Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 37

Vertrou op Jehovah, net soos Simson

Vertrou op Jehovah, net soos Simson

“Soewereine Heer Jehovah, dink asseblief aan my en versterk my.” – RIGT. 16:28.

LIED 30 My Vader, my God en Vriend

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Hoekom moet ons belangstel in die verslag van Simson?

 WAARAAN dink jy wanneer jy die naam Simson hoor? Jy dink heel moontlik aan ’n man wat baie sterk was. Dit is waar. Maar Simson het ’n slegte besluit gemaak wat vir hom baie pyn en lyding veroorsaak het. En tog het Jehovah op Simson se rekord van getrouheid gefokus, wat Hy in die Bybel laat neerskryf het sodat ons daarby kan baat vind.

2 Jehovah het Simson gebruik om wonderlike dinge te doen om Sy uitverkore volk, Israel, te help. Eeue ná Simson se dood het Jehovah die apostel Paulus geïnspireer om Simson se naam in te sluit by ’n lys manne wat baie sterk geloof gehad het (Heb. 11:​32-34). Simson se voorbeeld kan ons aanmoedig. Hy het op Jehovah vertrou, selfs gedurende moeilike omstandighede. Kom ons kyk hoe sy voorbeeld ons kan aanmoedig, sowel as watter ander praktiese lesse ons daaruit kan leer.

SIMSON HET OP JEHOVAH VERTROU

3. Watter toewysing het Simson ontvang?

3 Toe Simson gebore is, het die Filistyne oor die nasie Israel regeer en hulle onderdruk (Rigt. 13:1). Hulle wrede heerskappy het baie pyn en lyding vir die Israeliete veroorsaak. Jehovah het Simson gekies om “die leiding [te] neem om Israel uit die hand van die Filistyne te red” (Rigt. 13:5). Dit was ’n baie moeilike taak! Om hierdie toewysing uit te voer, sou Simson op Jehovah moes vertrou.

Simson het op Jehovah vertrou en was aanpasbaar. Hy het gebruik wat hy gehad het om God se wil uit te voer (Sien paragraaf 4-5)

4. Hoe het Jehovah Simson gehelp om homself te bevry van die Filistyne? (Rigters 15:​14-16)

4 Kyk na ’n voorbeeld van Simson se vertroue in Jehovah en hoe God hom ondersteun het. Eenkeer het ’n Filistynse leërmag gekom om Simson gevange te neem by Legi, wat heel moontlik in Juda was. Die manne van Juda was bang, en daarom het hulle besluit om Simson aan die vyand oor te gee. Simson se eie volk het hom met twee nuwe toue vasgebind en hom na die Filistyne toe gebring (Rigt. 15:​9-13). Maar “Jehovah se gees [het Simson] krag gegee,” en hy het die toue self losgemaak. Toe het hy “’n vars kakebeen van ’n donkie gevind”, dit opgetel en dit gebruik om 1 000 Filistynse manne dood te slaan! – Lees Rigters 15:​14-16.

5. Wat leer ons oor Simson se vertroue in Jehovah uit die feit dat hy ’n donkie se kakebeen gebruik het?

5 Hoekom het Simson die kakebeen van ’n donkie gebruik? Dit was ’n baie ongewone wapen, om die minste te sê! Simson het beslis geweet dat sy sukses van Jehovah afgehang het en nie van watter wapen hy gebruik het nie. Ja, hierdie getroue man het gebruik wat hy gehad het om Jehovah se wil uit te voer. Dit is duidelik dat Simson baie suksesvol was omdat hy op Jehovah vertrou het.

6. Wat kan ons by Simson leer wanneer ons ons teokratiese toewysings uitvoer?

6 Jehovah kan ons ook versterk om ons toewysings uit te voer, selfs dié wat oorweldigend lyk. God kan dit doen op ’n manier wat ons dalk verbaas. Vertrou dat Jehovah, wat vir Simson krag gegee het, jou sal help om Sy wil te doen solank as wat jy op Hom vertrou vir hulp. – Spr. 16:3.

7. Watter voorbeeld wys hoe belangrik dit is dat ons op die uitkyk moet wees vir Jehovah se leiding?

7 Baie broers en susters wat betrokke is by teokratiese bouprojekte, het gewys dat hulle op Jehovah vertrou. In die verlede het broers gewoonlik die meeste nuwe Koninkryksale en ander geboue ontwerp en gebou. Maar omdat meer en meer mense gedoop word, moes die organisasie veranderinge maak. Die verantwoordelike broers het gebid vir Jehovah se leiding en nuwe metodes probeer, soos om geboue te koop en op te knap. “Aan die begin was dit vir party moeilik om hierdie nuwe benadering te aanvaar,” sê Robert, wat in onlangse jare betrokke was by baie van ons bouprojekte regoor die wêreld. Hy sê verder: “Dit was baie anders as wat ons jare lank al doen. Maar die broers was bereid om aan te pas, en dit het duidelik geword dat Jehovah hierdie veranderinge seën.” Dit is net een voorbeeld van hoe Jehovah sy volk lei sodat hy sy wil kan bereik. Dit sal goed wees as ons almal ons van tyd tot tyd afvra: ‘Is ek op die uitkyk vir Jehovah se leiding, en bly ek aanpasbaar in my diens aan hom?’

