Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die woord van ons God . . . sal tot onbepaalde tyd bly bestaan”

“Die woord van ons God . . . sal tot onbepaalde tyd bly bestaan”

“Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan.”—JES. 40:8.

LIEDERE: 116, 115

1, 2. (a) Hoe sou die lewe sonder die Bybel wees? (b) Hoe kan ons baat vind by God se Woord?

KAN jy jou voorstel hoe jou lewe sonder die Bybel sou wees? Jy sou nie geweet het wat reg of verkeerd is nie. Jy sou niks geweet het oor God, die lewe en die toekoms nie. Jy sou ook nie geweet het wat Jehovah in die verlede vir mense gedoen het nie.

2 Maar gelukkig het Jehovah sy Woord, die Bybel, vir ons gegee. En hy het belowe dat sy boodskap vir ewig sal bly bestaan. Die apostel Petrus het Jesaja 40:8 aangehaal. Hierdie vers verwys nie spesifiek na die Bybel nie, maar die geïnspireerde woorde kan ook op die Bybel se boodskap toegepas word. (Lees 1 Petrus 1:24, 25.) Ons vind natuurlik die meeste by die Bybel baat as ons dit in ons eie taal kan lees. Dié wat lief is vir God se Woord, het dit nog altyd geweet. Deur die eeue heen het opregte mense altyd probeer om die Bybel te vertaal en te versprei, al was dit nie altyd maklik nie. Hulle wou net soos God hê dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Tim. 2:3, 4.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 In hierdie artikel sal ons voorbeelde bespreek van hoe God se Woord bly bestaan het ten spyte van (1) taalveranderinge, (2) politieke veranderinge wat wêreldtale beïnvloed het en (3) mense wat Bybelvertaling teëgestaan het. Hoe sal hierdie bespreking ons help? Dit sal ons waardering vir God se Woord vergroot. Dit sal ook ons liefde vir die Outeur van die Bybel versterk.—Miga 4:2; Rom. 15:4.

TAALVERANDERINGE

4. (a) Hoe verander tale met die verloop van tyd? (b) Hoe weet ons dat God nie dink dat een taal beter as ’n ander is nie, en hoe voel jy hieroor?

4 Tale verander met die verloop van tyd. Die betekenis van woorde en uitdrukkings kan soms heeltemal verander. Miskien kan jy ook aan voorbeelde in jou taal dink. Dit geld ook vir Hebreeus en Grieks, die tale waarin die meeste van die Bybel geskryf is. Moderne Hebreeus en Grieks verskil hemelsbreed van dié tale in Bybeltye. Elkeen wat God se Woord wil verstaan, moet ’n vertaling daarvan lees, selfs al verstaan hulle moderne Hebreeus of Grieks. Party dink dat as hulle die Hebreeus en Grieks van die ou tyd leer, hulle die Bybel beter sal verstaan. Maar dit sal hulle miskien nie so baie help as wat hulle dink nie. * Ons is baie bly dat die Bybel, of gedeeltes daarvan, in meer as 3 200 tale vertaal is. Jehovah wil hê dat mense van “elke nasie en stam en taal” die kans moet hê om die Bybel te lees en te verstaan. (Lees Openbaring 14:6.) Laat dit ons nie nader aan ons liefdevolle en onpartydige God voel nie?—Hand. 10:34.

5. Waarom was die King James-vertaling ’n baie belangrike vertaling?

5 Die tale waarin die Bybel vertaal is, het ook met verloop van tyd verander. ’n Bybelvertaling wat maklik verstaanbaar was toe dit gemaak is, kan deur die eeue heen minder verstaanbaar word. ’n Voorbeeld hiervan is die King James-vertaling van 1611. Dit is een van die gewildste Bybelvertalings in Engels, en dit het ’n groot invloed op die Engelse taal gehad. * Maar die King James-vertaling het Jehovah se naam net op ’n paar plekke gebruik. Op die ander plekke waar God se naam in die Hebreeuse Geskrifte voorgekom het, het dit die woord “HERE” in hoofletters gebruik. Latere uitgawes het ook die woord “HERE” in hoofletters in party verse in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik. Die King James-vertaling het so erken dat God se naam in die sogenaamde Nuwe Testament moet wees.

