Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 38

Jongmense – Hoe sal julle lewe uitdraai?

Jongmense – Hoe sal julle lewe uitdraai?

“Insig [sal] jou beskerm.” – SPR. 2:11.

LIED 135 God se liefdevolle versoek: “Wees wys, my seun”

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. In watter moeilike situasie was Joas, Ussia en Josia?

 VERBEEL jou jy word ’n koning van God se volk terwyl jy nog net ’n kind of ’n tiener is! Hoe sou jy jou mag en gesag gebruik? Die Bybel vertel ons van ’n hele paar jongmense wat konings van Juda geword het. Byvoorbeeld, Joas was net 7 jaar oud, Ussia was 16 en Josia was 8. Dit moes seker baie moeilik gewees het! Maar al was hulle situasie moeilik, het hulle almal die nodige hulp gehad om uitdagings te oorkom en om produktiewe lewens te lei.

2. Hoekom is dit goed om te leer oor Joas, Ussia en Josia?

2 Ons is nie konings of koninginne nie, maar ons kan baie leer by hierdie drie Bybelkarakters. Hulle het goeie besluite gemaak, maar hulle het ook slegte besluite gemaak. Ons sal uit hulle voorbeelde sien hoekom ons goeie vriende moet kies, nederig moet bly en Jehovah moet bly dien.

KIES GOEIE VRIENDE

Dit is vandag moontlik om Joas se voorbeeld na te volg deur na goeie vriende te luister (Sien paragraaf 3, 7) c

3. Hoe het koning Joas gereageer op die hoëpriester Jojada se leiding?

3 Volg Joas se wyse besluite na. Toe hy jonk was, het koning Joas ’n wyse besluit gemaak. Hy het nie ’n pa gehad nie en het die leiding van die getroue hoëpriester Jojada gevolg. Daardie priester het Joas onderrig asof hy sy eie seun was. Daarom het Joas wyslik besluit om die leiding in rein aanbidding te neem en Jehovah te dien. Joas het selfs gereël dat Jehovah se tempel herstel word. – 2 Kron. 24:​1, 2, 4, 13, 14.

4. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons lief is vir Jehovah se gebooie en gehoorsaam is daaraan? (Spreuke 2:​1, 10-12)

4 As jy geleer word om Jehovah lief te hê en om volgens sy standaarde te lewe, ontvang jy ’n kosbare geskenk. (Lees Spreuke 2:​1, 10-12.) Ouers kan op baie maniere opleiding gee. Kyk hoe ’n suster met die naam Katya se pa haar gehelp het om goeie besluite te maak. Haar pa het elke dag die dagteks met haar bespreek wanneer hy haar skool toe geneem het. Sy sê: “Daardie besprekings het my gehelp om moeilike situasies te hanteer wat gedurende die dag opgekom het.” Maar sê nou dit lyk asof die raad wat jou ouers jou uit die Bybel gee, jou vryheid beperk? Wat kan jou help om aan hulle gehoorsaam te wees? ’n Suster met die naam Anastasia onthou dat haar ouers die tyd geneem het om te verduidelik hoekom hulle sekere reëls gemaak het. Sy sê: “Dit het my gehelp om te verstaan dat hulle nie hierdie reëls gemaak het om my te beheer nie, maar om my te beskerm omdat hulle lief is vir my.”

5. Hoe sal jou dade jou ouers en Jehovah affekteer? (Spreuke 22:6; 23:​15, 24, 25)

5 Jy sal jou ouers gelukkig maak wanneer jy die raad toepas wat jy uit die Bybel kry. Nog belangriker, jy sal God gelukkig maak en jou vriendskap met hom sal sterker word. (Lees Spreuke 22:6; 23:​15, 24, 25.) Dit is goeie redes om die voorbeeld na te volg wat Joas gestel het toe hy jonk was.

