Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees bedagsaam en liefdevol soos Jehovah

Wees bedagsaam en liefdevol soos Jehovah

“Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe.” — PS. 41:1.

LIED: 130, 107

1. Hoe kan die liefde onder God se volk gesien word?

GOD se volk is ’n geestelike familie, wat uitgeken word aan hulle liefde vir mekaar (1 Joh. 4:16, 21). Hierdie liefde word gesien, nie in die groot opofferings wat hulle nou en dan vir hulle broers maak nie, maar eerder in die liefdevolle manier waarop hulle met mekaar praat en die klein dingetjies wat hulle vir mekaar doen. Wanneer ons liefdevol en bedagsaam teenoor ander is, word ons “navolgers van God, as geliefde kinders”. — Ef. 5:1.

2. Hoe het Jesus sy Vader se liefde nagevolg?

2 Jesus het sy Vader volmaak nagevolg. Hy het gesê: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik . . . , want ek is saggeaard en nederig van hart” (Matt. 11:28, 29). Wanneer ons Christus se voorbeeld navolg deur “ag [te] gee op die geringe”, maak ons Jehovah gelukkig en sal ons ook gelukkig wees (Ps. 41:1). Kom ons kyk hoe ons bedagsaam kan wees teenoor ander in die gesin, in die gemeente en in die bediening.

WEES BEDAGSAAM IN DIE GESIN

3. Hoe kan ’n man bedagsaam wees teenoor sy vrou? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Mans moet die leiding daarin neem om bedagsaam te wees teenoor ander in die gesin (Ef. 5:25; 6:4). Die Bybel sê dat hulle “ooreenkomstig kennis” met hulle vrouens moet saamwoon. Hierdie uitdrukking kan ook vertaal word as “bedagsaam teenoor hulle te wees” of “hulle te verstaan” (1 Pet. 3:7). As jy bedagsaam teenoor iemand wil wees, moet jy probeer om die persoon se gevoelens te verstaan. ’n Bedagsame man weet byvoorbeeld dat sy vrou, as sy helper, op baie maniere van hom verskil. Maar hy sal nooit dink dat hy beter as sy is nie (Gen. 2:18). Daarom neem hy haar gevoelens in ag en behandel hy haar met waardigheid en respek. ’n Vrou in Kanada het oor haar man gesê: “Hy maak nooit asof my gevoelens nie belangrik is nie. Hy sal ook nooit iets sê soos: ‘Jy moenie so voel nie.’ Hy is ’n goeie luisteraar, en wanneer hy my help om my beskouing van ’n saak te verander, doen hy dit op ’n liefdevolle manier.”

4. Hoe kan ’n man wys dat hy bedagsaam is teenoor sy vrou deur die manier waarop hy ander vrouens behandel?

4 ’n Bedagsame man wys ook dat hy aan sy vrou se gevoelens dink deur die manier waarop hy ander vrouens behandel. Hy sal nooit met hulle flirt of ongepaste belangstelling in hulle toon nie. Dit geld ook wanneer hy sosiale media gebruik en webwerwe op die Internet besoek (Job 31:1). Ja, hy bly getrou aan sy vrou, nie net omdat hy haar liefhet nie, maar ook omdat hy God liefhet en omdat hy haat wat sleg is. — Lees Psalm 19:14; 97:10.

5. Hoe kan ’n vrou wys dat sy bedagsaam is teenoor haar man?

5 Wanneer ’n man die liefdevolle voorbeeld van sy hoof, Jesus Christus, navolg, help hy sy vrou om “diep respek” vir hom te hê (Ef. 5:22-25, 33). Haar respek vir haar man sal haar help om bedagsaam teenoor hom te wees wanneer hy byvoorbeeld meer tyd aan teokratiese verantwoordelikhede moet spandeer of probleme moet hanteer. ’n Man in Brittanje sê: “My vrou sal soms uit ’n verandering in my gedrag aflei dat iets my pla. Dan sal sy die beginsel in Spreuke 20:5 toepas, selfs al beteken dit dat sy vir die regte tyd moet wag om te hoor wat my pla as dit iets is waaroor ek met haar mag praat.”

