Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 37

“Ek sal al die nasies skud”

“Ek sal al die nasies skud”

“Ek sal al die nasies skud, en die kosbare dinge van al die nasies sal inkom.” – HAG. 2:7.

LIED 24 Kom na die berg van Jehovah

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Volgens Haggai se profesie, wat sou in ons tyd geskud word?

“BINNE minute het winkels en ou geboue ineengestort.” “Almal was paniekbevange . . . Baie mense het gesê dat dit omtrent twee minute aangehou het. Maar vir my het dit soos ’n ewigheid gevoel.” Dit is wat party oorlewendes gesê het nadat ’n aardbewing Nepal in 2015 getref het. As jy so ’n traumatiese ondervinding gehad het, sal jy dit nie maklik vergeet nie.

2 Vandag ondervind ons iets wat soos ’n aardbewing is, maar wat nie net een land of stad raak nie. Dit raak al die nasies, en dit gaan al baie jare lank aan. Die profeet Haggai het hierdie skudding voorspel. Hy het geskryf: “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Binnekort sal ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond nog ’n keer skud.’” – Hag. 2:6.

3. Hoe is die skudding wat vandag plaasvind anders as ’n letterlike aardbewing?

3 Die skudding waarvan Haggai praat, is nie soos ’n letterlike aardbewing, wat net verwoesting veroorsaak, nie. Dit het eerder goeie resultate. Jehovah sê self vir ons: “Ek sal al die nasies skud, en die kosbare dinge van al die nasies sal inkom, en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul” (Hag. 2:7). Wat het hierdie profesie vir die mense in Haggai se tyd beteken? En wat beteken dit vir ons vandag? Ons sal die antwoorde op hierdie vrae bespreek en uitvind hoe ons kan deelneem aan ’n werk wat die nasies vandag skud.

’N AANMOEDIGENDE BOODSKAP IN HAGGAI SE DAG

4. Hoekom het Jehovah die profeet Haggai na Sy volk toe gestuur?

4 Die profeet Haggai het ’n belangrike opdrag van Jehovah ontvang. Maar kom ons kyk na wat voor dit gebeur het. Haggai het moontlik in 537 VHJ saam met die ander Jode na Jerusalem teruggegaan nadat hulle uit Babilon vrygelaat is. Nie lank nadat hulle daar aangekom het nie, het daardie getroue aanbidders die fondasie van Jehovah se huis gelê (Esra 3:8, 10). Maar nie lank daarna nie het hulle mismoedig geword en opgehou met die projek as gevolg van teenstand (Esra 4:4; Hag. 1:1, 2). Daarom het Jehovah in 520 VHJ vir Haggai die opdrag gegee om die Jode te motiveer om die bouwerk aan die tempel weer met hulle hele hart en siel aan te pak en om dit te voltooi. * – Esra 6:14, 15.

5. Hoekom was Haggai se boodskap vir God se volk aanmoedigend?

5 Die doel van Haggai se boodskap was om die Jode se geloof in Jehovah te versterk. Die profeet was moedig en het die moedelose Jode met die volgende woorde versterk: “‘Wees sterk, julle almal, die volk van die land,’ sê Jehovah, ‘en werk. Want ek is met julle,’ sê Jehovah van die leërmagte” (Hag. 2:4). Die uitdrukking “Jehovah van die leërmagte” moes vir hulle baie aanmoedigend gewees het. Jehovah het ’n groot leërmag van engele onder sy bevel. So die Jode moes op hom vertrou as hulle suksesvol wou wees.

6. Wat sou die resultate wees van die skudding wat Haggai voorspel het?

6 Jehovah het Haggai na die Jode toe gestuur om te sê dat hy al die nasies sou skud. Daardie boodskap het die mismoedige tempelbouers verseker dat Jehovah Persië sou skud, wat op daardie stadium die wêreldmag was wat oor baie nasies regeer het. En wat sou die resultate van daardie skudding wees? Eerstens sou God se volk die bouwerk aan die tempel klaarmaak. En selfs nie-Jode sou Jehovah saam met die Jode by die herboude tempel aanbid. Wat ’n aanmoedigende boodskap moes dit tog vir God se volk gewees het! – Sag. 8:9.

