Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 37

“Moenie jou hand laat rus . . . nie”

“Moenie jou hand laat rus . . . nie”

“Saai jou saad in die oggend en moenie jou hand laat rus voordat dit aand is nie.” – PRED. 11:6.

LIED 68 Saai die Koninkryksaad

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Hoe hou Prediker 11:6 verband met die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk?

 IN PARTY lande is mense bly wanneer hulle die goeie nuus hoor. Dit is net waarvoor hulle gewag het. In ander lande stel mense nie eintlik belang in God of die Bybel nie. Hoe reageer die meeste mense waar jy bly? Hoe die mense ook al reageer, Jehovah verwag dat ons met die predikingswerk moet aanhou totdat hy sê dat die werk klaar is.

2 Jehovah het alreeds besluit wanneer die predikingswerk sal ophou. “Dan sal die einde kom” (Matt. 24:14, 36). Tot dan, hoe kan ons gehoorsaam wees aan die woorde: “Moenie jou hand laat rus . . . nie”? * – Lees Prediker 11:6.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 In die vorige artikel het ons na vier dinge gekyk wat ons moet doen om goeie “vissers van mense” te word (Matt. 4:19). In hierdie artikel sal ons drie maniere bespreek wat ons kan help om ons begeerte om te preek, te versterk, maak nie saak wat ons omstandighede is nie. Ons sal leer hoekom dit belangrik is om (1) gefokus te bly, (2) geduldig te wees en (3) sterk geloof te behou.

BLY GEFOKUS

4. Hoekom moet ons gefokus bly op die werk wat Jehovah ons gegee het om te doen?

4 Jesus het gebeure en toestande voorspel wat tekens van die laaste dae sou wees en wat sy volgelinge se aandag kon aftrek van die verkondiging van die goeie nuus. Hy het vir sy dissipels gesê om ‘aan te hou waak’ (Matt. 24:42). Vandag het ons soortgelyke afleidings wat die mense in Noag se dag gekeer het om na Noag se waarskuwing te luister (Matt. 24:37-39; 2 Pet. 2:5). Daarom wil ons gefokus bly op die werk wat Jehovah ons gegee het om te doen.

5. Hoe beskryf Handelinge 1:6-8 hoe ver die goeie nuus verkondig sal word?

5 Vandag moet ons regtig gefokus wees op die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk. Jesus het gesê dat sy volgelinge met die verkondiging van die goeie nuus sou aanhou nadat hy gesterf het en dat hulle baie meer in die predikingswerk sou doen as wat hy gedoen het toe hy op die aarde was (Joh. 14:12). Nadat Jesus gesterf het, het party van sy dissipels teruggegaan na hulle werk om vis te vang. Ná sy opstanding het Jesus deur middel van ’n wonderwerk party van sy dissipels gehelp om baie vis te vang. Hy het hierdie geleentheid gebruik om vir hulle te wys dat hulle toewysing om vissers van mense te wees, belangriker is as enige iets anders (Joh. 21:15-17). Net voordat Jesus hemel toe gegaan het, het hy vir sy dissipels gesê dat die predikingswerk waarmee hy begin het, baie verder sou gaan as die grense van Israel. (Lees Handelinge 1:6-8.) Jare later het Jesus ’n visioen aan die apostel Johannes gegee om vir hom te wys wat “in die dag van die Here” sou gebeur. * Een van die dinge wat Johannes gesien het, was ’n ongelooflike visioen van ’n engel wat “ewige goeie nuus gehad [het] om bekend te maak aan . . . elke nasie en stam en taal en volk” (Op. 1:10; 14:6). Dit is duidelik dat dit Jehovah se wil vir ons vandag is om aan hierdie wêreldwye predikingswerk deel te neem totdat dit klaar is.

6. Hoe kan ons op die predikingswerk gefokus bly?

6 Ons kan gefokus bly op die predikingswerk wanneer ons nadink oor hoe baie Jehovah doen om ons te help. Byvoorbeeld, hy gee ons oorgenoeg geestelike voedsel in die vorm van gedrukte en digitale publikasies, oudio- en video-opnames en Internet-uitsendings. Dink net daaraan: Ons amptelike webwerf het inligting wat in meer as 1 000 tale beskikbaar is (Matt. 24:45-47). In ’n wêreld wat verdeeld is deur politieke, godsdienstige en ekonomiese verskille, is meer as agtmiljoen knegte van God regtig verenig in ’n wêreldwye broederskap. Byvoorbeeld, op Vrydag 19 April 2019, was Getuies regoor die wêreld verenig in ’n bespreking van die dagteks. Daardie aand het ’n groep van 20 919 041 mense bymekaargekom om Jesus se dood te herdenk. Ons wil besig bly met die verkondiging van die Koninkryk wanneer ons dink aan die voorreg wat ons het om hierdie wonderlike geleenthede te sien en om ’n deelname daaraan te hê.

