Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 35

Waardeer ons getroue ouer broers en susters

Waardeer ons getroue ouer broers en susters

“Grys hare is ’n pragtige kroon.” – SPR. 16:31.

LIED 138 Grysheid is ’n kroon

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. (a) Volgens Spreuke 16:31, hoe moet ons ons getroue ouer broers en susters beskou? (b) Watter vrae sal ons in hierdie artikel bespreek?

DAAR is ’n staatspark in die Verenigde State waar ’n mens diamante sommer op die grond kan vind. Maar omdat dit rowwe diamante is, sal baie mense nie besef dat dit diamante is nie. Hulle sal dalk net verby hierdie kosbare skatte stap.

2 Ons getroue ouer broers en susters is soos daardie diamante – hulle is kosbare skatte. En God se Woord vergelyk hulle grys hare met ’n kroon. (Lees Spreuke 16:31; 20:29.) Maar ’n mens besef nie altyd hoe waardevol hierdie skatte is nie. Jongmense wat besef hoe kosbaar ouer mense is, kan iets kry wat baie meer waarde het as letterlike rykdom. In hierdie artikel sal ons drie vrae bespreek: Hoekom beskou Jehovah getroue ouer broers en susters as skatte? Watter plek het hulle in Jehovah se organisasie? Hoe kan ons uit hulle voorbeeld leer?

HOEKOM JEHOVAH GETROUE OUER BROERS EN SUSTERS AS SKATTE BESKOU

Getroue ouer broers en susters is baie kosbaar vir Jehovah en vir sy volk (Sien paragraaf 3)

3. Volgens Psalm 92:12-15, hoekom is getroue ouer broers en susters kosbaar vir Jehovah?

3 Getroue ouer broers en susters is kosbaar vir Jehovah. Hy sien hulle vir wie hulle regtig is, en hy waardeer hulle pragtige eienskappe. Gedurende hulle lang lewe van getroue diens aan God, het hulle baie wysheid en ondervinding gekry. Jehovah waardeer dit wanneer hulle daardie wysheid en ondervinding met jonger mense deel (Job 12:12; Spr. 1:1-4). En Jehovah waardeer ook hulle volharding (Mal. 3:16). Selfs toe hulle probleme ondervind het, het hulle hulle geloof in Jehovah sterk gehou. Hulle hoop vir die toekoms is sterker as toe hulle die waarheid eers geleer het. En Jehovah is lief vir hulle omdat hulle aanhou om sy naam te verkondig, selfs noudat hulle oud is. – Lees Psalm 92:12-15.

4. Wat moet ons ouer broers en susters in gedagte hou?

4 As jy nou nie meer so jonk is nie, moet jy in gedagte hou dat Jehovah nooit sal vergeet van die werk wat jy in die verlede gedoen het nie (Heb. 6:10). Jy het die predikingswerk ywerig ondersteun, en dit maak ons hemelse Vader se hart baie bly. Jy het baie moeilike tye deurgemaak, baie hartseer en pyn ondervind, volgens die Bybel se regverdige standaarde gelewe, baie gewigtige verantwoordelikhede gedra en ander opgelei. Jy het jou bes gedoen om by te bly by Jehovah se organisasie, wat altyd aan die beweeg is. Jy het broers en susters in die voltydse diens ondersteun en aangemoedig. Jehovah God is lief vir jou omdat jy lojaal is. Hy belowe dat hy “nie sy lojales [sal] verlaat nie”! (Ps. 37:28). Hy gee jou hierdie versekering: “Selfs wanneer jou hare grys is, sal ek aanhou om jou te dra” (Jes. 46:4). So moenie dink dat jy nie meer ’n belangrike rol in Jehovah se organisasie het net omdat jy nie meer so jonk is nie. Jy het beslis ’n belangrike plek in Jehovah se organisasie!

GOD HET ’N PLEK VIR OUER BROERS EN SUSTERS

5. Wat moet ouer broers en susters altyd onthou?

5 Ouer broers en susters kan Jehovah se organisasie op baie maniere help. Al is hulle nie meer so sterk nie, het hulle baie waardevolle ondervinding. Jehovah kan hulle nog op baie maniere gebruik, soos die volgende voorbeelde vir ons sal wys.

6-7. Gee voorbeelde van hoe Jehovah ouer persone beloon het wat hom lojaal gedien het.

6 In die Bybel vind ons goeie voorbeelde van getroue ouer persone wat hard vir Jehovah gewerk het. Byvoorbeeld, Moses was omtrent 80 jaar oud toe hy as Jehovah se profeet en verteenwoordiger begin dien het. En dink aan die profeet Daniël. Jehovah het hom nog as sy profeet gebruik selfs toe hy al moontlik in sy 90’s was. En die apostel Johannes was ook heel moontlik in sy 90’s toe hy geïnspireer is om die boek Openbaring te skryf.

