Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om ander in liefde op te bou

Hou aan om ander in liefde op te bou

“Liefde bou op.” — 1 KOR. 8:1.

LIED: 109, 121

1. Watter belangrike onderwerp het Jesus bespreek op sy laaste aand saam met sy dissipels?

OP JESUS se laaste aand saam met sy dissipels, het hy amper 30 keer van liefde gepraat. Hy het veral beklemtoon dat sy dissipels “mekaar moet liefhê” (Joh. 15:12, 17). Hulle liefde vir mekaar sou so buitengewoon wees dat almal duidelik sou kon sien dat hulle sy ware volgelinge is (Joh. 13:34, 35). Hierdie soort liefde is meer as net ’n gevoel. Die liefde waarvan Jesus gepraat het, is die pragtige eienskap van selfopofferende liefde. Hy het gesê: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand van sy siel afstand doen ten behoewe van sy vriende. Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel.” — Joh. 15:13, 14.

2. (a) Wat sien ons onder God se knegte? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel beantwoord?

2 Vandag word Jehovah se knegte geïdentifiseer deur hulle opregte, selfopofferende liefde en hulle sterk band van eenheid (1 Joh. 3:10, 11). Ons is baie dankbaar dat Jehovah se knegte hierdie Christelike liefde vir mekaar het, maak nie saak van watter nasionaliteit, stam, taal of agtergrond hulle is nie! Maar ons wonder dalk: ‘Hoekom is liefde veral vandag so belangrik? Hoe bou Jehovah en Jesus ons in liefde op? Hoe kan elkeen van ons wys dat ons Christelike liefde het wat ander ‘opbou’?’ — 1 Kor. 8:1.

HOEKOM LIEFDE VERAL NOU BELANGRIK IS

3. Watter uitwerking het hierdie “kritieke tye” op mense?

3 In hierdie “kritieke tye” ervaar baie mense emosionele pyn en angs omdat die lewe so “vol moeite en skadelike dinge” is (2 Tim. 3:1-5; Ps. 90:10). Baie voel dat hulle nie meer kan aangaan nie. Daar word geskat dat meer as 800 000 mense elke jaar selfmoord pleeg — omtrent een persoon elke 40 sekondes. Ongelukkig het selfs party Christene hulle eie lewe geneem omdat hulle nie die druk van die lewe kon hanteer nie.

4. Watter Bybelkarakters het gesê dat hulle nie meer wou lewe nie?

4 In Bybeltye was party van God se getroue knegte so oorweldig deur hulle omstandighede dat hulle nie meer wou lewe nie. Byvoorbeeld, Job het soveel pyn gehad dat hy gesê het dat hy sy lewe haat en nie meer wil lewe nie (Job 7:16; 14:13). Jona was baie teleurgesteld omdat dinge nie gebeur het soos wat hy verwag het nie. Daarom het hy gesê: “Nou, o Jehovah, neem asseblief my siel van my weg, want dit is beter dat ek sterf as dat ek lewe” (Jona 4:3). En die getroue profeet Elia het eenkeer so mismoedig gevoel dat hy gevra het om dood te gaan. Hy het gesê: “Dit is genoeg! Neem nou my siel weg, o Jehovah” (1 Kon. 19:4). Maar hierdie toegewyde knegte van Jehovah was vir hom kosbaar, en hy wou hê dat hulle moes lewe. In plaas daarvan om hulle te veroordeel omdat hulle nie meer wou lewe nie, het hy hulle eerder gehelp om hierdie gevoel te oorkom. En hy het hulle in liefde opgebou sodat hulle kon aanhou om hom getrou te dien.