’N WERK WAT DIE HELE AARDE VANDAG SKUD

Doen jy soveel as wat jy kan in die aardskuddende werk wat vandag gedoen word? (Sien paragraaf 7-8) *

7. Aan watter werk wat die aarde vandag skud, neem ons deel? Verduidelik.

7 Wat beteken Haggai se profesie vir ons vandag? Vandag skud Jehovah al die nasies weer, en hierdie keer neem ons deel aan daardie werk. Dink hieraan: In 1914 het Jehovah Jesus Christus as die Koning van Sy hemelse Koninkryk aangestel (Ps. 2:6). Dit was slegte nuus vir wêreldleiers. Dit het beteken dat “die vasgestelde tye van die nasies” verby was, dit wil sê die tydperk toe daar geen heerser was wat Jehovah verteenwoordig het nie (Luk. 21:24). Daarom het God se volk, veral vanaf 1919, vir almal vertel dat God se Koninkryk die mensdom se enigste hoop is. Hierdie verkondiging van die “goeie nuus van die Koninkryk” het die hele wêreld geskud. – Matt. 24:14.

8. Volgens Psalm 2:1-3, hoe het die meeste van die nasies op hierdie boodskap gereageer?

8 Hoe het mense op hierdie boodskap gereageer? Die meeste het negatief gereageer. (Lees Psalm 2:1-3.) Die nasies het onrustig geraak. Hulle het geweier om Jehovah se aangestelde Heerser te aanvaar. Hulle dink nie dat die Koninkryksboodskap wat ons verkondig, “goeie nuus” is nie. Om die waarheid te sê, party regerings het die predikingswerk selfs verbied! Al sê baie van die heersers van hierdie nasies dat hulle God dien, wil hulle nie hulle mag en gesag opgee nie. Net soos die heersers in Jesus se dag staan die heersers vandag Jehovah se Gesalfde teë deur sy lojale volgelinge aan te val. – Hand. 4:25-28.

9. Hoe probeer Jehovah die nasies help, al aanvaar hulle nie die Koninkryksboodskap nie?

9 Hoe probeer Jehovah die nasies help, al aanvaar hulle nie die Koninkryksboodskap nie? Psalm 2:10-12 sê: “En nou, o konings, toon insig. Aanvaar dissipline, o regters van die aarde. Dien Jehovah met vrees, en wees bly met diep respek. Eer die seun, anders sal God kwaad word en sal julle van die weg verwyder word, want Sy woede vlam vinnig op. Gelukkig is almal wat by Hom beskerming soek.” Uit liefde gee Jehovah vir hierdie teenstanders tyd om die regte besluit te maak. Hulle kan nog van plan verander en Jehovah se Koninkryk aanvaar. Maar die tyd raak op. Ons lewe in “die laaste dae” van hierdie wêreld (2 Tim. 3:1; Jes. 61:2). Dit was nog nooit so dringend dat mense die feite kry en die regte besluit maak nie.

’N POSITIEWE REAKSIE

10. Volgens Haggai 2:7-9, watter positiewe reaksie sou daar wees omdat Jehovah die nasies skud?

10 Haggai het voorspel dat party mense positief sou reageer wanneer Jehovah die nasies skud. Hy sê dat “die kosbare dinge [opregte mense] van al die nasies” Jehovah sal begin aanbid as gevolg van die feit dat Jehovah al die nasies skud. * (Lees Haggai 2:7-9.) Jesaja en Miga het ook voorspel dat dit “in die laaste dae” sou gebeur. – Jes. 2:2-4, vtn.; Miga 4:1, 2, vtn.

11. Hoe het een broer op die Koninkryksboodskap gereageer toe hy dit vir die eerste keer gehoor het?

11 Kyk na die uitwerking wat die aardskuddende boodskap op ’n broer gehad het met die naam Ken, wat by die wêreldhoofkwartier dien. Hy onthou nog die dag baie goed toe hy die Koninkryksboodskap omtrent 40 jaar gelede vir die eerste keer gehoor het. Ken sê: “Toe ek die waarheid uit God se Woord vir die eerste keer gehoor het, was ek baie dankbaar om uit te vind dat ons in die laaste dae van hierdie wêreld lewe. Ek het besef dat ek uit hierdie onstabiele wêreld moes ontsnap en aan Jehovah se kant moes vasstaan as ek God se goedkeuring wou hê en die ewige lewe wou kry. Ek het tot Jehovah gebid en dit onmiddellik gedoen. Ek het die wêreld agtergelaat en gevlug na die veiligheid van God se Koninkryk, wat nie geskud kan word nie.”

