Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 39

“Kyk! ’n groot menigte”

“Kyk! ’n groot menigte”

“Kyk! ’n groot menigte, wat geen mens kon tel nie, . . . wat voor die troon en voor die Lam staan.” – OP. 7:9.

LIED 60 Dit kan hul red

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat was die apostel Johannes se situasie aan die einde van die eerste eeu HJ?

AAN die einde van die eerste eeu HJ, was die apostel Johannes in ’n baie moeilike situasie. Hy was oud, ’n gevangene op die eiland Patmos en heel moontlik die enigste apostel wat nog gelewe het (Op. 1:9). Hy het geweet dat daar teenstanders is wat besig was om die gemeentes te mislei en verdeeldheid te veroorsaak. Dit het dalk gelyk of die vlammetjie van die Christelike godsdiens besig was om dood te gaan. – Jud. 4; Op. 2:15, 20; 3:1, 17.

Die apostel Johannes het “’n groot menigte” gesien in wit klere en met palmtakke in hulle hande (Sien paragraaf 2)

2. Watter opwindende profetiese visioen het Johannes volgens Openbaring 7:9-14 gesien? (Sien prent op voorblad.)

2 Gedurende hierdie moeilike tyd het Johannes ’n opwindende profetiese visioen gesien. In hierdie visioen sê ’n engel vir vier ander engele om die vernietigende winde van die groot verdrukking terug te hou tot die finale verseëling van ’n groep slawe (Op. 7:1-3). Hierdie groep bestaan uit 144 000 mense wat saam met Jesus in die hemel sal regeer (Luk. 12:32; Op. 7:4). Dan sien Johannes ’n ander groep wat so groot is dat hy uitroep: “Kyk!” – ’n uitdrukking wat dalk wys dat hy iets gesien het wat hom verbaas het. Wat sien Johannes? “’n Groot menigte, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale, wat voor die troon en voor die Lam staan.” (Lees Openbaring 7:9-14.) Dink net hoe bly Johannes moes gewees het toe hy uitvind dat daar in die toekoms ’n ontelbare hoeveelheid mense sal wees wat ware aanbidding beoefen!

3. (a) Hoekom behoort Johannes se visioen ons geloof te versterk? (b) Wat sal ons in hierdie artikel leer?

3 Hierdie visioen het sekerlik Johannes se geloof versterk. Dit behoort ons geloof selfs meer te versterk omdat ons in die tyd lewe waarin hierdie visioen vervul word. In ons tyd het miljoene mense Jehovah begin dien, en hulle het die hoop om die groot verdrukking te oorleef en vir ewig op die aarde te lewe. In hierdie artikel sal ons leer hoe Jehovah meer as 80 jaar gelede die identiteit van die groot menigte aan sy volk bekendgemaak het. Dan sal ons twee kenmerke van hierdie menigte bespreek: (1) dat dit baie groot is en (2) dat die lede daarvan van regoor die wêreld kom. Hierdie punte behoort die geloof te versterk van almal wat die hoop het om deel te wees van hierdie geseënde groep.

WAAR SAL DIE GROOT MENIGTE LEWE?

4. Watter Bybelwaarheid verstaan die Christendom nie, en hoe het die Bybelstudente dit verstaan?

4 Christendom leer oor die algemeen nie die Bybelwaarheid dat gehoorsame mense een dag vir ewig op die aarde sal lewe nie (2 Kor. 4:3, 4). Vandag leer die meeste kerke in Christendom dat alle goeie mense hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan. Maar die klein groepie Bybelstudente wat die Watch Tower in die laat 1800’s gepubliseer het, het anders geglo. Hulle het geglo dat God die aarde weer ’n paradys sal maak, en dat miljoene gehoorsame mense hier op die aarde sal lewe en nie in die hemel nie. Maar dit het vir hulle tyd geneem om duidelik te verstaan wie hierdie gehoorsame mense sou wees. – Matt. 6:10.

5. Wat het die Bybelstudente oor die 144 000 geglo?

5 Die Bybelstudente het ook uit hulle studie van die Bybel geleer dat party “van die aarde gekoop” sou word om saam met Jesus in die hemel te regeer (Op. 14:3). Hierdie groep sou bestaan uit 144 000 ywerige en toegewyde Christene wat God getrou gedien het terwyl hulle op die aarde was. Maar wat van die groot menigte?

