Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 37

Onderwerp jou gewillig aan Jehovah se gesag – Hoe en hoekom?

Onderwerp jou gewillig aan Jehovah se gesag – Hoe en hoekom?

“Sal ons ons dan nie veel meer aan die Vader . . . onderwerp . . . nie?” – HEB. 12:9.

LIED 9 Jehovah is ons Koning!

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoekom moet ons ons aan Jehovah onderwerp?

ONS moet ons aan Jehovah onderwerp * omdat hy ons Skepper is. En omdat hy ons Skepper is, het hy die reg om standaarde vir ons te stel (Op. 4:11). Maar nog ’n goeie rede hoekom ons hom gehoorsaam, is omdat sy manier van regeer die beste is. Regdeur die geskiedenis het baie menseheersers ’n mate van mag en gesag oor ander gehad. In vergelyking met hulle is Jehovah die wysste en liefdevolste Heerser wat meer genade en meegevoel as enige ander heerser het. – Eks. 34:6; Rom. 16:27; 1 Joh. 4:8.

2. Hoekom moet ons volgens Hebreërs 12:9-11 ons aan Jehovah onderwerp?

2 Jehovah wil hê ons moet hom gehoorsaam omdat ons hom liefhet en hom as ons liefdevolle Vader beskou en nie net omdat ons hom vrees nie. In Paulus se brief aan die Hebreërs verduidelik hy dat ons ons gewillig “aan die Vader [moet] onderwerp” omdat sy opleiding tot ons voordeel is. – Lees Hebreërs 12:9-11.

3. (a) Hoe wys ons dat ons ons aan Jehovah onderwerp? (b) Watter vrae sal ons beantwoord?

3 Ons onderwerp ons aan Jehovah wanneer ons ons bes doen om in alle dinge aan hom gehoorsaam te wees en deur hard te stry teen die begeerte om op onsself te vertrou (Spr. 3:5). Hoe meer ons oor Jehovah se pragtige eienskappe leer, hoe makliker word dit vir ons om ons aan hom te onderwerp. Hoekom? Omdat hierdie eienskappe gesien kan word in alles wat hy doen (Ps. 145:9). Hoe meer ons oor Jehovah leer, hoe liewer sal ons vir hom word. En wanneer ons Jehovah liefhet, het ons nie ’n lang lys reëls nodig om vir ons te sê wat ons moet doen en nie moet doen nie. Ons probeer om ons denke en gevoelens in ooreenstemming te bring met wat goed is en om te vermy wat sleg is (Ps. 97:10). Maar soms kan dit vir ons moeilik wees om Jehovah te gehoorsaam. Hoekom is dit die geval? En wat kan ouermanne, pa’s en ma’s leer uit die voorbeeld van goewerneur Nehemia, koning Dawid en Maria, Jesus se ma? Hierdie artikel sal hierdie vrae beantwoord.

HOEKOM DIT MOEILIK KAN WEES OM ONS AAN JEHOVAH TE ONDERWERP

4-5. Hoekom kan dit volgens Romeine 7:21-23 moeilik wees om ons aan Jehovah te onderwerp?

4 Een rede hoekom dit vir ons moeilik kan wees om ons aan Jehovah te onderwerp, is omdat ons almal sonde oorgeërf het en onvolmaak is. Daarom wil ons nie altyd aan God gehoorsaam wees nie. Nadat Adam en Eva ongehoorsaam was aan God deur van die verbode vrug te eet, het hulle vir hulleself besluit wat goed en sleg is (Gen. 3:22). Vandag verkies die meeste mense nog steeds om Jehovah te ignoreer en om self te besluit wat reg en verkeerd is.

5 Selfs mense wat Jehovah ken en liefhet, sukkel dalk om hulle ten volle aan hom te onderwerp. Die apostel Paulus het hierdie uitdaging gehad. (Lees Romeine 7:21-23.) Net soos Paulus wil ons doen wat reg is in Jehovah se oë. Maar ons moet gedurig daarteen stry om verkeerde dinge te doen.

6-7. Wat is nog ’n rede hoekom dit moeilik kan wees om ons aan Jehovah te onderwerp? Gee ’n voorbeeld.

6 Nog ’n rede hoekom dit moeilik kan wees om ons aan Jehovah te onderwerp, is omdat die manier waarop ons grootgemaak is, ’n invloed op ons het. Die manier waarop baie mense dink, stem nie ooreen met Jehovah se wil nie, en dit kan ’n aanhoudende stryd wees om nie soos hulle te dink nie. Kom ons kyk na ’n voorbeeld.

