Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 39

Is jou naam in “die boek van die lewe”?

Is jou naam in “die boek van die lewe”?

“’n Gedenkboek is voor hom geskryf vir dié wat Jehovah vrees.” – MAL. 3:16.

LIED 61 Voorwaarts, Getuies!

IN HIERDIE ARTIKEL *

Regdeur die geskiedenis het Jehovah name in “die boek van die lewe” geskryf (Sien paragraaf 1-2)

1. Watter boek skryf Jehovah, en wat bevat dit volgens Maleagi 3:16?

 JEHOVAH skryf al duisende jare lank ’n spesiale boek. Hierdie boek bevat ’n lys name en begin met die naam van die eerste getroue getuie, Abel (Luk. 11:50, 51). * Van toe af het Jehovah nog name bygevoeg, en vandag bevat dit miljoene name. In die Bybel word daardie boek “’n gedenkboek”, “die boek van die lewe” en “die boekrol van die lewe” genoem. In hierdie artikel sal ons daarna verwys as “die boek van die lewe”. – Lees Maleagi 3:16; Op. 3:5; 17:8.

2. Wie se name is in die boek van die lewe geskryf, en wat kan ons doen sodat ons name in daardie boek geskryf sal word?

2 Hierdie spesiale boek bevat die name van almal wat Jehovah met vrees of met diep respek aanbid en wat sy naam liefhet. Hulle sal die geleentheid hê om die ewige lewe te kry. Vandag kan ons name in daardie boek geskryf word as ons ’n sterk persoonlike verhouding met Jehovah ontwikkel wat op sy Seun, Jesus Christus, se losprysoffer gebaseer is (Joh. 3:16, 36). Ons almal wil hê dat ons name in daardie boek geskryf moet word – of ons nou die hemelse of die aardse hoop het.

3-4. (a) Sal ons vir ewig lewe as ons name nou in die boek van die lewe is? Verduidelik. (b) Wat sal ons in hierdie artikel en in die volgende een bespreek?

3 Beteken dit dat almal wie se name in hierdie boek is, beslis die ewige lewe gaan kry? Ons kry die antwoord op daardie vraag in Jehovah se woorde aan Moses in Eksodus 32:33. Jehovah het gesê: “Slegs die persoon wat teen my gesondig het, sal ek uit my boek uitwis.” So die name wat nou in daardie boek is, kan uitgewis, of uitgevee, word asof Jehovah van die name eers in potlood geskryf het (Op. 3:5). Ons moet seker maak dat ons name in daardie boek bly totdat dit permanent, so te sê in ink, geskryf word.

4 Dit laat natuurlik ’n paar vrae ontstaan. Byvoorbeeld, wat sê die Bybel omtrent dié wie se name in die boek van die lewe geskryf is, sowel as oor dié wie se name nie daarin is nie? Wanneer sal dié wie se name in daardie boek bly, die ewige lewe kry? Wat van dié wat gesterf het sonder ’n geleentheid om Jehovah te ken? Is dit moontlik dat hulle name in daardie boek geskryf kan word? Hierdie vrae sal in hierdie artikel en in die volgende een beantwoord word.

WIE SE NAME IS IN DIE BOEK?

5-6. (a) Wie se name is in die boek van die lewe geskryf, volgens Filippense 4:3? (b) Wanneer sal hulle name permanent in die boek van die lewe geskryf word?

5 Wie se name is in hierdie figuurlike boek geskryf? Om daardie vraag te beantwoord, gaan ons vyf verskillende groepe mense bespreek. Party se name is in die boek van die lewe geskryf, ander s’n nie.

6 Die eerste groep bestaan uit dié wat gekies is om saam met Jesus in die hemel te regeer. Is hulle name nou in die boek van die lewe? Ja. Volgens die apostel Paulus se woorde aan sy “medewerkers” in Filippi is die name van die gesalfdes wat genooi is om saam met Jesus te regeer, nou in die boek van die lewe. (Lees Filippense 4:3.) Maar om hulle name in daardie figuurlike boek te hou, moet hulle getrou bly. Nadat hulle finaal verseël word, of dit nou is voordat hulle sterf of voordat die groot verdrukking begin, sal hulle name permanent in hierdie boek geskryf word. – Op. 7:3.