6. Na wie se raad het Joas begin luister, en wat was die gevolg? (2 Kronieke 24:​17, 18)

6 Leer uit Joas se slegte besluite. Nadat Jojada gesterf het, het Joas slegte vriende gekies. (Lees 2 Kronieke 24:​17, 18.) Hy het besluit om te luister na die raad van die leiers van Juda wat nie lief was vir Jehovah nie. Jy stem heel moontlik saam dat Joas daardie slegte mense moes vermy het (Spr. 1:10). Maar hy het na hulle slegte raad geluister. Om die waarheid te sê, toe Joas se neef Sagaria hom probeer help, het Joas hom laat doodmaak (2 Kron. 24:​20, 21; Matt. 23:35). Dit was verskriklik en dwaas! Joas het sy lewe goed begin, maar ongelukkig het hy ’n afvallige en ’n moordenaar geword. Op die ou end het sy eie knegte hom doodgemaak (2 Kron. 24:​22-25). Sy lewe sou so anders uitgedraai het as hy aangehou het om na Jehovah te luister en na dié wat vir Hom lief was! Watter les leer jy uit daardie voorbeeld?

7. Wie moet jy kies as jou vriende? (Sien ook prent.)

7 Een les wat ons kan leer uit Joas se slegte besluit is dat ons vriende moet kies wat ’n goeie invloed op ons sal hê – vriende wat lief is vir Jehovah en wat hom gelukkig wil maak. Ons moenie net vriende wees met dié wat dieselfde ouderdom as ons is nie. Onthou, Joas was baie jonger as sy vriend Jojada. Wanneer dit by jou keuse van vriende kom, vra jouself: ‘Help hulle my om my geloof in Jehovah te versterk? Moedig hulle my aan om volgens God se standaarde te lewe? Praat hulle oor Jehovah en sy kosbare waarhede? Wys hulle dat hulle God se standaarde respekteer? Sê hulle net wat ek dalk wil hoor of het hulle die moed om my reg te help wanneer ek dit nodig het?’ (Spr. 27:​5, 6, 17). Om eerlik te wees, as jou vriende nie lief is vir Jehovah nie, het jy hulle nie nodig nie. Maar as jy vriende het wat lief is vir Jehovah, bly vriende met hulle – hulle sal goed wees vir jou! – Spr. 13:20.

8. Waaraan moet ons dink as ons sosiale media gebruik?

8 Sosiale media kan ’n goeie manier wees om in kontak te bly met familie en vriende. Maar baie mense gebruik hierdie vorm van kommunikasie om ander te beïndruk en plaas foto’s en video’s van wat hulle gekoop of gedoen het. As jy sosiale media gebruik, vra jouself: ‘Wil ek ander beïndruk? Wil ek ander opbou of wil ek myself goed laat lyk? Laat ek toe dat die mense wat sosiale media gebruik my denke, spraak en dade op ’n negatiewe manier beïnvloed?’ Broer Nathan Knorr, wat as ’n lid van die Bestuursliggaam gedien het, het hierdie raad gegee: “Moenie mense probeer tevrede stel nie. Op die ou end sal jy niemand tevrede stel nie. Stel Jehovah tevrede, en jy sal almal tevrede stel wat lief is vir Jehovah.”

ONS MOET NEDERIG BLY

9. Wat het Jehovah Ussia gehelp om te doen? (2 Kronieke 26:​1-5)

9 Volg Ussia se goeie besluite na. Koning Ussia was nederig toe hy jonk was. Hy het geleer “om die ware God te vrees”. En Jehovah het hom vir die meeste van sy 68 jaar geseën. (Lees 2 Kronieke 26:​1-5.) Ussia het baie van die nasie se vyande oorwin en seker gemaak dat Jerusalem goed beskermd was (2 Kron. 26:​6-15). Ussia was beslis gelukkig met alles wat God hom gehelp het om te doen. – Pred. 3:​12, 13.

10. Hoe het dinge uitgedraai vir Ussia?

10 Leer uit Ussia se slegte besluite. Koning Ussia was gewoond daaraan dat ander sy instruksies volg. Het dit hom laat dink dat hy enige iets kon doen wat hy wou doen? Wel, eendag het Ussia besluit om in die tempel van Jehovah in te gaan en probeer om reukwerk op die altaar te brand, iets wat konings nie toegelaat was om te doen nie (2 Kron. 26:​16-18). Die hoëpriester Asarja het hom probeer reghelp, maar Ussia het baie kwaad geword. Ongelukkig het Ussia sy rekord van getroue diens verloor en was hy gestraf met melaatsheid (2 Kron. 26:​19-21). Sy lewe sou baie beter uitgedraai het as hy nederig gebly het!

