Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah — Almagtig maar altyd bedagsaam

Jehovah — Almagtig maar altyd bedagsaam

“[Jehovah] weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is.” — PS. 103:14.

LIED: 30, 10

1, 2. (a) Hoe verskil die manier waarop Jehovah mense behandel van die manier waarop mense wat mag het dit doen? (b) Wat gaan ons in hierdie artikel bespreek?

MENSE wat mag en baie invloed het, wil gewoonlik oor ander “baasspeel” en sal hulle selfs onderdruk (Matt. 20:25; Pred. 8:9). Maar Jehovah is heeltemal anders! Selfs al is hy die Almagtige, is hy baie bedagsaam teenoor onvolmaakte mense. Hy is liefdevol, neem ons gevoelens in ag en weet wat ons nodig het. Hy weet “dat ons stof is”, en daarom vra hy ons nooit om meer te doen as wat ons kan nie. — Ps. 103:13, 14.

2 Daar is baie voorbeelde in die Bybel wat wys dat Jehovah sy knegte op ’n bedagsame manier behandel. Kom ons kyk na drie van hierdie voorbeelde. Ons gaan eerstens kyk na die bedagsame manier waarop God jong Samuel gehelp het om ’n boodskap van oordeel aan die hoëpriester Eli te gee. Tweedens gaan ons kyk hoe geduldig Jehovah met Moses was toe Moses gedink het dat hy nie die leier van Israel kan wees nie. En derdens gaan ons kyk na die bedagsame manier waarop Jehovah die Israeliete uit Egipte gelei het. Let op wat hierdie voorbeelde ons oor Jehovah leer en watter lesse ons in ons lewe kan toepas.

LIEFDEVOL EN BEDAGSAAM TEENOOR ’N SEUN

3. Wat het een aand met jong Samuel gebeur, en waaroor laat dit ons dalk wonder? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Samuel het Jehovah by die tabernakel begin dien toe hy nog baie jonk was (1 Sam. 3:1). Een aand nadat Samuel gaan slaap het, het iets baie vreemds gebeur. * (Lees 1 Samuel 3:2-10.) Hy het gehoor hoe iemand sy naam roep. Samuel het gedink dat dit die bejaarde hoëpriester Eli is wat hom roep. Hy was gehoorsaam en het na hom toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.” Maar Eli het gesê dat dit nie hy was nie. Toe dit nog twee keer gebeur, het Eli besef dat dit God is wat Samuel roep. Hy het toe vir die seun gesê hoe om te antwoord, en Samuel het hom gehoorsaam. Hoekom het Jehovah nie van die begin af deur middel van sy engel vir Samuel gesê dat dit Hy was wat hom geroep het nie? Die Bybel sê nie, maar as ons kyk na wat gebeur het, lyk dit asof bedagsaamheid teenoor jong Samuel een van die hoofredes was. Hoekom sê ons so?

4, 5. (a) Hoe het Samuel gereageer op die opdrag wat God hom gegee het, en wat het die volgende oggend gebeur? (b) Wat leer hierdie verslag ons oor Jehovah?

4 Lees 1 Samuel 3:11-18. Jehovah se Wet het beveel dat kinders ouer persone moet respekteer, veral iemand met gesag (Eks. 22:28; Lev. 19:32). Kan jy jou voorstel dat Samuel die volgende oggend na Eli toe gaan en sommer reguit vir hom van God se oordeelsboodskap vertel? Natuurlik nie! Die verslag sê eerder dat Samuel ‘bang was om vir Eli van die verskyning te vertel’. Maar God het dit aan Eli duidelik gemaak dat Hy die een is wat Samuel roep. Daarom het Eli daarop aangedring dat Samuel hom vertel wat Jehovah gesê het. Eli het hom beveel: “[Moenie] vir my ’n woord wegsteek van al die woorde wat hy met jou gespreek het” nie. Samuel was gehoorsaam en het hom alles vertel.

5 Samuel se boodskap sou Eli nie eintlik verbaas het nie, want vroeër het “’n man van God” iets soortgelyks vir Eli gesê (1 Sam. 2:27-36). Die verslag oor Samuel en Eli wys vir ons hoe bedagsaam en wys Jehovah is.

6. Watter lesse kan ons leer uit die manier waarop God jong Samuel gehelp het?

6 Is jy ’n jong persoon? Die verhaal van jong Samuel wys dat Jehovah die uitdagings wat jy het, verstaan en dat hy weet hoe jy voel. Dalk is jy skaam en is dit vir jou moeilik om vir grootmense van die Koninkryksboodskap te vertel of om anders te wees as jongmense van jou ouderdom. Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah jou wil help. Daarom moet jy met hom in gebed praat en vir hom sê presies hoe jy voel (Ps. 62:8). Dink na oor voorbeelde in die Bybel van ander jongmense soos Samuel. En praat met mede-Christene, jonk en oud, wat dalk dieselfde probleme wat jy nou ondervind, oorkom het. Hulle sal jou waarskynlik vertel hoe Jehovah hulle al gehelp het, dalk op maniere wat hulle nooit verwag het nie.

