Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 39

Laat sagmoedigheid jou sterk punt wees

Laat sagmoedigheid jou sterk punt wees

“’n Slaaf van die Here hoef nie te stry nie. Hy moet eerder vriendelik wees teenoor almal.” – 2 TIM. 2:24.

LIED 120 Volg Christus se sagmoedigheid na

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat kan iemand ons dalk by die werk of by die skool vra?

 HOE voel jy wanneer ’n werksmaat of ’n skoolmaat jou uitvra oor jou oortuigings? Voel jy senuweeagtig? Die meeste van ons voel so. Tog kan so ’n vraag ons help om te verstaan wat die persoon regtig dink of glo, en dit gee ons ’n geleentheid om die goeie nuus te deel. Maar soms vra iemand dalk ’n vraag op ’n uitdagende manier. Dit moet ons nie verbaas nie. Want party het dalk verkeerde idees gehoor oor wat ons glo (Hand. 28:22). En ons lewe in “die laaste dae”, ’n tyd wanneer baie “nie bereid [is] om tot enigiets in te stem nie” en selfs “wreed” is. – 2 Tim. 3:​1, 3.

2. Hoekom wil ons graag sagmoedig wees?

2 Jy wonder dalk: ‘Hoe kan ek vriendelik en taktvol wees wanneer iemand die dinge waarin ek glo, bevraagteken?’ Wat sal jou help? In een woord – sagmoedigheid. ’n Sagmoedige persoon word nie gou kwaad nie, maar kan homself beheer wanneer hy uitgelok word of onseker is oor hoe om te antwoord (Spr. 16:32). Maar dalk voel jy dit is makliker gesê as gedaan. Hoe kan jy sagmoedigheid ontwikkel? Hoe kan jy met sagmoedigheid reageer wanneer iemand jou oortuigings bevraagteken? En as jy ’n ouer is, hoe kan jy jou kinders help om te leer hoe om hulle geloof met sagmoedigheid te verdedig? Kom ons kyk.

HOE OM SAGMOEDIGHEID TE ONTWIKKEL

3. Hoekom kan daar gesê word dat sagmoedigheid ’n sterk punt is en nie ’n swakheid nie? (2 Timoteus 2:​24, 25)

3 Sagmoedigheid is ’n sterk punt, nie ’n swakheid nie. Dit vereis innerlike krag om kalm te bly in ’n moeilike situasie. Sagmoedigheid is een aspek van “die vrug van die gees” (Gal. 5:​22, 23). Die Griekse woord vir “sagmoedigheid” was soms gebruik om ’n wilde perd te beskryf wat mak gemaak is. Dink aan ’n wilde perd wat mak word. Al is die perd nou mak, is hy nog steeds sterk. Hoe kan ons, as mense, sagmoedigheid ontwikkel en op dieselfde tyd sterk wees? Ons kan dit nie op ons eie doen nie. Ons moet bid vir God se gees en hom vra om ons te help om hierdie pragtige eienskap te ontwikkel. Daar is baie wat dit al reggekry het. Baie Getuies het op ’n sagmoedige manier gereageer toe teenstanders met hulle gestry het, en dit het ’n goeie indruk op ander gemaak. (Lees 2 Timoteus 2:​24, 25.) Hoe kan jy sagmoedigheid een van jou sterk punte maak?

4. Wat kan ons oor sagmoedigheid leer uit die voorbeeld van Isak?

4 Baie verslae in die Bybel wys hoe waardevol sagmoedigheid is. Dink aan die voorbeeld van Isak. Toe hy in die Filistynse gebied Gerar gebly het, het sy jaloerse bure die putte toegegooi wat sy pa se knegte gegrawe het. Isak het nie vir sy regte baklei nie; hy en sy huisgesin het eerder verder weggetrek en ander putte gegrawe (Gen. 26:​12-18). Maar die Filistyne het gesê dat die water in hierdie plek ook hulle s’n is. Ten spyte hiervan het Isak op ’n vreedsame manier opgetree (Gen. 26:​19-25). Wat het hom gehelp om sagmoedig te bly selfs toe dit gelyk het asof ander vasbeslote was om hom uit te lok? Sy ouers se voorbeeld het hom beslis gehelp, en hy het baie geleer by Abraham se vreedsame gedrag en Sara se “stille en sagmoedige gees”. – 1 Pet. 3:​4-6; Gen. 21:​22-34.