6. Wat het die Bybelstudente oor die groot menigte geglo?

6 In sy visioen het Johannes gesien dat hierdie groep “voor die troon en voor die Lam staan” (Op. 7:9). Daarom het die Bybelstudente geglo dat die groot menigte, net soos die 144 000, in die hemel sou lewe. As die 144 000 en die groot menigte in die hemel sou lewe, hoe sou die een groep van die ander verskil? Die Bybelstudente het gedink dat die groot menigte uit Christene sou bestaan wat nie heeltemal aan God gehoorsaam was terwyl hulle op die aarde was nie. Alhoewel party van hulle volgens die Bybel se standaarde gelewe het, het hulle dalk nie die Christendom se kerke verlaat nie. Die Bybelstudente het geglo dat hierdie mense ’n mate van ywer gehad het, maar nie genoeg om saam met Jesus te regeer nie. Omdat die groot menigte se liefde vir God nie sterk genoeg was nie, sou hulle kwalifiseer om in die hemel voor die troon te staan, maar nie om op trone te sit nie.

7. Wie sou volgens die Bybelstudente op die aarde gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy lewe, en wat het die Bybelstudente geglo oor getroue manne van die verlede?

7 Wie sou dan op die aarde lewe? Die Bybelstudente het geglo dat miljoene ander op die aarde sou lewe nadat die 144 000 en die groot menigte hemel toe geneem is. Hulle sou die seëninge van Christus se Duisendjarige Heerskappy geniet. Die Bybelstudente het nie verwag dat hierdie mense Jehovah voor die begin van Christus se Duisendjarige Heerskappy sou dien nie. Hulle het eerder gedink dat hierdie groep gedurende die duisend jaar omtrent Jehovah sou leer. Daarna sou dié wat volgens Jehovah se standaarde lewe, geseën word met ewige lewe op die aarde, maar dié wat ongehoorsaam is, sou vernietig word. Die Bybelstudente het ook geglo dat daar ’n moontlikheid is dat party van dié wat gedurende daardie tyd as “vorste” op die aarde sou dien – insluitende die “waardiges uit die ou tyd” wat opgewek is (getroue manne wat voor Christus gesterf het) – aan die einde van die duisend jaar hemel toe sou gaan. – Ps. 45:16.

8. Watter drie groepe het volgens die Bybelstudente ’n plek in God se voorneme gehad?

8 Die Bybelstudente het geglo dat daar drie groepe is: (1) die 144 000, wat saam met Jesus in die hemel sal regeer, (2) die groot menigte minder ywerige Christene, wat in die hemel voor die troon van Jesus sal staan en (3) miljoene mense wat gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy op die aarde oor Jehovah se standaarde sou leer. * Maar op Jehovah se vasgestelde tyd het hy die lig op hierdie onderwerp helderder laat skyn. – Spr. 4:18.

DIE LIG VAN WAARHEID SKYN AL HOE HELDERDER

By die streekbyeenkoms in 1935 is baie mense wat die aardse hoop het, gedoop (Sien paragraaf 9)

9. (a) In watter sin kan die groot menigte op die aarde “voor die troon en voor die Lam” staan? (b) Hoekom maak hierdie verduideliking van Openbaring 7:9 sin?

9 In 1935 het Jehovah se Getuies duidelik verstaan wie die groot menigte in Johannes se visioen is. Hulle het besef dat die groot menigte nie letterlik in die hemel hoef te wees om “voor die troon en voor die Lam” te staan nie. Hulle staan eerder in figuurlike sin voor die troon. Al sal die groot menigte op die aarde lewe, kan hulle “voor die troon” staan deur Jehovah se gesag te erken en deur hulle te onderwerp aan sy soewereiniteit (Jes. 66:1). Hulle staan “voor die Lam” deur geloof in Jesus se losprysoffer te stel. Matteus 25:31, 32 sê ook dat “al die nasies” – insluitende die goddeloses – “versamel [sal] word” voor Jesus se glorieryke troon. Dit is duidelik dat hierdie nasies nie in die hemel is nie, maar op die aarde. Hierdie nuwe verduideliking maak sin. Dit verduidelik waarom die Bybel nie sê dat die groot menigte hemel toe geneem word nie. Slegs een groep het die hoop om vir ewig in die hemel te lewe – die 144 000, wat “as konings oor die aarde” saam met Jesus sal regeer. – Op. 5:10.

