Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 35

Jehovah waardeer sy nederige knegte

Jehovah waardeer sy nederige knegte

“Jehovah . . . sien . . . die nederige.” – PS. 138:6.

LIED 48 Wandel daagliks met Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe voel Jehovah oor nederige mense? Verduidelik.

JEHOVAH is lief vir nederige mense. Net mense wat regtig nederig is, kan ’n liefdevolle en persoonlike verhouding met hom hê. Maar “die verwaande ken hy net van ver af” (Ps. 138:6). Omdat ons almal Jehovah se hart wil bly maak en sy liefde vir ons wil ondervind, het ons goeie redes om te leer om nederig te wees.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 In hierdie artikel sal ons die antwoorde op die volgende drie vrae bespreek: (1) Wat is nederigheid? (2) Hoekom moet ons leer om nederig te wees? (3)  Watter situasies kan ons nederigheid toets? Soos ons sal sien, wanneer ons leer om nederig te wees, sal ons Jehovah se hart bly maak en onsself bevoordeel. – Spr. 27:11; Jes. 48:17.

WAT IS NEDERIGHEID?

3. Wat is nederigheid?

3 ’n Nederige persoon is nie trots of arrogant nie. Die Bybel wys dat ’n nederige persoon die regte beskouing van sy verhouding met Jehovah God het en van sy verhouding met ander mense. ’n Nederige persoon erken dat almal op die een of ander manier beter as hy is. – Fil. 2:3, 4.

4-5. Hoekom kan ons sê dat iemand dalk nie regtig nederig is nie, al lyk dit of hy nederig is?

4 Dit lyk dalk of party mense nederig is, maar hulle is nie regtig nederig nie. Hulle is dalk skaam. Of hulle is dalk respekvol of vriendelik as gevolg van hulle kultuur of die manier hoe hulle grootgemaak is. Maar diep in hulle hart is hulle dalk baie trots. Een of ander tyd sal hulle hulle ware kleure wys. – Luk. 6:45.

5 Maar aan die ander kant is mense wat lyk of hulle selfvertroue het en sê wat hulle dink, nie noodwendig trots nie (Joh. 1:46, 47). Mense wat nie skaam is nie, moet versigtig wees om nie op hulle natuurlike vermoëns staat te maak nie. Of ons nou skaam is of nie, ons almal moet hard daaraan werk om diep in ons hart regtig nederig te wees.

Die apostel Paulus het ’n nederige beskouing van homself gehad (Sien paragraaf 6) *

6. Wat kan ons uit die voorbeeld van die apostel Paulus leer soos 1 Korintiërs 15:10 vir ons wys?

6 Kom ons kyk na die voorbeeld van die apostel Paulus. Jehovah het hom op ’n kragtige manier gebruik om nuwe gemeentes in die een stad ná die ander te begin. Hy het dalk meer in die bediening gedoen as enige ander apostel van Jesus Christus. Tog het Paulus nie gedink dat hy beter as sy broers is nie. Hy het nederig erken: “Ek is die geringste van die apostels, en ek is nie werd om ’n apostel genoem te word nie, omdat ek die gemeente van God vervolg het” (1 Kor. 15:9). Toe het Paulus gesê dat sy goeie verhouding met Jehovah nie as gevolg van sy eie eienskappe of goeie werke is nie, maar as gevolg van God se onverdiende goedhartigheid. (Lees 1 Korintiërs 15:10.) Paulus was ’n goeie voorbeeld van ’n nederige persoon toe hy sy brief aan die Korintiërs geskryf het – veral as ons dink aan die feit dat party in die gemeente wou wys dat hulle beter as Paulus is! – 2 Kor. 10:10.

Karl F. Klein, ’n nederige broer wat ’n lid van die Bestuursliggaam was (Sien paragraaf 7)

7. Hoe het ’n welbekende broer in ons dag gewys dat hy nederig is?

7 Baie van Jehovah se knegte is al aangemoedig deur die lewensverhaal van broer Karl F. Klein, wat ’n lid van die Bestuursliggaam was. Broer Klein het in sy lewensverhaal nederig erken dat hy oor die jare ’n hele paar uitdagings gehad het. Byvoorbeeld, hy het in die 1920’s vir die eerste keer van huis tot huis gepreek. Hy het dit so moeilik gevind dat hy dit omtrent twee jaar lank nie weer gedoen het nie. Later, terwyl hy by Bethel was, het hy ’n ruk lank kwaad gebly nadat ’n broer hom raad gegee het. Hy het ook ’n senuwee-ineenstorting gehad, maar hy het later herstel. Tog het hy ook ’n hele paar wonderlike voorregte gehad. Dink net hoe nederig hierdie welbekende broer moes wees om so openlik oor sy swakhede te praat! Baie broers en susters het goeie herinneringe wanneer hulle dink aan broer Klein en sy eerlike lewensverhaal. *

HOEKOM MOET ONS LEER OM NEDERIG TE WEES?