12. Hoe is Jehovah se geestelike tempel gedurende die laaste dae met heerlikheid gevul?

12 Dit is duidelik dat Jehovah sy volk geseën het. Gedurende hierdie laaste dae het ons gesien hoe al hoe meer mense Jehovah begin aanbid. In 1914 was daar maar net ’n paar duisend van ons. Nou is daar meer as agt miljoen mense wat God aanbid, en elke jaar is daar miljoene ander wat die Gedenkmaal saam met ons bywoon. Op hierdie manier is die aardse voorhowe van Jehovah se geestelike tempel – sy reëling vir rein aanbidding – met “die kosbare dinge van die nasies” gevul. Jehovah se naam word ook verheerlik deur die veranderinge wat hulle maak terwyl hulle die nuwe persoonlikheid aantrek. – Ef. 4:22-24.

Wêreldwyd vertel God se volk ander van die Koninkryk met groot vreugde (Sien paragraaf 13)

13. Watter ander profesieë is deur hierdie opwindende dinge vervul? (Sien prent op voorblad.)

13 Hierdie opwindende dinge het ook ander profesieë vervul, soos die een in Jesaja hoofstuk 60. Vers 22 van daardie hoofstuk sê: “Die kleine sal ’n duisend word, en die onbelangrike ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.” En die “kosbare dinge” wat Jehovah begin aanbid, het ook verskillende vermoëns en vaardighede, en hulle is ook gewillig om die “goeie nuus van die Koninkryk” te verkondig. Daarom kan Jehovah se volk gebruik maak van daardie vaardighede, wat Jesaja as “die melk van die nasies” beskryf het (Jes. 60:5, 16). Met die hulp van hierdie kosbare manne en vrouens word die predikingswerk in 240 lande gedoen en word lektuur in meer as 1 000 tale vervaardig.

TYD OM ’N BESLUIT TE MAAK

14. Watter besluit moet mense nou maak?

14 In hierdie tyd van die einde word mense gedwing om ’n besluit te maak omdat Jehovah die nasies skud. Sal hulle God se Koninkryk ondersteun of sal hulle hulle vertroue stel in die regerings van hierdie wêreld? Dit is ’n besluit wat almal moet maak. Al is Jehovah se volk gehoorsaam aan die wette van die regering van die land waar hulle bly, is hulle heeltemal neutraal wanneer dit kom by die politieke sake van hierdie wêreld (Rom. 13:1-7). Hulle weet dat die Koninkryk die enigste ware oplossing is vir die mensdom se probleme. Daardie Koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie. – Joh. 18:36, 37.

15. Watter groot toets van lojaliteit word in die boek Openbaring beskryf?

15 Die boek Openbaring wys dat die lojaliteit van God se volk gedurende die laaste dae getoets sal word. Ons sal baie erg teëgestaan en vervolg word. Die regerings van hierdie wêreld sal daarop aandring dat ons hulle heelhartig moet ondersteun, en hulle sal almal vervolg wat weier om dit te doen (Op. 13:12, 15). Hulle sal “almal [dwing] – klein en groot, ryk en arm, vry mense en slawe – om op hulle regterhand of op hulle voorkoppe gemerk te word” (Op. 13:16). In Bybeltye is slawe gebrandmerk om te wys aan wie hulle behoort. Net so sal daar van almal in ons dag verwag word om ’n simboliese merk op hulle hand of voorkop te hê. Hulle gedagtes en dade sal wys dat hulle die regerings ondersteun en aan hulle behoort.

16. Hoekom is dit dringend dat ons ons lojaliteit aan Jehovah nou moet versterk?

16 Sal ons hierdie simboliese merk aanvaar en die regerings ondersteun? Almal wat weier om die merk te aanvaar, sal probleme ondervind, en hulle lewe sal in gevaar wees. Die boek Openbaring sê verder: “Niemand kan koop of verkoop nie, behalwe iemand wat die merk het” (Op. 13:17). Maar God se volk weet wat God gaan doen met almal wat die merk het wat in Openbaring 14:9, 10 genoem word. Hulle sal eerder op hulle hand skryf: “Ek behoort aan Jehovah” (Jes. 44:5). Nou is die tyd om seker te maak dat ons lojaliteit aan Jehovah sterk is. As dit die geval is, sal Jehovah bly wees om te sê dat ons aan hom behoort!