6. Waarom is ons bly om die Nuwe Wêreld-vertaling te hê?

6 Toe die King James-vertaling die eerste keer gedruk is, het mense dit maklik verstaan. Maar mettertyd het dit al hoe moeiliker geword om baie van die woorde te verstaan. Dit was ook die geval met Bybelvertalings in ander tale. Ons is baie bly om die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif te hê wat moderne taal gebruik. Hierdie vertaling is in sy geheel of gedeeltelik in meer as 150 tale beskikbaar. Dit beteken dat die meeste mense op die aarde hierdie vertaling in hulle eie taal kan lees. Hierdie vertaling gebruik maklik verstaanbare woorde sodat die boodskap van die Bybel ons hart kan bereik (Ps. 119:97). Die Nuwe Wêreld-vertaling is baie spesiaal, want dit gebruik God se naam oral waar dit in die oorspronklike teks was.

POLITIEKE VERANDERINGE

7, 8. (a) Waarom kon baie Jode in die derde eeu VHJ nie die Hebreeuse Geskrifte verstaan nie? (b) Wat is die Griekse Septuagint?

7 Die politieke situasie het soms bepaal watter taal deur die meeste mense gepraat is. Maar Jehovah het altyd seker gemaak dat die Bybel beskikbaar sou wees in ’n taal wat mense kon verstaan. Byvoorbeeld, die eerste 39 boeke van die Bybel is deur die Israeliete, of Jode, geskryf. In die begin is “die heilige verklarings van God aan hulle toevertrou” (Rom. 3:1, 2). Maar teen die derde eeu VHJ het baie Jode nie meer Hebreeus verstaan nie. Hoekom nie? Omdat Aleksander die Grote die Griekse Ryk uitgebrei het deur ’n groot deel van die wêreld te verower (Dan. 8:5-7, 20, 21). Namate die Griekse Ryk uitgebrei het, het die meeste mense Grieks begin praat, insluitende die Jode. Dit was vir baie Jode moeilik om die Hebreeuse Geskrifte te verstaan. Hoe sou hierdie probleem opgelos word?

8 Die eerste vyf boeke van die Bybel is ongeveer teen die middel van die derde eeu VHJ uit Hebreeus in Grieks vertaal. Die res van die Hebreeuse Geskrifte is in die tweede eeu VHJ vertaal. Hierdie vertaling is die Griekse Septuagint genoem. Dit is die eerste volledige geskrewe vertaling van die Hebreeuse Geskrifte.

9. (a) Hoe het die Septuagint en ander vroeë vertalings lesers van die Bybel gehelp? (b) Van watter deel van die Hebreeuse Geskrifte hou jy die meeste?

9 Toe die Septuagint beskikbaar gestel is, kon Griekssprekende Jode en ander die Bybel lees. Dink net hoe bly hulle was toe hulle God se Woord nou in hulle eie taal kon lees! Later is gedeeltes van die Bybel vertaal in ander tale, soos Siries, Goties en Latyn, wat deur baie mense gepraat is. Mense wat die Bybel in hulle eie taal kon lees, het ongetwyfeld, net soos ons vandag, ook hulle gunsteling Bybelverse gehad. (Lees Psalm 119:162-165.) God se Woord het bly bestaan, al het die politieke situasie verander en die meeste mense ’n ander taal begin praat.

BYBELVERTALING WORD TEËGESTAAN

10. Hoekom kon die meeste mense in John Wycliffe se tyd nie die Bybel lees nie?

10 Deur die jare heen het baie leiers mense verbied om die Bybel te lees. Maar godvresende manne het nie opgehou om die Bybel te vertaal en te versprei nie. Een van hierdie manne was John Wycliffe wat in die 14de eeu in Engeland geleef het. Hy het vas geglo dat almal God se Woord moet kan lees. Maar in sy dag het die meeste mense in Engeland nooit die boodskap van die Bybel in hulle eie taal gehoor nie. Hoekom nie? Die meeste mense kon nie ’n Bybel bekostig nie, want dit was met die hand oorgeskryf en baie duur. En die meeste mense kon nie lees of skryf nie. Mense wat kerk toe gegaan het, het dalk gehoor hoe die Bybel in Latyn gelees word, maar dit was ’n ou taal wat die gewone mense nie verstaan het nie. Wat het Jehovah gedoen sodat mense die Bybel in hulle eie taal kon hoor?—Spr. 2:1-5.

