Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 40

Jy kan volhard, soos Petrus

Jy kan volhard, soos Petrus

“Gaan weg van my af, Here, want ek is ’n sondige man.” – LUK. 5:8.

LIED 38 Hy maak jou sterk

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Hoe het Petrus gereageer toe Jesus hom deur middel van ’n wonderwerk gehelp het om baie vis te vang?

 PETRUS het die hele nag visgevang sonder om enige iets te vang. Maar toe het Jesus vir hom gesê: “Gaan na waar dit diep is en laat sak julle nette vir ’n vangs” (Luk. 5:4). Petrus het getwyfel of hy enige vis sou vang, maar hy het gedoen wat Jesus vir hom gesê het. Die nette het begin skeur omdat hulle soveel vis gevang het. Toe hulle besef dat hulle so pas ’n wonderwerk gesien het, was Petrus en dié wat saam met hom gewerk het, “baie verbaas”. Petrus het uitgeroep: “Gaan weg van my af, Here, want ek is ’n sondige man” (Luk. 5:​6-9). Petrus het heel moontlik gevoel dat hy nie goed genoeg is om in Jesus se teenwoordigheid te wees nie.

2. Hoekom is dit goed vir ons om na Petrus se voorbeeld te kyk?

2 Petrus was reg – hy was “’n sondige man”. Die Bybel wys dat hy soms dinge gesê en gedoen het waaroor hy later spyt was. Voel jy soms soos Petrus? Sukkel jy met ’n swakheid in jou persoonlikheid of ’n aanhoudende sondige neiging? As dit die geval is, kan dit jou hoop gee as jy Petrus se voorbeeld bestudeer. Hoe so? Dink hieraan: Jehovah kon maklik gesorg het dat Petrus se foute nie in die Bybel neergeskryf word nie. Maar dit is onder inspirasie ingesluit sodat ons daaruit kan leer (2 Tim. 3:​16, 17). As ons leer oor hierdie man wat swakhede en gevoelens soos ons s’n gehad het, kan dit ons help om te sien dat Jehovah nie volmaaktheid van ons verwag nie. Hy wil hê dat ons moet volhard – moet aanhou probeer – ten spyte van ons swakhede.

3. Hoekom moet ons volhard?

3 Hoekom moet ons volhard? Omdat ons gewoonlik in iets verbeter wanneer ons aanhou oefen. Byvoorbeeld: Dit kan iemand jare neem om te leer hoe om ’n instrument goed te speel. Gedurende daardie tyd sal hy dalk duisende verkeerde note speel, maar as hy aanhou oefen, sal hy verbeter. Al word hy ’n goeie musikant, sal hy dalk nog steeds nou en dan ’n fout maak. Maar hy gee nie op nie. Hy hou aan oefen sodat hy kan verbeter. Net so kan ons dalk ’n terugslag hê, selfs wanneer ons voel dat ons ’n sekere swakheid oorkom het. Maar ons hou aan om ons doelwit te probeer bereik. Ons almal sê of doen dinge waaroor ons later spyt is; maar as ons weier om op te gee, sal Jehovah ons help om aan te hou vorder (1 Pet. 5:10). Kom ons kyk na Petrus se voorbeeld van volharding. Die meegevoel wat Jesus met hom gehad het ten spyte van sy tekortkominge, kan ons motiveer om aan te hou om Jehovah te dien.

PETRUS SE SWAKHEDE EN SY SEËNINGE

Hoe sou jy reageer as jy ’n ondervinding soos Petrus s’n gehad het? (Sien paragraaf 4)

4. Hoe het Petrus homself beskryf, maar hoe het Jesus hom verseker volgens Lukas 5:​5-10?

4 Die Bybel sê nie hoekom Petrus homself as “’n sondige man” beskryf het of van watter sondes hy gepraat het nie. (Lees Lukas 5:​5-10.) Maar hy het dalk ’n paar ernstige foute gemaak. Jesus het geweet dat Petrus bang was, dalk omdat Petrus gevoel het dat hy nie goed genoeg is nie. Jesus het ook geweet dat Petrus getrou kon bly. Daarom het Jesus liefdevol vir Petrus gesê: “Hou op om bang te wees.” Jesus se vertroue in Petrus het sy lewe verander. Petrus en sy broer Andreas het later hulle visvangbesigheid agtergelaat en voltydse volgelinge van die Messias geword – ’n besluit wat tot wonderlike seëninge gelei het. – Mark. 1:​16-18.

