Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gelukkig is diegene wat “die gelukkige God” dien

Gelukkig is diegene wat “die gelukkige God” dien

“Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is!” — PS. 144:15.

LIED: 44, 125

1. Hoekom is aanbidders van Jehovah gelukkig? (Sien prent aan begin van artikel.)

JEHOVAH SE GETUIES is gelukkige mense. By hulle vergaderinge, by hulle byeenkomste en ook wanneer hulle saam kuier, hoor jy hoe hulle lekker gesels en saam lag. Hoekom is hulle so gelukkig? Die hoofrede hiervoor is omdat hulle Jehovah, “die gelukkige God”, ken, dien en hard probeer om hom na te volg (1 Tim. 1:11; Ps. 16:11). God is die Bron van ware geluk. Daarom wil hy hê dat ons gelukkig moet wees, en hy gee ons baie redes om bly te wees. — Deut. 12:7; Pred. 3:12, 13.

2, 3. (a) Wat beteken dit om gelukkig te wees? (b) Hoekom is dit dalk moeilik om gelukkig te wees?

2 Wat van jou? Is jy gelukkig? Wil jy graag gelukkiger wees? Geluk is al beskryf as ‘’n toestand wat iemand ervaar wanneer hy ’n vreugde diep in sy hart voel of eenvoudig net tevrede is. Hierdie gevoel verdwyn nie vinnig nie, en ’n mens wil gewoonlik nie hê dat dit moet ophou nie.’ Volgens die Bybel is iemand werklik gelukkig wanneer hy deur Jehovah geseën word. Maar dit kan moeilik wees om in hierdie wêreld gelukkig te wees. Hoekom?

3 Stresvolle situasies — soos wanneer ’n geliefde sterf of uitgesit word of wanneer ons deur ’n egskeiding gaan of ons werk verloor — kan ons ongelukkig maak. Dit kan ons ook ongelukkig maak wanneer daar nie vrede by die huis is nie omdat daar heeltyd ’n stryery is. Nog iets wat dit moeilik kan maak om gelukkig te wees, is wanneer ons by die werk of skool gespot word of in die tronk gegooi of vervolg word as gevolg van ons geloof. En wanneer ons gesondheid agteruitgaan, ons ’n chroniese siekte het of aan depressie ly, kan dit ons ook van ons geluk beroof. Maar ons moet onthou dat dit Jesus Christus, “die gelukkige en enigste Maghebber”, baie bly gemaak het om mense te vertroos en gelukkig te maak (1 Tim. 6:15; Matt. 11:28-30). In sy Bergpredikasie het Jesus ’n hele paar eienskappe genoem wat ons kan help om gelukkig te wees, ten spyte van ernstige probleme in Satan se wêreld.

’N STERK VERHOUDING MET JEHOVAH — NOODSAAKLIK VIR GELUK

4, 5. Wat kan ons doen om gelukkig te wees en gelukkig te bly?

4 Die eerste ding wat Jesus in sy Bergpredikasie genoem het, is baie belangrik. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte, want die koninkryk van die hemele behoort aan hulle” (Matt. 5:3). Hoe wys ons dat ons bewus is van ons geestelike behoefte? Ons doen dit deur geestelike voedsel in te neem, volgens geestelike standaarde te lewe en die aanbidding van die gelukkige God die belangrikste ding in ons lewe te maak. As ons hierdie dinge doen, sal dit ons help om gelukkiger te wees. Ons sal ons geloof versterk dat God se beloftes binnekort vervul gaan word. En ons sal aangemoedig word deur “die gelukkige hoop” wat ware aanbidders in God se Woord vind. — Tit. 2:13.

5 As ons gelukkig wil bly, is dit noodsaaklik dat ons ’n sterk verhouding met Jehovah het. Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Verbly julle altyd in die Here [Jehovah]. Weer eens sal ek sê: Verbly julle!” (Fil. 4:4). Om hierdie kosbare verhouding te hê, het ons goddelike wysheid nodig. God se Woord sê: “Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het en die mens wat onderskeidingsvermoë verkry. . . . Dit is ’n boom van die lewe vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word.” — Spr. 3:13, 18.