Ons moenie spog oor die dinge wat ons gedoen het nie; ons moet Jehovah eerder die eer gee vir wat ons kan doen (Sien paragraaf 11) d

11. Wat kan ons help om nederig te bly? (Sien ook prent.)

11 Toe Ussia magtig geword het, het hy vergeet dat Jehovah die Bron van sy krag en voorspoed is. Wat is die les? Dit sal goed wees as ons onsself daaraan herinner dat ons seëninge en voorregte van Jehovah af kom. Ons moenie spog oor die dinge wat ons gedoen het nie; ons moet Jehovah eerder die eer gee vir wat ons kan doen (1 Kor. 4:7). b Ons moet nederig besef dat ons onvolmaak is en dissipline nodig het. ’n Broer in sy 60’s het geskryf: “Ek het geleer om myself nie te ernstig op te neem nie. Wanneer ek dissipline ontvang vir die dom foute wat ek soms maak, probeer ek opstaan en vorentoe bly beweeg.” Die feit is dat ons lewe goed sal uitdraai wanneer ons Jehovah vrees en nederig bly. – Spr. 22:4.

HOU AAN OM JEHOVAH TE DIEN

12. Wat het Josia gedoen toe hy Jehovah begin dien het toe hy jonk was? (2 Kronieke 34:​1-3)

12 Volg Josia se goeie besluite na. Josia was ’n tiener toe hy Jehovah begin dien het. Hy wou Jehovah leer ken en Sy wil doen. Maar die lewe was nie maklik vir hierdie jong koning nie. Hy moes sy standpunt inneem vir rein aanbidding toe die meeste mense valse gode aanbid het. En hy het dit beslis gedoen! Voordat Josia 20 jaar oud was, het hy begin om valse aanbidding uit die nasie te verwyder. – Lees 2 Kronieke 34:​1-3.

13. Wat beteken toewyding aan Jehovah vir jou?

13 Selfs al is jy baie jonk, kan jy besluit om Josia na te volg deur Jehovah te begin dien en meer oor Sy wonderlike eienskappe te leer. Wanneer jy dit doen, sal jy jouself aan hom wil toewy. Watter uitwerking sal daardie toewyding op jou lewe hê? Luke, wat gedoop is toe hy 14 was, sê: “Van nou af sal ek my diens aan Jehovah eerste in my lewe stel en probeer om hom gelukkig te maak” (Mark. 12:30). Jy sal seëninge geniet as jy graag dieselfde wil doen!

14. Gee voorbeelde van hoe party jongmense koning Josia navolg.

14 Watter uitdagings het jy dalk as ’n jong kneg van Jehovah? Johan, wat gedoop is toe hy 12 was, sê dat sy klasmaats druk op hom geplaas het om elektroniese sigarette te gebruik – vaping. Om hom te help om daardie druk te weerstaan, herinner Johan homself daaraan dat vaping ’n negatiewe uitwerking op sy gesondheid en sy vriendskap met Jehovah kan hê. Rachel, wat gedoop is toe sy 14 was, verduidelik wat haar help om die uitdagings wat sy by die skool het, te hanteer. Sy sê: “Ek probeer na dinge soek wat my aan die Bybel en Jehovah herinner. Byvoorbeeld, ’n geskiedenisles herinner my dalk aan ’n Bybelverslag of ’n profesie. Of ’n gesprek herinner my dalk aan ’n teks wat ek met iemand kan deel.” Die uitdagings wat jy het, verskil dalk van dié wat koning Josia gehad het, maar jy kan wys en lojaal wees, net soos hy was. Die probleme wat jy deurmaak as ’n jongmens sal jou voorberei om ander uitdagings in die toekoms te hanteer.

15. Wat het Josia gehelp om Jehovah getrou te dien? (2 Kronieke 34:​14, 18-21)

15 As ’n volwassene het koning Josia begin om die tempel te laat herstel. Gedurende daardie projek is “die boek van Jehovah se Wet gevind wat deur middel van Moses gegee is”. Toe die koning hoor wat dit sê, het hy onmiddellik veranderinge gemaak om gehoorsaam te wees aan wat daarin geskryf is. (Lees 2 Kronieke 34:​14, 18-21.) Wil jy graag die Bybel gereeld lees? As jy probeer om dit te doen, hoe vorder jy? Hou jy ’n rekord van verse wat jou persoonlik kan help? Luke, wat vroeër genoem is, skryf interessante punte wat hy vind in ’n boek neer. Sal so iets jou help om verse of punte waarvan jy hou, te onthou? Hoe meer jy die Bybel leer ken en liefkry, hoe meer sal jy Jehovah wil dien. En soos koning Josia sal jy beweeg word om gehoorsaam te wees aan God se Woord.