7 Baie ander getroue persone was nie baie bekend nie, en baie mense sou hulle dalk nie raakgesien het nie. Maar Jehovah het hulle raakgesien, en hy het hulle beloon vir hulle lojaliteit. Byvoorbeeld, die “regverdige, toegewyde man” Simeon word net een keer in die Bybel genoem, maar Jehovah het hom geken en het vir hom die voorreg gegee om Jesus as ’n baba te sien. Jehovah het ook vir hom die voorreg gegee om sekere dinge omtrent Jesus en sy ma te voorspel (Luk. 2:22, 25-35). En dink ook aan die profetes Anna. Sy was ’n 84 jaar oue weduwee, maar “sy was nooit van die tempel afwesig nie”. Omdat sy gereeld by die “vergaderinge” was, het sy die groot voorreg gekry om Jesus as ’n baba te sien. Simeon sowel as Anna was kosbaar vir Jehovah. – Luk. 2:36-38.

Suster Didur is nou in haar 80’s, en sy hou aan om Jehovah getrou te dien (Sien paragraaf 8)

8-9. Wat het een weduwee in Jehovah se organisasie gedoen?

8 In ons dag is daar baie getroue ouer persone wat ’n uitstekende voorbeeld stel vir jonger mense. Kom ons kyk na die ondervinding van suster Lois Didur. Sy was maar net 21 jaar oud toe sy as ’n spesiale pionier in Kanada begin dien het. Daarna het sy en haar man, John, jare lank op die kring gedien. Later het hulle vir meer as 20 jaar by die Bethel in Kanada gedien. Toe Lois 58 jaar oud was, is sy en John genooi om in Oekraïne te dien. Wat sou hulle doen? Sou hulle dink dat hulle te oud is om in ’n ander land te dien? Hulle het die toewysing aanvaar, en John is aangestel om op die Takkomitee daar te dien. Ná John se dood, sewe jaar later, het Lois besluit om in haar toewysing te bly. Nou, op die ouderdom van 81, dien Lois nog steeds as ’n lid van die Bethelgesin in Oekraïne, en hulle is almal baie lief vir haar.

9 Soos Lois, is baie weduwees nou meer in die agtergrond nadat hulle man gesterf het, maar hulle is nog steeds net so kosbaar vir Jehovah. Jehovah waardeer susters wat hulle man jare lank ondersteun het en wat nou aanhou om Hom getrou te dien (1 Tim. 5:3). Hulle is ook ’n groot bron van aanmoediging vir jonger mense.

10. Watter uitstekende voorbeeld stel Tony?

10 Al ons getroue ouer broers en susters wat in ouetehuise bly, is ook kosbare skatte. Dink byvoorbeeld aan ’n broer met die naam Tony, wat in ’n ouetehuis bly. Hy is in Augustus 1942 op die ouderdom van 20 in Pennsilvanië, VSA, gedoop. Kort nadat hy gedoop is, is hy opgeroep om in die weermag te dien, maar omdat hy geweier het, is hy vir twee en ’n half jaar tronk toe gestuur. Hy en sy vrou, Hilda, het twee kinders in die waarheid grootgemaak. Oor die jare het Tony in drie gemeentes as die presiderende opsiener gedien (wat nou die koördineerder van die liggaam van ouermanne genoem word). Hy het as ’n kringbyeenkomsopsiener gedien. Hy het ook vergaderinge en Bybelstudies by ’n tronk gehou. En nou, op die ouderdom van 98 is Tony nie van plan om te rus nie. Hy doen nog steeds sy bes om Jehovah saam met die broers en susters in sy gemeente te dien!

11. Hoe kan ons wys dat ons ons broers en susters waardeer wat in ouetehuise bly?

11 Hoe kan ons wys dat ons ons ouer broers en susters waardeer wat in ouetehuise bly? Ouermanne kan hulle help om te voel dat hulle deel van die gemeente is. Hulle kan hulle byvoorbeeld help om vergaderinge by te woon of om in te luister terwyl vergaderinge gehou word en om saam met die gemeente velddiens te doen. Ons kan wys dat ons in hulle belangstel deur vir hulle te gaan kuier of deur vir hulle te nooi vir ’n video-oproep. Ons wil veral spesiale aandag gee aan ouer broers en susters wat in ’n ouetehuis bly wat ver van die gemeente af is. As ons nie versigtig is nie, kan ons dalk van hulle vergeet. Party van hulle sal dalk nie gemaklik voel om oor hulleself te praat nie, maar ons sal baie by hulle leer as ons tyd saam met hulle spandeer en hulle vra oor die vreugdes wat hulle ondervind het en die ondervindinge wat hulle in Jehovah se diens gehad het.

