem, en sy het geweet dat hy die land vir die Israeliete gaan gee. Sy was nie bang vir die koning van Jerigo en sy manne nie, maar sy het moedig iets gedoen wat haar en haar gesin se lewe gered het.—Jos. 6:22, 23.

8. Hoe het Jesus se moed die apostels gehelp?

8 Jesus se getroue apostels was ook moedig. Hulle het gesien hoe moedig Jesus was (Matt. 8:28-32; Joh. 2:13-17; 18:3-5). Sy voorbeeld het hulle gehelp om moedig te wees. Toe die Sadduseërs hulle werk teëgestaan het, het hulle nie opgehou om in die naam van Jesus te leer nie.—Hand. 5:17, 18, 27-29.

9. Wat sê 2 Timoteus 1:7 oor wie die bron van moed is?

9 Josef, Ragab, Jesus en die apostels het ’n innerlike krag gehad wat hulle gemotiveer het om goeie werke te doen. Hulle het moed gehad, nie omdat hulle op hulleself vertrou het nie, maar omdat hulle op Jehovah vertrou het. Partykeer moet ons ook moedig wees. Ons moet op Jehovah vertrou, en nie op onsself nie. (Lees 2 Timoteus 1:7.) Kom ons kyk hoe ons moed in die gesin en in die gemeente nodig het.

WANNEER ONS MOED NODIG HET

10. Waarom het jongmense moed nodig?

10 Jongmense in die gemeente het moed nodig om Jehovah te dien. Hulle kan baie by Salomo leer. Toe hy die tempel gebou het, het hy moedig wyse besluite geneem. Hoewel jongmense raad van hulle ouers nodig het, moet hulle ook self belangrike besluite neem (Spr. 27:11). Hulle het moed nodig om wyse besluite te neem oor hulle vriende, vermaak, sedelike reinheid en hulle doop. Dit is omdat jongmense hulle standpunt moet inneem teen Satan, die een wat Jehovah uittart.

11, 12. (a) Hoe het Moses gewys dat hy moed gehad het? (b) Hoe kan jongmense Moses se voorbeeld navolg?

11 Jongmense moet besluit wat hulle met hulle lewe gaan doen. In sommige lande is jongmense onder druk om verder te gaan studeer en om baie geld te maak. In ander lande is die ekonomie baie sleg en voel jongmense dat hulle hard moet werk om vir hulle familie te sorg. Is jy in een van hierdie situasies? Dan kan die voorbeeld van Moses jou help. Moses is deur Farao se dogter grootgemaak, en daarom kon hy baie ryk of ’n belangrike persoon geword het. Sy Egiptiese familie, onderwysers en raadgewers het seker baie druk op hom geplaas! Maar Moses was moedig en het gekies om Jehovah te dien. Moses het Egipte en sy rykdom agtergelaat en op Jehovah vertrou (Heb. 11:24-26). Jehovah het hom daarvoor geseën en sal hom selfs meer in die toekoms seën.

12 Jehovah sal ook jongmense seën wat moedig geestelike doelwitte stel en die Koninkryk eerste in hulle lewe stel. Hy sal hulle help om vir hulle familie te sorg. In die eerste eeu het die jong man Timoteus geestelike doelwitte gestel, en jy kan dit ook doen. *Lees Filippense 2:19-22.

Is jy vasbeslote om in alles moedig te wees? (Sien paragraaf 13-17)

13. Hoe het moed ’n jong suster gehelp om haar doelwitte te bereik?

13 ’n Suster in Alabama, VSA, het moed nodig gehad om geestelike doelwitte te stel. Sy sê: “Ek was baie skaam toe ek jonk was. Ek kon skaars met mense by die Koninkryksaal praat en dit was nog moeiliker om aan vreemdelinge se deure te klop.” Maar met die hulp van haar ouers en ander in die gemeente het sy haar doelwit bereik en ’n gewone pionier geword. Sy sê: “Satan se wêreld wil hê dat jy verder moet gaan leer, populêr moet wees en baie geld en besittings moet hê. Die meeste van hierdie dinge is dikwels onbereikbaar en veroorsaak net stres en hartseer. Maar om Jehovah te dien maak my baie gelukkig.”

14. Hoekom het ouers moed nodig?

14 Ouers het ook moed nodig. Byvoorbeeld, jou baas vra jou dalk om gereeld saans en oor naweke oortyd te werk—tyd wat jy opsygesit het vir gesinsaanbidding, velddiens en vergaderinge. Ouers het moed nodig om vir hulle baas nee te sê en om ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders te stel. Of daar is dalk ouers in die gemeente wat hulle kinders toelaat om dinge te doen wat jy nie wil hê jou kinders moet doen nie. Daardie ouers vra dalk waarom jou kind nie aan sulke aktiwiteite deelneem nie. Sal jy moedig en taktvol jou redes aan hulle verduidelik?

15. Hoe kan Psalm 37:25 en Hebreërs 13:5 ouers help?

15 Ons wys dat ons moed het wanneer ons ons kinders help om geestelike doelwitte te stel en dit te bereik. Byvoorbeeld, party ouers is huiwerig om hulle kinders aan te moedig om te pionier, om te gaan dien waar daar meer hulp nodig is, om by Bethel te gaan werk of om aan teokratiese bouprojekte te werk. Ouers is dalk bang dat hulle kinders nie vir hulle sal kan sorg wanneer hulle oud is nie. Maar wyse ouers is moedig en vertrou dat Jehovah sy beloftes sal hou. (Lees Psalm 37:25; Hebreërs 13:5.) As jy jou kind help om op Jehovah te vertrou, is dit ook ’n manier om te wys dat ons moed het.—1 Sam. 1:27, 28; 2 Tim. 3:14, 15.