5. Watter seëninge het Petrus ontvang omdat hy sy vrese oorkom het en Jesus se uitnodiging aanvaar het?

5 Petrus het baie wonderlike ondervindinge as ’n volgeling van Christus gehad. Hy het gesien hoe Jesus die siekes genees, demone uitdryf en selfs die dooies opwek (Matt. 8:​14-17; Mark. 5:​37, 41, 42). b Petrus het ook ’n wonderlike visioen van Jesus se toekomstige rol as Koning van God se Koninkryk gesien – iets wat ’n baie groot indruk op hom gemaak het (Mark. 9:​1-8; 2 Pet. 1:​16-18). Ja, Petrus het dinge gesien wat hy nooit verwag het om te sien nie. Hy was seker so bly dat hy nie toegelaat het dat enige negatiewe gevoelens oor homself veroorsaak dat hy uitmis op hierdie seëninge nie!

6. Het Petrus sy swakhede maklik oorkom? Verduidelik.

6 Ten spyte van wat Petrus gesien en gehoor het, het hy nog steeds met sy swakhede gesukkel. Kyk na ’n paar voorbeelde. Toe Jesus verduidelik het hoe hy sou ly en sterf net soos die Bybel voorspel het, het Petrus ernstig met hom gepraat (Mark. 8:​31-33). Petrus en die ander apostels het oor en oor gestry oor wie die grootste is (Mark. 9:​33, 34). Op die laaste aand voor Jesus se dood het Petrus ’n man se oor impulsief afgekap (Joh. 18:10). Daardie selfde aand het Petrus so bang geword dat hy drie keer gesê het dat hy sy vriend Jesus nie ken nie (Mark. 14:​66-72). Dit het daartoe gelei dat Petrus bitterlik gehuil het. – Matt. 26:75.

7. Watter geleentheid het Petrus gekry ná Jesus se opstanding?

7 Jesus het nie sy apostel, wat verskriklik mismoedig was, afgeskryf nie. Nadat Jesus opgewek was, het hy Petrus die geleentheid gegee om te wys dat hy Jesus nog steeds liefhet. Jesus het Petrus genooi om nederig as ’n herder vir sy skape te dien (Joh. 21:​15-17). Petrus het positief gereageer. Op Pinksterdag was hy in Jerusalem en onder die eerstes wat met heilige gees gesalf is.

8. Watter ernstige fout het Petrus in Antiogië gemaak?

8 Selfs nadat Petrus ’n gesalfde Christen geword het, het hy nog steeds met sy swakhede gesukkel. In 36 HJ het God Petrus na Kornelius, ’n nie-Jood, gestuur. Daar het God Kornelius met die heilige gees gesalf, wat ’n duidelike bewys was dat “God nie partydig is nie” en dat nie-Jode deel van die Christengemeente kon wees (Hand. 10:​34, 44, 45). Daarna het Petrus vry gevoel om saam met die nie-Jode te eet, iets wat hy nooit voorheen sou doen nie (Gal. 2:12). Maar party Joodse Christene het gevoel dat Jode en nie-Jode nie moet saam eet nie. Toe party wat daardie beskouing gehad het na Antiogië gekom het, het Petrus opgehou om saam met sy nie-Joodse broers te eet, heel moontlik omdat hy bang was om die Joodse Christene aanstoot te gee. Die apostel Paulus het hierdie skynheiligheid gesien en Petrus voor ander tereggewys (Gal. 2:​13, 14). Ten spyte van hierdie terugslag het Petrus volhard. Wat het hom gehelp?

WAT HET PETRUS GEHELP OM TE VOLHARD?

9. Hoe wys Johannes 6:​68, 69 dat Petrus lojaal was?

9 Petrus was lojaal; hy het nie toegelaat dat enige iets veroorsaak dat hy permanent opgee nie. Hy het eenkeer gewys dat hy lojaal is toe Jesus iets gesê het wat sy dissipels nie verstaan het nie. (Lees Johannes 6:​68, 69.) Sonder om vir ’n verduideliking te wag of vir een te vra, het baie opgehou om Jesus te volg. Maar nie Petrus nie. Hy was lojaal en het gesê dat Jesus die enigste een is wat “woorde van die ewige lewe” het.