5. Hoekom het ons broers en susters veral nou ons liefde nodig?

5 Selfs al voel ons broers en susters nie noodwendig dat hulle wil doodgaan nie, is daar baie van hulle wat ernstige probleme en baie stres het. Daarom moet ons hulle in liefde opbou. Party word vervolg en gespot. Ander word die hele tyd by hulle werk gekritiseer of daar word agter hulle rug van hulle gepraat. Of hulle is doodmoeg omdat hulle aanmekaar oortyd moet werk of die een sperdatum na die ander moet haal. En ander het ernstige probleme by die huis, soos ’n ongelowige maat wat gedurig foutvind met alles wat hulle doen. As gevolg van hierdie soort probleme is baie in die gemeente onder geweldige druk en voel hulle fisies en emosioneel uitgeput. Wie kan diegene help wat aanmoediging nodig het?

WORD DEUR JEHOVAH SE LIEFDE OPGEBOU

6. Hoe bou Jehovah sy knegte in liefde op?

6 Jehovah bou sy knegte op deur hulle te verseker dat hy altyd vir hulle sal lief wees. Dit moes getroue Israeliete seker baie aangemoedig het toe hulle hoor hoe Jehovah sê: “Omdat jy kosbaar was in my oë, is jy eerwaardig geag, en ek het jou liefgehad. . . . ‘Moenie bang wees nie, want ek is met jou’”! (Jes. 43:4, 5). As een van Jehovah se knegte kan jy daarvan seker wees dat jy vir Jehovah kosbaar is en dat hy jou baie liefhet. * God se Woord bevat die volgende belofte oor diegene wat ware aanbidding beoefen: “As ’n Magtige sal hy red. Hy sal hom met blydskap oor jou verheug.” — Sef. 3:16, 17.

7. Hoe is Jehovah se liefde soos die liefde wat ’n ma vir haar baba het? (Sien prent aan begin van artikel.)

7 Jehovah belowe om sy volk te ondersteun en te vertroos, maak nie saak watter probleme hulle het nie. Hy het gesê: “Op die heup sal julle gedra word en op die knieë sal julle getroetel word. Soos ’n man wat voortdurend deur sy moeder vertroos word, so sal ek julle voortdurend vertroos” (Jes. 66:12, 13). Raak hierdie beskrywing nie ons hart nie? Dink aan hoe ’n liefdevolle ma haar baba op die heup dra of met hom op haar skoot speel. Jehovah gebruik hierdie illustrasie om te wys dat hy ware aanbidders baie liefhet en graag wil hê dat hulle veilig moet voel. Jy moet nooit daaraan twyfel dat jy vir Jehovah baie kosbaar is en dat hy jou liefhet het nie. — Jer. 31:3.

8, 9. Hoe kan Jesus se liefde ons versterk?

8 Daar is nog iets wat ware Christene verseker dat God hulle liefhet. Die Bybel sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Jesus het ook gewys hoe lief hy ons het deur sy lewe vir ons te gee. Ons word werklik deur sy liefde versterk! God se Woord belowe dat nie eers “verdrukking of benoudheid” ons “van die liefde van die Christus [kan] skei” nie. — Rom. 8:35, 38, 39.

9 Wanneer ons met probleme sukkel wat ons fisies, emosioneel of geestelik uitput, kan die krag van Jesus se liefde ons versterk en ons help om te volhard. (Lees 2 Korintiërs 5:14, 15.) Jesus se liefde het die krag om ons te ondersteun en te motiveer om nie op te gee nie, selfs wanneer ons dinge soos rampe, vervolging en persoonlike teleurstellings moet deurmaak of baie stres verduur.

ONS BROERS HET ONS LIEFDE NODIG

Wanneer jy meer oor Jesus se voorbeeld leer, kan dit jou motiveer om ander aan te moedig (Sien paragraaf 10, 11)

10, 11. Wie se verantwoordelikheid is dit om broers wat aanmoediging nodig het, op te bou? Verduidelik.

10 Een manier hoe Jehovah ons in liefde opbou, is deur die Christengemeente. En wanneer ons liefdevol is teenoor ons broers en susters en hulle geestelik en emosioneel opbou, wys ons dat ons Jehovah liefhet (1 Joh. 4:19-21). Die apostel Paulus het Christene aangemoedig: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou, net soos julle ook reeds doen” (1 Tess. 5:11). Ja, almal in die gemeente — nie net die ouer manne nie — kan Jehovah en Jesus navolg deur die broers en susters te vertroos en op te bou. — Lees Romeine 15:1, 2.

