Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 36

Armageddon – Iets om na uit te sien!

Armageddon – Iets om na uit te sien!

“Hulle het hulle versamel na . . . Har–Magedon.” – OP. 16:16.

LIED 150 Soek God, van wie jou redding kom

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Hoekom kan ons uitsien na Armageddon? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

GEWOONLIK wanneer mense die woord “Armageddon” hoor, dink hulle aan ’n kernoorlog of aan ’n natuurramp wat die aarde sal vernietig. Maar volgens die Bybel is Armageddon iets om na uit te sien! (Op. 1:3). Die oorlog van Armageddon sal nie die mensdom vernietig nie, maar eerder red! Hoekom sê ons so?

2 Die Bybel wys dat die oorlog van Armageddon die mensdom sal red deur ’n einde te bring aan menseregerings. Daardie oorlog sal die mensdom red deur die goddeloses te vernietig en die regverdiges te beskerm. Dit sal ook die mensdom red deur die planeet teen vernietiging te beskerm (Op. 11:18). Om ons te help om hierdie punte beter te verstaan, kom ons kyk na die volgende vier vrae: Wat is Armageddon? Wat sal net voor Armageddon gebeur? Wat kan ons doen om seker te maak dat ons ook tydens Armageddon gered sal word? Hoe kan ons getrou bly terwyl Armageddon al hoe nader kom?

WAT IS ARMAGEDDON?

3. (a) Wat beteken die woord “Armageddon”? (b) Hoekom kan ons volgens Openbaring 16:14, 16 sê dat Armageddon nie ’n letterlike plek is nie?

3 Lees Openbaring 16:14, 16. Die woord “Armageddon” kom net een keer in die Bybel voor en dit kom van ’n Hebreeuse term wat “die berg Megiddo” beteken (Op. 16:16). Megiddo was ’n stad in eertydse Israel (Jos. 17:11). Maar Armageddon verwys nie na ’n letterlike plek op die aarde nie. In werklikheid verwys dit na die situasie waarin “die konings van die hele bewoonde aarde” bymekaargemaak word in opstand teen Jehovah (Op. 16:14). Maar in hierdie artikel sal ons ook die woord “Armageddon” gebruik om na die oorlog te verwys wat onmiddellik sal plaasvind ná die versameling van die konings van die aarde. Hoe weet ons dat Armageddon na ’n simboliese plek verwys? Eerstens, daar is nie ’n letterlike berg Megiddo nie. Tweedens, die gebied rondom Megiddo is nie groot genoeg vir al “die konings van die hele bewoonde aarde,” hulle leërmagte en hulle oorlogswapens nie. Derdens, soos ons later in hierdie artikel sal sien, die oorlog van Armageddon sal begin wanneer “die konings” van die wêreld God se volk, wat regoor die aarde bly, aanval.

4. Hoekom het God sy finale groot oorlog met Megiddo verbind?

4 Hoekom het Jehovah die finale groot oorlog met Megiddo verbind? Baie oorloë is by Megiddo en die nabygeleë Jisreëlvallei gevoer. Soms het Jehovah sy volk gehelp om die geveg te wen. Byvoorbeeld, Jehovah het “by die waters van Megiddo” die Israelitiese regter Barak gehelp om ’n geveg te wen teen ’n Kanaänitiese leërmag en hulle leier Sisera. Barak en die profetes Debora het Jehovah bedank omdat hy hulle deur middel van ’n wonderwerk gehelp het om die geveg te wen. Hulle het gesing: “Uit die hemel het die sterre . . . teen Sisera geveg. Die Kisonstroom het hulle weggespoel.” – Rigt. 5:19-21.

5. Op watter belangrike manier sal die oorlog van Armageddon verskil van die oorlog wat Barak gevoer het?

5 Barak en Debora het hulle lied afgesluit met die volgende woorde: “Laat al u vyande so vergaan, o Jehovah, en laat dié wat u liefhet, wees soos wanneer die son in sy mag opgaan” (Rigt. 5:31). Tydens Armageddon sal God se vyande ook vernietig word, terwyl dié wat lief is vir God, gered sal word. Maar daar is ’n groot verskil tussen hierdie twee oorloë. Tydens Armageddon sal God se volk nie veg nie. Hulle sal nie eens wapens hê nie! Hulle “sterkte sal eenvoudig daarin lê dat [hulle] rustig bly en vertroue het” in Jehovah en sy hemelse leërmag. – Jes. 30:15; Op. 19:11-15.

