Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 41

Lesse wat ons uit Petrus se twee briewe kan leer

Lesse wat ons uit Petrus se twee briewe kan leer

“Ek [is] van plan om julle altyd aan hierdie dinge te herinner.” – 2 PET. 1:12.

LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat was die apostel Petrus geïnspireer om te doen kort voor sy dood?

 DIE apostel Petrus het geweet dat hy binnekort sou sterf. Gedurende sy dekades van getroue diens het hy saam met Jesus gepreek, die predikingswerk onder die nie-Jode begin en later ’n lid van die bestuursliggaam geword. Maar Petrus se diens was nie verby nie. In omtrent 62-64 HJ is hy geïnspireer om twee briewe te skryf – die Bybelboeke 1 en 2 Petrus. Petrus het gehoop dat hierdie briewe Christene ná sy dood sou help. – 2 Pet. 1:​12-15.

2. Hoekom was die briewe wat Petrus geskryf het so nodig?

2 Petrus het sy briewe geskryf op ’n tyd toe sy broers en susters “allerhande moeilike tye” deurgemaak het (1 Pet. 1:6). Goddelose mense het valse leringe en onrein gedrag in die Christengemeente probeer inbring (2 Pet. 2:​1, 2, 14). Christene in Jerusalem sou binnekort “die einde van alles” ondervind – die vernietiging van daardie stad en van die Joodse stelsels van dinge deur Romeinse leërmagte (1 Pet. 4:7). Petrus se briewe het Christene beslis gehelp om te sien hoe hulle hulle probleme kan verduur en hoe om voor te berei vir toekomstige probleme. b

3. Hoekom moet ons Petrus se briewe ondersoek?

3 Al het Petrus sy briewe aan die eerste-eeuse Christene geskryf, het Jehovah hierdie briewe by Sy Woord ingesluit. So daardie briewe kan ons nou help (Rom. 15:4). Omdat ons in ’n wêreld lewe wat onrein gedrag bevorder, ondervind ons ook probleme wat dit moeilik kan maak om Jehovah te dien. En ons sal binnekort ’n verdrukking ondervind wat groter is as die een wat ’n einde aan die Joodse stelsels gemaak het. Daar is ’n paar belangrike herinneringe in Petrus se twee briewe. Dit sal ons help om in afwagting te bly van Jehovah se dag, mensevrees te oorkom en intense liefde vir mekaar te ontwikkel. Sulke herinneringe kan ouermanne ook help om te sien hoe om mooi na die behoeftes van die kudde te kyk.

BLY IN AFWAGTING

4. Wat kan ons geloof verswak volgens 2 Petrus 3:​3, 4?

4 Ons is omring deur mense wat nie geloof in Bybelprofesieë het nie. Teenstanders spot ons dalk omdat ons al jare lank vir die einde wag. Party mense sê dat dit nooit sal kom nie. (Lees 2 Petrus 3:​3, 4.) As ’n huisbewoner, ’n werksmaat of ’n familielid sulke dinge sê, kan dit ons geloof verswak. Petrus het verduidelik wat ons kan help.

5. Wat sal ons help om die regte beskouing te hê van die einde van hierdie wêreld? (2 Petrus 3:​8, 9)

5 Dit lyk dalk vir party dat Jehovah lank vat om ’n einde te maak aan hierdie goddelose wêreld. Petrus se woorde kan ons help om die regte beskouing te behou omdat dit ons daaraan herinner dat Jehovah se beskouing van tyd baie anders is as dié van mense. (Lees 2 Petrus 3:​8, 9.) Vir Jehovah is ’n duisend jaar soos een dag. Jehovah is geduldig, en hy wil nie hê dat enige een vernietig moet word nie. Maar wanneer sy dag kom, sal hierdie wêreld tot ’n einde kom. Dit is vir ons ’n voorreg om die tyd wat oorbly, te gebruik om vir mense van alle nasies te getuig.

