Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 38

“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”

“Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik”

“Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.” – MATT. 11:28.

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter belofte het Jesus volgens Matteus 11:28-30 gemaak?

JESUS het ’n pragtige belofte gemaak aan ’n groep mense wat na hom geluister het. “Kom na my toe,” het hy gesê, “en ek sal julle verkwik”. (Lees Matteus 11:28-30.) Dit was nie ’n leë belofte nie. Dink byvoorbeeld aan hoe hy ’n vrou gehelp het wat ’n verskriklike siekte gehad het.

2. Hoe het Jesus ’n vrou gehelp wat siek was?

2 Die vrou was desperaat. Sy het al na baie dokters gegaan met die hoop dat hulle haar gesond sou maak. Maar nadat sy 12 jaar lank gely het, was sy nog steeds nie gesond nie. Volgens die Wet was sy onrein (Lev. 15:25). Toe sy hoor dat Jesus mense gesond kan maak, het sy hom gaan soek. Toe sy hom kry, het sy aan die fraiings van sy bokleed geraak en onmiddellik gesond geword! Maar Jesus het haar nie net gesond gemaak nie. Die manier waarop hy haar behandel het, het haar ook geliefd en gerespekteerd laat voel. Toe hy byvoorbeeld met haar gepraat het, het hy die liefdevolle woord “dogter” gebruik. Hierdie vrou het sekerlik verkwik, of soos ’n nuwe mens, gevoel! – Luk. 8:43-48.

3. Watter vrae sal ons beantwoord?

3 Let op dat die vrou na Jesus toe gegaan het. Sy het die moeite gedoen. Net so moet ons ook die moeite doen om na Jesus toe te “kom”. Vandag doen Jesus nie wonderwerke deur mense se siektes te genees wat na hom toe “kom” nie. Maar hy nooi ons nog steeds: “Kom na my toe, . . . en ek sal julle verkwik.” In hierdie artikel sal ons vyf vrae beantwoord: Hoe kan ons na Jesus toe “kom”? Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Neem my juk op julle”? Wat kan ons by Jesus leer? Hoekom is die werk wat hy ons gegee het verfrissend? Hoe kan ons aanhou om onder Jesus se juk verkwik te word, of nuwe krag te kry?

“KOM NA MY TOE”

4-5. Wat is party van die maniere hoe ons na Jesus toe kan “kom”?

4 Een manier hoe ons na Jesus toe “kom”, is om soveel as moontlik te leer oor die dinge wat hy gesê en gedoen het (Luk. 1:1-4). Niemand kan dit vir ons doen nie – ons moet hierdie Bybelverslae self studeer. Ons “kom” ook na Jesus toe wanneer ons besluit om ons te laat doop en ’n dissipel van Christus te word.

5 Nog ’n manier hoe ons na Jesus toe “kom” is deur na die ouermanne te gaan wanneer ons hulp nodig het. Jesus gebruik hierdie “gawes in die vorm van mense” om na sy skapies te kyk (Ef. 4:7, 8, 11; Joh. 21:16; 1 Pet. 5:1-3). Ons moet die moeite doen om na hulle te gaan vir hulp. Ons kan nie verwag dat die ouermanne moet weet wat ons dink en wat ons nodig het nie. ’n Broer met die naam Julian sê: “Ek moes my Betheltoewysing verlaat omdat ek siek was, en een van my vriende het voorgestel dat ek die ouermanne vra om my te besoek. Aan die begin het ek nie gedink dat ek dit nodig het. Maar later het ek die ouermanne vir hulp gevra, en daardie herdersbesoek was een van die beste geskenke wat ek nog ooit gekry het.” Getroue ouermanne, soos die twee wat Julian besoek het, kan ons help om “die denke van Christus” te leer ken, dit wil sê om sy denke en gesindheid te verstaan en na te volg (1 Kor. 2:16; 1 Pet. 2:21). Dit is regtig een van die beste geskenke wat hulle ons kan gee.

“NEEM MY JUK OP JULLE”

6. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Neem my juk op julle”?

6 Toe Jesus gesê het: “Neem my juk op julle”, het hy dalk bedoel: “Aanvaar my gesag.” Hy kon ook bedoel het: “Kom saam met my onder die juk en saam sal ons vir Jehovah werk.” Ongeag wat hy bedoel het, in albei gevalle is daar werk betrokke.

