Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen”

“As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen”

“My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring.” — JOH. 4:34.

LIED: 80, 35

1. Watter uitwerking kan die selfsugtige gees van die wêreld op ons nederigheid hê?

HOEKOM is dit moeilik om toe te pas wat ons in God se Woord leer? Een rede is dat ’n mens nederig moet wees om die regte ding te doen. Maar in hierdie “laaste dae” is dit moeilik om nederig te bly, want die wêreld is vol mense wat “liefhebbers van hulleself”, “liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig” en “sonder selfbeheersing” is (2 Tim. 3:1-3). As God se knegte, haat ons dit dalk wanneer mense selfsugtig is, maar wanneer mense wat so optree suksesvol is en bewonder word, raak ons dalk ’n bietjie jaloers (Ps. 37:1; 73:3). ’n Mens wonder dalk selfs: ‘Is dit regtig die moeite werd om ander se behoeftes bo myne te stel? Sal mense nie dalk respek vir my verloor as ek my “as ’n mindere” gedra nie?’ (Luk. 9:48). As ons toelaat dat die gees van die wêreld ons beïnvloed, kan dit ’n slegte uitwerking hê op die liefdevolle verhouding wat ons met ander in die gemeente het. Dit kan dit ook vir ander moeilik maak om te sien dat ons Christene is. Maar wanneer ons na die goeie voorbeelde in die Bybel kyk en hulle navolg, sal ons baie seëninge ontvang.

2. Watter uitwerking kan getroue knegte van God op ons hê?

2 As ons getroue knegte van God wil navolg, moet ons meer leer oor wat hulle gedoen het. Hoe het hulle dit reggekry om God se vriend te word en sy goedkeuring te kry? En waar het hulle die krag gekry om sy wil te doen? Dit is belangrik dat ons die Bybel op hierdie manier studeer, want dit sal ons geestelik voed en ons geloof versterk.

GEESTELIKE VOEDSEL — MEER AS NET KOPKENNIS

3, 4. (a) Hoe word ons deur Jehovah geleer? (b) Hoekom moet ons meer doen as om net kennis in te neem as ons onsself geestelik wil voed?

3 Ons kry baie goeie raad en opleiding deur middel van die Bybel, ons Christelike publikasies, ons webwerwe en JW Broadcasting, asook by ons vergaderinge en byeenkomste. Maar volgens Jesus se woorde in Johannes 4:34 moet ons meer doen as om net kennis in te neem as ons onsself geestelik wil voed. Wat moet ons nog doen? Jesus het gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring.”

4 Om God se wil te doen was vir Jesus soos geestelike voedsel. Hoe so? Net soos gesonde kos ons liggaam voed en versterk, word ons geloof gevoed en ons hart versterk wanneer ons God se wil doen. Het jy al gaan velddiens doen toe jy nie so lekker gevoel het nie en gevind dat jy ná die tyd gelukkig en weer lus vir die lewe was?

5. Hoe word ons geseën as ons met wysheid optree?

5 Wysheid beteken dat ons die dinge wat Jehovah ons leer, in ons lewe toepas (Ps. 107:43). As ons met wysheid optree, sal ons geseën word. Die Bybel sê dat niks wat jy begeer ‘daarmee gelykgestel kan word nie. Dit is ’n boom van die lewe vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word’ (Spr. 3:13-18). Jesus het gesê: “As julle hierdie dinge weet, gelukkig is julle as julle dit doen” (Joh. 13:17). Solank die dissipels gedoen het wat Jesus hulle beveel het, sou hulle gelukkig wees. Hulle het sy leringe en voorbeeld nie net by daardie een geleentheid nagevolg nie. Dit het hulle lewenswyse geword.