5. Watter voorbeeld wys dat Christenouers hulle kinders kan leer dat sagmoedigheid waardevol is?

5 Christenouers, wees verseker dat julle ook julle kinders kan leer hoe waardevol sagmoedigheid is. Kyk na die voorbeeld van Maxence, wat 17 is. Hy het op skool en in die bediening te doen gehad met mense wat kwaad is. Sy ouers het hom geduldig gehelp om sagmoedigheid te ontwikkel. Hulle sê: “Maxence verstaan nou dat dit maklik is om op ’n kwaai of gewelddadige manier te reageer, maar iemand wat regtig sterk is, het selfbeheersing.” Ja, sagmoedigheid het Maxence se sterk punt geword.

6. Hoe kan gebed ons help om sagmoediger te wees?

6 Wat kan ons doen wanneer ons in ’n stresvolle situasie is, soos wanneer iemand ons God se naam belaster of die Bybel bespot? Ons moet Jehovah vir sy gees en vir sy wysheid vra om op ’n sagmoedige manier te reageer. Wat as ons later besef dat ons nie so goed gereageer het soos ons moes nie? Ons kan weer oor die saak bid en dink aan hoe ons die volgende keer beter kan reageer. Dan sal Jehovah vir ons sy heilige gees gee sodat ons ons humeur kan beheer en sagmoedig kan wees.

7. Hoe kan dit ons help om ons spraak en reaksie te beheer wanneer ons sekere tekste memoriseer? (Spreuke 15:​1, 18)

7 Party Bybelverse kan ons help om ons spraak te beheer wanneer ons in moeilike situasies is. God se gees kan ons help om daardie tekste te onthou (Joh. 14:26). Byvoorbeeld, die beginsels in die boek Spreuke kan ons help om sagmoedig te wees. (Lees Spreuke 15:​1, 18.) Daardie Bybelboek wys ook hoekom dit vir ons goed is om kalm te bly in stresvolle situasies. – Spr. 10:19; 17:27; 21:23; 25:15.

HOE INSIG ONS HELP OM SAGMOEDIG TE WEES

8. Hoekom moet ons dink aan die redes hoekom ’n persoon dalk ons oortuigings bevraagteken?

8 Insig kan ons ook help (Spr. 19:11). ’n Persoon met insig het selfbeheersing wanneer sy oortuigings bevraagteken word. Party vrae of uitdagings is soos ysberge – die grootste deel daarvan lê onder die oppervlak. Op dieselfde manier vra ’n persoon ons dalk ’n vraag, maar baie keer weet ons nie hoekom hy eintlik die vraag gevra het nie. So voordat ons antwoord, sal dit goed wees as ons besef dat ons dalk nie weet wat die persoon gemotiveer het om die vraag te vra nie. – Spr. 16:23.

9. Hoe het Gideon gewys dat hy insig het en sagmoedig is toe hy met die manne van Efraim te doen gehad het?

9 Kyk hoe Gideon die manne van Efraim geantwoord het. Hulle was kwaad en het hom gevra hoekom hy hulle nie vroeër geroep het om saam met hom teen Israel se vyande te veg nie. Maar wat was eintlik die rede hoekom hulle so kwaad was? Het hulle dalk beledigd gevoel? Wat ook al die rede was, Gideon het hulle gevoelens wyslik gerespekteer en hulle ’n sagmoedige antwoord gegee. Wat was die gevolg? Die Bybel sê: “Toe hy dit sê, het hulle gekalmeer.” – Rigt. 8:​1-3.

