Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouer Christene — Jehovah waardeer julle lojaliteit

Ouer Christene — Jehovah waardeer julle lojaliteit

OUER MANNE regoor die wêreld waardeer die diensvoorregte wat hulle onder God se volk het. Hulle is beslis ’n groot seëning vir ons almal! Maar onlangs was daar ’n verandering. Bejaarde ouer manne is gevra om party van die belangrike toewysings waarna hulle omgesien het, aan jonger broers oor te gee. Wat sou dit behels?

Volgens die nuwe reëling sal kringopsieners en veldinstrukteurs ophou om in hierdie toewysings te dien wanneer hulle 70 jaar oud word. En wanneer ouer manne 80 jaar oud word, sal hulle sekere toewysings aan jonger broers oorgee. Dit sluit byvoorbeeld die voorreg in om as die koördineerder van ’n Takkomitee of die koördineerder van ’n liggaam van ouer manne in ’n gemeente te dien. Hoe het hierdie dierbare ouer broers op hierdie verandering gereageer? Hulle het gewys dat hulle lojaal is aan Jehovah en sy organisasie!

Ken, wat byna 49 jaar lank as die koördineerder van ’n Takkomitee gedien het, sê: “Ek stem heeltemal saam met hierdie besluit. Ek het eintlik vroeër daardie oggend, net voordat ek van die nuwe reëling gehoor het, tot Jehovah gebid en gevra dat ’n jonger broer eerder as die koördineerder moet dien.” Baie van ons getroue bejaarde broers regoor die wêreld voel net soos Ken. Maar omdat hulle baie daarvan hou om hulle broers te dien, was hulle natuurlik aan die begin ’n bietjie teleurgesteld oor hierdie verandering.

“Ek het ’n bietjie hartseer gevoel”, sê Esperandio, wat die koördineerder van die liggaam van ouer manne in sy gemeente was. Maar hy erken: “Ek het meer tyd nodig gehad om na my swak gesondheid om te sien.” Esperandio hou aan om Jehovah getrou te dien, en hy is ’n seëning vir sy gemeente.

Wat van reisende opsieners wat jare lank in hulle toewysing gedien het, maar nou ’n ander toewysing gekry het? Allan, wat 38 jaar lank ’n reisende opsiener was, erken: “Toe ek van die nuwe reëling hoor, was ek geskok.” Maar hy het besef hoe belangrik dit is om jonger manne vir die werk op te lei, en hy dien nog steeds getrou.

Russell, wat 40 jaar lank as ’n reisende opsiener en ’n veldinstrukteur gedien het, sê dat hy en sy vrou aan die begin teleurgesteld was. “Ons het ons voorreg baie waardeer en het gevoel dat ons nog sterk genoeg was om die werk te doen.” Russell en sy vrou gebruik hulle opleiding en ondervinding in hulle plaaslike gemeente, en die verkondigers geniet dit baie om saam met hulle te werk.

Al voel jy nie soos die persone wat hierbo genoem word nie, sal die verslag in 2 Samuel jou dalk help om te verstaan hoe hulle voel.

’N NEDERIGE EN REALISTIESE MAN

Kyk byvoorbeeld na wat gebeur het toe koning Dawid se seun Absalom in opstand gekom het. Dawid het van Jerusalem na Mahanaim, oos van die Jordaanrivier, gevlug. Dawid en diegene wat saam met hom was, het ’n paar noodsaaklike dinge nodig gehad om aan die lewe te bly. Onthou jy nog wat gebeur het?

Drie manne wat in daardie omgewing gebly het, was vrygewig en het beddens, verskillende soorte kos en ander noodsaaklike dinge vir Dawid gebring. Barsillai was een van hierdie manne (2 Sam. 17:27-29). Toe Absalom se opstand beëindig is, kon Dawid na Jerusalem terugkeer, en Barsillai het saam met Dawid tot by die Jordaanrivier gegaan. Dawid het hom gevra om saam met hom na Jerusalem te gaan en Dawid het aangebied om hom van kos te voorsien, al was dit nie nodig nie omdat Barsillai “’n baie vermoënde [of ryk] man” was (2 Sam. 19:31-33). Maar Dawid het waarskynlik Barsillai se eienskappe waardeer, asook enige voorstelle wat hy dalk sou hê. Dit sou regtig ’n groot voorreg gewees het om in die koninklike hof te woon en daar te werk!

Barsillai was realisties en nederig en het gesê dat hy al 80 jaar oud is. Hy het ook gevra: “Kan ek tussen goed en kwaad onderskei?” (2 Sam. 19:35). Wat het hy daarmee bedoel? Barsillai het seker baie wysheid gehad omdat hy al so oud was. En hy kon nog steeds goeie raad gee, net soos die “ouer manne” wat vir koning Rehabeam raad gegee het (1 Kon. 12:6, 7; Ps. 92:12-14; Spr. 16:31). Toe Barsillai gevra het of hy tussen goed en kwaad kan onderskei, het hy dalk verwys na die beperkings wat hy gehad het omdat hy so oud was. Hy het erken dat hy nie meer so goed kon proe of hoor nie (Pred. 12:4, 5). Daarom het Barsillai uit sy eie voorgestel dat Dawid eerder die jonger man Kimham, waarskynlik Barsillai se seun, moet saamneem Jerusalem toe. — 2 Sam. 19:36-40.