10. Hoekom is dit belangrik vir die groot menigte om voor die duisend jaar van Jehovah te leer?

10 Vanaf 1935 het Jehovah se Getuies verstaan dat die groot menigte van Johannes se visioen uit ’n groep getroue Christene bestaan wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe. Vir die groot menigte om die groot verdrukking te oorleef, moet hulle Jehovah leer ken en hom aanbid voor die duisend jaar begin. Voor Christus se Duisendjarige Heerskappy sal die groot menigte sterk geloof moet hê om te “ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur”. – Luk. 21:34-36.

11. Hoekom het sommige Bybelstudente dalk gedink dat party ná die duisend jaar moontlik hemel toe sal gaan?

11 Maar wat van die gedagte dat party voorbeeldige persone op die aarde ná die duisend jaar hemel toe sal gaan? Hierdie moontlikheid was jare gelede genoem in The Watch Tower van 15 Februarie 1913. ’n Persoon kon geredeneer het: ‘Hoekom sou getroue manne van die verlede slegs toegelaat word om op die aarde te lewe, terwyl Christene wat nie so getrou was nie, beloon sou word met lewe in die hemel?’ Hulle denke was natuurlik beïnvloed deur twee verkeerde gevolgtrekkings: (1) dat die groot menigte in die hemel sou lewe en (2) dat die groot menigte uit minder ywerige Christene sou bestaan.

12-13. Wat besef die gesalfdes en die groot menigte oor hulle beloning?

12 Maar soos ons gesien het, het Jehovah se Getuies vanaf 1935 duidelik verstaan dat dié wat Armageddon oorleef, die groot menigte is van Johannes se visioen. Hulle sal hier op die aarde “uit die groot verdrukking kom,” en hulle sal “met ’n harde stem [aanhou] roep en . . . sê: ‘Redding is ons verskuldig aan ons God, wat op die troon sit, en aan die Lam’” (Op. 7:10, 14). Die Bybel leer ook dat dié wat opgewek word tot hemelse lewe, “iets beters” ontvang as die getroue manne van die verlede (Heb. 11:40). Ons broers het dus met groot ywer begin om mense te nooi om Jehovah te dien met die hoop om vir ewig op die aarde te lewe.

13 Dié wat deel is van die groot menigte is baie bly oor hulle wonderlike hoop. Hulle verstaan dat Jehovah die een is wat besluit waar sy getroue aanbidders hom sal dien, of dit nou in die hemel of op die aarde is. Die gesalfdes en die groot menigte besef dat hulle beloning slegs moontlik is as gevolg van Jehovah se onverdiende goedhartigheid wat hy deur middel van Jesus Christus se losprysoffer getoon het. – Rom. 3:24.

’N GROOT GROEP

14. Hoekom het baie ná 1935 gewonder hoe die profesie van die groot menigte vervul sou word?

14 Nadat Jehovah se volk in 1935 Johannes se visioen duidelik verstaan het, het baie van hulle nog steeds gewonder hoe dié met ’n aardse hoop ’n groot groep sou word. Byvoorbeeld, Ronald Parkin was 12 jaar oud toe die identiteit van die groot menigte duidelik gemaak is. Hy sê: “In daardie tyd was daar omtrent 56 000 verkondigers regoor die wêreld en baie, moontlik die meeste van hulle, was gesalfdes. So die groot menigte het nie so groot gelyk nie.”

15. Hoe het die groot menigte bly groei?

15 Maar in die jare daarna is sendelinge na baie lande gestuur, en die aantal mense wat Jehovah se Getuies geword het, het aanhou groei. Toe is ’n Bybelstudieprogram in 1968 begin deur die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe te gebruik. Die eenvoudige manier waarop dit Bybelwaarhede verduidelik het, het nederige mense na Jehovah toe getrek soos nog nooit tevore nie. Binne vier jaar is meer as ’n half miljoen dissipels gedoop. Toe die Katolieke Kerk hulle houvas op Latyns-Amerika en ander lande verloor het en daar nie meer beperkings op ons werk in Oos-Europa en dele van Afrika was nie, is miljoene ander gedoop (Jes. 60:22). In meer onlangse jare het Jehovah se organisasie ’n hele paar ander doeltreffende hulpmiddele voorsien om mense te help om Bybelwaarhede te verstaan. Daar is geen twyfel dat Jehovah besig is om ’n groot menigte – wat nou meer as agt miljoen mense is – in te samel nie.