Jesus het nie toegelaat dat sy aandag daarvan afgelei word om van die waarheid te getuig nie (Sien paragraaf 7)

7. Hoe help Jesus se voorbeeld ons om gefokus te bly?

7 Nog ’n manier hoe ons gefokus kan bly op die predikingswerk, is deur Jesus se voorbeeld na te volg. Hy het nie toegelaat dat enige iets sy aandag daarvan aflei om van die waarheid te getuig nie (Joh. 18:37). Hy het nie toegelaat dat Satan hom mislei toe hy hom “al die koninkryke van die wêreld en hulle mag en rykdom” aangebied het nie en hy het ook nie toegelaat dat ander hom mislei om koning te wees toe hulle hom koning wou maak nie (Matt. 4:8, 9; Joh. 6:15). Hy was nie beïnvloed deur ’n begeerte om ryk te wees nie en hy was ook nie geïntimideer deur wrede vervolging nie (Luk. 9:58; Joh. 8:59). Wanneer ons geloof getoets word, kan ons gefokus bly deur te dink aan die apostel Paulus se raad. Hy het Christene aangemoedig om Jesus se voorbeeld na te volg sodat hulle nie “moeg word en moed opgee nie”! – Heb. 12:3.

WEES GEDULDIG

8. Wat is geduld, en hoekom het ons dit veral nou nodig?

8 Geduld is die vermoë om kalm te bly en te wag vir ’n situasie om te verander. Ons moet geduldig wees in verskillende situasies. Ons wag dalk vir ’n slegte situasie om tot ’n einde te kom of ons wag al lank vir iets goeds. Die profeet Habakuk het uitgesien na die tyd wanneer daar nie meer geweld in Juda sou wees nie (Hab. 1:2). Jesus se dissipels het gehoop dat die Koninkryk ‘dadelik sou verskyn’ en hulle sou red van die Romeine wat hulle onderdruk het (Luk. 19:11). Ons sien baie uit na die dag wanneer God se Koninkryk alle slegtheid sal verwyder en ons in die nuwe wêreld van regverdigheid sal inlei (2 Pet. 3:13). Maar ons moet geduldig wees en wag op Jehovah se tyd. Kom ons kyk na ’n paar maniere hoe Jehovah ons leer om geduldig te wees.

9. Watter voorbeelde wys dat Jehovah geduldig is?

9 Jehovah stel die perfekte voorbeeld van iemand wat geduldig is. Hy het Noag genoeg tyd toegelaat om die ark te bou en om as “’n prediker van regverdigheid” te dien (2 Pet. 2:5; 1 Pet. 3:20). Jehovah het na Abraham geluister terwyl hy vir hom vrae gevra het oor sy besluit om die goddelose mense van Sodom en Gomorra te vernietig (Gen. 18:20-33). Jehovah het honderde jare lank buitengewone geduld gehad met die ontroue nasie Israel (Neh. 9:30, 31). Ons sien vandag bewyse van Jehovah se geduld terwyl hy genoeg tyd toelaat vir persone wat hy trek, om ‘berou te toon’ (2 Pet. 3:9; Joh. 6:44; 1 Tim. 2:3, 4). Jehovah se voorbeeld gee vir ons goeie rede om geduldig te wees terwyl ons aanhou preek en ander leer. Hy leer ons ook om geduldig te wees deur middel van ’n illustrasie wat ons in sy Woord kry.