11 Party in die gemeente wat emosioneel siek is, het miskien professionele hulp en medikasie nodig (Luk. 5:31). Ouer manne en ander in die gemeente besef dat hulle nie opgeleide dokters is nie. Maar hulle en ander in die gemeente speel ’n belangrike rol. Die Bybel sê: “Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal” (1 Tess. 5:14). Alle Christene moet empatie met hulle broers hê en liefdevol en geduldig teenoor hulle wees. Ons moet ook vertroostend praat met diegene wat mismoedig is sodat ons hulle kan opbou. Probeer jy om ander te vertroos en aan te moedig? As jy weet hoe om dit te doen, sal jy jou broers beter kan help.

12. Gee ’n voorbeeld van iemand wat deur die liefde van hulle gemeente opgebou is.

12 Hoe kan ons liefde diegene opbou wat pynlike emosies ervaar? ’n Suster in Europa sê: “Soms kry ek selfmoordgedagtes, maar my gemeente ondersteun my baie. Hulle het my lewe gered. Die broers en susters is altyd baie aanmoedigend en liefdevol. Hoewel net ’n paar van hulle weet dat ek aan depressie ly, is die gemeente altyd daar vir my. Een getroude paartjie is soos my geestelike ouers. Hulle kyk mooi na my en sal my enige tyd van die dag of nag help.” Natuurlik sal almal nie ewe veel kan doen nie. Maar wanneer ons opreg probeer om diegene te help wat emosionele pyn het, kan dit baie vir hulle beteken. *

HOE OM ANDER IN LIEFDE OP TE BOU

13. Wat moet ons doen as ons ander wil opbou?

13 Wees ’n goeie luisteraar (Jak. 1:19). Wanneer jy met empatie na iemand luister, wys jy dat jy hom liefhet. Jy kan die persoon op ’n liefdevolle manier vrae vra sodat jy sy gevoelens beter kan verstaan. Dan sal jy empatie met jou broer kan hê en sal jy hom kan opbou. Wys deur jou gesigsuitdrukkings dat jy opreg in hom belangstel en hom liefhet. As hy in meer detail vir jou wil vertel hoe hy voel, moet jy geduldig wees en hom nie in die rede val nie. As jy geduldig na hom luister, sal jy waarskynlik beter verstaan hoekom hy so voel. Dit kan hom help om jou te vertrou en dit vir hom makliker maak om na jou te luister terwyl jy hom probeer aanmoedig. Wanneer jy vir ander wys dat jy vir hulle lief is en werklik vir hulle omgee, kan dit hulle baie vertroos.

14. Hoekom wil ons dit vermy om krities te wees?

14 Vermy ’n kritiese gesindheid. As dit vir ’n persoon wat depressief is, lyk asof ons krities teenoor hom is, sal dit hom net erger laat voel, en dan sal dit moeiliker wees om hom in liefde op te bou. Die Bybel sê: “Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke, maar die tong van die wyses is genesing” (Spr. 12:18). Ons sal natuurlik nie doelbewus ’n persoon wat depressief is, wil seermaak deur hom met woorde te ‘steek’ nie. Maar selfs al doen ons dit per ongeluk, kan dit iemand nog steeds baie seermaak. Om ander in liefde op te bou, het ons empatie nodig, met ander woorde ons moet onsself sover moontlik in hulle situasie plaas. — Matt. 7:12.

15. Watter uitstekende hulpmiddel kan ons gebruik om ander in liefde op te bou?

15 Gebruik God se Woord om ander te vertroos. (Lees Romeine 15:4, 5.) In God se Woord is daar kosbare skatte wat ons kan aanmoedig en vertroos. Die Bybel kom van “die God wat volharding en vertroosting verskaf”. Behalwe tekste in die Bybel wat ons kan vertroos, het ons ook baie Bybelstudiehulpe, soos die Watch Tower Publications Index en die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. Ons kan hierdie hulpmiddele gebruik om opbouende Skriftuurlike gedagtes te vind wat ’n persoon kan help om verskillende soorte probleme te hanteer. Hierdie hulpmiddele maak dit vir ons moontlik om empatie met ons broers en susters te hê en hulle liefdevol te vertroos en aan te moedig.