8. Hoe wys 1 Petrus 5:6 dat dit Jehovah se hart bly maak as ons nederig is?

8 Die belangrikste rede hoekom ons moet leer om nederig te wees, is omdat dit Jehovah se hart bly maak. Die apostel Petrus het hierdie punt duidelik gemaak. (Lees 1 Petrus 5:6.) Die boek “Kom word my volgeling” lewer kommentaar oor Petrus se woorde en sê: “Hoogmoed is soos gif. Die uitwerking daarvan kan verwoestend wees. Dit is ’n eienskap wat die mees begaafde mens vir God nutteloos kan maak. Aan die ander kant kan nederigheid selfs die geringste persoon vir Jehovah baie nuttig maak. . . . [Dit sal Hom] vreugde verskaf om jou vir jou nederigheid te beloon.” * Die heel beste ding wat ons kan doen, is om Jehovah se hart bly te maak. – Spr. 23:15.

9. Hoekom wil ander mense na aan ons wees as ons nederig is?

9 Dit maak nie net Jehovah se hart bly as ons leer om nederig te wees nie, maar dit lei ook tot baie ander voordele. As ons nederig is, sal ander mense na aan ons wil wees. Om te verstaan hoekom, moet jy jouself in ander se skoene plaas (Matt. 7:12). Ons hou gewoonlik nie daarvan om saam met mense te wees wat net hulle eie sin wil hê nie en nie na ander se voorstelle wil luister nie. Maar ons geniet dit om saam met ons broers en susters te wees wanneer hulle ‘meegevoel, broederlike geneentheid en tere medelye betoon en nederig van verstand’ is (1 Pet. 3:8). As ons dit geniet om na aan sulke mense te wees, dan sal hulle dit heel moontlik ook geniet om na aan ons te wees – solank ons nederig is.

10. Hoe maak dit ons lewe makliker as ons nederig is?

10 Dit maak ook ons lewe makliker as ons nederig is. Ons sal soms dinge in die lewe sien wat dalk nie vir ons reg of regverdig lyk nie. Die wyse man koning Salomo het gesê: “Ek het knegte op perde gesien maar vorste wat soos knegte op die grond loop” (Pred. 10:7). Mense wat baie talentvol is, word nie altyd daarvoor geëer nie. En mense wat nie baie talentvol is nie, word dalk meer geëer. Maar Salomo het besef dat ons eerder die werklikheid moet aanvaar en nie heeltyd moet tob oor die negatiewe dinge in die lewe nie (Pred. 6:9). As ons nederig is, sal dit vir ons makliker wees om die lewe te aanvaar soos dit is – nie soos ons dink dit moet wees nie.

WATTER SITUASIES KAN DIT MOEILIK MAAK OM NEDERIG TE WEES?

Hoekom kan dit moeilik wees om in hierdie situasie nederig te wees? (Sien paragraaf 11-12) *

11. Hoe moet ons reageer wanneer iemand ons raad gee?

11 Ons het elke dag baie geleenthede om te wys dat ons nederig is. Dink aan die volgende situasies. Wanneer iemand ons raad gee. Wanneer iemand die moeite doen om ons raad te gee, sal dit goed wees as ons in gedagte hou dat ons waarskynlik ’n groter fout gemaak het as wat ons besef. Ons eerste reaksie is dalk om die raad te verwerp. Ons kritiseer dalk die persoon wat die raad gegee het of hoe hy dit gegee het. Maar as ons nederig is, sal ons probeer om die regte gesindheid te hê.

12. Hoekom moet ons volgens Spreuke 27:5, 6 dit waardeer wanneer iemand ons raad gee? Gee ’n voorbeeld.

12 Iemand wat nederig is, waardeer raad. Stel jou voor dat jy by ’n Christelike vergadering is. Nadat jy met ’n hele paar broers en susters gepraat het, neem een van hulle jou eenkant en sê dat jy kos tussen jou tande het. Op daardie oomblik wens jy dat die aarde jou wil insluk. Maar sal jy nie ook dankbaar wees dat hy of sy vir jou gesê het nie? Om die waarheid te sê, jy wens dalk dat iemand anders jou vroeër gesê het! Net so moet ons nederig wees en dit waardeer wanneer ’n broer of suster die moed het om ons raad te gee wanneer ons dit nodig het. Ons beskou daardie persoon as ons vriend, nie ons vyand nie. – Lees Spreuke 27:5, 6; Gal. 4:16.