6. Hoe hou ons Jehovah se dag “goed in gedagte”? (2 Petrus 3:​11, 12)

6 Petrus spoor ons aan om Jehovah se dag “goed in gedagte [te] hou”. (Lees 2 Petrus 3:​11, 12.) Hoe? Dit sal goed wees as ons – elke dag as dit moontlik is – nadink oor die seëninge van die nuwe wêreld. Visualiseer hoe jy skoon lug inasem, gesonde kos eet, geliefdes terugverwelkom wanneer hulle opgewek word en mense wat eeue gelede gelewe het, leer oor die vervulling van Bybelprofesieë. Wanneer jy oor hierdie dinge nadink, sal dit jou help om in afwagting te bly en oortuig te wees dat die einde binnekort gaan kom. Omdat ons “vooruit weet” wat in die toekoms gaan gebeur, sal ons nie ‘weggelei’ word deur valse onderrigters nie. – 2 Pet. 3:17.

OORKOM MENSEVREES

7. Watter uitwerking kan mensevrees op ons hê?

7 Omdat ons weet dat Jehovah se dag naby is, motiveer dit ons om die goeie nuus met ander te deel. Maar soms is ons dalk bang om dit te doen. Hoekom? Omdat ons bang is vir wat mense dalk van ons sal dink of aan ons sal doen. Dit het met Petrus gebeur. Op die aand van Jesus se verhoor, was Petrus bang om te sê dat hy een van Jesus se dissipels is, en hy het selfs oor en oor gesê dat hy hom nie ken nie (Matt. 26:​69-75). Maar hierdie selfde apostel het later met oortuiging gesê: “[Moenie] bang wees vir dit waarvoor hulle bang is nie, en moet ook nie ontsteld raak nie” (1 Pet. 3:14). Petrus se woorde verseker ons dat ons mensevrees kan oorkom.

8. Wat kan ons help om mensevrees te oorkom? (1 Petrus 3:15)

8 Wat kan ons help om mensevrees te oorkom? Petrus sê vir ons: “Heilig die Christus as Here in julle harte.” (Lees 1 Petrus 3:15.) Dit sluit in dat ons nadink oor die posisie en die krag van ons Here en Koning, Christus Jesus. As jy senuweeagtig of bang voel wanneer jy ’n geleentheid kry om die goeie nuus met ander te deel, moet jy aan ons Koning dink. Visualiseer hoe hy in die hemel regeer en omring is deur miljoene engele. Onthou dat hy “alle gesag in die hemel en op die aarde” het en dat hy “al die dae tot aan die einde van die wêreldstelsel” met jou sal wees (Matt. 28:​18-20). Petrus spoor ons aan om “altyd gereed” te wees om ons geloof te verdedig. Sal jy graag by die werk, by die skool of iewers anders wil getuig? Dink vooruit aan wanneer jy dit dalk sal kan doen, en berei dan voor wat jy gaan sê. Bid vir moed en vertrou dat Jehovah jou sal help om mensevrees te oorkom. – Hand. 4:29.

BETOON “INTENSE LIEFDE”

Petrus het teregwysing van Paulus aanvaar. Die twee briewe wat Petrus geskryf het, leer ons om liefde aan ons broers en susters te betoon (Sien paragraaf 9)

9. Hoe het Petrus eenkeer nie liefde betoon nie? (Sien ook prent.)

9 Petrus het geleer hoe om liefde te betoon. Hy was daar toe Jesus gesê het: “Ek gee julle ’n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Joh. 13:34). Maar Petrus het later onder druk ingegee en geweier om saam met sy nie-Joodse broers en susters te eet. Die apostel Paulus het gesê dat Petrus “skynheilig” is (Gal. 2:​11-14). Petrus het daardie teregwysing aanvaar en daaruit geleer. In albei sy briewe het hy beklemtoon dat ons nie net liefde vir ons broers en susters moet voel nie, maar daardie liefde ook moet betoon.