6. Wat moet ons nog doen as ons gelukkig wil bly?

6 Maar as ons gelukkig wil bly, moet ons nie net God se Woord lees nie. Ons moet ook toepas wat ons daaruit leer. Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is toe hy gesê het: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen.” (Joh. 13:17; lees Jakobus 1:25.) Hierdie woorde wys dat ons moet toepas wat ons leer as ons ons geestelike behoefte wil bevredig en gelukkig wil bly. Maar hoe kan ons gelukkig wees as daar so baie dinge is wat ons ongelukkig kan maak? Kom ons kyk na wat Jesus volgende in sy Bergpredikasie gesê het.

EIENSKAPPE WAT ONS HELP OM GELUKKIGER TE WEES

7. Hoe kan diegene wat treur, gelukkig wees?

7 “Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word” (Matt. 5:4). Party wonder dalk: ‘Hoe kan diegene wat treur, of hartseer is, gelukkig wees?’ Jesus het nie hier gepraat van almal wat treur nie. Selfs goddelose mense treur oor al die verskriklike dinge wat gebeur in hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’ (2 Tim. 3:1). Maar wanneer hulle treur, dink hulle net aan hulleself, en daarom bring hulle hartseer hulle nie nader aan Jehovah nie en kan hulle nie gelukkig wees nie. Jesus het waarskynlik gepraat van diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte en wat treur oor die slegte geestelike toestand van die wêreld. Hulle besef dalk dat hulle sondaars is, en hulle sien die hartseer toestande wat veroorsaak word deur sondige mense. Sulke mense wat opreg hartseer is, word deur Jehovah raakgesien. Hy vertroos hulle deur sy Woord en seën hulle met geluk en die ewige lewe. — Lees Esegiël 5:11; 9:4.

8. Hoe kan saggeaardheid ons help om gelukkig te wees?

8 “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matt. 5:5). Hoe kan saggeaardheid ons help om gelukkig te wees? Wanneer mense die waarheid leer, maak hulle veranderinge in hulle lewe. Hulle was miskien voorheen onbeskof, stryerig en aggressief. Maar nou het hulle “die nuwe persoonlikheid” en eienskappe soos “tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid” (Kol. 3:9-12). As gevolg hiervan het hulle meer vrede, liefde en geluk in hulle lewe. En God se Woord belowe dat sulke persone ‘die aarde sal beërf’. — Ps. 37:8-10, 29.

9. (a) In watter sin sal die saggeaardes “die aarde beërf”? (b) Hoekom kan “dié wat honger en dors na regverdigheid”, gelukkig wees?

9 In watter sin sal die saggeaardes “die aarde beërf”? Jesus se gesalfde dissipels beërf die aarde wanneer hulle as konings en priesters daaroor regeer (Op. 20:6). Maar miljoene mense wat nie die hemelse hoop het nie, sal die aarde beërf in die sin dat hulle toegelaat sal word om vir ewig daarop te woon. Hulle sal volmaak en gelukkig wees en in vrede lewe. Albei groepe is gelukkig omdat hulle “honger en dors na regverdigheid” (Matt. 5:6). Hulle geestelike honger en dors na regverdigheid sal in die nuwe wêreld heeltemal bevredig word (2 Pet. 3:13). Wanneer God uiteindelik ’n einde maak aan alle goddeloosheid, sal die regverdiges gelukkig wees en nooit weer hartseer wees as gevolg van wetteloosheid en onregverdigheid nie. — Ps. 37:17.

10. Wat beteken dit om meegevoel met ander te hê?

10 “Gelukkig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word” (Matt. 5:7). ’n Hebreeuse werkwoord wat met barmhartigheid, of meegevoel, verband hou, beteken om van liefde te gloei, om medelye te hê, of vir iemand jammer te voel. Die gedagte om simpatie vir iemand anders te hê, word ook deur die Griekse werkwoord oorgedra. Maar meegevoel is meer as net ’n emosie. In die Bybel sluit meegevoel in dat jy iets doen om te wys dat jy vir iemand jammer voel.