10. Wat sal ons help om te weet hoe om dié te antwoord wat ons oortuigings bevraagteken? (1 Petrus 3:15)

10 Dalk vra ’n werksmaat of ’n skoolmaat ons uit oor ons Christelike standpunt oor sekere sedelike kwessies. Ons sal ons bes doen om ons oortuigings te verdedig terwyl ons die persoon se beskouing respekteer. (Lees 1 Petrus 3:15.) Dit is dikwels goed om die vraag te sien as ’n manier om uit te vind waarin hy belangstel eerder as ’n aanval of ’n uitdaging. Dit is goed om op ’n kalm en vriendelike manier te reageer, maak nie saak wat die rede is hoekom iemand ’n vraag gevra het nie. Ons antwoord kan hom dalk motiveer om weer oor sy opinie te dink. Al is hy onbeskof of sarkasties, moet dit ons doel wees om op ’n vriendelike manier te reageer. – Rom. 12:17.

Jy kan ’n beter antwoord gee as jy eers nadink oor wat die redes is hoekom iemand jou na ’n verjaarsdagpartytjie nooi (Sien paragraaf 11-12)

11-12. (a) Waaroor kan ons dink voordat ons ’n moeilike vraag beantwoord? (Sien ook prent.) (b) Gee ’n voorbeeld van hoe ’n vraag dalk vir ons die geleentheid kan gee om ’n gesprek te begin.

11 As ’n werksmaat byvoorbeeld vra hoekom ons nie verjaarsdae vier nie, dink hieraan: Wonder hy dalk of ons ’n goeie tyd mag hê? Of voel hy dalk dat ons standpunt ’n negatiewe uitwerking op die maatskappy se spangees sal hê? Ons sal dalk ons werksmaat kan gerusstel deur vir hom te sê hoe baie ons sy belangstelling in sy kollegas waardeer en hom verseker dat ons ’n lekker atmosfeer by die werk wil hê. Dit sal ons moontlik die geleentheid gee om ’n vriendelike gesprek te hê oor wat ons uit die Bybel kan leer wanneer dit by verjaarsdae kom.

12 Ons kan iets soortgelyks doen wanneer iemand vir ons ander moeilike vrae vra. ’n Skoolmaat sê dalk dat Jehovah se Getuies hulle beskouing van homoseksualiteit moet verander. Wys dit dat hy ’n verkeerde idee oor Jehovah se Getuies het? Of het hy dalk ’n vriend of ’n familielid wat homoseksueel is? Dink hy dat ons mense haat wat homoseksueel is? Ons sal hom dalk moet verseker dat ons vir alle mense omgee en dat ons elke persoon se reg om sy eie keuses te maak, respekteer (1 Pet. 2:17). b Dan sal ons dalk vir hom kan sê wat die Bybel se sedelike standaarde is en hoekom dit vir ons goed is.

13. Hoe kan jy iemand help wat jou spot omdat jy in God glo?

13 Wanneer iemand sterk voel oor iets waaroor hy nie met ons saamstem nie, moet ons nie vinnig aanneem dat ons weet wat hy glo nie (Titus 3:2). Byvoorbeeld, wat as jou skoolmaat sê dat dit belaglik is om in God te glo? Moet jy aanneem dat hy sterk voel oor evolusie en baie daaroor weet? Dalk sê hy eintlik maar net dinge wat hy al gehoor het. In plaas daarvan om ’n debat oor die wetenskap te begin, kan jy ’n manier vind om jou skoolmaat iets te gee waaroor hy later kan dink. Miskien kan jy vir hom inligting oor die skepping wys op jw.org. Hy sal dalk later bereid wees om ’n artikel of ’n video te bespreek. Ja, ’n respekvolle antwoord kan hom motiveer om weer oor sy opinie te dink.

14. Hoe het Niall goed gebruik gemaak van ons webwerf om ’n klasmaat te help om ’n verkeerde idee oor Jehovah se Getuies te oorkom?

14 ’n Tiener met die naam Niall het ons webwerf gebruik om verkeerde idees oor Jehovah se Getuies te oorkom. Hy sê: “’n Klasmaat het baie keer vir my gesê dat ek nie in die wetenskap glo nie omdat ek ’n ‘opgemaakte’ boek vertrou eerder as feite.” Toe hierdie klasmaat nie vir Niall toegelaat het om sy oortuigings te verduidelik nie, het hy hom die deel “Die wetenskap en die Bybel” op jw.org gewys. Later het Niall agtergekom dat die student heel moontlik die inligting gelees het, en hy kon die oorsprong van die lewe met hom bespreek. Jy kan ’n soortgelyke resultaat hê.