10. “Opregte broederlike liefde” is die gevolg van wat? Verduidelik. (1 Petrus 1:22)

10 Petrus sê dat ons “opregte broederlike liefde” vir ons broers en susters moet hê. (Lees 1 Petrus 1:22.) Sulke liefde is die gevolg van ‘gehoorsaamheid aan die waarheid’. Hierdie waarheid sluit die lering in dat “God nie partydig is nie” (Hand. 10:​34, 35). Ons kan nie gehoorsaam wees aan Jesus se gebod oor liefde as ons liefde betoon aan party in die gemeente maar nie aan ander nie. Ons voel natuurlik nader aan party as aan ander, net soos Jesus (Joh. 13:23; 20:2). Maar Petrus herinner ons daaraan dat ons lief wil wees vir al ons broers en susters omdat hulle deel van ons familie is. – 1 Pet. 2:17.

11. Wat beteken dit om ander ‘intens lief te hê uit die hart’?

11 Petrus het ons aangespoor om ‘mekaar intens lief te hê uit die hart’. In hierdie konteks beteken om “intens” lief te hê dat ons lief is vir iemand, al is dit moeilik om lief te wees vir hom of haar. Byvoorbeeld, sê nou ’n broer gee ons aanstoot of maak ons op die een of ander manier seer. Ons natuurlike reaksie is dalk om hom terug te kry eerder as om liefde te betoon. Maar Petrus het by Jesus geleer dat God nie hierdie soort gedrag goedkeur nie (Joh. 18:​10, 11). Petrus het geskryf: “Moenie een slegte daad met ’n ander slegte daad terugbetaal of een belediging met ’n ander belediging nie. Betaal eerder terug met ’n seën” (1 Pet. 3:9). Laat toe dat intense liefde jou motiveer om liefdevol en bedagsaam te wees selfs teenoor dié wat jou dalk seergemaak het.

12. (a) Wat sal intense liefde ons nog motiveer om te doen? (b) Wat wil jy probeer doen soos ons kan sien in die video Bewaar die kosbare geskenk van eenheid?

12 In sy eerste brief het Petrus die uitdrukking “intense liefde” gebruik. Sulke liefde bedek nie net ’n paar sondes nie, maar “baie sondes” (1 Pet. 4:8). Dalk het Petrus gedink aan die les oor vergifnis wat Jesus hom jare vroeër geleer het. Op daardie tyd het Petrus heel moontlik geglo dat hy vrygewig is toe hy voorgestel het dat hy sy broer “tot sewe keer” sou vergewe. Maar Jesus het hom – en ons – geleer om “tot 77 keer” te vergewe, dit wil sê sonder enige beperking (Matt. 18:​21, 22). As dit vir jou moeilik is om hierdie raad toe te pas, moet jy nie mismoedig wees nie! Al Jehovah se onvolmaakte knegte het al soms gesukkel om te vergewe. Die belangrikste ding is om nou te doen wat jy kan om jou broer te vergewe en om vrede met hom te maak. c

OUERMANNE, WEES HERDERS VIR DIE KUDDE

13. Wat kan dit vir ouermanne moeilik maak om as herders toesig te hou oor hulle broers en susters?

13 Petrus het beslis nooit vergeet wat Jesus ná sy opstanding vir hom gesê het nie: “Hou as herder toesig oor my skapies” (Joh. 21:16). As jy ’n ouerman is, weet jy dat hierdie instruksies ook op jou van toepassing is. Maar dit kan moeilik wees vir ’n ouerman om die tyd te vind om hierdie belangrike toewysing uit te voer. Ouermanne moet eers fisies, emosioneel en geestelik na hulle eie gesinne kyk. Hulle neem ook die leiding in die predikingswerk, sowel as wanneer dit kom by die voorbereiding en aanbieding van dele by vergaderinge en byeenkomste. Party het ook verantwoordelikhede as lede van die Hospitaalskakelkomitee of die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie. Ouermanne is regtig besige mense!