12. Watter soort broers en susters kan ons in ons eie gemeente vind?

12 Ons is dalk verbaas om uit te vind dat daar ouer broers en susters in ons eie gemeente is wat uitstekende voorbeelde is. Kom ons kyk na die ondervinding van ’n suster met die naam Harriette. Sy het Jehovah jare lank saam met haar tuisgemeente in New Jersey, VSA, gedien. Toe het sy weggetrek om by haar dogter te gaan bly. Die broers in haar nuwe gemeente het die tyd geneem om haar beter te leer ken, en hulle het besef dat hulle ’n ware skat gevind het. Sy het vir hulle aanmoedigende ondervindinge vertel van hoe sy in die 1920’s velddiens gedoen het toe sy nog nuut in die waarheid was. In daardie jare het sy altyd ’n tandeborsel saam met haar geneem wanneer sy velddiens gedoen het – net ingeval sy gearresteer word. In 1933 was sy twee keer ’n week lank in die tronk. Haar man was nie in die waarheid nie, maar hy het haar ondersteun. Toe sy in die tronk was, het hy na hulle drie kinders omgesien. Dit is duidelik dat ons getroue ouer broers en susters soos Harriette baie moet waardeer!

13. Wat het ons geleer oor die plek wat ouer broers en susters in Jehovah se organisasie het?

13 Ons ouer broers en susters speel ’n belangrike rol in Jehovah se organisasie. Hulle het gesien hoe Jehovah sy organisasie geseën het en hoe hy hulle persoonlik op baie maniere geseën het. Hulle het baie belangrike lesse uit hulle foute geleer. Beskou hulle as “’n fontein van wysheid,” en leer uit hulle ondervinding (Spr. 18:4). As jy die tyd neem om hulle beter te leer ken, sal dit jou geloof versterk, en jy sal baie leer!

HOE JY BY OUER BROERS EN SUSTERS KAN LEER

Elisa het baie by Elia geleer. Net so kan jonger broers en susters baie uit die ondervindinge leer van dié wat Jehovah al lank dien (Sien paragraaf 14-15)

14. Wat moedig Deuteronomium 32:7 jonger mense aan om te doen?

14 Gaan praat gerus met ouer broers en susters. (Lees Deuteronomium 32:7.) Hulle kan miskien nie meer so goed sien of so vinnig stap of so hard praat nie, maar hulle is jonk van gees, en hulle het “’n goeie naam” by Jehovah gemaak (Pred. 7:1). Onthou hoekom Jehovah hulle as baie kosbaar beskou. Hou aan om eer aan hulle te bewys. Wees soos Elisa. Op die laaste dag wat hy saam met Elia gespandeer het, het hy geweier om Elia te verlaat. Hy het drie keer vir Elia gesê: “Ek sal u nie verlaat nie.” – 2 Kon. 2:2, 4, 6.

15. Watter vrae kan ons ons ouer broers en susters dalk vra?

15 Wys dat jy in ouer broers en susters belangstel deur hulle uit te vra (Spr. 1:5; 20:5; 1 Tim. 5:1, 2). Vra vrae soos: “Toe jy jonger was, wat het jou oortuig dat jy die waarheid gevind het?” “Hoe het jou ondervindinge jou gehelp om nader aan Jehovah te kom?” “Wat het jou gehelp om gelukkig in Jehovah se diens te bly?” (1 Tim. 6:6-8). Luister dan mooi terwyl hulle hulle storie vertel.

16. Hoe kan dit ouer en jonger persone help as hulle met mekaar praat?

16 Ouer en jonger persone kan mekaar baie aanmoedig wanneer hulle met mekaar praat (Rom. 1:12). Jonger persone, julle sal groter waardering opbou vir hoe Jehovah vir sy getroue knegte sorg, en ons ouer broers en susters sal voel dat hulle geliefd is. Hulle sal dit geniet om vir jou te vertel van al die seëninge wat hulle van Jehovah ontvang het.

17. Hoekom kan ons sê dat ons getroue ouer broers en susters al hoe mooier raak hoe ouer hulle word?

17 ’n Mens word nie gewoonlik mooier wanneer jy ouer word nie, maar dié wat lojaal is aan Jehovah, word vir hom al hoe mooier hoe ouer hulle word (1 Tess. 1:2, 3). Hoekom kan ons dit sê? Want oor die jare het hulle toegelaat dat God se gees hulle vorm en dat dit hulle help om pragtige eienskappe te ontwikkel. Hoe meer ons ons ouer broers en susters leer ken en by hulle leer, hoe meer sal ons hulle waardeer, en ons sal hulle as kosbare skatte beskou!

18. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 Die gemeente word sterker, nie net wanneer jonger mense ouer mense waardeer nie, maar ook wanneer ouer mense jonger mense waardeer. In die volgende artikel sal ons bespreek hoe ouer persone kan wys dat hulle jonger persone in die gemeente waardeer.

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

^ par. 5 Ons getroue ouer broers en susters is soos baie waardevolle skatte. Hierdie artikel sal ons help om hulle nog meer te waardeer, en ons sal ook bespreek hoe ons by hulle wysheid en ondervinding kan baat vind. Dit sal ons ouer broers en susters ook verseker dat hulle ’n belangrike plek in God se organisasie het.