6. Hoe sal Jehovah dalk sy vyande tydens Armageddon vernietig?

6 Hoe sal God sy vyande tydens Armageddon vernietig? Hy kan ’n hele paar maniere gebruik. Byvoorbeeld, hy kan aardbewings, hael en weerlig gebruik (Job 38:22, 23; Eseg. 38:19-22). Hy kan veroorsaak dat sy vyande teen mekaar veg (2 Kron. 20:17, 22, 23). En hy kan sy engele gebruik om die goddeloses te vernietig (Jes. 37:36). Maar dit maak nie saak watter manier God gebruik nie, hy sal die geveg wen. Al sy vyande sal vernietig word. En al die regverdiges sal gered word. – Spr. 3:25, 26.

WAT SAL NET VOOR ARMAGEDDON GEBEUR?

7-8. (a) Watter buitengewone aankondiging sal wêreldleiers volgens 1 Tessalonisense 5:1-6 maak? (b) Waarom sal dit ’n gevaarlike leuen wees?

7 Daar sal ’n aankondiging van “vrede en veiligheid” wees voordat “Jehovah se dag” begin. (Lees 1 Tessalonisense 5:1-6.) In 1 Tessalonisense 5:2 verwys “Jehovah se dag” na die “groot verdrukking” (Op. 7:14). Hoe sal ons weet wanneer hierdie verdrukking gaan begin? Die Bybel sê dat daar ’n buitengewone aankondiging sal wees. Hierdie aankondiging sal die teken wees dat die groot verdrukking gaan begin.

8 Dit sal die aankondiging van “vrede en veiligheid” wees wat in die Bybel voorspel is. Hoekom sal wêreldleiers hierdie aankondiging maak? Sal godsdiensleiers hierby betrokke wees? Moontlik. Wat ook al die geval is, hierdie aankondiging is ’n leuen wat eintlik van die demone af kom. Maar hierdie leuen is veral gevaarlik omdat dit mense sal laat dink dat hulle veilig is net voordat die grootste verdrukking in die mens se geskiedenis begin. Dan sal “skielike vernietiging oombliklik oor hulle kom net soos die barensweë oor ’n swanger vrou”. Maar wat sal met Jehovah se lojale knegte gebeur? Hulle sal dalk verbaas wees oor die skielike begin van Jehovah se dag, maar hulle sal nie onkant gevang word nie.

9. In watter volgorde sal God Satan se wêreld vernietig?

9 Jehovah sal nie Satan se wêreld op een slag vernietig soos hy in Noag se dag gedoen het nie. Hy sal eers Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, vernietig. Dan sal hy by Armageddon die res van Satan se wêreld vernietig, insluitende die politieke, militêre en kommersiële stelsel. Kom ons bespreek nou hierdie twee belangrike gebeure in detail.

10. Hoekom sal Jehovah volgens Openbaring 17:1, 6 en 18:24 Babilon die Grote vernietig?

10 “Die oordeel . . . oor die groot hoer.” (Lees Openbaring 17:1, 6; 18:24.) Babilon die Grote het veroorsaak dat baie mense God se naam nie respekteer nie. Sy het leuens oor God versprei. Sy is soos ’n onsedelike vrou omdat sy nie getrou is aan God nie en eerder wêreldregerings ondersteun. Sy het haar mag en invloed gebruik om haar lidmate uit te buit. En sy het baie mense doodgemaak, insluitende party van God se knegte (Op. 19:2). Hoe sal Jehovah Babilon die Grote vernietig?