7. Wanneer sal die groot menigte ander skape se name permanent in die boek van die lewe geskryf word, volgens Openbaring 7:16, 17?

7 Die tweede groep bestaan uit die groot menigte ander skape. Is hulle name nou in die boek van die lewe? Ja. Sal hulle name nog steeds in die boek van die lewe wees nadat hulle Armageddon oorleef het? Ja (Op. 7:14). Jesus het gesê dat hierdie skaapgeaardes die “ewige lewe [sal] ontvang” (Matt. 25:46). Maar dié wat Armageddon oorleef, sal nie onmiddellik die ewige lewe ontvang nie. Hulle name sal so te sê in potlood in die boek van die lewe bly. Gedurende die duisend jaar sal Jesus “hulle herder wees en . . . hulle na fonteine van waters van die lewe lei”. Dié wat Christus se leiding volg en wat uiteindelik as getrou aan Jehovah geoordeel word, se name sal permanent in die boek van die lewe geskryf word. – Lees Openbaring 7:16, 17.

8. Wie se name is nie in die boek van die lewe nie, en wat sal met hulle gebeur?

8 Die derde groep bestaan uit die bokke wat by Armageddon vernietig sal word. Hulle name is nie in die boek van die lewe nie. Jesus sê dat hulle “vir ewig afgesny [sal] word” (Matt. 25:46). Onder inspirasie sê Paulus: “Hierdie selfde mense sal as regterlike straf vir ewig vernietig word” (2 Tess. 1:9; 2 Pet. 2:9). Dieselfde kan gesê word van dié wat oor die jare opsetlik teen die heilige gees gesondig het. Hulle sal ook vir ewig vernietig word en nie die ewige lewe ontvang nie. Dit is duidelik dat hulle nie opgewek sal word nie (Matt. 12:32; Mark. 3:28, 29; Heb. 6:4-6). Kom ons kyk nou na twee groepe mense wat op die aarde opgewek sal word.

DIÉ WAT OPGEWEK SAL WORD

9. Volgens Handelinge 24:15, watter twee groepe mense sal op die aarde opgewek word, en wat is die verskil tussen hierdie twee groepe?

9 Die Bybel praat van twee groepe mense wat opgewek sal word met die moontlikheid om vir ewig op die aarde te lewe, “die regverdiges” en “die onregverdiges”. (Lees Handelinge 24:15.) “Die regverdiges” is dié wat Jehovah getrou gedien het terwyl hulle gelewe het. Maar “die onregverdiges” het Jehovah nie getrou gedien nie. Om die waarheid te sê, in die meeste gevalle was hulle gedrag ver van regverdig af. Omdat albei groepe opgewek word, kan ons sê dat hulle name in die boek van die lewe geskryf is? Om daardie vraag te beantwoord, kom ons bespreek elke groep apart.

10. Hoekom sal “die regverdiges” opgewek word, en watter voorreg sal party van hulle geniet? (Sien ook “Vrae van lesers” in hierdie tydskrif omtrent die opstanding op die aarde.)

10 “Die regverdiges” is die vierde groep. Voordat hulle gesterf het, was hulle name in die boek van die lewe geskryf. Was hulle name uit daardie boek uitgevee toe hulle gesterf het? Nee, want hulle “lewe” nog steeds in Jehovah se geheue. Jehovah “is nie ’n God van die dooies nie, maar van die lewendes, want vir hom lewe hulle almal” (Luk. 20:38). So wanneer die regverdiges op die aarde opgewek word, sal hulle name in die boek van die lewe wees, al is dit aan die begin “in potlood” (Luk. 14:14). Party van dié wat opgewek word, sal die voorreg ontvang om as “hoofde regoor die aarde” te dien. – Ps. 45:16.

11. Wat sal “die onregverdiges” moet leer voordat hulle name in die boek van die lewe geskryf kan word?

11 Kom ons bespreek laastens die vyfde groep, “die onregverdiges”. Dalk het hulle Jehovah nie geken nie, en daarom het hulle nie regverdige lewens gelei voordat hulle gesterf het nie. So hulle name was nie in die boek van die lewe geskryf nie. Maar God sal hulle opwek sodat hulle die geleentheid kan hê om hulle name in daardie boek te laat skryf. Hierdie “onregverdiges” sal baie hulp nodig hê. Voordat hulle gesterf het, het party van hulle walglike dinge gedoen. Daarom sal hulle geleer moet word hoe om volgens Jehovah se regverdige standaarde te lewe. Om hulle te leer hoe om dit te doen, sal God se Koninkryk toesig hou oor die grootste onderrigtingswerk wat al ooit op die aarde gedoen is.

