Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 39

Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat

Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat

“Hoe dikwels het hulle . . . sy gevoelens . . . seergemaak.” – PS. 78:40.

LIED 102 ‘Staan die swakkes by’

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Hoe voel party wanneer iemand vir wie hulle lief is, uitgesit word?

IS IEMAND vir wie jy lief is al uit die gemeente gesit? Dit kan hartverskeurend wees! “Ek en my man was 41 jaar lank getroud toe hy getrou aan Jehovah gesterf het”, sê ’n suster met die naam Hilda. * “Ek het gedink dat dit die ergste ding is wat met enige iemand kan gebeur. Maar toe my seun die gemeente, sy vrou en sy kinders verlaat, was dit vir my baie, baie erger.”

Jehovah weet hoe moeilik dit kan wees wanneer iemand vir wie ons lief is, die waarheid verlaat (Sien paragraaf 2-3) *

2-3. Volgens Psalm 78:40, 41, hoe voel Jehovah wanneer sy knegte hom verlaat?

2 Dink aan hoe dit Jehovah se hart moes gebreek het toe party van die engele, wat deel van sy familie was, hulle rug op hom gedraai het! (Jud. 6). En dink net hoe dit Jehovah seergemaak het toe sy geliefde volk, die Israeliete, keer op keer teen hom gerebelleer het. (Lees Psalm 78:40, 41.) Ons kan ook seker wees dat dit ons liefdevolle hemelse Vader seermaak wanneer iemand vir wie ons lief is, hom verlaat. Hy voel jou pyn. Hy sal jou die aanmoediging en ondersteuning gee wat jy nodig het.

3 In hierdie artikel sal ons bespreek wat ons kan doen om Jehovah se hulp te ontvang wanneer iemand vir wie ons lief is, die waarheid verlaat. Ons gaan ook kyk na hoe ons ander in die gemeente kan help wat in so ’n situasie is. Maar eers gaan ons iets bespreek wat ons nie moet doen nie.

MOENIE JOUSELF BLAMEER NIE

4. Hoe voel baie ouers wanneer hulle seun of dogter Jehovah verlaat?

4 Wanneer ’n geliefde seun of dogter Jehovah verlaat, wonder ouers baie keer wat hulle nog kon gedoen het om hulle kind te help om in die waarheid te bly. Kyk na die ondervinding van ’n broer met die naam Luke. Nadat sy seun uitgesit was, het hy gesê: “Ek het myself geblameer. Ek het nagmerries daaroor gekry. Soms sou ek huil, en my hart was baie seer.” ’n Suster met die naam Elizabeth, wat in dieselfde situasie was, het gewonder: “Wat het ek as ’n ma verkeerd gedoen? Ek het gevoel dat ek nie genoeg gedoen het om my seun te help om vir Jehovah lief te wees nie.”

5. Wie se skuld is dit wanneer iemand Jehovah verlaat?

5 Ons moet in gedagte hou dat Jehovah vir elkeen van ons vrye wil gegee het. Dit beteken dat ons kan kies of ons aan Jehovah gehoorsaam wil wees of nie. Party jongmense wie se ouers nie vir hulle ’n goeie voorbeeld gestel het nie, het gekies om Jehovah te dien, en hulle maak ’n sukses van hulle diens aan hom. Ander wie se ouers hulle bes gedoen het om hulle volgens Bybelbeginsels groot te maak, het die waarheid verlaat toe hulle ouer geword het. Op die einde van die dag moet ons self besluit of ons Jehovah wil dien of nie (Jos. 24:15). So ouers, as julle in so ’n situasie is, moenie julleself blameer vir wat gebeur het nie!

6. Hoe voel ’n jong persoon dalk as een van sy ouers Jehovah verlaat?

6 Soms verlaat ’n ouer die waarheid, en selfs hulle familie (Ps. 27:10). Dit kan verskriklik hartseer wees vir kinders wat na hulle ouer opgekyk het. Esther, wie se pa uitgesit was, het gesê: “Ek het baie keer gehuil omdat ek besef het dat hy nie net van die waarheid af wegdryf nie. Hy het doelbewus gekies om Jehovah heeltemal te verlaat. Ek is lief vir my pa, so toe hy uitgesit was, was ek die heeltyd bekommerd oor hom. Ek het selfs paniekaanvalle gekry.”