Hoekom voel jy aangemoedig deur die vertroue wat Jesus in Petrus gehad het? (Sien paragraaf 10)

10. Hoe het Jesus gewys dat hy vertroue in Petrus het? (Sien ook prent.)

10 Jesus het Petrus nie verlaat nie. Op die laaste aand van sy lewe op die aarde het Jesus geweet dat Petrus en die ander apostels hom sou verlaat. Maar Jesus het vir Petrus gesê dat hy seker is dat Petrus sou terugkeer en getrou sou bly (Luk. 22:​31, 32). Jesus het verstaan dat ‘die gees gretig is maar dat die vlees swak is’ (Mark. 14:38). So selfs nadat Petrus gesê het dat hy hom nie ken nie, het Jesus nie sy apostel afgeskryf nie. Ná Jesus se opstanding het hy aan Petrus verskyn – heel moontlik toe Petrus alleen was (Mark. 16:7; Luk. 24:34; 1 Kor. 15:5). Dit het daardie mismoedige apostel sekerlik baie aangemoedig!

11. Hoe het Jesus Petrus verseker dat Jehovah hom sou ondersteun?

11 Jesus het Petrus van Jehovah se ondersteuning verseker. Nadat Jesus opgewek was, het hy Petrus en die ander apostels deur middel van nog ’n wonderwerk gehelp om vis te vang (Joh. 21:​4-6). Hierdie wonderwerk het Petrus beslis verseker dat Jehovah die materiële dinge wat hy nodig het, maklik kon voorsien. Dalk het die apostel toe Jesus se woorde onthou dat Jehovah sou sorg vir dié wat aanhou om “eers die Koninkryk . . . te soek” (Matt. 6:33). Al hierdie dinge het Petrus gehelp om die bediening, en nie sy visvangbesigheid nie, eerste in sy lewe te stel. Op Pinkster 33 HJ het hy moedig getuig en duisende gehelp om die goeie nuus te aanvaar (Hand. 2:​14, 37-41). Daarna het hy die Samaritane en die nie-Jode gehelp om Christus te aanvaar (Hand. 8:​14-17; 10:​44-48). Jehovah het Petrus beslis op ’n magtige manier gebruik om verskillende soorte mense in die gemeente in te bring.

WAT LEER ONS?

12. Hoe kan Petrus se voorbeeld ons help as ons sukkel met ’n aanhoudende swakheid?

12 Jehovah kan ons help om te volhard. Dit is dalk vir ons moeilik om aan te gaan, veral as ons sukkel met ’n aanhoudende swakheid. Soms lyk ons swakhede dalk moeiliker as dié wat Petrus gehad het. Maar Jehovah kan ons die krag gee om aan te hou (Ps. 94:​17-19). Byvoorbeeld, een broer het jare lank ’n homoseksuele lewe gelei voordat hy die waarheid geleer het. Hy het sy lewe heeltemal verander en toe volgens Bybelstandaarde gelewe. Maar hy het soms nog met verkeerde begeertes gesukkel. Wat het hom gehelp om te volhard? Hy verduidelik: “Jehovah versterk ons.” Hy sê verder: “Met Jehovah se gees . . . het ek geleer dat dit moontlik is om op die weg van die waarheid [te bly]. Jehovah kon my tot nou toe gebruik, en ten spyte van my onvolmaakthede hou hy aan om my te versterk.”

Horst Henschel het sy voltydse diens op 1 Januarie 1950 begin. Dink jy dat hy spyt was omdat hy sy lewe in Jehovah se diens gebruik het? (Sien paragraaf 13, 15) d

13. Hoe kan ons Petrus se voorbeeld navolg soos ons kan sien in Handelinge 4:​13, 29, 31? (Sien ook prent.)

13 Soos ons gesien het, het Petrus ’n paar ernstige foute gemaak omdat hy bang was vir mense. Maar omdat hy vir krag gebid het, kon Petrus moedig optree. (Lees Handelinge 4:​13, 29, 31.) Ons kan ook ons vrese oorkom. Kyk wat met Horst gebeur het, ’n jong broer wat in Nazi-Duitsland gebly het. Hy het meer as een keer by die skool onder druk ingegee en “Heil Hitler!” gesê. Sy ouers het hom nie geskel nie, maar eerder saam met hom gebid en Jehovah gevra om hom moed te gee. Omdat sy ouers hom gehelp het en hy op Jehovah vertrou het, het Horst uiteindelik die krag gekry om standvastig te bly. Hy het later gesê: “Jehovah het my nooit verlaat nie.” c