7 Dit is algemeen in party plekke om druk op jongmense te plaas om baie geld te maak. ’n Suster met die naam Mary * het hierdie uitdaging gehad. Voordat sy oor Jehovah geleer het, het sy skoolgegaan by een van die beste skole in haar land. Mary se familie het druk op haar geplaas om ’n werk te kry waar sy baie geld sou verdien en deur ander gerespekteer sou word. Dit is ook wat sy wou hê. Maar nadat sy Jehovah leer ken het en vir hom lief geword het, het haar doelwitte verander. Maar dit is nog steeds nie vir haar maklik nie. Sy sê: “Soms sien ek geleenthede om baie geld te maak, maar ek weet dat dit sal inmeng met my geestelike roetine. As gevolg van die manier waarop ek grootgemaak is, sukkel ek nog steeds om nee te sê. Ek moet Jehovah smeek om my te help om die versoeking te weerstaan om werk te aanvaar wat kan veroorsaak dat ek nie my bes in sy diens doen nie.” – Matt. 6:24.

8. Wat sal ons nou bespreek?

8 Dit is tot ons voordeel wanneer ons aan Jehovah onderdanig is. Maar dié wat ’n mate van gesag het, soos ouermanne, pa’s en ma’s het nóg ’n rede om God se leiding te volg – hulle het die geleentheid om ander te help. Kom ons kyk na voorbeelde uit die Bybel wat ons sal leer hoe om gesag op ’n manier te gebruik wat Jehovah se hart bly maak.

WAT OUERMANNE UIT NEHEMIA SE VOORBEELD KAN LEER

Ouermanne help om werk by die Koninkryksaal te doen, net soos Nehemia gehelp het om Jerusalem te herbou (Sien paragraaf 9-11) *

9. Watter uitdagings het Nehemia gehad?

9 Jehovah het ouermanne die belangrike verantwoordelikheid gegee om na sy volk om te sien (1 Pet. 5:2). Ouermanne kan baie leer uit die manier waarop Nehemia Jehovah se volk behandel het. As die goewerneur van Juda het Nehemia baie gesag gehad (Neh. 1:11; 2:7, 8; 5:14). Dink aan party van die uitdagings wat Nehemia gehad het. Hy het uitgevind dat die mense die tempel verontreinig het en dat hulle nie die Leviete finansieel ondersteun het soos die Wet gesê het nie. Die Jode het nie Jehovah se wet oor die Sabbat gehoorsaam nie, en party mans het met vrouens getrou wat nie Jehovah gedien het nie. Goewerneur Nehemia sou hierdie moeilike situasie moes hanteer. – Neh. 13:4-30.

10. Hoe het Nehemia die uitdagings wat hy gehad het, hanteer?

10 Nehemia het nie sy gesag misbruik deur sy eie standaarde op God se volk af te dwing nie. Hy het eerder ernstig tot Jehovah gebid en sy leiding gevra en hy het die volk Jehovah se Wet geleer (Neh. 1:4-10; 13:1-3). Nehemia het ook nederig saam met sy broers gewerk en hy het hulle selfs gehelp om Jerusalem se mure te herbou. – Neh. 4:15.

11. Hoe moet ouermanne volgens 1 Tessalonisense 2:7, 8 dié in die gemeente behandel?

11 Ouermanne het dalk nie dieselfde probleme as wat Nehemia gehad het nie, maar hulle kan hom op baie maniere navolg. Hulle werk byvoorbeeld hard om hulle broers en susters te help. En hulle dink nie dat hulle beter as ander is omdat hulle gesag het nie. Hulle behandel eerder die gemeente op ’n liefdevolle manier. (Lees 1 Tessalonisense 2:7, 8.) Omdat hulle so lief is vir die broers en susters en nederig is, het dit ’n uitwerking op hoe hulle met ander praat. Andrew, wat al jare as ’n ouerman dien, sê: “Ek het gevind dat die broers en susters gewoonlik goed reageer as die ouermanne liefdevol en vriendelik is. Hierdie eienskappe spoor die gemeente aan om saam met die ouermanne te werk.” Tony, nog ’n ervare ouerman, sê: “Ek probeer om die raad in Filippense 2:3 toe te pas deur altyd daaraan te werk om ander hoër as myself te beskou. Dit help my om ander nie te dwing om my te gehoorsaam nie.”

12. Hoekom is dit belangrik vir ouermanne om nederig te wees?

12 Ouermanne moet nederig wees, net soos Jehovah nederig is. Al is Jehovah die Soewerein van die heelal, “buig [hy] hom neer” om die “geringe uit die stof” uit op te tel (Ps. 18:35; 113:6, 7). Om die waarheid te sê, Jehovah haat dié wat trots en arrogant is. – Spr. 16:5.