’N GROOT MENIGTE UIT VERSKILLENDE AGTERGRONDE

16. Van waar word die groot menigte versamel?

16 Toe Johannes sy visioen neergeskryf het, het hy gesê dat die groot menigte “uit alle nasies en stamme en volke en tale” sou kom. Die profeet Sagaria het vroeër iets soortgelyks voorspel. Hy het geskryf: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is.’” – Sag. 8:23.

17. Wat word gedoen om mense van alle nasies en tale te help?

17 Jehovah se Getuies het besef dat om mense van alle tale te versamel, die goeie nuus in baie tale verkondig moet word. Ons vertaal al vir meer as 130 jaar Bybelstudiemateriaal, maar nou doen ons die meeste vertaalwerk in die geskiedenis. Dit word in honderde tale gedoen. Dit is duidelik dat Jehovah besig is om ’n wonderwerk te verrig deur ’n groot menigte uit alle nasies te versamel. Omdat die Bybel en Bybelpublikasies in so baie tale beskikbaar is, aanbid hierdie groep Jehovah in eenheid, selfs al kom hulle van regoor die wêreld. En die Getuies is bekend vir hulle ywerige predikingswerk en broederlike liefde. Hoe geloofversterkend is dit tog! – Matt. 24:14; Joh. 13:35.

WAT BETEKEN DIE VISIOEN VIR ONS?

18. (a) Hoekom is ons volgens Jesaja 46:10, 11 nie verbaas dat Jehovah die profesie oor die groot menigte vervul nie? (b) Hoekom voel dié wat die hoop het om op die aarde te lewe, nie uitgesluit nie?

18 Ons is baie opgewonde oor die profesie van ’n groot menigte! Ons is nie verbaas dat Jehovah hierdie profesie op so ’n wonderlike manier vervul nie. (Lees Jesaja 46:10, 11.) Dié wat deel is van die groot menigte, is dankbaar vir die hoop wat Jehovah hulle gegee het. Hulle voel nie uitgesluit omdat hulle nie deur God se heilige gees gesalf is om saam met Jesus in die hemel te dien nie. In die Bybel lees ons van manne en vroue van geloof wat deur die heilige gees gelei is, maar tog is hulle nie deel van die 144 000 nie. Een voorbeeld is Johannes die Doper (Matt. 11:11). Nog ’n voorbeeld is Dawid (Hand. 2:34). Hulle en baie ander sal opgewek word tot lewe op ’n paradysaarde. Hulle almal – saam met die groot menigte – sal die geleentheid hê om te wys dat hulle lojaal is aan Jehovah en sy soewereiniteit.

19. Hoe beklemtoon die vervulling van Johannes se visioen van ’n groot menigte die dringendheid van die tyd waarin ons lewe?

19 Nog nooit tevore in die geskiedenis van die mens het God miljoene mense van alle nasies verenig nie. Of ons nou die hoop het om in die hemel of op die aarde te lewe, ons moet soveel mense as moontlik help om deel van die groot menigte “ander skape” te word (Joh. 10:16). Jehovah sal binnekort die voorspelde groot verdrukking bring wat die regerings en godsdienste sal vernietig, wat soveel pyn en lyding vir die mensdom veroorsaak het. Alle lede van die groot menigte het ’n wonderlike geleentheid om Jehovah vir ewig op die aarde te dien! – Op. 7:14.

LIED 139 Sien jouself wanneer alles nuut is

^ par. 5 In hierdie artikel sal ons Johannes se profetiese visioen van die insameling van “’n groot menigte” bespreek. Dit sal ongetwyfeld die geloof versterk van elkeen wat die wonderlike hoop het om deel te wees van hierdie groep.

^ par. 8 Sien die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk, bl. 159-163.