12. (a) Wie sal die onregverdiges leer? (b) Wat sal met dié gebeur wat weier om toe te pas wat hulle geleer het?

12 Wie sal die onregverdiges leer? Die groot menigte en die regverdiges wat opgewek is. As die onregverdiges wil hê dat hulle name in die boek van die lewe geskryf moet word, moet hulle ’n verhouding met Jehovah ontwikkel en hulle aan hom toewy. Jesus Christus en die gesalfdes sal baie belangstel in die vordering van hierdie onregverdiges (Op. 20:4). Enige iemand wat weier om sulke hulp te aanvaar, sal verwyder word – selfs al is hulle dalk 100 jaar oud (Jes. 65:20). Jehovah en Jesus kan harte lees, en hulle sal seker maak dat niemand enige probleme in die nuwe wêreld veroorsaak nie. – Jes. 11:9; 60:18; 65:25; Joh. 2:25.

’N OPSTANDING TOT LEWE EN ’N OPSTANDING TOT OORDEEL

13-14. (a) Hoe het ons in die verlede Jesus se woorde in Johannes 5:29 verstaan? (b) Wat moet ons in gedagte hou omtrent daardie woorde?

13 Jesus het ook gepraat van dié wat hier op die aarde opgewek sou word. Byvoorbeeld, hy het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het, tot ’n opstanding van die lewe, en dié wat walglike dinge gedoen het, tot ’n opstanding van oordeel” (Joh. 5:28, 29). Wat het Jesus bedoel?

14 In die verlede het ons gedink dat Jesus se woorde verwys na die dinge wat dié wat opgewek is, hulle opstanding gaan doen; dit wil sê, party gaan opgewek word en goeie dinge doen en ander gaan opgewek word en walglike dinge doen. Maar let op dat Jesus nie sê dat dié wat uit die gedenkgrafte uitkom, goeie dinge of slegte dinge sal doen nie. Hy gebruik die verlede tyd. Hy praat van “dié wat goeie dinge gedoen het” en “dié wat walglike dinge gedoen het”. Dit wys dat hulle hierdie dinge gedoen het voordat hulle gesterf het. Dit maak sin, want niemand sal toegelaat word om walglike dinge in die nuwe wêreld te doen nie. Die onregverdiges moes hierdie walglike dinge gedoen het voordat hulle gesterf het. Hoe moet ons dan Jesus se woorde oor “’n opstanding van die lewe” en “’n opstanding van oordeel” verstaan?

15. Wie sal “’n opstanding van die lewe” ontvang, en hoekom?

15 Die regverdiges wat goeie dinge gedoen het voordat hulle gesterf het, sal “’n opstanding van die lewe” ontvang omdat hulle name al klaar in die boek van die lewe sal wees. Dit beteken dat die opstanding van “dié wat goeie dinge gedoen het” wat in Johannes 5:29 beskryf word, dieselfde is as die opstanding van “die regverdiges” wat in Handelinge 24:15 genoem word. Hierdie verduideliking stem ooreen met die woorde in Romeine 6:7 wat sê: “Hy wat gesterf het, is vrygespreek van sy sonde.” So toe hierdie regverdiges gesterf het, het Jehovah hulle sondes vergewe, maar hy sal al die getroue dinge wat hulle gedoen het toe hulle gelewe het, onthou (Heb. 6:10). Hierdie regverdiges wat opgewek is, sal natuurlik getrou moet bly as hulle wil hê dat hulle name in die boek van die lewe moet bly.

16. Waarna verwys “’n opstanding van oordeel”?

16 Wat van dié wat walglike dinge gedoen het voordat hulle gesterf het? Alhoewel Jehovah hulle sondes vergewe het toe hulle gesterf het, het hulle nie ’n rekord van getrouheid opgebou nie. Hulle name is nie in die boek van die lewe geskryf nie. So die opstanding van “dié wat walglike dinge gedoen het,” is dieselfde as die opstanding van “die onregverdiges” wat in Handelinge 24:15 genoem word. Hulle opstanding sal “’n opstanding van oordeel” wees. * Die onregverdiges sal geoordeel word in die sin dat hulle geëvalueer sal word (Luk. 22:30). Dit sal tyd neem om vas te stel of hulle waardig is om hulle name in die boek van die lewe te hê. Slegs as hierdie onregverdiges ophou om die dinge te doen wat hulle in die verlede gedoen het en hulle aan Jehovah toewy, sal Jehovah hulle name in die boek van die lewe skryf.