13. Hoekom moet ’n ouerman “sy tong in toom hou”?

13 ’n Ouerman wat hom aan Jehovah onderwerp, moet “sy tong in toom hou”. Anders kan hy op ’n onvriendelike manier praat met iemand wat disrespekvol teenoor hom is (Jak. 1:26; Gal. 5:14, 15). Andrew, wat vroeër aangehaal is, sê: “Soms wou ek op ’n onvriendelike manier praat met ’n broer of suster wat ek gevoel het disrespekvol teenoor my is. Maar ek het nagedink oor die voorbeelde van getroue manne in die Bybel, en dit het my gehelp om te sien hoe belangrik dit is om nederig en sagmoedig te wees.” Ouermanne wys dat hulle onderdanig is aan Jehovah deur op ’n liefdevolle en vriendelike manier met broers en susters en ander ouermanne in die gemeente te praat. – Kol. 4:6.

WAT PA’S UIT KONING DAWID SE VOORBEELD KAN LEER

14. Watter rol het Jehovah aan pa’s gegee, en wat verwag hy van hulle?

14 Jehovah het die pa as die hoof van die gesin aangestel en hy verwag dat die pa sy kinders moet dissiplineer en oplei (1 Kor. 11:3; Ef. 6:4). Maar ’n pa se gesag is beperk. Jehovah hou pa’s aanspreeklik vir die manier waarop hulle hulle gesin behandel omdat hy die Skepper van die gesin is (Ef. 3:14, 15). Pa’s wys dat hulle onderdanig is aan Jehovah deur hulle gesag op ’n manier te gebruik wat sy hart bly maak. Hulle kan baie by koning Dawid leer deur sy lewe te bestudeer.

’n Christenpa se gebede moet wys dat hy nederig is (Sien paragraaf 15-16) *

15. Hoekom is koning Dawid ’n goeie voorbeeld vir pa’s?

15 Jehovah het Dawid nie net as die hoof van sy eie gesin aangestel nie, maar ook as die hoof van die hele nasie Israel. Omdat Dawid koning was, het hy baie mag gehad. Soms het hy daardie mag misbruik en ernstige foute gemaak (2 Sam. 11:14, 15). Maar hy het gewys dat hy onderdanig is aan Jehovah deur dissipline te aanvaar. Wanneer hy gebid het, het hy vir Jehovah gesê hoe hy voel. En hy het sy bes probeer om gehoorsaam te wees aan Jehovah se raad (Ps. 51:1-4). Hy was ook nederig genoeg om goeie raad nie net van mans te aanvaar nie, maar ook van vrouens (1 Sam. 19:11, 12; 25:32, 33). Dawid het uit sy foute geleer en het sy diens aan Jehovah die belangrikste ding in sy lewe gemaak.

16. Watter lesse kan pa’s uit die voorbeeld van Dawid leer?

16 Kyk na ’n paar van die lesse wat pa’s uit die voorbeeld van koning Dawid kan leer: Moenie die gesag misbruik wat Jehovah jou gegee het nie. Erken jou foute, en aanvaar die raad wat ander jou uit die Bybel gee. As jy dit doen, sal jou gesin sien hoe nederig jy is en jou daarvoor respekteer. Praat met Jehovah oor jou diepste gevoelens wanneer jy met jou gesin bid – laat hulle hoor hoe baie jy op hom vertrou. En die belangrikste van alles is dat jy Jehovah se diens die belangrikste ding in jou lewe maak (Deut. 6:6-9). Jou goeie voorbeeld is een van die kosbaarste geskenke wat jy vir jou gesin kan gee.

WAT MA’S UIT DIE VOORBEELD VAN MARIA KAN LEER

17. Watter rol het Jehovah aan ma’s gegee?

17 Jehovah het die ma ’n belangrike rol in die gesin gegee en hy het haar ’n mate van gesag oor haar kinders gegee (Spr. 6:20). Om die waarheid te sê, wat ’n ma doen en sê kan haar kinders vir die res van hulle lewe affekteer (Spr. 22:6). Let op wat ma’s uit die voorbeeld van Maria, Jesus se ma, kan leer.

18-19. Wat kan ma’s uit die voorbeeld van Maria leer?

18 Maria het die Skrif baie goed geken. Sy het baie respek vir Jehovah gehad en sy het ’n sterk persoonlike verhouding met hom opgebou. Sy was bereid om te doen wat Jehovah van haar vra, al het dit beteken dat haar hele lewe sou verander. – Luk. 1:35-38, 46-55.