11. Wat kan ons oor meegevoel leer uit die illustrasie van die barmhartige Samaritaan?

11 Lees Lukas 10:30-37. Jesus se illustrasie van die barmhartige Samaritaan wys duidelik wat dit beteken om meegevoel te hê. Die Samaritaan het meegevoel gehad met die man wat aangeval was en hom baie jammer gekry, en daarom het hy iets gedoen om hom te help. Nadat Jesus die illustrasie vertel het, het hy gesê: “Gaan en doen jy net so.” Daarom kan ons ons afvra: ‘Doen ek net so? Doen ek wat die barmhartige Samaritaan gedoen het? Kan ek meer doen om te wys dat ek meegevoel met ander het? Kan ek diegene wat swaarkry op praktiese maniere help? Byvoorbeeld, kan ek ouer mede-Christene, weduwees en diegene wat geestelik vaderloos is, help? Kan ek die inisiatief neem om “vertroostend met die terneergedrukte siele” te praat?’ — 1 Tess. 5:14; Jak. 1:27.

As jy die inisiatief neem om meegevoel met ander te hê, sal jy sien hoe gelukkig dit almal maak (Sien paragraaf 12)

12. Hoe help meegevoel ons om gelukkig te wees?

12 Maar hoe help meegevoel ons om gelukkig te wees? Wanneer ons meegevoel met ander het, ervaar ons die geluk daarvan om te gee. Dit maak ons ook gelukkig omdat ons weet dat ons Jehovah se hart bly maak. (Hand. 20:35; lees Hebreërs 13:16.) In verband met ’n persoon wat bedagsaam is, het koning Dawid gesê: “Jehovah sal hom bewaar en hom in die lewe hou. Hy sal gelukkig genoem word op die aarde” (Ps. 41:1, 2). Wanneer ons wys dat ons meegevoel met ander het, sal Jehovah ook meegevoel met ons hê, en dan sal ons vir ewig gelukkig kan wees. — Jak. 2:13.

HOEKOM “DIÉ WAT SUIWER VAN HART IS”, GELUKKIG IS

13, 14. Wat is die verband tussen ’n suiwer hart en geluk?

13 Jesus het gesê: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien” (Matt. 5:8). Om ons hart suiwer te hou, moet ons gevoelens en begeertes rein wees. Ons moet ons gedagtes skoon hou as ons Jehovah wil aanbid op ’n manier wat geestelik rein is. — Lees 2 Korintiërs 4:2; 1 Tim. 1:5.

14 Diegene wat suiwer van hart is, kan ’n rein en gelukkige posisie voor Jehovah hê. Hy het gesê: “Gelukkig is dié wat hulle klere was” (Op. 22:14). In watter sin ‘was hulle hulle klere’? Gesalfde Christene ‘was hulle klere’ in die sin dat hulle skoon is in Jehovah se oë. Hulle sal onsterflike lewe in die hemel kry en vir altyd gelukkig wees. Die groot menigte wat die hoop het om op die aarde te lewe, kan ook ’n regverdige posisie as vriende van God geniet. Hulle is selfs nou besig om ‘hulle klere te was en wit te maak in die bloed van die Lam’. — Op. 7:9, 13, 14.

15, 16. Hoe kan dié wat suiwer van hart is “God sien”?

15 Maar hoe kan dié wat suiwer van hart is “God sien”, terwyl die Bybel sê: “Geen mens kan [God] sien en nogtans lewe nie”? (Eks. 33:20). Die Griekse woord wat as “sien” vertaal word, kan die gedagte oordra “om met die verstand te sien, om te verstaan, om te weet”. Diegene wat God met ‘die oë van die hart’ sien, is dié wat hom regtig leer ken het en sy eienskappe waardeer (Ef. 1:18). Jesus het God se persoonlikheid volmaak weerspieël, en daarom kon hy sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.” — Joh. 14:7-9.