17-18. Wat sal almal wat tot lewe op die aarde opgewek word, moet doen, en wat is die “dade” waarvan Openbaring 20:12, 13 praat?

17 Of dié wat opgewek word nou regverdig of onregverdig was, hulle sal gehoorsaam moet wees aan die wette in die nuwe boekrolle, wat gedurende die duisend jaar oopgemaak sal word. Die apostel Johannes beskryf wat hy in ’n visioen gesien het: “Ek het die dooies, groot en klein, voor die troon sien staan, en boekrolle is oopgemaak. Maar ’n ander boekrol is oopgemaak. Dit is die boekrol van die lewe. Die dooies is geoordeel volgens wat in die boekrolle geskryf is, volgens hulle dade.” – Op. 20:12, 13.

18 Volgens watter “dade” sal dié wat opgewek word, geoordeel word? Sal dit volgens die dade wees wat hulle gedoen het voordat hulle gesterf het? Nee! Onthou toe hulle gesterf het, is hulle vrygespreek van hulle vorige sondes. So “hulle dade” kan nie verwys na dade uit hulle vorige lewe nie. Dit moet eerder verwys na hoe hulle reageer op hulle opleiding in die nuwe wêreld. Selfs getroue manne soos Noag, Samuel, Dawid en Daniël sal moet leer oor Jesus Christus en geloof in sy offerande moet beoefen. Die onregverdiges sal natuurlik baie meer hê om te leer!

19. Wat sal met dié gebeur wat hierdie wonderlike geleentheid verwerp?

19 Wat sal met dié gebeur wat hierdie wonderlike geleentheid verwerp? Openbaring 20:15 sê vir ons: “As iemand se naam nie in die boek van die lewe geskryf is nie, is hy in die poel van vuur gegooi.” Ja, hulle sal vir ewig vernietig word. Hoe belangrik is dit dan om seker te maak dat ons name in die boek van die lewe geskryf is en dat dit daar bly!

’n Broer neem deel aan die groot onderrigtingswerk wat gedurende die duisend jaar gedoen sal word (Sien paragraaf 20)

20. Watter opwindende werk sal gedurende die duisend jaar gedoen word? (Sien prent op voorblad.)

20 Wat ’n opwindende tyd sal die duisend jaar tog nie wees nie! Dit sal die grootste onderrigtingswerk insluit wat al ooit hier op die aarde gedoen is. Maar dit sal ook ’n tyd wees wanneer die gedrag van die regverdiges en die onregverdiges geëvalueer sal word (Jes. 26:9; Hand. 17:31). Hoe sal hierdie onderrigtingswerk gedoen word? Ons volgende artikel sal ons help om hierdie wonderlike voorsiening te verstaan en te waardeer.

LIED 147 Die belofte van ewige lewe

^ Hierdie artikel verduidelik ’n verandering in hoe ons Jesus se woorde in Johannes 5:28, 29 verstaan in verband met “’n opstanding van die lewe” en “’n opstanding van oordeel”. Ons sal leer waarna hierdie twee opstandings verwys, en wie in elke opstanding ingesluit is.

^ Jehovah het hierdie boek begin skryf aan “die begin van die mensdom”, dit wil sê die mense wat die geleentheid het om van sonde bevry te word (Matt. 25:34; Op. 17:8). So regverdige Abel is blykbaar die eerste een wie se naam in die boek van die lewe geskryf is.

^ Voorheen het ons verduidelik dat die woord “oordeel” wat hier gebruik word, na ’n negatiewe oordeel verwys. Die woord “oordeel” kan eintlik daardie betekenis hê. Maar in hierdie konteks lyk dit asof Jesus die woord “oordeel” in ’n algemener sin gebruik en verwys na wanneer iemand geëvalueer word en deur ’n proeftydperk gaan, of soos een Griekse Bybelwoordeboek sê, om “iemand se gedrag fyn dop te hou”.