6. Hoe kan ons almal kinders aanmoedig om bedagsaam te wees, en hoe kan dit kinders help?

6 Wanneer ouers bedagsaam is teenoor mekaar, stel hulle ’n goeie voorbeeld vir hulle kinders. Dit is hoofsaaklik ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders te leer om bedagsaam teenoor ander te wees. Byvoorbeeld, ouers kan hulle kinders leer om nie in die Koninkryksaal rond te hardloop nie. Of wanneer hulle by ’n geselligheid is en dit tyd is om te eet, kan hulle vir hulle kinders sê om te wag en eers ouer persone ’n kans te gee om op te skep. Almal in die gemeente kan natuurlik die ouers ondersteun. Wanneer ’n kind byvoorbeeld bedagsaam is deur miskien vir ons die deur oop te maak, kan ons hom daarvoor prys. Dit kan ’n goeie uitwerking op die kind hê en hom help om te leer dat dit “groter geluk [verskaf] om te gee as om te ontvang”. — Hand. 20:35.

“LAAT ONS OP MEKAAR AG GEE” IN DIE GEMEENTE

7. Hoe was Jesus bedagsaam teenoor ’n man wat doof was, en watter lesse kan ons uit Jesus se voorbeeld leer?

7 Toe Jesus eenkeer in die gebied van die Dekapolis was, het mense “’n man wat doof was en ’n spraakgebrek gehad het, na hom toe gebring” (Mark. 7:31-35). Jesus het hom nie voor al die mense genees nie, maar hom eerder “eenkant toe geneem” en hom genees. Hoekom? Omdat die man doof was, sou hy dalk ongemaklik gevoel het om tussen ’n groot groep mense te wees. Jesus het dit moontlik agtergekom, en daarom het hy hom eenkant toe geneem om hom gesond te maak. Vandag kan ons natuurlik nie sulke wonderwerke doen nie. Maar ons kan — en ons moet — bedagsaam teenoor ons broers en susters wees deur aan hulle behoeftes en gevoelens te dink. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Heb. 10:24). Jesus het verstaan hoe die dowe man gevoel het, en hy was bedagsaam teenoor hom. Wat ’n pragtige voorbeeld vir ons!

8, 9. Op watter maniere kan ons wys dat ons bedagsaam is teenoor persone wat bejaard of verswak is? (Gee voorbeelde.)

8 Wees bedagsaam teenoor diegene wat bejaard of verswak is. Die Christengemeente word deur liefde gekenmerk, en nie deur die hoeveelheid werk wat gedoen word nie (Joh. 13:34, 35). Hierdie liefde maak dat ons ons bes doen om bejaardes en diegene wat gestrem is te help om Christelike vergaderinge by te woon en die goeie nuus te verkondig. Ons help hulle, selfs al is hulle baie beperk in wat hulle kan doen (Matt. 13:23). Michael, wat in ’n rolstoel is, is baie dankbaar vir die hulp wat hy van sy gesin en die broers in sy velddiensgroep kry. Hy sê: “Omdat hulle my help, kan ek die meeste van die vergaderinge bywoon en gereeld velddiens doen. Ek hou veral van openbare getuieniswerk.”