DIE LAASTE SKUDDING

17. Wat moet ons in gedagte hou omtrent Jehovah se geduld?

17 Gedurende hierdie laaste dae was Jehovah baie geduldig. Hy wil nie hê dat enige iemand vernietig moet word nie (2 Pet. 3:9). Hy het vir almal ’n kans gegee om berou te toon en om die regte besluit te maak. Maar sy geduld het perke. Almal wat weier om God se Koninkryk te ondersteun, sal hulle in dieselfde situasie bevind as dié van Farao in Moses se dag. Jehovah het vir Farao gesê: “Ek kon my hand nou al uitgesteek het om jou en jou volk met ’n verwoestende plaag te tref, en jy sou van die aarde af uitgewis gewees het. Maar om dié rede het ek jou nog laat bestaan: sodat ek jou my krag kan wys en sodat my naam oor die hele aarde bekend gemaak kan word” (Eks. 9:15, 16). Al die nasies sal uiteindelik moet weet dat Jehovah die enigste ware God is (Eseg. 38:23). Hoe sal dit gebeur?

18. (a) Watter ander soort skudding word in Haggai 2:6, 20-22 beskryf? (b) Hoe weet ons dat Haggai se woorde ’n toekomstige vervulling het?

18 Honderde jare ná Haggai se dag is die apostel Paulus geïnspireer om te skryf dat die woorde in Haggai 2:6, 20-22 ’n toekomstige vervulling sal hê. (Lees.) Paulus het geskryf: “Nou het hy belowe: ‘Ek sal nie net die aarde nie, maar ook die hemel nog ’n keer skud.’ Met die uitdrukking ‘nog ’n keer’ word daar bedoel dat die dinge wat geskud word, dit wil sê die dinge wat gemaak is, verwyder word sodat net die dinge wat nie geskud word nie, kan oorbly” (Heb. 12:26, 27). Anders as die skudding wat in Haggai 2:7 genoem word, sal hierdie skudding ewige vernietiging beteken vir almal wat, soos Farao, nie Jehovah se reg om te regeer, erken nie.

19. Wat sal nie geskud word nie, en hoe weet ons dit?

19 Wat sal nie geskud, of verwyder, word nie? Paulus sê verder: “Aangesien ons ’n Koninkryk gaan ontvang wat nie geskud kan word nie, laat ons dus aanhou om baat te vind by die onverdiende goedheid, waardeur ons aanvaarbare heilige diens aan God kan bied met vrees en ontsag vir hom” (Heb. 12:28). Ja, ná die finale skudding en nadat die stof gaan lê, sal net God se Koninkryk bestaan! – Ps. 110:5, 6; Dan. 2:44.

20. Watter keuse moet mense maak, en hoe kan ons hulle help?

20 Daar is nie tyd om te mors nie! Mense moet kies: Sal hulle kies om hierdie wêreld te ondersteun, wat na vernietiging sal lei? Of sal hulle kies om Jehovah te dien en om die nodige veranderinge in hulle lewe te maak om sy wil te doen sodat hulle die ewige lewe kan kry? (Heb. 12:25). Deur middel van ons predikingswerk kan ons mense help om hierdie belangrike keuse te maak. Mag ons nog baie kosbare mense help om God se Koninkryk te ondersteun. En laat ons die woorde van ons Here Jesus in gedagte hou: “Hierdie goeie nuus van die Koninkryk sal oor die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies, en dan sal die einde kom.” – Matt. 24:14.

LIED 40 Aan wie wil ons behoort?

^ par. 5 Hierdie artikel bevat ’n nuwe verduideliking van Haggai 2:7. In hierdie artikel sal ons leer hoe ons kan deelneem aan ’n opwindende werk wat al die nasies skud. En ons sal ook sien dat mense positief en negatief op hierdie werk reageer.

^ par. 4 Ons weet dat Haggai suksesvol was omdat die bouwerk aan die tempel teen 515 VHJ voltooi is.

^ par. 10 In die verlede het ons gesê dat dit nie die geskud van die nasies was wat veroorsaak het dat opregte mense Jehovah begin aanbid nie. Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 Mei 2006.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENTE: Haggai het God se volk aangemoedig om die bouwerk van die tempel met hulle hele hart en siel te doen. Vandag verkondig God se volk sy boodskap met hulle hele hart en siel. ’n Paartjie vertel mense van die laaste skudding wat kom.