11. Wat is die “skarlakenkleurige wilde dier”, en hoe sal God dit teen Babilon die Grote gebruik?

11 Jehovah sal “die tien horings” van “’n skarlakenkleurige wilde dier” gebruik om “die groot hoer” te vernietig. Hierdie figuurlike wilde dier stel die Verenigde Nasies voor. Die tien horings stel die regerings voor wat nou hierdie organisasie ondersteun. Op God se vasgestelde tyd sal hierdie regerings Babilon die Grote aanval. Hulle “sal haar verwoes en naak maak” deur haar rykdom te vat en vir almal te wys hoe goddeloos sy is (Op. 17:3, 16). Daardie vernietiging sal so vinnig wees dat dit sal voel asof dit in een dag gebeur. Dié wat valse godsdiens ondersteun, sal geskok wees, veral omdat sy al lank spog: “Ek sit as koningin, en ek is geen weduwee nie, en ek sal nooit verdriet sien nie.” – Op. 18:7, 8

12. Wat sal Jehovah die nasies nie toelaat om te doen nie, en hoekom nie?

12 God sal die nasies nie toelaat om sy volk te vernietig nie. Hulle dra met trots sy naam en hulle het die opdrag gehoorsaam om uit Babilon die Grote te vlug (Hand. 15:16, 17; Op. 18:4). Hulle het ook hard gewerk om ander te help om uit haar uit te vlug. So Jehovah se knegte sal “geen deel van haar plae” ontvang nie. Maar hulle geloof sal nog steeds getoets word.

Waar God se volk ook al is, hulle sal op hom vertrou wanneer die aanval begin (Sien paragraaf 13) *

13. (a) Wie is Gog? (b) Wat sal volgens Esegiël 38:2, 8, 9 veroorsaak dat Gog God se volk aanval?

13 Die aanval van Gog. (Lees Esegiël 38:2, 8, 9.) Nadat alle godsdiensorganisasies vernietig is, sal net een godsdiens oorbly. God se volk sal uitstaan soos ’n verlate boom ná ’n sterk storm. Satan sal natuurlik woedend wees. Hy sal wys hoe woedend hy is deur demoniese propaganda, of “onrein geïnspireerde uitinge”, te gebruik om te veroorsaak dat ’n groep nasies Jehovah se knegte aanval (Op. 16:13, 14). Daardie groep nasies word “Gog van die land Magog” genoem. Wanneer die nasies Jehovah se volk aanval, sal die oorlog van Armageddon begin. – Op. 16:16.

14. Wat sal Gog besef?

14 Gog sal op sy “arm van vlees” vertrou – sy militêre mag (2 Kron. 32:8). Ons sal op Jehovah ons God vertrou – iets wat vir die nasies dwaas sal lyk. Hoekom? Want die magtige Babilon die Grote se gode kon haar nie red van “die wilde dier” en sy “tien horings” nie! (Op. 17:16). So Gog gaan ’n maklike oorwinning verwag. Hy sal Jehovah se volk aanval ‘soos wolke die land bedek’ (Eseg. 38:16). Maar Gog sal gou agterkom dat hy in ’n strik getrap het. Net soos Farao by die Rooisee, sal Gog besef dat hy teen Jehovah veg. – Eks. 14:1-4; Eseg. 38:3, 4, 18, 21-23.

15. Wat sal Christus by die oorlog van Armageddon doen?

15 Christus en sy hemelse leërmagte sal God se volk beskerm en Gog en sy leërmagte heeltemal vernietig (Op. 19:11, 14, 15). Maar wat van Jehovah se grootste vyand, Satan, wie se leuens veroorsaak het dat die nasies God se volk aanval by die oorlog van Armageddon? Jesus sal hom en sy demone in die afgrond gooi, waar hulle ’n duisend jaar lank opgesluit sal word. – Op. 20:1-3.

HOE KAN JY BY ARMAGEDDON GERED WORD?

16. (a) Hoe wys ons dat ons ‘God ken’? (b) Hoe sal die feit dat ons Jehovah ken ons by Armageddon help?