BEPLAN VIR DIE TOEKOMS

Die nuwe reëling in verband met die ouderdom van broers in sekere toewysings stem ooreen met die beskouing wat Barsillai gehad het. Net soos in Barsillai se geval, was daar natuurlik meer by hierdie besluit betrokke as net een persoon se omstandighede en vermoëns. Daar moes realisties gekyk word na wat die beste sou wees vir getroue ouer manne regoor die wêreld.

Hierdie nederige, getroue Christenmans kon sien dat Jehovah se organisasie versterk sou word en sou groei as die verantwoordelikhede waarna hulle jare lank omgesien het deur jonger broers hanteer kon word. In die meeste gevalle het die ouer broers die jonger broers opgelei, net soos Barsillai waarskynlik sy seun opgelei het en die apostel Paulus vir Timoteus (1 Kor. 4:17; Fil. 2:20-22). Hierdie jonger broers het gewys dat hulle nou “gawes in die vorm van mense” is, wat kan help om die ‘die liggaam van die Christus op te bou’. — Ef. 4:8-12; vergelyk Numeri 11:16, 17, 29.

ANDER MANIERE WAAROP JY KAN DIEN

Baie broers in gemeentes regoor die wêreld wat sekere verantwoordelikhede aan ander oorgegee het, kan Jehovah nou op nuwe maniere dien.

Marco, wat 19 jaar lank ’n reisende opsiener was, sê: “In ons gemeente is daar susters wie se mans nie in die waarheid is nie, en my nuwe omstandighede laat my toe om meer aandag aan hierdie mans te gee.”

Geraldo, wat 28 jaar lank reisende werk gedoen het, sê: “Ons het nuwe doelwitte gestel, soos om diegene te help wat onaktief geraak het en om meer Bybelstudies te hou.” Hy vertel dat hy en sy vrou sover 15 Bybelstudies hou en dat ’n hele paar van dié wat onaktief was, weer die vergaderinge bywoon.

Allan, wat vroeër genoem is, sê: “Ons het nou meer tyd om aan verskillende aspekte van die predikingswerk deel te neem. Ons geniet dit om openbare getuieniswerk te doen, in besigheidsgebied te werk en vir ons bure te getuig. Twee van hulle het reeds na die Koninkryksaal toe gekom.”

As jy ’n ervare en lojale broer is wat ’n nuwe toewysing gekry het, is daar nog ’n spesiale manier waarop jy kan help. Jy kan Jehovah se werk ondersteun deur jou kosbare ervaring met jonger broers in die gemeente te deel. Russell, wat vroeër aangehaal is, sê: “Jehovah maak gebruik van pragtige, talentvolle jonger broers en lei hulle op. Die broers en susters vind baat by hulle opwindende manier van onderrigting en die herderswerk wat hulle doen!” — Sien die venster “ Help jonger manne om hulle bes te doen in Jehovah se diens”.

JEHOVAH WAARDEER JOU LOJALITEIT

As jy onlangs ’n ander toewysing gekry het, moet jy probeer om positief te bly. Jy het alreeds die lewens van baie mense deur jou liefdevolle diens geraak, en jy kan aanhou om dit te doen. Mense is lief vir jou, en hulle sal aanhou om vir jou lief te wees.

Nog belangriker, jy het ’n groot indruk op Jehovah se hart gemaak. Hy sal nie die “werk . . . vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie” (Heb. 6:10). Hierdie geïnspireerde woorde verseker ons dat sy belofte nie net geld vir wat ons in die verlede gedoen het nie. Jy is baie kosbaar vir Jehovah, en daarom sal hy nooit die werk vergeet wat jy gedoen het en nog steeds doen om sy hart bly te maak nie!

Maar wat as jy nie ’n ander toewysing gekry het nie, soos die voorbeelde wat vroeër genoem is? Hierdie nuwe reëling kan nog steeds ’n direkte invloed op jou hê. Hoe so?

As jy in kontak is met ’n getroue ouer broer wat ’n ander toewysing gekry het, kan jy baat vind by sy kennis en jare se ondervinding. Vra hom vir raad, en luister na sy voorstelle. En kyk hoe hy die ondervinding wat hy oor die jare opgedoen het, in sy nuwe toewysing gebruik.

Of jy nou ’n ouer Christen is met ’n nuwe toewysing of ’n broer of suster wat by ’n ouer Christen se ervaring kan baat vind, jy moet onthou dat Jehovah dié wat hom al jare lank getrou dien en nog steeds dien, as baie kosbaar beskou.