16. Hoe het party ouers hulle kinders gehelp om geestelike doelwitte te stel, en hoe het die kinders daarby baat gevind?

16 ’n Egpaar in die Verenigde State het hulle kinders gehelp om geestelike doelwitte te stel. Die man sê: “Voor ons kinders kon loop of praat, het ons vir hulle vertel hoe lekker dit is om te pionier en om die gemeente te help. Nou is dit hulle doelwit. Om geestelike doelwitte te hê en dit te bereik, help ons kinders om die druk van Satan se wêreld te weerstaan en eerder op Jehovah te fokus.” ’n Broer met twee kinders sê: “Baie ouers spandeer hulle tyd en energie om hulle kinders te help om uit te blink in sport, op skool te presteer en ’n stokperdjie te hê. Ouers moet eerder hulle tyd en energie gebruik om hulle kinders te help om geestelike doelwitte te stel en om ’n goeie verhouding met Jehovah te hê. Dit maak ons as ouers baie gelukkig om te sien hoe ons kinders hulle geestelike doelwitte bereik.” Ouers kan daarvan seker wees dat God hulle sal seën as hulle hulle kinders help om geestelike doelwitte te stel en te bereik.

MOED IN DIE GEMEENTE

17. Gee voorbeelde van moed in die gemeente.

17 Ons moet ook moedig in die gemeente wees. Byvoorbeeld, ouer manne het moed nodig wanneer hulle regterlike sake hanteer of wanneer hulle broers help wanneer daar ’n mediese noodgeval is. Party ouer manne besoek mense in die tronk om hulle geestelik te help. En wat van ongetroude susters? Hulle het nou baie geleenthede om meer te doen in die bediening. Hulle kan pionier, gaan help waar daar meer verkondigers nodig is, die LDC-spanne help en aansoek doen vir die Skool vir Koninkrykspredikers. Party word selfs genooi om Gileadskool by te woon.

18. Hoe kan ouer susters moedig wees?

18 Ouer susters is ’n seën vir die gemeente. Ons is baie lief vir hulle! Party van hulle kan nie meer so baie vir Jehovah doen as wat hulle kon toe hulle jonk was nie. Maar hulle kan nog steeds moedig wees en goeie dinge doen. (Lees Titus 2:3-5.) Byvoorbeeld, ’n ouer suster het moed nodig as sy gevra word om met ’n jonger suster oor haar kleredrag te praat. Sy sal taktvol met die jonger suster praat en haar help om te sien watter uitwerking haar kleredrag op ander kan hê (1 Tim. 2:9, 10). Sulke liefdevolle raad kan die jonger suster baie help.

19. (a) Hoe kan gedoopte broers moedig wees? (b) Hoe help Filippense 2:13 en 4:13 broers om moedig te wees?

19 Gedoopte broers moet ook moedig wees en optree. Broers wat moedig is en bereid is om meer verantwoordelikheid in die gemeente te aanvaar, is ’n groot seën vir die gemeente (1 Tim. 3:1). Party huiwer dalk om meer in die gemeente te doen. Miskien het ’n broer foute in die verlede gemaak en nou voel hy dat hy nie goed genoeg is om ’n bedieningskneg of ’n ouer man te kan wees nie. Party broers voel dalk dat hulle dit eenvoudig net nie kan doen nie. Jehovah kan jou help om moedig te wees as jy ook so voel. (Lees Filippense 2:13; 4:13.) Moses het ook gevoel dat hy nie Jehovah se opdrag kon uitvoer nie (Eks. 3:11). Maar Jehovah het hom gehelp en Moses het later die moed gehad om sy opdrag uit te voer. ’n Gedoopte broer kan ook moedig word as hy opreg vir God se hulp vra en elke dag die Bybel lees. Dit sal hom ook help as hy nadink oor voorbeelde van mense wat moedig was. Hy kan die ouer manne nederig vra om hom op te lei en sê dat hy bereid is om te help waar hulle hom nodig het. Ons spoor alle gedoopte broers aan om moedig te wees en om hard te werk in die gemeente!

“JEHOVAH . . . IS MET JOU”

20, 21. (a) Watter versekering het Dawid vir Salomo gegee? (b) Waarvan kan ons seker wees?

20 Koning Dawid het Salomo daaraan herinner dat Jehovah hom sal help om die tempel te bou (1 Kron. 28:20). Met Dawid se aanmoedigende woorde in gedagte, het Salomo nie toegelaat dat sy ouderdom of sy gebrek aan ondervinding vir hom ’n struikelblok word nie. Hy was baie moedig en het hard gewerk. Met Jehovah se hulp het hy die pragtige tempel in sewe en ’n half jaar voltooi.

21 Net soos Jehovah Salomo gehelp het, kan hy ons ook help om moedig te wees en om ons werk in die gesin en in die gemeente te doen (Jes. 41:10, 13). As ons Jehovah moedig dien, kan ons daarvan seker wees dat hy ons nou en in die toekoms sal seën. Daarom moet ons ‘moedig wees en optree’.

^ par. 12 Sien die artikel “Gebruik geestelike doelwitte om jou Skepper te verheerlik” in Die Wagtoring van 15 Julie 2004, wat jou kan help om geestelike doelwitte te stel.