14. Hoe kan liefdevolle herders dié wat mismoedig is, verseker?

14 Jehovah en Jesus sal ons nie afskryf nie. Petrus was by ’n belangrike kruispad in sy lewe nadat hy gesê het dat hy Christus nie ken nie. Sou hy opgee of sou hy volhard as Christus se dissipel? Jesus het Jehovah gesmeek dat Petrus se geloof nie sal verswak nie. Jesus het Petrus van daardie gebed vertel en gesê dat hy seker is dat Petrus sy broers later sou kon versterk (Luk. 22:​31, 32). Dit het Petrus seker baie aangemoedig om aan Jesus se woorde te dink! Wanneer ons by ’n kruispad in ons lewe kom, sal Jehovah dalk liefdevolle herders gebruik om ons die versekering te gee wat ons nodig het om getrou te bly (Ef. 4:​8, 11). ’n Broer met die naam Paul, wat al lank ’n ouerman is, probeer om daardie vertroosting te gee. Hy vra dié wat wil opgee om te dink aan hoe Jehovah hulle in die eerste plek na die waarheid getrek het. Dan verseker hy hulle dat Jehovah se lojale liefde Hom nie sal toelaat om hulle af te skryf nie. Hy sê: “Ek het al baie keer gesien hoe dié wat mismoedig is, volhard met Jehovah se hulp.”

15. Hoe wys die voorbeelde van Petrus en Horst dat Matteus 6:33 waar is?

15 Net soos Jehovah materieel vir Petrus en die ander apostels gesorg het, sal Hy vir ons materiële behoeftes sorg wanneer ons die bediening eerste in ons lewe stel (Matt. 6:33). Ná die Tweede Wêreldoorlog het Horst, wat vroeër genoem is, daaraan gedink om te begin pionier. Maar hy was baie arm en het getwyfel of hy homself sou kon onderhou en in die voltydse bediening sou kon bly. Wat het hy gedoen? Hy het besluit om Jehovah te toets en het die hele week gedurende die kringopsiener se besoek in die bediening spandeer. Aan die einde van die week was hy geskok toe die kringopsiener vir hom ’n koevert van ’n anonieme persoon gee. Daar was genoeg geld in om hom vir ’n hele paar maande in die pionierdiens te onderhou. Horst het hierdie geskenk gesien as ’n versekering dat Jehovah vir hom sou sorg. Hy het vir die res van sy lewe Koninkryksbelange eerste gestel. – Mal. 3:10.

16. Hoekom is dit goed vir ons om meer te leer oor Petrus en wat hy in sy briewe geskryf het?

16 Petrus was seker baie bly dat Jesus nie van hom af weggegaan het, soos Petrus eenkeer gevra het nie! Christus het aangehou om Petrus op te lei om ’n getroue apostel en ’n uitstekende voorbeeld vir Christene te wees. Daardie opleiding bevat baie kosbare lesse wat ons almal kan help. Petrus het party van daardie lesse en meer gedeel in twee geïnspireerde briewe wat hy aan gemeentes in die eerste eeu gestuur het. Die volgende artikel sal ’n paar herinneringe uit daardie briewe bespreek en hoe ons dit vandag kan toepas.

LIED 126 Staan vas, word sterk, bly waaksaam

a Hierdie artikel is ontwerp om dié wat met swakhede sukkel, te verseker dat hulle dit kan oorkom en as getroue knegte van Jehovah kan volhard.

b Baie tekste wat in hierdie artikel verskyn, kom uit Markus se Evangelieverslag. Dit lyk asof hy die dinge neergeskryf het wat hy by Petrus gehoor het, wat ’n ooggetuie van die gebeure was.

c Sien Horst Henschel se lewensverhaal “Aangemoedig deur my gesin se lojaliteit aan God” in die Ontwaak! van 22 Februarie 1998.

d BESKRYWING VAN PRENT: Soos ons in hierdie dramatisering kan sien, het Horst Henschel se ouers saam met hom gebid en hom meer vasbeslote gemaak om standvastig te bly.