9 In baie Bethelhuise is daar broers en susters wat bejaard of verswak is. Liefdevolle opsieners wys dat hulle bedagsaam is teenoor hierdie getroue knegte deur te reël dat hulle briewe skryf en telefoongetuieniswerk doen. “Ons waardeer die voorreg om briewe te kan skryf”, sê Bill, wat 86 jaar oud is en briewe skryf aan mense in afgesonderde gebiede. Nancy, wat amper 90 is, sê: “Ek skryf nie briewe net om koeverte vol te maak nie. Dit is velddiens. Mense moet die waarheid hoor!” Ethel, wat in 1921 gebore is, sê: “Pyn is deel van my lewe. Party dae vind ek dit selfs moeilik om my klere aan te trek.” Maar sy geniet dit nogtans om telefoongetuieniswerk te doen, en sy het ’n paar goeie herbesoeke. Barbara, wat 85 jaar oud is, verduidelik: “Omdat my gesondheid so swak is, is dit vir my baie moeilik om velddiens te doen. Maar met telefoongetuieniswerk kan ek met ander praat. Dankie, Jehovah!” In minder as ’n jaar het ’n groep dierbare ouer broers en susters 1 228 uur in die bediening deurgebring, 6 265 briewe geskryf, meer as 2 000 oproepe gemaak en 6 315 publikasies geplaas! Ons kan daarvan seker wees dat dit Jehovah se hart baie bly gemaak het! — Spr. 27:11.

10. Hoe kan ons ons broers help om meer uit die Christelike vergaderinge te kry?

10 Wees bedagsaam teenoor ander by Christelike vergaderinge. Ons wil hê dat ons broers so veel as moontlik uit die vergaderinge moet kry. Wanneer ons bedagsaam is, kan ons hulle help om dit te doen. Hoe? Een manier is om betyds te wees vir die vergaderinge sodat ons niemand se aandag onnodig aftrek nie. Natuurlik gebeur daar soms dinge wat veroorsaak dat ons laat is vir die vergadering. Maar as ons gereeld laat is, moet ons miskien nadink oor hoe ons meer bedagsaam kan wees. Hou ook in gedagte dat dit Jehovah en Jesus is wat ons na die vergaderinge toe nooi (Matt. 18:20). Hulle verdien beslis ons diep respek!

11. Hoekom moet diegene wat dele op die vergadering het die instruksie in 1 Korintiërs 14:40 volg?

11 As ons bedagsaam teenoor ons broers is, sal ons die volgende instruksie in die Bybel volg: “Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Kor. 14:40). Broers volg hierdie instruksie deur hulle dele op die vergadering betyds klaar te maak. Op hierdie manier wys hulle dat hulle bedagsaam is teenoor die volgende spreker, asook teenoor die gemeente. Party broers moet ver ry om by die huis te kom. Ander maak dalk gebruik van openbare vervoer. En party het ’n ongelowige huweliksmaat wat dalk ongeduldig vir hulle wag om huis toe te kom.

12. Hoekom verdien hardwerkende ouer manne ons respek en liefde? (Sien die venster “ Wees bedagsaam teenoor diegene wat die leiding neem”.)

12 Geestelike herders werk hard in die gemeente en is ywerig in die bediening, en daarom verdien hulle ons respek en liefde. (Lees 1 Tessalonisense 5:12, 13.) Jy is sekerlik dankbaar vir alles wat hulle vir jou doen. Jy kan dit wys deur gewillig jou samewerking te gee en hulle te ondersteun. Dit is belangrik, veral omdat “hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee”. — Heb. 13:7, 17.

WEES BEDAGSAAM IN DIE BEDIENING

13. Wat kan ons leer uit die manier waarop Jesus mense behandel het?

13 Jesaja het oor Jesus voorspel: “’n Geknakte riet sal hy nie breek nie; en ’n dowwe vlaspit sal hy nie uitdoof nie” (Jes. 42:3). Jesus se liefde vir mense het hom gemotiveer om empatie met hulle te hê. Hy het die gevoelens verstaan van mense wat in figuurlike sin soos ’n geknakte riet of soos ’n olielamp se vlaspit is wat op die punt staan om uit te gaan. Daarom was hy bedagsaam, liefdevol en geduldig. Selfs kinders het dit geniet om by hom te wees (Mark. 10:14). Natuurlik kan ons mense nie so goed verstaan of onderrig soos Jesus nie! Maar ons kan — en moet — bedagsaam wees teenoor die mense in ons gebied. Dit sluit in wanneer en hoe lank ons met hulle praat, asook die manier waarop ons met hulle praat.