SIMSON HET GOED GEBRUIK GEMAAK VAN JEHOVAH SE VOORSIENINGS

8. Wat het Simson eenkeer gedoen toe hy baie dors geword het?

8 Jy onthou dalk ander wonderlike dinge wat Simson gedoen het. Hy het man-alleen ’n leeu doodgemaak, en later het hy 30 Filistyne in die stad Askelon doodgemaak (Rigt. 14:​5, 6, 19). Simson het geweet dat hy nooit sulke dinge sonder Jehovah se hulp sou kon doen nie. Dit was duidelik toe hy eenkeer baie dors geword het nadat hy 1 000 Filistyne doodgemaak het. Wat het hy gedoen? Hy het nie op homself staatgemaak om water te vind nie; hy het eerder Jehovah se hulp gevra. – Rigt. 15:18.

9. Hoe het Jehovah Simson se gebed beantwoord? (Rigters 15:19)

9 Jehovah het Simson se gebed om hulp beantwoord toe hy water deur middel van ’n wonderwerk voorsien het. Toe Simson daarvan gedrink het, “het sy krag teruggekeer en het hy beter gevoel”. (Lees Rigters 15:19.) Hierdie nuwe waterbron het glo jare later nog bestaan toe die profeet Samuel geïnspireer was om die boek Rigters te skryf. Die Israeliete wat daardie vloeiende water gesien het, is dalk daaraan herinner dat Jehovah sy getroue aanbidders in hulle tyd van nood sal help as hulle op hom vertrou.

Simson het nuwe krag gekry nadat hy die water gedrink het wat Jehovah voorsien het. Dit is goed vir ons as ons goed gebruik maak van Jehovah se voorsienings om ons geestelik sterk te hou (Sien paragraaf 10)

10. Wat moet ons doen om Jehovah se hulp te ontvang? (Sien ook prent.)

10 Ons moet ook op Jehovah vertrou vir hulp maak nie saak watter talente of vermoëns ons dalk het of wat ons in sy diens bereik het nie. Ons moet beskeie wees en erken dat ware sukses net moontlik is wanneer ons op Jehovah vertrou. Net soos Simson nuwe krag gekry het toe hy die water gedrink het wat Jehovah voorsien het, sal ons geestelik versterk word wanneer ons goed gebruik maak van al Jehovah se voorsienings. – Matt. 11:28.

11. Hoe kan ons goed gebruik maak van Jehovah se hulp? Gee ’n voorbeeld.

11 Kyk na die voorbeeld van Aleksei, een van ons Russiese broers wat erg vervolg word. Wat het hom gehelp om sterk te bly onder baie moeilike omstandighede? Hy en sy vrou het ’n goeie geestelike roetine. Hy sê: “Ek probeer by my geestelike roetine van persoonlike studie en daaglikse Bybellees bly. Ek en my vrou bespreek elke oggend die dagteks en bid saam tot Jehovah.” Wat leer dit ons? Ons moet op Jehovah vertrou eerder as om op onsself staat te maak. Hoe? Deur gereeld dinge te doen wat ons geloof opbou, soos persoonlike Bybelstudie en ander teokratiese aktiwiteite. Dan sal Jehovah alles wat ons doen om hom te dien, ryklik seën. Hy het Simson versterk, en Hy kan ons beslis versterk.

SIMSON HET NIE OPGEGEE NIE

12. Watter slegte besluit het Simson gemaak, en hoe was sy verhouding met Delila anders?

12 Simson was onvolmaak net soos ons, en daarom het hy soms slegte keuses gemaak. Een besluit wat hy gemaak het, het veral tragiese gevolge gehad. Nadat Simson al ’n rukkie lank as ’n rigter gedien het, het hy “verlief geraak op ’n vrou in die Sorek-vallei, en haar naam was Delila” (Rigt. 16:4). Simson was voorheen verloof aan ’n Filistynse vrou, maar daardie verhouding was “van Jehovah af”, wat “’n geleentheid gesoek [het] om teen die Filistyne op te tree”. Later het Simson in die huis van ’n prostituut in die Filistynse stad Gasa gebly. Op daardie geleentheid het Jehovah Simson die krag gegee om die deure van die stadspoort weg te dra, wat die stad verswak het (Rigt. 14:​1-4; 16:​1-3). Maar sy verhouding met Delila was dalk anders omdat sy heel moontlik ’n Israeliet was.

13. Wat het Delila gedoen wat Simson in ’n slegte situasie laat beland het?

13 Delila het ’n groot bedrag geld van die Filistyne aanvaar om Simson te verraai. Was hy so verblind deur sy liefde vir haar dat hy nie kon sien waarmee sy besig is nie? Wat ook al die geval was, Delila het Simson oor en oor gevra om vir haar te sê hoekom hy so sterk is, en op die ou end het Simson haar vertel. Ongelukkig het Simson toegelaat dat hy in ’n situasie beland wat veroorsaak het dat hy sy krag en Jehovah se goedkeuring vir ’n ruk lank verloor het. – Rigt. 16:​16-20.