BEDAGSAAM TEENOOR MOSES

7, 8. Hoe was Jehovah op ’n buitengewone manier bedagsaam teenoor Moses?

7 Toe Moses 80 jaar oud was, het Jehovah hom ’n baie moeilike toewysing gegee. Moses moes die Israeliete uit slawerny in Egipte bevry (Eks. 3:10). Nadat hy 40 jaar lank ’n herder in Midian was, was hy blykbaar geskok toe hy hierdie opdrag kry. Hy het gesê: “Wie is ek dat ek na Farao toe sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte moet uitlei?” God het Moses verseker: ‘Ek sal met jou wees’ (Eks. 3:11, 12). Hy het ook belowe: Die ouer manne van Israel “sal beslis na jou stem luister”. Maar Moses het gesê: “Maar gestel hulle . . . luister nie” (Eks. 3:18; 4:1). Met ander woorde, Moses het gedink dat Jehovah dalk verkeerd kan wees! Maar Jehovah was nog steeds geduldig. Hy het selfs verder gegaan en Moses die krag gegee om wonderwerke te doen. Hy is die eerste mens in die Bybel wat hierdie soort krag ontvang het. — Eks. 4:2-9, 21.

8 Moses het nog ’n verskoning probeer maak en gesê dat hy nie ’n goeie spreker is nie. God het hom geantwoord en gesê: “Ek sal met jou mond wees en ek sal jou leer wat jy moet sê.” Was Moses uiteindelik oortuig? Blykbaar nie, want hy het God nederig gevra om eerder iemand anders te stuur. Toe het Jehovah met reg kwaad geword. Maar hy was nie onredelik nie. God het weer gewys dat hy Moses se gevoelens in ag neem en Aäron aangestel om namens Moses te praat. — Eks. 4:10-16.

9. Hoe het Jehovah se geduld en bedagsaamheid Moses in sy toewysing gehelp?

9 Wat leer hierdie verslag ons oor Jehovah? As God die Almagtige kon hy Moses gedwing het om gehoorsaam te wees deur hom bang te maak. Maar Jehovah was eerder geduldig en liefdevol, en hy het sy nederige kneg verseker dat hy hom sou help. Het hierdie bedagsame manier waarop hy Moses behandel het, gewerk? Ja, dit het! Moses het ’n baie goeie leier geword. En hy het probeer om ander op ’n vriendelike en bedagsame manier te behandel, net soos Jehovah hom behandel het. — Num. 12:3.

Volg jy Jehovah na in die manier waarop jy ander behandel? (Sien paragraaf 10)

10. Hoe help dit ons wanneer ons, soos Jehovah, bedagsaam is?

10 Lesse wat ons kan toepas: Is jy ’n getroude man, ’n ouer of ’n gemeentelike ouer man? Dan het jy ’n mate van gesag oor ander. Daarom is dit baie belangrik dat jy Jehovah navolg deur bedagsaam, liefdevol en geduldig te wees teenoor diegene wat onder jou sorg is! (Kol. 3:19-21; 1 Pet. 5:1-3). Wanneer jy hard probeer om Jehovah en die Grotere Moses, Jesus Christus, na te volg, sal ander maklik met jou kan praat en sal jy hulle kan aanmoedig (Matt. 11:28, 29). Jy sal ook ’n goeie voorbeeld vir ander wees. — Heb. 13:7.

’N MAGTIGE MAAR BEDAGSAME REDDER

11, 12. Hoe het Jehovah die Israeliete veilig laat voel terwyl hy hulle uit Egipte gelei het?

11 Toe die Israeliete Egipte in 1513 VHJ verlaat het, was daar dalk meer as drie miljoen van hulle. In hierdie groep was daar drie of selfs vier geslagte, insluitende kinders, bejaardes en waarskynlik ook mense wat siek of gestremd was. So ’n groot groep mense sou beslis ’n liefdevolle en bedagsame Leier nodig hê om hulle uit Egipte te lei. Jehovah het, deur middel van Moses, bewys dat hy so ’n Leier is. Daarom het die Israeliete veilig gevoel terwyl hulle alles wat vir hulle bekend was, agtergelaat het. — Ps. 78:52, 53.

12 Hoe het Jehovah sy volk veilig laat voel? Hy het hulle op ’n goed georganiseerde manier uit Egipte gelei, soos groepe soldate wat gaan veg (Eks. 13:18). Dit het die Israeliete verseker dat hulle God in beheer is. Jehovah het ook vir hulle gewys dat hy met hulle is deur hulle in die dag “met ’n wolk” te lei, en in die nag “met ’n lig van vuur” (Ps. 78:14). Jehovah het in werklikheid vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie. Ek is met julle om julle te lei en te beskerm.” Die Israeliete sou kort daarna hierdie versekering nodig hê.