7. Watter werk is aan ons gegee volgens Matteus 28:18-20, en waarvan kan ons seker wees?

7 Ons aanvaar Jesus se uitnodiging wanneer ons ons lewe aan Jehovah toewy en gedoop word. Jesus het almal genooi om na hom toe te kom. Jesus sal nooit iemand verwerp wat God regtig wil dien nie (Joh. 6:37, 38). Al Christus se volgelinge het die voorreg gekry om deel te neem aan die werk wat Jehovah Jesus gevra het om te doen. Ons kan seker wees dat Jesus altyd daar sal wees om ons te help om hierdie werk te doen. – Lees Matteus 28:18-20.

“LEER BY MY”

Verkwik ander soos Jesus gedoen het (Sien paragraaf 8-11) *

8-9. Hoekom wou nederige mense na aan Jesus wees, en watter vrae moet ons ons afvra?

8 Nederige mense wou na aan Jesus wees (Matt. 19:13, 14; Luk. 7:37, 38). Hoekom? Dink aan die verskil tussen Jesus en die Fariseërs. Daardie godsdiensleiers was koud en arrogant (Matt. 12:9-14). Jesus was liefdevol en nederig. Die Fariseërs was trots op hulle hoë posisie in die gemeenskap en sou enigiets doen om dit te behou. Jesus het gesê dat dit nie goed is om so te wees nie en hy het sy dissipels geleer om nederig te wees en ander te dien (Matt. 23:2, 6-11). Die Fariseërs het baas gespeel oor ander deur hulle bang te maak en te intimideer (Joh. 9:13, 22). Jesus het ander opgebou deur sy liefdevolle woorde en dade.

9 Het jy al hierdie lesse by Jesus geleer? Vra jou af: ‘Sê ander dat ek saggeaard en nederig is? Is ek bereid om eenvoudige takies te doen om ander te dien? Is ek liefdevol teenoor ander?’

10. Watter soort atmosfeer het Jesus geskep vir dié wat saam met hom gewerk het?

10 Jesus het ’n aangename en vreedsame atmosfeer geskep vir dié wat saam met hom gewerk het en hy het dit geniet om hulle op te lei (Luk. 10:1, 19-21). Hy het sy dissipels aangemoedig om vrae te vra en hy wou weet wat hulle opinie is (Matt. 16:13-16). Net soos plante in die regte omstandighede floreer, het die dissipels geestelik gegroei. En ’n mens kon deur middel van hulle goeie werke sien dat hulle die lesse toegepas het wat Jesus hulle geleer het.

Wees vriendelik en maklik om mee te praat

Wees bedrywig en ywerig

Wees nederig en hardwerkend *

11. Watter vrae moet ons ons afvra?

11 Het jy ’n mate van gesag oor ander? Indien wel, vra jou af: ‘Watter soort atmosfeer skep ek by die huis of by die werk? Skep ek ’n aangename en vreedsame atmosfeer? Moedig ek ander aan om vrae te vra? En is ek bereid om na hulle opinies te luister?’ Ons wil nooit soos die Fariseërs wees nie. Hulle het kwaad geword wanneer mense hulle bevraagteken het en hulle het mense vervolg wie se idees van hulle s’n verskil het. – Mark. 3:1-6; Joh. 9:29-34.

“JULLE SAL VERKWIKKING . . . VIND”

12-14. Hoekom is die werk wat Jesus ons gegee het, verfrissend?

12 Hoekom is die werk wat Jesus ons gegee het, verfrissend? Daar is baie redes, maar kom ons bespreek net ’n paar.

13 Ons het die beste opsieners. Jehovah, die heel beste Opsiener, is nie ’n wrede of ondankbare baas nie. Hy waardeer die werk wat ons doen (Heb. 6:10). En hy gee ons die krag wat ons nodig het om die werk wat hy ons gegee het, te kan doen (2 Kor. 4:7; Gal. 6:5). Jesus, ons Koning, het vir ons gewys hoe om ander te behandel (Joh. 13:15). En die ouermanne wat oor ons toesig hou, probeer om Jesus, “die groot herder”, se voorbeeld na te volg (Heb. 13:20; 1 Pet. 5:2). Hulle doen hulle bes om liefdevol, aanmoedigend en moedig te wees terwyl hulle ons voed en beskerm.