16. Watter eienskappe sal ons help om ’n Christen wat depressief is, aan te moedig?

16 Wees sag en teer. Hierdie is kosbare aspekte van die onselfsugtige liefde wat ons aan iemand bewys wanneer ons hom aanmoedig en opbou. Jehovah is “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting”, en hy het “tere medelye” met sy knegte. (Lees 2 Korintiërs 1:3-6; Luk. 1:78; Rom. 15:13.) Paulus het ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Hy het geskryf: “Ons het teergevoelig geword in julle midde, soos wanneer ’n sogende moeder haar eie kinders koester. Omdat ons dan ’n tere geneentheid vir julle het, het ons julle met graagte nie net die goeie nuus van God meegedeel nie, maar ook ons eie siele, want julle het by ons gelief geword” (1 Tess. 2:7, 8). Wanneer ons sag en teer is soos Jehovah, is ons dalk die antwoord op iemand se gebede.

17. Watter gebalanseerde beskouing sal ons help om ons broers in liefde op te bou?

17 Moenie verwag dat jou broers volmaak moet wees nie. Behou ’n gebalanseerde beskouing van jou geestelike broers en susters. Dit is onrealisties om te dink dat ons broers en susters nooit foute sal maak nie. So ’n beskouing sal net tot teleurstelling lei (Pred. 7:21, 22). Jehovah is realisties en sal nooit iets van sy knegte verwag wat hulle nie kan doen nie. As ons sy voorbeeld navolg, sal ons bereid wees om ander se foute te verdra (Ef. 4:2, 32). Ons wil nooit ons broers laat voel dat hulle nie genoeg in Jehovah se diens doen nie. Ons wil eerder ’n punt daarvan maak om hulle te prys vir dit wat hulle wel doen. Dit kan hulle baie aanmoedig. Wanneer ons ander opreg prys, kan ons hulle in liefde opbou en hulle help om ’n “rede tot vreugde” te hê terwyl hulle Jehovah dien. Dit is beter om dit te doen as om hulle sleg te laat voel deur hulle met ander te vergelyk. — Gal. 6:4.

18. Hoekom wil ons ander in liefde opbou?

18 Elkeen van Jehovah se skape is vir hom en vir Jesus, wat sy lewe as ’n losprys gegee het, baie kosbaar (Gal. 2:20). Ons het ons geestelike broers en susters baie lief, en ons wil hulle op ’n liefdevolle manier behandel. As ons hulle graag wil aanmoedig, moet ons “die dinge nastreef wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is” (Rom. 14:19). Ons almal sien uit na die Paradys wanneer niemand enige rede sal hê om mismoedig te wees nie! Daar sal nie meer siekte, oorloë, dood as gevolg van oorgeërfde sonde, vervolging, gesinsprobleme en teleurstellings wees nie. Aan die einde van die 1 000 jaar sal alle mense volmaak wees. Diegene wat tydens die finale toets getrou bly, sal as Jehovah God se aardse kinders aangeneem word en “die glorieryke vryheid van die kinders van God” hê (Rom. 8:21). Laat ons aanhou om mekaar in liefde op te bou en mekaar help om daardie doelwit te bereik, want dit sal vir ons almal vreugde en seëninge bring.

^ par. 12 Vir praktiese voorstelle oor hoe om selfmoordgedagtes en sulke gevoelens te hanteer, sien die volgende artikels in die Ontwaak!: “Waarom voortgaan? Drie redes om te bly lewe” (April 2014); “Wanneer jy net ’n einde aan alles wil maak” (Januarie 2012); en “Die lewe is die moeite werd” (22 Oktober 2001).