Hoe was Jehovah bedagsaam teenoor die Israeliete by die Rooisee? (Sien paragraaf 13)

13, 14. (a) Hoe was Jehovah bedagsaam teenoor die Israeliete by die Rooisee? (b) Hoe het Jehovah gewys dat hy magtiger as die Egiptenare is?

13 Lees Eksodus 14:19-22. Stel jou voor dat jy daar saam met die Israeliete is. Julle is vasgekeer tussen Farao se soldate en die Rooisee. Maar dan tree God op. Die wolkkolom wat voor julle was, beweeg na die agterkant van die kamp tussen julle en die Egiptenare in. Die Egiptenare is in die donker, terwyl julle kamp op ’n wonderdadige manier verlig word! Dan sien jy hoe Moses sy hand oor die see uitstrek en ’n sterk oostewind ’n wye pad voor julle oopmaak sodat julle die anderkant kan bereik. Jy, jou familie en julle diere begin om op ’n ordelike manier saam met die res van die mense oor die seebodem te loop. Dit verbaas jou dat die grond droog is en nie modderig nie en dat jy maklik daarop kan loop sonder om te gly. Daarom kan selfs diegene wat stadig loop, die anderkant veilig bereik.

14 Lees Eksodus 14:23, 26-30. Intussen begin die trotse en dwase Farao om julle op die seebodem agterna te sit. Moses strek sy hand weer oor die see uit. Hierdie keer begin die twee mure van water inmekaarval. Dit is soos twee groot branders wat na mekaar toe aangestorm kom. Farao en sy soldate staan nie ’n kans nie! — Eks. 15:8-10.

15. Wat leer hierdie verslag jou oor Jehovah?

15 Hierdie verslag leer ons dat Jehovah ’n God van orde is. Dit is ’n eienskap wat ons veilig laat voel (1 Kor. 14:33). Jehovah wys ook dat hy ’n liefdevolle herder is wat op praktiese maniere vir sy volk sorg. Hy beskerm hulle teen hulle vyande en sorg dat hulle veilig is. Hierdie waarhede is vir ons baie gerusstellend omdat die einde van hierdie stelsel naby is! — Spr. 1:33.

16. Hoe kan dit ons help wanneer ons nadink oor die manier waarop Jehovah die Israeliete gered het?

16 Vandag sorg Jehovah ook vir sy volk as ’n groep — geestelik sowel as fisies. En hy sal aanhou om dit te doen gedurende die groot verdrukking wat vinnig nader kom (Op. 7:9, 10). Daarom maak dit nie saak of ons jonk of oud is en of ons gesond of gestremd is nie. God se volk sal nie paniekerig of vreesbevange wees gedurende die groot verdrukking nie. * Hulle sal eerder presies die teenoorgestelde doen! Hulle sal Jesus Christus se woorde in gedagte hou: “Staan dan regop en lig julle kop op, want julle verlossing kom nader” (Luk. 21:28). En hulle sal aanhou om op Jehovah te vertrou selfs wanneer hulle aangeval word deur Gog — ’n groep nasies wat baie meer mag sal hê as wat eertydse Farao gehad het (Eseg. 38:2, 14-16). Hoekom sal God se volk sulke vertroue hê? Hulle weet dat Jehovah nooit verander nie. Hy sal weer wys dat hy ’n liefdevolle en bedagsame Redder is. — Jes. 26:3, 20.

17. (a) Hoe kan Bybelverslae oor die manier waarop Jehovah vir sy volk sorg, ons help? (b) Wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?

17 In hierdie artikel het ons gekyk na ’n paar voorbeelde van hoe Jehovah op ’n liefdevolle en bedagsame manier vir sy volk sorg, hulle lei en red. Wanneer jy oor verslae soos hierdie nadink, moet jy let op die fyner besonderhede en kyk watter nuwe dinge dit jou oor Jehovah se eienskappe leer. Wanneer jy meer oor hierdie pragtige eienskappe leer, sal jou liefde vir God en jou geloof in hom sterker word. In die volgende artikel gaan ons bespreek op watter maniere ons Jehovah kan navolg deur bedagsaam teenoor ander te wees. Ons gaan kyk hoe ons dit in die gesin, die Christengemeente en die bediening kan doen.

^ par. 3 Volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus was Samuel 12 jaar oud toe dit gebeur het.

^ par. 16 Dit is redelik om te dink dat party persone wat Armageddon oorleef, gestremd sal wees. Toe Jesus op die aarde was, het hy mense met “elke soort gebrek genees”. Op hierdie manier het hy gewys wat hy in die toekoms gaan doen, nie vir diegene wat opgewek word nie, maar vir mense wat Armageddon oorleef (Matt. 9:35). Diegene wat opgewek word, sal gesonde liggame hê.