16 Behalwe om God se eienskappe te leer ken, kan ware aanbidders “God sien” wanneer hulle sien hoe Jehovah hulle help (Job 42:5). Hulle fokus ook ‘die oë van hulle hart’ op die wonderlike seëninge wat God belowe aan diegene wat hulle bes probeer om suiwer te bly en hom getrou te dien. Gesalfdes sal Jehovah natuurlik in ’n letterlike sin sien wanneer hulle tot lewe in die hemel opgewek word. — 1 Joh. 3:2.

GELUKKIG, AL HET ONS PROBLEME

17. Hoe hou vrede verband met ons geluk?

17 Jesus het verder gesê: “Gelukkig is die vredeliewendes [of “dié wat vrede maak”]” (Matt. 5:9). Diegene wat die eerste stap doen om vrede te maak, het goeie rede om gelukkig te wees. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Die saad van die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak” (Jak. 3:18). Wanneer daar probleme tussen ons en iemand anders in die gemeente of in ons familie is, kan ons God smeek om ons te help om vrede te maak. As ons dit doen, sal Jehovah ons sy heilige gees gee wat ons sal help om reg op te tree en gelukkig te wees. Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is om die eerste stap te doen om vrede te maak toe hy gesê het: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar voor die altaar en gaan weg; maak eers vrede met jou broer en offer dan, wanneer jy teruggekom het, jou gawe.” — Matt. 5:23, 24.

18, 19. Hoekom kan Christene bly wees, selfs al word hulle vervolg?

18 “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my.” Wat het Jesus hiermee bedoel? Hy het verder gesê: “Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg” (Matt. 5:11, 12). Toe die apostels geslaan en beveel is om op te hou preek, was hulle ‘bly toe hulle van die Sanhedrin af weggegaan het’. Dit was natuurlik nie vir hulle lekker om geslaan te word nie. Maar hulle was bly “omdat hulle waardig geag is om ter wille van [Jesus se] naam oneer te ly”. — Hand. 5:41.

19 In ons dag volhard Jehovah se volk ook vreugdevol wanneer hulle ter wille van Jesus se naam vervolg word of deur moeilike tye gaan. (Lees Jakobus 1:2-4.) Net soos vir die apostels, is dit nie vir ons lekker om swaar te kry nie. Maar wanneer ons deur moeilike tye aan God getrou bly, kan Jehovah ons die krag gee om te volhard. Byvoorbeeld, in Augustus 1944 is Henryk Dornik en sy broer deur die owerheid van ’n totalitêre regering na ’n konsentrasiekamp gestuur. Maar hulle teenstanders het erken: “Dit is onmoontlik om hulle te oorreed om enigiets te doen. Hulle put vreugde daaruit om gemartel te word.” Broer Dornik het verduidelik: “Hoewel ek geen begeerte gehad het om gemartel te word nie, het dit my bly gemaak dat ek met moed en waardigheid kon ly as gevolg van my getrouheid aan Jehovah. . . . Vurige gebede het my nader aan Jehovah laat kom, en hy was ’n betroubare Helper.”

20. Hoekom maak dit ons gelukkig om “die gelukkige God” te dien?

20 Wanneer ons “die gelukkige God” se hart bly maak, kan ons gelukkig wees selfs al word ons vervolg, al staan ons familie ons teë of al is ons siek of bejaard (1 Tim. 1:11). Ons is ook gelukkig omdat ons seker is dat God, “wat nie kan lieg nie”, sy beloftes oor die toekoms sal vervul (Tit. 1:2). Die manier waarop Jehovah sy beloftes sal vervul, sal so indrukwekkend wees dat ons die probleme wat ons nou het of die beproewinge wat ons deurmaak, nie eers sal onthou nie. Die wonderlike lewe in die Paradys sal beter wees as enigiets wat ons ons kan voorstel. Ons sal beslis gelukkiger wees as wat ons nog ooit was. Ja, ons sal ons “verlustig in die oorvloed van vrede”. — Ps. 37:11.