Hoekom moet ons nederig wees wanneer ander voorregte ontvang? (Sien paragraaf 13-14) *

13. Hoe kan ons wys dat ons nederig is wanneer ander voorregte in die gemeente ontvang?

13 Wanneer ander voorregte in die gemeente ontvang. ’n Ouerman met die naam Jason erken: “Wanneer ander voorregte ontvang, wonder ek soms hoekom ek nie gekies is nie.” Voel jy ooit so? Dit is nie verkeerd om na voorregte in die gemeente te “streef” nie (1 Tim. 3:1). Maar ons moet ons denke beskerm. As ons nie versigtig is nie, kan ons toelaat dat trots in ons hart groei. Byvoorbeeld, ’n Christenman kan begin dink dat hy ’n sekere toewysing in die gemeente beter as ander kan doen. Of ’n Christenvrou kan dink: ‘My man kan hierdie toewysing baie beter as daardie broer doen!’ Maar as ons regtig nederig is, sal ons so ’n trotse gees vermy.

14. Wat kan ons leer uit Moses se reaksie toe ander voorregte ontvang het?

14 Ons kan leer uit Moses se reaksie toe ander voorregte ontvang het. Moses het sy voorreg om die nasie Israel te lei, baie waardeer. Hoe het Moses gereageer toe Jehovah ander toegelaat het om saam met hom te werk? Hy was nie jaloers nie (Num. 11:24-29). Hy was nederig en het toegelaat dat ander ook as regters oor die volk dien (Eks. 18:13-24). Dit het beteken dat die Israeliete nie so lank moes wag vir uitsprake nie. Dit het gewys dat Moses se voorregte nie vir hom belangriker was as ander se belange nie. Dit is ’n baie goeie voorbeeld vir ons! As ons wil hê dat Jehovah ons moet gebruik, moet ons onthou dat dit belangriker is om nederig te wees as om spesiale vermoëns te hê. Al is ‘Jehovah hoog, sien hy die nederige’. – Ps. 138:6.

15. Hoe het baie broers en susters se omstandighede verander?

15 Wanneer ons omstandighede verander. In onlangse jare het baie broers en susters wat Jehovah al dekades lank dien, nuwe toewysings gekry. Byvoorbeeld, in 2014 het streekopsieners en hulle vrouens ander toewysings in die voltydse diens gekry. In daardie selfde jaar het die organisasie gesê dat broers wat 70 jaar oud geword het, nie meer as kringopsieners sal dien nie. Broers wat 80 jaar of ouer is, sal ook nie meer as die koördineerder van die liggaam van ouermanne in die gemeente dien nie. En in die afgelope paar jaar is baie Betheliete veld toe gestuur om te gaan pionier. Ander moes die spesiale voltydse diens verlaat as gevolg van gesondheidsprobleme, gesinsverantwoordelikhede of ander persoonlike omstandighede.

16. Hoe het ons broers en susters gewys dat hulle nederig is toe hulle omstandighede verander het?

16 Dit was nie maklik vir hierdie broers en susters om sulke veranderinge te maak nie. Hulle was natuurlik baie lief vir hulle vorige toewysing, ’n toewysing wat party dalk jare lank gehad het. Party het deur ’n “rouproses” gegaan terwyl hulle by hulle nuwe omstandighede aangepas het. Maar met verloop van tyd het hulle aangepas. Hoekom? Die hoofrede was hulle liefde vir Jehovah. Hulle het geweet dat hulle aan God toegewy is – nie aan ’n werk, ’n titel of ’n toewysing nie (Kol. 3:23). Hulle is bly om Jehovah nederig in enige toewysing te dien. Hulle ‘werp al hulle sorge op hom,’ want hulle weet dat hy vir hulle omgee. – 1 Pet. 5:6, 7.

17. Hoekom is ons dankbaar dat God se Woord ons aanmoedig om nederig te wees?

17 Is ons nie dankbaar dat God se Woord ons aanmoedig om nederig te wees nie? Wanneer ons leer om nederig te wees, vind ons en ander daarby baat. Dit help ons om die probleme van die lewe beter te hanteer. En die belangrikste van alles is, dit help ons om nader aan ons hemelse Vader te kom. Al is hy “die Hoë en Verhewene,” is ons so bly om te weet dat hy sy nederige knegte liefhet en dat hy hulle waardeer! – Jes. 57:15.

LIED 45 Die bepeinsing van my hart

^ par. 5 Nederigheid is een van die belangrikste eienskappe wat ons moet hê. Wat is nederigheid? Hoekom moet ons leer om nederig te wees? En hoekom kan dit moeilik wees om nederig te bly wanneer ons omstandighede verander? Hierdie artikel sal hierdie belangrike vrae bespreek.

^ par. 7 Lees die artikel “Jehovah het aan my goed gedoen” in Die Wagtoring van 1 Oktober 1984.

^ par. 53 BESKRYWING VAN PRENTE: Terwyl die nederige apostel Paulus by ’n broer se huis is, geniet hy dit om met ander te gesels, insluitende kinders.

^ par. 57 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Broer aanvaar die raad wat ’n jonger broer hom uit die Bybel gee.

^ par. 59 BESKRYWING VAN PRENTE: Die ouer broer is nie jaloers op die jonger broer se toewysing in die gemeente nie.