7. Hoe voel Jehovah oor ’n jong persoon wie se ouer uitgesit is?

7 As een van jou ouers uitgesit is, voel ons jou pyn saam met jou! En wees verseker dat Jehovah ten volle bewus is van jou pyn. Jehovah en ons almal is lief vir jou, en ons waardeer jou lojaliteit. En onthou dat jy nie verantwoordelik is vir jou ouers se besluite nie. Soos ons vroeër genoem het, het Jehovah vir ons almal vrye wil gegee. En elke toegewyde en gedoopte persoon moet “sy eie vrag van verantwoordelikheid dra”. – Gal. 6:5, vtn.

8. Wat kan jy doen as een van jou familielede uitgesit is? (Sien ook die venster “ Keer terug na Jehovah”.)

8 As iemand vir wie jy lief is, Jehovah verlaat, sal jy natuurlik vasklou aan die hoop dat hy eendag na Jehovah toe sal terugkeer. Maar wat kan jy in die tussentyd doen? Maak seker dat jy geestelik sterk bly. As jy dit doen, sal jy ’n goeie voorbeeld stel vir ander familielede, en moontlik selfs vir die een wat uitgesit is. En jy sal ook die krag kry wat jy nodig het om die pyn te hanteer. Kom ons bespreek ’n paar praktiese dinge wat jy kan doen.

WAT JY KAN DOEN OM GEESTELIK STERK TE BLY

9. Wat kan jy doen om jou geloof sterk te hou? (Sien ook die venster “ Tekste wat jou kan vertroos as ’n geliefde Jehovah verlaat het”.)

9 Bly by ’n goeie geestelike roetine. Dit is baie belangrik om jouself en ander familielede geestelik op te bou. Hoe kan jy dit doen? Kry krag van Jehovah deur gereeld God se Woord te lees, daaroor na te dink en deur vergaderinge by te woon. Joanna, wie se pa en suster die waarheid verlaat het, sê: “Ek voel ’n kalmte wat oor my kom wanneer ek oor Bybelkarakters lees soos Abigail, Ester, Job, Josef en Jesus. Hulle voorbeelde moedig my aan, help my om meer positief te wees en verlig my pyn. En ons Broadcasting-liedjies is ook vir my baie aanmoedigend.”

10. Watter raad gee Psalm 32:6-8 wat ons kan help met ons emosies?

10 Sê vir Jehovah van alles wat jy op die hart het. Wanneer jy hartseer voel, moet jy nie ophou bid nie. Smeek ons liefdevolle God om jou te help om dinge te sien soos hy dit sien, en vra dat hy vir jou “insig gee en jou die weg wys wat jy moet volg”. (Lees Psalm 32:6-8.) Dit kan natuurlik baie pynlik wees om vir Jehovah te sê hoe jy regtig voel. Maar Jehovah verstaan heeltemal hoe jy voel. Hy is baie lief vir jou, en hy moedig jou aan om jou hart voor hom uit te stort. – Eks. 34:6; Ps. 62:7, 8.

11. Volgens Hebreërs 12:11, hoekom moet ons Jehovah se liefdevolle dissipline vertrou? (Sien ook die venster “ Die uitsettingsreëling – Jehovah se liefdevolle dissipline in aksie”.)

11 Ondersteun die besluit. Jehovah het die uitsettingsreëling ingestel. Sy liefdevolle dissipline is in die beste belange van almal, insluitende die een wat uitgesit is. (Lees Hebreërs 12:11.) Party mense in die gemeente sal miskien sê dat die ouermanne nie die regte besluit geneem het om die persoon uit te sit nie. Maar onthou dat sulke persone nie gewoonlik enige iets wil sê wat die persoon wat uitgesit is, in ’n slegte lig sal stel nie. Ons het eenvoudig net nie al die feite nie. Daarom sal dit wys wees om te vertrou dat die ouermanne die regte besluit geneem het en dat hulle hulle bes gedoen het om Bybelbeginsels te volg en om “vir Jehovah” as regters op te tree. – 2 Kron. 19:6.