14 Ons werk saam met die beste vriende. Die liefdevolle band en betekenisvolle werk wat ons het, kan nêrens anders gevind word nie. Dink net daaraan: Ons het die voorreg om saam met mense te werk wat die hoogste standaarde het, maar hulle dink nie dat hulle beter as ander is nie. Hulle het baie talente, maar spog nie daaroor nie en hulle beskou ander as hoër as hulleself. Hulle beskou ons nie net as medewerkers nie, maar ook as vriende. En daardie vriendskap is so sterk dat hulle bereid is om hulle lewe vir ons te gee!

15. Hoe moet ons oor die werk voel wat ons doen?

15 Ons het die beste werk. Ons leer mense die waarheid oor Jehovah en maak hulle bewus van die Duiwel se leuens (Joh. 8:44). Satan se leuens laat mense voel dat hulle geen hoop het nie. Hy wil byvoorbeeld hê dat ons moet glo dat Jehovah nie ons sondes sal vergewe nie en dat Jehovah ons nie kan liefhê nie. Wat ’n verskriklike leuen! Wanneer ons na Christus toe “kom”, word ons sondes vergewe. En die waarheid is dat Jehovah ons almal baie liefhet (Rom. 8:32, 38, 39). Dit maak ons baie bly om mense te leer om op Jehovah te vertrou en om te sien hoe hulle hulle lewe verbeter!

HOU AAN OM ONDER JESUS SE JUK VERKWIK TE WORD

16. Hoe is die verantwoordelikhede wat Jesus ons gegee het anders as enige ander verantwoordelikheid wat ons het?

16 Die verantwoordelikhede wat Jesus ons gegee het, is anders as al die ander verantwoordelikhede wat ons het. Aan die einde van ’n werksdag voel baie byvoorbeeld uitgeput en ongelukkig. Maar wanneer ons Jehovah en Christus dien, ervaar ons ’n diep gevoel van tevredenheid. Ons voel dalk doodmoeg aan die einde van ’n werksdag en ons moet onsself dwing om daardie aand ’n gemeentelike vergadering by te woon. Maar dikwels ná daardie vergadering voel ons opgebou en vol nuwe krag. Wanneer ons preek en persoonlike studie doen, voel ons ook opgebou. Die seëninge wat ons ontvang, oortref enige opoffering wat ons maak!

17. Hoekom moet ons realisties wees, en waarvoor moet ons versigtig wees?

17 Ons moet realisties wees. Elkeen van ons het net ’n sekere hoeveelheid energie. Daarom moet ons versigtig wees. Ons moenie meer doen as wat ons kan nie. Ons kan byvoorbeeld energie mors deur materiële dinge bymekaar te maak. Let op wat Jesus vir ’n ryk jong man gesê het nadat die man hom gevra het: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te beërf?” Die jong man was alreeds gehoorsaam aan die Wet. Hy moes ’n goeie man gewees het, want Markus se Evangelieverslag sê spesifiek dat Jesus “hom liefgekry” het. Jesus het die jong heerser ’n uitnodiging gegee. Hy het gesê: “Gaan, verkoop wat jy het . . . en kom word my volgeling.” Die man was in twee geskeur. Hy wou Jesus volg, maar hy wou nie van sy “baie besittings” ontslae raak nie (Mark. 10:17-22). Hy het dus Jesus se juk verwerp en aangehou om “Rykdom” as slaaf te dien (Matt. 6:24). Watter keuse sou jy gemaak het?

18. Wat moet ons elke nou en dan doen, en hoekom?

18 Dit sal goed wees om elke nou en dan na te dink oor wat ons eerste in ons lewe stel. Hoekom? Sodat ons seker kan maak dat ons ons energie goed gebruik. Kyk na wat ’n jong man met die naam Mark sê: “Jare lank het ek gedink dat ek ’n eenvoudige lewe lei. Ek het pionier, maar ek het altyd aan geld gedink en hoe ek my lewe gemakliker kan maak. Ek het gewonder hoekom my lewe so moeilik geword het. Ek het toe besef dat ek my belange eerste stel en dat ek Jehovah die tyd en energie gegee het wat oorgebly het.” Mark het sy denke en lewenstyl verander sodat hy meer in Jehovah se diens kon doen. Mark sê: “Ek voel soms angstig, maar met Jehovah en Jesus se hulp kan ek op my diens aan Jehovah fokus.”