6. Hoekom moet ons aanhou om toe te pas wat ons leer?

6 Vandag moet ons ook aanhou om die waarhede wat ons leer, in ons lewe toe te pas. Iemand wat byvoorbeeld karre regmaak, het dalk die gereedskap en die kennis om dit te doen. Maar hierdie dinge sal hom nie help as hy dit nie gebruik nie. Dalk het hy al voorheen karre reggemaak en het hy baie ondervinding gekry, maar hy moet aanhou om die dinge wat hy geleer het toe te pas as hy sy werk goed wil doen. Net so het dit ons miskien gelukkig gemaak toe ons die dinge wat ons in die Bybel geleer het, begin toepas het. Maar as ons gelukkig wil bly, moet ons nederig wees deur die dinge wat Jehovah ons leer elke dag toe te pas.

7. Wat moet jy doen as jy wil hê dat Bybelvoorbeelde jou moet help om wysheid te kry?

7 In hierdie artikel gaan ons kyk na ’n paar situasies wat dalk ons nederigheid kan toets, en ons gaan sien hoe getroue knegte in die ou tyd soortgelyke uitdagings oorkom het. Maar ’n mens moet meer doen as om net kennis in te neem as jy geestelik sterk wil wees. Jy moet dink aan hoe jy elkeen van hierdie punte persoonlik kan toepas, en dit dan dadelik doen.

HOE BESKOU JY DIEGENE VIR WIE JY PREEK?

8, 9. Wat leer ons in Handelinge 14:8-15 oor die apostel Paulus se nederigheid? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 Dit is God se wil dat “alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom” (1 Tim. 2:4). Hoe beskou jy die verskillende soorte mense wat nog nie die waarheid geleer het nie? Hoewel die apostel Paulus in die sinagoges gesoek het na mense wat reeds iets omtrent God geweet het, het hy nie net vir Joodse mense gepreek nie. Hy het ook vir mense gepreek wat valse gode aanbid het. Hulle reaksie op sy predikingswerk sou sy nederigheid toets.

9 Gedurende Paulus se eerste sendingreis het die mense van Likaonië byvoorbeeld gedink dat hy en Barnabas die valse gode Zeus en Hermes in menslike vorm is. Het Paulus en Barnabas dalk daarvan gehou om gewild te wees en deur ander bewonder te word? Het hulle miskien gedink dat dit lekker sou wees om vir ’n slag goed behandel te word ná al die vervolging wat hulle in die vorige twee stede ondervind het? Het hulle gedink dat al hierdie aandag meer mense sou help om die goeie nuus te hoor? Glad nie! Hulle het dadelik gewys dat hulle nie aanbid wil word nie deur hulle klere te skeur, tussen die skare in te spring en uit te roep: “Waarom doen julle hierdie dinge? Ons is ook mense met dieselfde gebreke as julle.” — Hand. 14:8-15.

10. In watter sin was Paulus en Barnabas dieselfde as die mense in Likaonië?

10 Toe Paulus en Barnabas gesê het dat hulle ook mense is, het hulle bedoel dat hulle onvolmaak is. Hulle het nie bedoel dat hulle manier van aanbidding basies dieselfde as die mense in Likaonië s’n was nie. Hulle twee het ’n spesiale toewysing ontvang om as sendelinge te dien (Hand. 13:2). Hulle is deur die heilige gees gesalf en het ’n wonderlike hoop gehad. Maar dit was geen rede vir hulle om te voel dat hulle beter is as ander nie. Paulus en Barnabas het geweet dat hierdie mense ook dieselfde seëninge kon ontvang as hulle na die goeie nuus luister.