12. Watter seëninge het party al ondervind omdat hulle die uitsettingsreëling ondersteun het?

12 As jy die ouermanne se besluit om jou geliefde uit te sit, aanvaar, kan jy hom eintlik help om na Jehovah toe terug te keer. Elizabeth, wat vroeër aangehaal is, sê: “Dit was vir ons verskriklik moeilik om op te hou om met ons seun te assosieer. Maar nadat hy na Jehovah toe teruggekeer het, het hy erken dat hy dit verdien het om uitgesit te word. Later het hy gesê dat hy die lesse wat hy geleer het, waardeer. Ek het geleer dat Jehovah se dissipline altyd reg is.” Haar man, Mark, sê: “’n Hele ruk later het ons seun vir my gesê dat een van die redes hoekom hy wou terugkom, is omdat ons presies gedoen het wat ons moes gedoen het. Ek is so bly dat Jehovah ons gehelp het om gehoorsaam te wees.”

13. Wat kan ons help om die pyn te hanteer?

13 Praat met vriende wat verstaan hoe jy voel. En assosieer met volwasse Christene wat jou kan help om positief te wees (Spr. 12:25; 17:17). Joanna, wat vroeër genoem is, sê: “In my hart het ek alleen gevoel. Maar dit het my baie gehelp om met vriende te praat wat ek vertrou.” Maar wat kan jy doen as broers en susters in die gemeente dinge sê wat jou erger laat voel?

14. Hoekom moet ons ‘mekaar verdra en vryelik vergewe’?

14 Wees geduldig met jou broers en susters. Ons kan nie verwag dat almal altyd die regte ding sal sê nie (Jak. 3:2). Ons is almal onvolmaak, so moenie verbaas wees as party nie weet wat om te sê of as party miskien per ongeluk dinge sê wat jou seermaak nie. Hou die apostel Paulus se raad in gedagte: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe, selfs al het iemand ’n rede om oor iemand anders te kla” (Kol. 3:13). Een suster, wie se familielid uitgesit was, sê: “Jehovah het my gehelp om broers te vergewe wat my seergemaak het, al het hulle bedoel om my aan te moedig.” Hoe kan die gemeente broers en susters help wat ’n familielid het wat uitgesit is?

DIE GEMEENTE KAN HELP

15. Wat kan broers en susters help as een van hulle familielede onlangs uitgesit is?

15 Wys dat jy lief is vir broers en susters wat ’n familielid het wat uitgesit is. ’n Suster met die naam Miriam sê dat sy angstig was om vergaderinge toe te gaan nadat haar broer uitgesit was. Sy sê: “Ek was bang vir wat mense sou sê. Maar daar was baie broers en susters wat ook baie hartseer was oor wat gebeur het en wat nie sleg gepraat het van my broer nie. As gevolg van hulle het ek nie alleen gevoel nie.” ’n Ander suster sê: “Nadat ons seun uitgesit is, het vriende ons kom vertroos. Party het erken dat hulle nie geweet het wat om te sê nie. Hulle het saam met my gehuil of vir my ’n briefie geskryf. Wat hulle gedoen het, het my verskriklik baie gehelp!”

16. Hoe kan die gemeente aanhou om dié te ondersteun wat ’n familielid het wat uitgesit is?

16 Hou aan om dié te ondersteun wat ’n familielid het wat uitgesit is. Hulle het jou liefde en aanmoediging nou meer as ooit tevore nodig (Heb. 10:24, 25). Soms het broers en susters wat in so ’n situasie is, gevoel dat hulle deur die gemeente uitgesluit word. Moenie toelaat dat dit gebeur nie! Veral jongmense wie se ouers die waarheid verlaat het, het aanmoediging nodig en moet geprys word. Maria, wie se man uitgesit is en die familie verlaat het, sê: “Party van my vriende het na ons huis toe gekom en kos gekook en ons gehelp met ons gesinstudie. Hulle het verstaan hoe ek voel en het saam met my gehuil. Hulle het vir my opgekom toe mense dinge oor my gesê het wat nie waar was nie. Hulle het my baie beter laat voel!” – Rom. 12:13, 15.   