16. Hoekom het Josia ’n ernstige fout gemaak, en wat is die les vir ons?

16 Leer uit Josia se slegte besluit. Toe Josia omtrent 39 jaar oud was, het hy ’n fout gemaak wat sy lewe gekos het. Hy het op homself vertrou eerder as om Jehovah te vra vir leiding (2 Kron. 35:​20-25). Ons kan ’n les hieruit leer. Dit maak nie saak hoe oud ons is of hoe lank ons al die Bybel studeer nie, ons moet aanhou om nader aan Jehovah te kom. Dit sluit in dat ons gereeld moet bid vir sy leiding, sy Woord moet studeer en moet luister na die raad van volwasse Christene. Die kans dat ons groot foute sal maak, sal dan kleiner wees en die kans dat ons gelukkig sal wees, sal groter wees. – Jak. 1:25.

JONGMENSE – JULLE LEWE KAN GOED UITDRAAI

17. Watter belangrike lesse het ons geleer by die drie konings van Juda?

17 Daar is baie opwindende dinge wat jy kan doen terwyl jy jonk is. Die verslag van Joas, Ussia en Josia wys dat jongmense wyse keuses kan maak en Jehovah gelukkig kan maak. Ja, ’n goeie uitkoms is nie gewaarborg nie, soos ons gesien het. Maar ons kan die goeie dinge wat hierdie konings gedoen het, navolg en dit vermy om die foute te maak wat hulle gemaak het. Dan kan ons uitsien na ’n goeie uitkoms.

Jong Dawid het nader aan Jehovah gekom. Hy het God se goedkeuring geniet en sy lewe het goed uitgedraai (Sien paragraaf 18)

18. Watter voorbeelde in die Bybel wys dat jou lewe goed kan uitdraai? (Sien ook prent.)

18 Die Bybel bevat verslae van ander jongmense wat nader aan Jehovah gekom het, sy goedkeuring gehad het en gesien het hoe hulle lewe goed uitgedraai het. Dawid was een van hulle. Op ’n jong ouderdom het hy God se kant gekies en later ’n lojale koning geword. Dit is waar dat hy partykeer foute gemaak het, maar God het Dawid as getrou beskou (1 Kon. 3:6; 9:​4, 5; 14:8). Wanneer jy ’n studie maak van Dawid se lewe en getroue diens, kan dit jou aanmoedig en motiveer. Of jy kan gedurende jou studieprojek fokus op die voorbeeld van Markus of Timoteus. Jy sal sien dat hulle Jehovah van ’n jong ouderdom af gedien het en dat hulle aangehou het om hom getrou te dien en God se goedkeuring geniet het; dit het baie goed vir hulle uitgedraai.

19. Hoe kan jou lewe uitdraai?

19 Hoe jy jou lewe nou gebruik, sal dalk bepaal hoe jou lewe gaan uitdraai. As jy op Jehovah vertrou en nie op jouself nie, sal hy jou help om wyse besluite te maak (Spr. 20:24). Jy kan ’n gelukkige en ’n wonderlike lewe hê. Onthou, Jehovah waardeer wat jy vir hom doen. Daar is nie ’n beter manier om jou lewe te gebruik as om ons liefdevolle Vader te dien nie.

LIED 144 Hou jou oë op die prys!

a Jongmense, Jehovah weet dat julle uitdagings het wat julle vriendskap met hom kan toets. Hoe kan julle wyse besluite maak wat julle hemelse Vader gelukkig sal maak? Ons sal die voorbeelde van drie seuns bespreek wat konings van Juda geword het. Kyk wat julle kan leer uit hulle besluite.

b Sien die venster “Wees versigtig om nie ‘nederig maar spoggerig’ te wees nie” in die artikel “Hoe belangrik is dit om gewild op sosiale media te wees?” op jw.org.

c BESKRYWING VAN PRENT: ’n Volwasse suster gee wyse raad aan ’n jonger suster.

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster wat ’n byeenkomsdeel het, vertrou op Jehovah en gee hom die eer.