Net soos ’n hardwerkende maar geduldige boer, wag ons vir die resultate van ons werk (Sien paragraaf 10-11)

10. Wat leer ons uit die voorbeeld van die boer in Jakobus 5:7, 8?

10 Lees Jakobus 5:7, 8. Die voorbeeld van die boer wat wag vir sy plante om te groei, leer ons hoe om geduldig te wees. Dit is waar dat party plante baie vinnig groei. Maar die meeste plante, veral dié wat vrugte dra, vat baie langer om ryp te word. Die groeiseisoen in Israel was omtrent ses maande lank. Die boer het sy saad ná die vroeë reën in die herfs geplant en die graan ná die laat reën in die lente geoes (Mark. 4:28). Laat ons wys wees en die boer se geduld navolg. Maar dit is dalk nie altyd maklik nie.

11. Hoe sal geduld ons in ons bediening help?

11 Onvolmaakte mense wil gewoonlik onmiddellike resultate hê wanneer hulle iets gedoen het. Maar as ons wil hê dat ons tuin vrug moet dra, moet ons dit heeltyd aandag gee – ons moet grawe, plant, onkruid uithaal en dit water gee. Die dissipelmaakwerk het ook aanhoudende aandag nodig. Dit neem tyd om die onkruid van vooroordeel en onverskilligheid wat in persone se harte is, uit te trek. Ons geduld sal ons help om nie mismoedig te word wanneer mense nie na ons wil luister nie. Wanneer iemand positief reageer, moet ons nog steeds geduldig wees. Ons kan nie ’n Bybelstudent forseer om geloof op te bou nie. Soms het dit selfs vir Jesus se dissipels ’n tydjie geneem om die betekenis te verstaan van wat hy hulle geleer het (Joh. 14:9). Laat ons in gedagte hou dat ons dalk plant en natgooi, maar God is die een wat dit laat groei. – 1 Kor. 3:6.

12. Hoe kan ons geduldig wees wanneer ons vir ongelowige familielede getuig?

12 Een gebied waarin dit vir ons dalk moeilik is om geduldig te wees, is wanneer ons vir ongelowige familielede getuig. Die beginsel in Prediker 3:1, 7 kan ons help. Dit sê: “Daar is . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat.” Ons goeie gedrag kan ons familielede help om na ons boodskap te wil luister. Maar ons moet altyd gereed wees om hulle van Jehovah te vertel (1 Pet. 3:1, 2). Ons is geduldig met alle mense – insluitende familielede – terwyl ons met ywer preek en ander leer.

13-14. Wat is ’n paar voorbeelde van geduld wat ons kan navolg?

13 Ons kan uit die voorbeelde van getroue persone in die Bybel en in ons dag leer om geduldig te wees. Habakuk wou graag hê dat goddeloosheid tot ’n einde moes kom, maar hy het met vertroue gesê: “Op my wagpos [sal ek] bly staan” (Hab. 2:1). Die apostel Paulus het gesê dat hy sy bediening wil “voltooi”. Maar hy het geduldig aangehou “om deeglik van die goeie nuus . . . te getuig”. – Hand. 20:24.

14 Dink aan die voorbeeld van ’n getroude paartjie wat die Gileadskool bygewoon het. Hulle is gevra om in ’n land te dien waar daar min Getuies is en waar die meeste mense nie Christene is nie. Daar was min mense wat die Bybel wou studeer. Maar hulle klasmaats wat in ander lande gedien het, het hulle vertel van al die mense met wie hulle die Bybel studeer en wat vordering maak. Maar die paartjie het geduldig aanhou preek, al wou die meeste mense in hulle gebied nie na hulle luister nie. Nadat hulle agt jaar lank in hierdie gebied gepreek het, het hulle uiteindelik die vreugde gehad om te sien hoe een van hulle Bybelstudente gedoop word. Wat leer hierdie voorbeelde ons? Hierdie getroue persone het nie opgehou om ywerig te wees of hulle hande laat rus nie, en Jehovah het hulle vir hulle geduld beloon. Laat ons “navolgers . . . wees van dié wat deur geloof en geduld die beloftes sal ontvang”. – Heb. 6:10-12.

BEHOU STERK GELOOF

15. Wat is een manier hoe geloof ons vasbeslotenheid om te preek, versterk?

15 Ons het geloof in die boodskap wat ons verkondig, en daarom wil ons dit graag met soveel mense as moontlik deel. Ons vertrou die beloftes in God se Woord (Ps. 119:42; Jes. 40:8). Ons het gesien hoe Bybelprofesieë in ons dag vervul word. Ons het gesien hoe baie mense hulle lewens verbeter nadat hulle die Bybel se raad begin toepas het. Hierdie bewyse gee ons selfs meer vertroue dat die goeie nuus van die Koninkryk ’n boodskap is wat almal moet hoor.