11. Hoe kan ons Paulus se goeie voorbeeld van nederigheid navolg wanneer ons die predikingswerk doen?

11 Hoe kan ons Paulus se goeie voorbeeld van nederigheid navolg? Ons moet nooit spesiale behandeling verwag of aanvaar vir dinge wat ons met Jehovah se hulp gedoen het nie. Dit sal goed wees as ons ons ook afvra: ‘Hoe beskou ek die mense vir wie ek preek? Is ek dalk bevooroordeeld teenoor sekere groepe mense?’ Jehovah se Getuies regoor die wêreld probeer om vas te stel watter taalgroepe in hulle gebied bly. Hulle wil soveel mense as moontlik help om die goeie nuus te hoor. Partykeer beteken dit dat hulle die taal en gebruike moet leer van diegene wat deur baie mense in die gemeenskap as minderwaardig beskou word. Maar Getuies moet nooit dink dat hulle beter is as die mense vir wie hulle preek nie. Hulle probeer eerder om elke persoon beter te verstaan sodat hulle sy hart met die Koninkryksboodskap kan bereik.

BID VIR ANDER — GEBRUIK HULLE NAAM

12. Hoe het Epafras gewys dat hy onselfsugtig was en vir ander omgee?

12 Nog ’n manier waarop ons wys dat ons nederig is en na God se raad luister, is deur te bid vir diegene wat alreeds “’n geloof verkry het” wat net so kosbaar is soos ons s’n (2 Pet. 1:1). Epafras het dit gedoen. Daar word net drie keer in die Bybel van hom gepraat — al drie keer in die geïnspireerde geskrifte van Paulus. Terwyl Paulus in Rome onder huisarres was, het hy aan die Christene in Kolosse geskryf dat Epafras hom ‘altyd in sy gebede vir hulle inspan’ (Kol. 4:12). Epafras het die broers goed geken, en hy het baie vir hulle omgegee. Al was hy ’n “medegevangene” van Paulus, het hy nog steeds aan die geestelike behoeftes van ander gedink (Filem. 23). En hy het iets gedoen om hulle te help. Daardeur het hy gewys dat hy onselfsugtig was en vir ander omgee. Wanneer ons vir ons broers en susters bid, kan dit ’n kragtige uitwerking hê, veral wanneer ons spesifiek is en hulle naam gebruik. — 2 Kor. 1:11; Jak. 5:16.

13. Hoe kan jy Epafras navolg wanneer jy bid?

13 Dink aan spesifieke persone vir wie jy kan bid, en gebruik hulle naam. Net soos Epafras, bid baie broers en susters vir persone en gesinne in hulle gemeente wat baie verantwoordelikhede het, moeilike besluite moet neem of versoekings moet weerstaan. Baie broers en susters bid vir diegene wie se naam op jw.org gevind kan word in die artikel “Jehovah se Getuies in die tronk weens hulle geloof”. (Kyk onder NUUS > REGSVERWIKKELINGE.) Dit is ook goed om te bid vir diegene wie se geliefdes gesterf het, diegene wat deur moeilike tye gaan as gevolg van rampe en oorloë, asook vir diegene wat finansieel swaarkry. Daar is so baie broers en susters wat ons gebede nodig het, en ons gebede kan hulle help. Wanneer ons vir hulle bid, wys ons dat ons nie net aan ons eie behoeftes dink nie, maar ook aan dié van ander (Fil. 2:4). Jehovah luister na sulke gebede.

‘WEES GOU OM TE HOOR’

14. Hoekom is Jehovah die beste voorbeeld van iemand wat luister?

14 Nog ’n manier om te wys dat ons nederig is, is deur bereid te wees om na ander te luister. Jakobus 1:19 sê dat ons ‘gou moet wees om te hoor’. Jehovah stel die beste voorbeeld hierin (Gen. 18:32; Jos. 10:14). Kom ons kyk wat ons kan leer uit die gesprek in Eksodus 32:11-14. (Lees.) Jehovah het vir Moses ’n kans gegee om te sê hoe hy voel, al was dit nie vir Hom nodig om dit te doen nie. Wie van ons sou geduldig luister na iemand wie se redenasies al verkeerd was en dan sy voorstelle volg? Maar Jehovah luister geduldig na diegene wat in geloof tot hom bid.