BEREI VOOR AS ’N GESIN

15. Hoe kan ouers hulle kinders help om op ’n sagmoedige manier te reageer wanneer skoolmaats hulle oortuigings bevraagteken?

15 Ouers kan hulle kinders leer hoe om op ’n sagmoedige manier te reageer wanneer hulle oortuigings bevraagteken word (Jak. 3:13). Party ouers hou oefensessies gedurende gesinsaanbidding. Hulle kyk na onderwerpe wat by die skool kan opkom, bespreek en demonstreer hoe om ’n antwoord te gee en leer hulle kinders hoe om op ’n sagmoedige en vriendelike manier te praat. – Sien die venster “ Oefensessies kan jou gesin help”.

16-17. Hoe kan oefensessies jongmense help?

16 Oefensessies kan Christene help om hulleself te oortuig van die dinge waarin hulle glo en om dit aan ander te verduidelik. Die “Jongmense vra”-reeks op jw.org sluit werksblaaie vir tieners in. Dit is ontwerp om jongmense te help om hulle oortuigings te versterk en om antwoorde in hulle eie woorde voor te berei. Wanneer ons hierdie reeks as ’n gesin studeer, kan ons almal leer hoe om ons geloof op ’n sagmoedige en vriendelike manier te verdedig.

17 ’n Jong persoon met die naam Matthew verduidelik hoe oefensessies hom gehelp het. Matthew en sy ouers het dikwels as deel van hulle gesinsaanbidding navorsing gedoen oor onderwerpe wat dalk in die klas bespreek kan word. Hy sê: “Ons dink aan watter soort scenario’s kan opkom, en ons oefen hoe om dit te hanteer gebaseer op die navorsing wat ons gedoen het. Wanneer ek die redes vir my standpunt duidelik verstaan, het ek selfvertroue en is dit vir my makliker om sagmoedig te wees wanneer ek met ander praat.”

18. Wat is belangrik volgens Kolossense 4:6?

18 Om dinge op ’n duidelike en oortuigende manier te verduidelik, is dalk nie genoeg om party mense te oortuig nie. Maar dit sal help as ons op ’n taktvolle en sagmoedige manier praat. (Lees Kolossense 4:6.) Om met iemand te praat oor wat ons glo, kan vergelyk word met wanneer ’n bal gegooi word. Ons kan dit sag of hard gooi. Wanneer ons dit sag gooi, is daar ’n groter kans dat die ander persoon dit sal vang en sal aanhou speel. Net so, as ons op ’n taktvolle en sagmoedige manier praat, sal mense miskien gewilliger wees om te luister en om verder te gesels. As iemand natuurlik ’n debat wil wen of ons oortuigings wil bespot, hoef ons nie verder met hom te praat nie (Spr. 26:4). Maar so ’n persoon is dalk die uitsondering; party – miskien baie – sal luister.

19. Wat moet ons motiveer om sagmoedig te wees wanneer ons ons oortuigings verdedig?

19 Dit is duidelik dat dit ons baie help wanneer ons leer om sagmoedig te wees. Bid tot Jehovah vir die krag wat jy nodig het om sagmoedig te bly wanneer jy moet reageer op moeilike vrae of onregverdige kritiek. Onthou jou sagmoedige gedrag kan keer dat argumente ontstaan as gevolg van verskillende opinies. En jou sagmoedige en respekvolle antwoord kan party mense eintlik beweeg om hulle beskouing van ons en Bybelwaarhede te verander. “Wees altyd gereed” om jou oortuigings “te verdedig . . . maar doen dit met sagmoedigheid en diep respek” (1 Pet. 3:15). Ja, laat sagmoedigheid jou sterk punt wees!

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

a Hierdie artikel gee voorstelle oor hoe ons ons geloof met sagmoedigheid kan verdedig wanneer ander ons uitlok of uitdaag.

b Vir praktiese voorstelle, sien die artikel “Wat sê die Bybel oor homoseksualiteit?” in die Ontwaak!, nr. 4 2016.

c Jy kan goeie voorstelle op jw.org kry in die reeks “Jongmense vra” en “Algemene vrae oor Jehovah se Getuies”.