Al is hulle besig, doen liefdevolle ouermanne alles wat hulle kan om herders vir die kudde van God te wees (Sien paragraaf 14-15)

14. Wat kan ouermanne motiveer om herders vir die kudde te wees? (1 Petrus 5:​1-4)

14 Petrus het sy mede-ouermanne aangespoor: “Wees herders vir die kudde van God.” (Lees 1 Petrus 5:​1-4.) As jy ’n ouerman is, weet ons dat jy lief is vir jou broers en susters en ’n herder vir hulle wil wees. Maar soms voel jy dalk dat jy so besig of so moeg is dat jy nie daardie toewysing kan uitvoer nie. Wat kan jy doen? Sê vir Jehovah hoe jy voel. Petrus het geskryf: “As iemand dien, laat hy vertrou op die krag wat God voorsien” (1 Pet. 4:11). Jou broers en susters ondervind dalk probleme wat nie heeltemal in hierdie wêreld opgelos kan word nie. Maar onthou dat “die hoofherder”, Jesus Christus, hulle meer kan help as wat jy kan. Hy kan dit vandag sowel as in die nuwe wêreld doen. Al wat God van ouermanne vra, is om hulle broers lief te hê, om herders vir hulle te wees en om “voorbeelde vir die kudde” te wees.

15. Wat doen een ouerman om ’n herder vir die kudde te wees? (Sien ook prent.)

15 William, wat al jare lank ’n ouerman is, verstaan hoe belangrik dit is om ’n herder vir die kudde te wees. Toe die COVID-19-pandemie begin het, het hy en die ander ouermanne dit ’n prioriteit gemaak om elke week elke persoon in hulle groep te kontak. Hy verduidelik hoekom: “Baie van die broers was alleen by die huis, en hulle kon maklik negatief word.” Wanneer ’n broer of suster sukkel, luister William mooi om vas te stel waaroor hulle bekommerd is en wat hulle nodig het. Dan vind hy spesifieke hulpmiddele, dikwels video’s op ons webwerf, om die broer of suster te help. Hy sê: “Dit is nou belangriker as ooit tevore om ’n herder vir die broers en susters te wees. Ons doen baie moeite om mense te help om van Jehovah te leer. Ons moet net soveel moeite doen om herders vir die kudde te wees en Jehovah se skape te help om in die waarheid te bly.”

LAAT JEHOVAH TOE OM JOU OPLEIDING TE VOLTOOI

16. Op watter maniere kan ons die lesse toepas wat ons uit Petrus se briewe geleer het?

16 Ons het net ’n paar lesse uit Petrus se twee briewe bespreek. Dalk het jy iets gesien waaraan jy wil werk. Byvoorbeeld, wil jy graag meer nadink oor die seëninge wat ons in die nuwe wêreld gaan geniet? Het jy die doelwit gestel om by die werk, by die skool of iewers anders te getuig? Sien jy maniere waarop jy meer intense liefde aan jou broers en susters kan betoon? Ouermanne, is julle vasbeslote om gewillige en gretige herders vir Jehovah se skape te wees? ’n Eerlike selfondersoek sal dalk wys dat jy sekere swakhede het, maar moenie mismoedig wees nie. “Die Here [is] goed”, en hy sal jou help om te verbeter (1 Pet. 2:3). Petrus verseker ons: “God [sal] self julle opleiding voltooi. Hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak, hy sal julle ’n stewige fondament gee.” – 1 Pet. 5:10.

17. Wat sal die gevolg wees as ons volhard en toelaat dat Jehovah ons oplei?

17 Petrus het eers nie goed genoeg gevoel om in die teenwoordigheid van God se Seun te wees nie (Luk. 5:8). Maar met die liefdevolle ondersteuning van Jehovah en van Jesus het Petrus as ’n volgeling van Christus volhard. Daarom was Petrus goedgekeur om “toegang tot die ewige Koninkryk van ons Here en Redder Jesus Christus” te kry (2 Pet. 1:11). Dit was ’n wonderlike beloning! As jy volhard soos Petrus en jouself toelaat om deur Jehovah opgelei te word, sal jy ook die beloning van die ewige lewe ontvang. Jou “geloof [sal] tot redding . . . lei”. – 1 Pet. 1:9.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

a In hierdie artikel sal ons sien hoe die lesse wat ons uit Petrus se briewe leer, ons kan help om moeilike tye te verduur. En ouermanne sal gehelp word om te sien hoe hulle hulle verantwoordelikheid as herders kan nakom.

b Christene in Palestina het heel moontlik albei briewe van Petrus ontvang voor die eerste aanval op Jerusalem in 66 HJ.

c Sien die video Bewaar die kosbare geskenk van eenheid op jw.org.