15. Hoe kan ons Jehovah se voorbeeld navolg deur ander te eer?

15 Dit sal goed wees as elkeen van ons ons afvra: ‘As Jehovah so nederig is dat hy na mense luister soos hy na Abraham, Ragel, Moses, Josua, Manoag, Elia en Hiskia geluister het, moet ek dan nie ook probeer om dit te doen nie? Kan ek meer doen om my broers te eer deur na hulle idees te luister en hulle goeie voorstelle te volg? Is daar iemand in my gemeente of in my familie wat my aandag nodig het? Wat moet ek daaroor doen? Wat sal ek daaroor doen?’ — Gen. 30:6; Rigt. 13:9; 1 Kon. 17:22; 2 Kron. 30:20.

MISKIEN SAL JEHOVAH MY BEPROEWING SIEN

Dawid het gesê: “Laat hom staan!” Wat sou jy gedoen het? (Sien paragraaf 16, 17)

16. Hoe het koning Dawid gereageer toe Simeï hom sleg behandel het?

16 Nederigheid help ons ook om selfbeheersing te hê wanneer ons sleg behandel word (Ef. 4:2). Ons sien ’n uitstekende voorbeeld hiervan in 2 Samuel 16:5-13. (Lees.) Simeï, ’n familielid van koning Saul, het Dawid en sy knegte sleg behandel deur hulle te beledig en fisies aan te val. Dawid het dit geduldig verduur, al het hy die mag gehad om dit stop te sit. Hoe het Dawid dit reggekry om sulke selfbeheersing te hê? Die derde Psalm sal ons help om die antwoord te kry.

17. Wat het Dawid gehelp om selfbeheersing te hê, en hoe kan ons hom navolg?

17 Die opskrif van Psalm 3 wys dat Dawid dit geskryf het toe “hy vir sy seun Absalom gevlug het”. Vers 1 en 2 stem ooreen met die gebeure wat in hoofstuk 16 van Tweede Samuel beskryf word. Ons kan sien hoeveel vertroue Dawid in Jehovah gehad het, want Psalm 3:4 sê: “Met my stem sal ek Jehovah aanroep, en hy sal my antwoord van sy heilige berg af.” Ons kan ook bid wanneer ons sleg behandel word. Dan sal Jehovah ons sy heilige gees gee, wat ons sal help om te volhard. Kan jy aan ’n situasie dink waarin jy meer selfbeheersing nodig het of waarin jy ander moet vergewe omdat hulle jou sleg behandel het? Het jy die vaste vertroue dat Jehovah jou beproewing sien en dat hy jou sal seën?

“WYSHEID KOM EERSTE”

18. Hoekom is dit goed vir ons om altyd Jehovah se raad toe te pas?

18 Wanneer ons iets doen omdat ons weet dat dit reg is, sal Jehovah ons seën. Dit is geen wonder dat Spreuke 4:7 sê dat ‘wysheid eerste kom’ nie! Hoewel wysheid op kennis gebaseer is, is daar meer daarby betrokke as om net feite te verstaan. Wysheid het te doen met die besluite wat ons neem. Selfs miere het wysheid. Hulle is instinktief wys omdat hulle in die somer kos bymekaarmaak (Spr. 30:24, 25). Christus, “die wysheid van God”, doen altyd wat sy Vader se hart bly maak (1 Kor. 1:24; Joh. 8:29). God weet dat dit een ding is om die regte besluit te neem, maar iets heeltemal anders is om te doen wat jy besluit het. En hy seën diegene wat nederig bly en wat doen wat hulle weet reg is. (Lees Matteus 7:21-23.) Daarom moet ons hard daaraan werk om die gemeente ’n plek te maak waar almal Jehovah nederig kan dien. Dit neem tyd en geduld om toe te pas wat ons weet reg is. Maar as ons dit doen, wys dit dat ons nederig is, en dit sal ons nou en vir altyd gelukkig maak.