14. Hoekom moet ons versigtig wees oor die manier waarop ons met mense praat?

14 Hoe moet ons met mense praat? Vandag word miljoene mense “gestroop en rondgegooi” deur korrupte en wrede leiers in godsdiens, die besigheidswêreld en die politiek (Matt. 9:36). As gevolg hiervan is dit vir baie mense moeilik om ander te vertrou en is hulle sonder hoop. Daarom is dit belangrik dat ons woorde en stemtoon wys dat ons vriendelik is en vir hulle omgee! Baie mense wil na ons boodskap luister, nie net omdat ons ’n goeie kennis van die Bybel het of dit goed kan gebruik nie, maar ook omdat ons opreg in hulle belangstel en hulle met respek behandel.

15. Op watter praktiese maniere kan ons bedagsaam wees teenoor die mense vir wie ons preek?

15 Daar is baie praktiese maniere waarop ons kan wys dat ons bedagsaam is teenoor die mense vir wie ons preek. Die gebruik van vrae is byvoorbeeld ’n goeie manier om te onderrig. Maar die manier waarop ons ’n vraag vra, moet vriendelik en respekvol wees. ’n Pionier het in ’n gebied gewerk waar baie mense skaam en teruggetrokke was. Hy het geleer om nie vrae te vra wat mense sleg sou laat voel as hulle nie die antwoord geken het of as hulle die verkeerde antwoord sou gee nie. Hy het byvoorbeeld vrae vermy soos: ‘Weet jy wat God se naam is?’ of ‘Weet jy wat God se Koninkryk is?’ Hy sou eerder iets sê soos: “Ek het uit die Bybel geleer dat God ’n persoonlike naam het. Kan ek vir jou wys wat daardie naam is?” Hierdie metode sal natuurlik nie oral werk nie, want mense en kulture verskil. Maar ons moet altyd bedagsaam en respekvol wees. Dit sluit in dat ons die mense in ons gebied goed leer ken.

16, 17. Hoe kan ons wys dat ons bedagsaam is teenoor mense wanneer ons besluit (a) hoe laat ons hulle sal besoek? (b) hoe lank ons met hulle sal praat?

16 Wanneer moet ons mense besoek? Wanneer ons van deur tot deur gaan, verwag mense ons nie, want hulle het ons nie genooi nie. Daarom is dit belangrik dat ons mense op ’n tyd besoek wanneer hulle meer geneig sal wees om na ons te luister (Matt. 7:12). Hou die mense in jou gebied byvoorbeeld daarvan om oor naweke laat te slaap? As dit die geval is, kan jy miskien eers straatgetuieniswerk of openbare getuieniswerk doen. Of jy kan herbesoeke doen by mense wat jy weet beskikbaar sal wees.

17 Hoe lank moet ons met mense praat? Mense is gewoonlik baie besig. Daarom sal dit goed wees om ons besoek kort te hou, veral aan die begin. Dit is beter om die gesprek kort te hou as om te lank te bly (1 Kor. 9:20-23). Wanneer mense sien dat ons bewus is van hulle omstandighede of dat ons besef dat hulle besig is, sal hulle die volgende keer dalk meer bereid wees om met ons te praat. Die vrug van God se gees moet in ons bediening gesien kan word. Op hierdie manier sal ons werklik “God se medewerkers” word en sal Jehovah ons dalk gebruik om iemand te help om die waarheid te leer. — 1 Kor. 3:6, 7, 9.

18. Watter seëninge kan ons verwag wanneer ons bedagsaam teenoor ander is?

18 Laat ons ons bes doen om bedagsaam te wees teenoor ander — in die gesin, in die gemeente en in die bediening. As ons dit doen, sal ons nou en in die toekoms baie seëninge ontvang. Psalm 41:1, 2 sê: “Gelukkig is elkeen wat ag gee op die geringe; in die dag van rampspoed sal Jehovah aan hom ontkoming verskaf. . . . Hy sal gelukkig genoem word op die aarde.”