16 Of ons al lank in die waarheid is of nie, om by Armageddon gered te word, moet ons wys dat ons ‘God ken’ en dat ons “die goeie nuus oor ons Here Jesus” gehoorsaam (2 Tess. 1:7-9). Ons ‘ken God’ wanneer ons weet waarvan hy hou, waarvan hy nie hou nie en wat sy standaarde is. Ons wys ook dat ons hom ken wanneer ons hom liefhet en gehoorsaam en hom ons uitsluitlike toegewydheid gee (1 Joh. 2:3-5; 5:3). Wanneer ons wys dat ons God ken, het ons die voorreg om “deur hom geken” te word, en dit sal ons by Armageddon red! (1 Kor. 8:3). Hoekom sê ons so? Want om “deur hom geken” te word beteken dat ons sy goedkeuring het.

17. Wat beteken dit om “die goeie nuus oor ons Here Jesus” te gehoorsaam?

17 “Die goeie nuus oor ons Here Jesus” sluit al die waarhede in wat Jesus aan ander geleer het soos dit in God se Woord opgeteken is. Ons is gehoorsaam aan die goeie nuus wanneer ons dit in ons lewe toepas. Hierdie gehoorsaamheid sluit in dat ons Koninkryksbelange eerste in ons lewe stel, volgens God se regverdige standaarde lewe en God se Koninkryk verkondig (Matt. 6:33; 24:14). Dit sluit ook in dat ons Christus se gesalfde broers ondersteun terwyl hulle omsien na die belangrike werk wat aan hulle gegee is. – Matt. 25:31-40.

18. Hoe sal Christus se gesalfde broers wys dat hulle waardeer wat die ander skape vir hulle gedoen het?

18 God se gesalfde knegte sal binnekort wys dat hulle waardeer wat die “ander skape” vir hulle gedoen het (Joh. 10:16). Hoe sal hulle dit doen? Voordat die oorlog van Armageddon begin, sal die 144 000 reeds in die hemel wees as onsterflike geespersone. Hulle sal dan deel wees van die hemelse leërmag wat ’n “groot menigte” skaapgeaarde mense sal beskerm en Gog sal vernietig (Op. 2:26, 27; 7:9, 10). Die groot menigte sal baie bly wees dat hulle Jehovah se gesalfde knegte ondersteun het terwyl hulle nog op die aarde was!

HOE KAN ONS GETROU BLY TERWYL ARMAGEDDON NADER KOM?

19-20. Hoe kan ons ten spyte van ons probleme getrou bly terwyl Armageddon nader kom?

19 Gedurende hierdie laaste dae gaan baie van Jehovah se knegte deur moeilike tye. Maar ons kan nog steeds met vreugde volhard (Jak. 1:2-4). Een ding wat ons baie kan help, is om aan te hou om uit ons hart tot Jehovah te bid (Luk. 21:36). Maar ons moenie net bid nie, ons moet ook God se Woord elke dag studeer en daaroor nadink, wat insluit dat ons nadink oor die wonderlike profesieë wat binnekort vervul sal word (Ps. 77:12). As ons hierdie dinge doen, asook ’n volle aandeel aan die bediening het, sal dit ons geloof en hoop versterk!

20 Dink net hoe bly jy sal wees wanneer Babilon die Grote vernietig is en Armageddon verby is! En dink net hoe gelukkig jy sal wees wanneer God se naam en soewereiniteit ten volle geregverdig is! (Eseg. 38:23). Ja, dié wat Jehovah ken, sy Seun gehoorsaam en tot die einde toe volhard, kan beslis na Armageddon uitsien. – Matt. 24:13.

LIED 143 Hou aan waak, bly wakker en ywerig

^ par. 5 Jehovah se knegte wag al lank vir Armageddon om te kom. In hierdie artikel sal ons bespreek wat Armageddon is, wat net voor Armageddon sal gebeur en hoe ons getrou kan bly terwyl die einde nader kom.

^ par. 71 BESKRYWING VAN PRENTE: Terwyl dramatiese dinge om ons gebeur sal ons: (1) ’n aandeel aan die bediening hê solank as wat dit moontlik is, (2) volhou met ons studieprogram en (3) aanhou om te vertrou dat God ons sal beskerm.

^ par. 85 BESKRYWING VAN PRENTE: Polisiemanne maak gereed om die huis van ’n Christengesin in te storm, maar die gesin vertrou dat Jesus en sy engele bewus is van wat besig is om te gebeur.