As ’n ma moeg of geïrriteerd is, moet sy dalk harder probeer om vir haar gesin te wys dat sy hulle liefhet (Sien paragraaf 19) *

19 Ma’s, julle kan Maria op ’n hele paar maniere navolg. Hoe? Eerstens, hou jou verhouding met Jehovah sterk deur persoonlike studie te doen en gereeld tot hom te bid. Tweedens, wees bereid om veranderinge in jou lewe te maak om Jehovah se hart bly te maak. Byvoorbeeld, jy het dalk in ’n huis grootgeword waar jou ouers vinnig hulle humeur verloor het en op ’n lelike manier met hulle kinders gepraat het. So jy het dalk grootgeword met die idee dat dit normaal is om jou kinders so te behandel. Selfs nadat jy geleer het hoe Jehovah wil hê jy jou kinders moet behandel, is dit dalk nog steeds moeilik om kalm te bly en geduldig te wees met jou kinders, veral as hulle stout is wanneer jy moeg is (Ef. 4:31). Wanneer jy so voel, is dit baie belangrik dat jy tot Jehovah bid en hom vra om jou te help. ’n Ma met die naam Lydia sê: “Soms moes ek ernstig tot Jehovah bid sodat ek nie op my seun skree wanneer hy ongehoorsaam is nie. Ek het myself al in die middel van ’n sin gestop en stilletjies tot Jehovah gebid om my te help. Gebed help my om kalm te bly.” – Ps. 37:5.

20. Watter uitdaging het party ma’s, en hoe kan hulle hierdie uitdaging oorkom?

20 Party ma’s sukkel dalk om vir hulle kinders te wys dat hulle hulle liefhet (Tit. 2:3, 4). Party van hulle het in ’n huis grootgeword waar hulle ouers nie ’n hegte verhouding met hulle kinders gehad het nie. Al het jy so grootgeword, hoef jy nie dieselfde foute as jou ouers te maak nie. ’n Ma wat haar aan Jehovah se wil onderwerp, moet dalk leer hoe om vir haar kinders te wys dat sy hulle liefhet. Dit kan dalk vir haar moeilik wees om haar denke, gevoelens en optrede te verander. Maar dit is vir haar moontlik om hierdie veranderinge te maak, en dit sal haar en haar gesin gelukkiger maak.

HOU AAN OM JOU AAN JEHOVAH SE GESAG TE ONDERWERP

21-22. Watter voordele ontvang ons volgens Jesaja 65:13, 14 as ons ons aan Jehovah onderwerp?

21 Koning Dawid het geweet wat die voordele is as jy jou aan Jehovah onderwerp. Hy het geskryf: “Die bevele van Jehovah is reg; hulle maak die hart bly; die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal. Ook is u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is ’n groot beloning” (Ps. 19:8, 11). Vandag kan ons ’n duidelike verskil sien tussen dié wat hulle aan Jehovah onderwerp en dié wat nie na sy liefdevolle raad luister nie. Dié wat hulle aan Jehovah onderwerp, ‘roep met vreugde uit weens die goeie toestand van die hart’. – Lees Jesaja 65:13, 14.

22 Wanneer ouermanne, pa’s en ma’s hulle gewillig aan Jehovah onderwerp, verbeter dit hulle lewe, is hulle gesinne gelukkiger en is die hele gemeente verenig. Maar die belangrikste is dat hulle Jehovah se hart bly maak (Spr. 27:11). Daar is geen groter beloning nie!

LIED 123 Lojaal onderdanig aan teokratiese orde

^ par. 5 Hierdie artikel sal bespreek hoekom ons ons aan Jehovah moet onderwerp. Ons sal ook kyk wat ouermanne, pa’s en ma’s – almal wat ’n mate van gesag het – kan leer uit die voorbeelde van goewerneur Nehemia, koning Dawid en Maria, Jesus se ma.

^ par. 1 WAT DIT BETEKEN: Die woorde onderwerp en onderdanig het ’n negatiewe betekenis vir mense wat gedwing word om aan iemand gehoorsaam te wees. Maar God se volk kies om hom te gehoorsaam, en daarom voel hulle nie dat onderdanigheid aan God ’n negatiewe ding is nie.

^ par. 7 Party name in hierdie artikel is verander.

^ par. 62 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Ouerman werk saam met sy seun by die Koninkryksaal, net soos Nehemia saam met sy broers gewerk het om die mure van Jerusalem te herbou.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Pa bid ernstig tot Jehovah saam met sy gesin.

^ par. 66 BESKRYWING VAN PRENTE: ’n Seuntjie het ure lank videospeletjies gespeel en nie sy skoolwerk of sy huistakies klaar gemaak nie. Alhoewel sy ma moeg is na ’n lang dag by die werk, dissiplineer sy hom sonder om haar humeur te verloor of om op ’n lelike manier met hom te praat.