Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Tyd in Bybeltye

Tyd in Bybeltye

WAT doen jy wanneer jy wil weet hoe laat dit is? Jy kyk seker gou na ’n horlosie. Maar hoe sou jy iemand antwoord as hy jou sou vra hoe laat dit is? Daar is verskillende maniere om te sê hoe laat dit is. Hoekom sê ons so?

Wel, kom ons sê dit is ’n uur en 30 minute ná twaalfuur in die middag. Dan sal jy miskien sê dat dit 1:30 is. Maar afhangende van waar jy woon en hoe mense daar gewoonlik tyd lees, sal jy dalk sê dat dit 13:30 is. Hierdie manier om te sê hoe laat dit is, is gebaseer op ’n 24-uurstelsel. Daar is selfs plekke waar iemand sou sê dat dit “halftwee” is. Dit beteken 30 minute voor tweeuur.

Dalk wonder jy hoe mense in Bybeltye gesê het hoe laat dit is. Daar was meer as een manier om dit te doen. Die Hebreeuse deel van die Bybel praat van tye soos “oggend”, “middaguur”, “vanmiddag” en “aand” (Gen. 8:11; 19:27; 43:16; Deut. 28:29; 1 Kon. 18:26). Maar partykeer was dit nodig om meer presies te wees.

In Bybeltye was dit die gewoonte om wagte te gebruik, veral gedurende die nag. Honderde jare voor Jesus se geboorte het die Israeliete die nag in drie periodes verdeel, wat hulle nagwake genoem het (Ps. 63:6). In Rigters 7:19 praat dit byvoorbeeld van “die middelste nagwaak”. Teen Jesus se dag het die Jode begin om die Griekse en Romeinse stelsel te gebruik wat die nag in vier nagwake verdeel het.

Die Evangelies verwys ’n hele paar keer na hierdie nagwake. Byvoorbeeld, Jesus het “in die vierde nagwaak” oor die water geloop na die boot waarin sy dissipels was (Matt. 14:25). Jesus het in ’n illustrasie gesê: “As die huisheer geweet het in watter waak die dief kom, sou hy wakker gebly het en nie toegelaat het dat daar by sy huis ingebreek word nie.” — Matt. 24:43.

Jesus het van al vier nagwake gepraat toe hy vir sy dissipels gesê het: “Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer die heer van die huis kom nie, hetsy laat in die dag of middernag of met hanekraai of vroeg in die oggend” (Mark. 13:35). Die eerste nagwaak, wat “laat in die dag” genoem is, was van sononder tot omtrent negeuur die aand. Die tweede een, wat “middernag” genoem is, was van omtrent negeuur die aand tot middernag. Die derde een, wat “met hanekraai” of “voor dagbreek” genoem is, was van middernag tot omtrent drieuur in die oggend. Dit is heel waarskynlik gedurende hierdie nagwaak dat ’n haan gekraai het die nag toe Jesus gearresteer is (Mark. 14:72). Die vierde nagwaak, wat “vroeg in die oggend” genoem is, was van omtrent drieuur in die oggend tot sonop.

Al het mense in Bybeltye nie horlosies gehad nie, het hulle wel ’n manier gehad om te sê hoe laat in die dag of nag dit is.