Die gemeente kan liefdevolle ondersteuning gee aan dié wat ’n familielid het wat uitgesit is (Sien paragraaf 17) *

17. Hoe kan ouermanne dié vertroos en ondersteun wat ’n familielid het wat uitgesit is?

17 Ouermanne, maak gebruik van elke geleentheid om almal aan te moedig wat ’n familielid het wat uitgesit is. Julle het ’n spesiale verantwoordelikheid om sulke broers en susters te vertroos (1 Tess. 5:14). Probeer om hulle voor en ná die vergaderinge aan te moedig. Gaan kuier by hulle, en bid saam met hulle. Doen velddiens saam met hulle of nooi hulle van tyd tot tyd om gesinsaanbidding saam met julle te doen. Geestelike herders moet sulke broers en susters met meegevoel behandel en vir hulle die liefde en aandag gee wat hulle nodig het. – 1 Tess. 2:7, 8.

MOENIE HOOP OPGEE NIE EN HOU AAN OM OP JEHOVAH TE VERTROU

18. Volgens 2 Petrus 3:9, wat wil God hê moet almal doen wat hom verlaat het?

18 Jehovah “wil [nie] hê dat enige iemand vernietig moet word nie, maar [hy] wil hê dat almal berou moet toon”. (Lees 2 Petrus 3:9.) Al het iemand ’n ernstige sonde gepleeg, is sy lewe nog steeds kosbaar vir God. Dink aan die hoë prys wat Jehovah betaal het om die lewens van sondaars te red – die losprysoffer van sy eie geliefde Seun. Uit liefde reik Jehovah uit na sulke persone, en hy probeer om hulle te help om na hom terug te keer. Hy hoop dat hulle dit sal doen, soos ons kan sien in Jesus se illustrasie van die verlore seun (Luk. 15:11-32). Baie wat die waarheid verlaat het, het toe later na hulle liefdevolle hemelse Vader teruggekeer. En die gemeente het hulle met ope arms verwelkom. Elizabeth, wat vroeër aangehaal is, was in die wolke toe haar seun herstel is. Sy sê: “Ek waardeer die broers en susters so baie wat ons aangemoedig het om nie hoop op te gee nie.”

19. Hoekom kan ons altyd op Jehovah vertrou?

19 Ons kan altyd op Jehovah vertrou. Hy sal nooit vir ons slegte raad gee nie. Hy is ’n vrygewige Vader wat baie meegevoel het en wat baie lief is vir almal wat hom liefhet en aanbid. Wees verseker dat Jehovah jou nooit sal verlaat wanneer dinge moeilik raak nie (Heb. 13:5, 6). Mark, wat vroeër genoem is, sê: “Jehovah het ons nooit in die steek gelaat nie. Hy is nooit ver van ons af wanneer ons deur moeilike tye gaan nie.” Jehovah sal aanhou om jou “die krag wat bo die normale is” te gee (2 Kor. 4:7). Ja, jy kan getrou en vol hoop bly, selfs wanneer iemand vir wie jy lief is, Jehovah verlaat.

LIED 44 Gebed van die bedrukte

^ par. 5 Dit is verskriklik hartseer wanneer iemand vir wie ons lief is, Jehovah verlaat. In hierdie artikel gaan ons bespreek hoe ons God voel wanneer dit gebeur. Ons gaan ook kyk na praktiese dinge wat familielede kan doen om die pyn te hanteer en om geestelik sterk te bly. Ons sal ook bespreek hoe almal in die gemeente die familie kan vertroos en kan ondersteun.

^ par. 1 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 79 BESKRYWING VAN PRENT: Wanneer ’n broer sy familie en Jehovah verlaat, is dit vir sy vrou en kinders baie moeilik.

^ par. 81 BESKRYWING VAN PRENT: Twee ouermanne moedig ’n familie in die gemeente aan.