16. Met Psalm 46:1-3 in gedagte, hoe versterk geloof in Jehovah en Jesus ons vasbeslotenheid om te preek?

16 Ons het ook geloof in Jehovah, die Bron van die boodskap wat ons verkondig en in die een wat hy gekroon het as Koning van die Koninkryk, Jesus (Joh. 14:1). Maak nie saak watter situasies ons deurmaak nie, Jehovah sal altyd ons skuilplek en sterkte wees. (Lees Psalm 46:1-3.) Ons het ook die vertroue dat Jesus die predikingswerk vanuit die hemel rig en dat hy die krag en gesag gebruik wat Jehovah hom gegee het. – Matt. 28:18-20.

17. Gee ’n voorbeeld wat wys hoekom ons moet aanhou preek.

17 Geloof gee ons die vertroue dat Jehovah ons pogings sal seën, soms op maniere wat ons nie verwag nie (Pred. 11:6). Byvoorbeeld, elke dag loop duisende mense verby ons lektuurtafels en -trollies. Werk hierdie predikingsmetode? Absoluut! In Ons Koninkryksbediening van November 2014 is daar ’n voorbeeld van ’n jong universiteitstudent wat ’n opstel oor Jehovah se Getuies wou skryf. Sy kon nie ’n Koninkryksaal vind nie, maar sy het een van ons lektuurtrollies op kampus gekry en sy het ook die inligting vir haar opstel gekry. Uiteindelik het sy ’n gedoopte Getuie geword en sy dien nou as ’n gewone pionier. Sulke ondervindinge motiveer ons om aan te hou preek omdat dit wys dat daar nog steeds mense is wat die Koninkryksboodskap moet hoor.

WEES VASBESLOTE OM NIE JOU HAND TE LAAT RUS NIE

18. Hoekom is ons seker dat die Koninkrykspredikingswerk voltooi sal word soos Jehovah dit wil hê?

18 Ons kan seker wees dat die Koninkrykspredikingswerk op die regte tyd voltooi sal word. Dink aan wat in die dae van Noag gebeur het. Jehovah het gewys dat hy die volmaakte Tydhouer is. Omtrent 120 jaar voor die Vloed, het Jehovah geweet wanneer die Vloed sou begin. Dekades later, het Jehovah Noag die opdrag gegee om die ark te bou. Vir omtrent 40 of 50 jaar voordat die Vloed begin het, het Noag aangehou om hard te werk. Al wou die mense nie na Noag luister nie, het hy aangehou om die waarskuwende boodskap te verkondig totdat Jehovah gesê het dat dit tyd is om die diere in die ark in te bring. Toe, op die regte tyd, “het Jehovah die deur . . . toegemaak”. – Gen. 6:3; 7:1, 2, 16.

19. Waarna kan ons uitsien as ons nie ons hand laat rus nie?

19 Binnekort sal Jehovah vir ons sê dat die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk klaar is. Dan sal hy Satan se wêreld vernietig en die nuwe wêreld bring, wat vol mense sal wees wat gehoorsaam is aan God. Tot dan, mag ons Noag, Habakuk en ander navolg wat nie hulle hand laat rus het nie. Mag ons gefokus bly, geduldig wees en sterk geloof in Jehovah en sy beloftes behou.

LIED 75 “Hier is ek! Stuur my!”

^ par. 5 Die vorige artikel het Bybelstudente wat vordering maak, aangemoedig om Jesus se uitnodiging te aanvaar om vissers van mense te word. Hierdie artikel sal drie maniere bespreek hoe alle verkondigers, nuwe en ervare verkondigers, hulle begeerte kan versterk om aan te hou met die Koninkrykspredikingswerk totdat Jehovah sê dat die werk klaar is.

^ par. 2 WAT DIT BETEKEN: In hierdie artikel beteken die uitdrukking “moenie jou hand laat rus . . . nie” dat ons vasbeslote moet wees om aan te hou met die verkondiging van die goeie nuus totdat Jehovah sê dat die werk klaar is.

^ par. 5 “Die dag van die Here” het begin toe Jesus in 1914 as Koning gekroon is en sal aanhou tot aan die einde van sy Duisendjarige Heerskappy.