John Wycliffe en ander wou hê dat almal God se Woord moet kan lees en verstaan. Het jy ook hierdie begeerte? (Sien paragraaf 11)

11. Watter uitwerking het Wycliffe se Bybel op mense gehad?

11 In 1382 het John Wycliffe en ander die Bybel in Engels vertaal. Die Wycliffe-Bybel was baie gewild onder sy volgelinge. Hulle was baie lief vir die Bybel. Hulle het dwarsdeur Engeland van dorpie tot dorpie gegaan om vir mense die Bybel voor te lees en handgeskrewe afskrifte van gedeeltes van die Bybel aan hulle te gee. As gevolg van hulle werk het mense weer in die Bybel begin belangstel.

12. Hoe het die kerkleiers gevoel oor Wycliffe en sy werk?

12 Die kerkleiers het Wycliffe, sy Bybel en sy volgelinge gehaat en hulle vervolg. Hulle het ook al die Wycliffe-Bybels vernietig wat hulle in die ­hande kon kry. Ná sy dood is Wycliffe as ’n ketter, of ’n vyand van die kerk, verklaar. Hulle kon natuurlik nie ’n dooie persoon straf nie, maar die kerkleiers het Wycliffe se beendere opgegrawe, dit verbrand en die as in die Swift-­rivier gegooi. Maar baie mense wou God se Woord lees en verstaan, en die Kerk kon hulle nie keer nie. Van toe af het mense in Europa en ander dele van die wêreld die Bybel in baie tale begin vertaal en versprei sodat die gewone mense dit kon verstaan.

“DIE EEN WAT JOU LEER OM JOUSELF TE BEVOORDEEL”

13. Waarvan is ons oortuig, en hoe versterk dit ons geloof?

13 Die Bybel is deur God geïnspireer. Maar Christene weet dat geen vertaling, soos die Septuagint, die Wycliffe-Bybel, die King James-vertaling of enige ander vertaling deur God geïnspireer is nie. Maar as ons na die geskiedenis van hierdie vertalings kyk, is een ding baie duidelik: Jehovah se Woord het bly bestaan, net soos hy belowe het. Dit versterk ons geloof dat al Jehovah se ander beloftes ook waar sal word.—Jos. 23:14.

14. Hoe help God se Woord ons om hom lief te hê?

14 As ons sien hoe Jehovah sy Woord beskerm het, versterk dit nie net ons geloof nie, maar ons word nog liewer vir Jehovah. * Hoekom het ­Jehovah sy Woord vir ons gegee? En hoekom het Hy gesê dat dit sal bly ­bestaan? Want hy is lief vir ons, en hy wil ons leer om onsself te bevoordeel. (Lees Jesaja 48:17, 18.) Daarom wil ons Jehovah ook liefhê en hom ­gehoorsaam.—1 Joh. 4:19; 5:3.

15. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

15 Ons is baie lief vir die Bybel, en daarom wil ons ten volle daarby baat vind. Hoe kan ons by ons Bybellees baat vind? Wat sal ons help om die ­Bybel goed te gebruik wanneer ons velddiens doen? Hoe kan ons die ­aandag op die Bybel vestig wanneer ons ’n toespraak hou? Ons sal die antwoorde op hierdie vrae in die volgende artikel bespreek.

^ par. 4 Sien die artikel “Hebreeus en Grieks—Moet jy dit leer?” in Die Wagtoring van 1 November 2009.

^ par. 5 ’n Aantal idiome in Engels het hulle oorsprong in die King James-vertaling.

^ par. 14 Sien die venster “ Kom kyk self!