19. Hoekom is dit so belangrik om die regte beskouing te hê?

19 Ons sal aanhou om onder Jesus se juk verkwik te word, of nuwe krag te kry, as ons drie dinge doen. Eerstens, behou die regte beskouing. Ons doen Jehovah se werk, en daarom moet dit op Jehovah se manier gedoen word. Ons is die werkers, en Jehovah is die Werkgewer (Luk. 17:10). As ons sy werk op ons manier probeer doen, sal ons dinge vir onsself baie moeilik maak. Selfs ’n sterk bul sal hom heel moontlik seermaak en uitput as hy aanhoudend in sy eie rigting probeer gaan en teen die juk stry wat onder sy eienaar se beheer is. Maar as ons Jehovah se leiding volg, sal ons dinge kan doen wat ons nie gedink het moontlik is nie en sal ons enige probleme kan oorkom. Onthou, niemand kan keer dat sy wil plaasvind nie! – Rom. 8:31; 1 Joh. 4:4.

20. Wat moet ons rede wees hoekom ons onder Jesus se juk wil kom?

20 Tweedens, dien met die regte beweegrede. Ons doel is om eer op ons liefdevolle Vader, Jehovah, te bring. Omdat party in die eerste eeu gierig en selfsugtig was, het hulle ongelukkig geword en Jesus se juk verlaat (Joh. 6:25-27, 51, 60, 66; Fil. 3:18, 19). Maar dié wat ’n onselfsugtige liefde vir God en hulle naaste gehad het, was bly om daardie juk vir die res van hulle lewe op aarde te dra, met die hoop om saam met Christus in die hemel te dien. Net soos hulle sal ons gelukkig bly as ons Jesus se juk met die regte beweegrede dra.

21. Watter vertroue het ons volgens Matteus 6:31-33?

21 Derdens, hou aan om op Jehovah te vertrou. Ons het gekies om ’n selfopofferende lewe te lei en hard te werk. Jesus het ons gewaarsku dat ons vervolg sal word. Maar ons het die vertroue dat Jehovah ons die krag sal gee om te volhard ten spyte van enige uitdaging. Hoe meer ons volhard, hoe sterker sal ons word (Jak. 1:2-4). Ons het ook die vertroue dat Jehovah ons sal gee wat ons nodig het, dat Jesus as herder oor ons sal toesig hou en dat ons broers en susters ons sal aanmoedig. (Lees Matteus 6:31-33; Joh. 10:14; 1 Tess. 5:11.) Wat meer het ons nodig?

22. Waarvoor is ons dankbaar?

22 Die vrou wat deur Jesus gesond gemaak is, het op daardie selfde dag verkwik gevoel. Maar sy sou slegs blywende verkwikking ondervind as sy ’n lojale dissipel van Christus geword het. Wat dink jy het sy gedoen? Stel jou net die beloning voor as sy wel gekies het om onder Jesus se juk te kom. Sy sou saam met Jesus in die hemel heers! Enige opoffering wat sy sou maak om Christus te volg, sou die moeite werd wees. Maak nie saak wat ons hoop is nie – of dit nou ewige lewe in die hemel of op die aarde is – ons is dankbaar dat ons Jesus se uitnodiging aanvaar het: “Kom na my toe”!

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

^ par. 5 Jesus nooi ons om na hom toe te kom. Wat beteken dit om sy uitnodiging te aanvaar? Hierdie artikel sal hierdie vraag beantwoord en dit sal ons help om te sien hoe ons verkwik kan word, of nuwe krag kan kry, as ons saam met Christus werk.

^ par. 60 BESKRYWING VAN PRENTE: Jesus het ander op baie maniere verkwik.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENTE: Net soos Jesus, verkwik ‘n broer ander op verskillende maniere.