14. Wat het met Simson gebeur omdat hy Delila vertrou het?

14 Simson het baie pyn en lyding deurgemaak omdat hy Delila vertrou het eerder as Jehovah. Die Filistyne het Simson gevange geneem en sy oë uitgesteek. Hy was in die tronk in Gasa, waar hy die volk vroeër verneder het, en hulle het hom ’n graanmaler gemaak. Toe is hy verneder toe die Filistyne bymekaargekom het om fees te vier. Hulle het ’n groot offerande aan hulle valse god Dagon geoffer, asof hy Simson in hulle hande gegee het. Hulle het Simson uit die tronk gehaal en hom na die partytjie toe gebring om hulle te “vermaak” – om hom te bespot. – Rigt. 16:​21-25.

Jehovah het Simson versterk om Sy oordeel teen die Filistyne uit te voer (Sien paragraaf 15)

15. Hoe het Simson gewys dat hy weer op Jehovah vertrou? (Rigters 16:​28-30) (Sien prent op voorblad.)

15 Simson het ’n ernstige fout gemaak, maar hy het nie opgegee nie. Hy het na ’n geleentheid gesoek om teen die Filistyne te veg, ’n toewysing wat God hom gegee het. (Lees Rigters 16:​28-30.) Simson het Jehovah gesmeek: “Laat my op die Filistyne wraak neem.” Die ware God het Simson se gebed beantwoord en hom weer spesiale krag gegee. As gevolg daarvan was Simson hierdie keer suksesvoller teen die Filistyne as ooit tevore.

16. Wat kan ons uit Simson se fout leer?

16 Al het Simson baie pyn en lyding deurgemaak as gevolg van sy fout, het hy nie ophou probeer om Jehovah se wil te doen nie. Selfs as ons ’n fout maak en tereggewys moet word of al verloor ons ’n voorreg, moet ons nie opgee nie. Onthou, Jehovah skryf ons nie af nie (Ps. 103:​8-10). Al maak ons foute, kan Jehovah ons nog steeds gebruik, net soos hy Simson gebruik het.

Simson het heel moontlik baie sleg gevoel oor sy fout, maar hy het nie opgegee nie – ons moet ook nie (Sien paragraaf 17-18)

17-18. Wat is vir jou aanmoedigend omtrent Michael se voorbeeld? (Sien ook prent.)

17 Kyk na die voorbeeld van ’n jong broer met die naam Michael. Hy was besig in Jehovah se diens en het as ’n bedieningskneg en gewone pionier gedien. Maar ongelukkig het hy ’n fout gemaak, wat veroorsaak het dat hy sy voorregte in die gemeente verloor. Hy sê: “Tot op hierdie punt was ek baie besig in my diens aan Jehovah. Toe het ek skielik gevoel dat ek niks in Jehovah se diens kon doen nie. Ek het nooit gedink dat Jehovah my sal afskryf nie, maar ek het gewonder of my verhouding met hom ooit weer dieselfde sou wees en of ek ooit weer so baie vir hom in die gemeente sou kon doen soos voorheen.”

18 Maar Michael het nie opgegee nie. Hy sê verder: “Ek het daarop gefokus om my verhouding met Jehovah te herstel deur gereeld uit die hart tot hom te bid, te studeer en te peins.” Later het Michael weer sy voorregte in die gemeente teruggekry. Hy dien nou as ’n ouerman en ’n gewone pionier. Hy sê: “Die ondersteuning en aanmoediging wat ek ontvang het, veral van die ouermanne, het my gehelp om te besef dat Jehovah my nog liefhet. Ek kan weer met ’n skoon gewete in die gemeente dien. Hierdie ondervinding het my geleer dat Jehovah enige iemand sal vergewe wat regtig berouvol is.” Ons kan seker wees dat Jehovah ons ook sal gebruik en sal seën ten spyte van die foute wat ons gemaak het, solank ons ons bes doen om te doen wat reg is en op hom bly vertrou. – Ps. 86:5; Spr. 28:13.

19. Hoe het Simson se voorbeeld jou versterk?

19 In hierdie artikel het ons na ’n paar van die fassinerende gebeure gekyk in Simson se lewe. Al was hy onvolmaak, het hy aanhou probeer om Jehovah te dien, selfs ná sy fout met Delila. En Jehovah het hom nie afgeskryf nie. God het Simson weer op ’n kragtige manier gebruik. Jehovah het hom nog steeds gesien as ’n man met sterk geloof en hom ingesluit by die lys van getroues in Hebreërs hoofstuk 11. Dit is baie aanmoedigend om te weet dat ons so ’n liefdevolle hemelse Vader dien wat ons baie graag wil versterk, veral wanneer ons swak is! So laat ons, soos Simson, Jehovah smeek: “Dink asseblief aan my en versterk my.” – Rigt. 16:28.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

a Simson – die naam van hierdie Bybelkarakter is bekend aan baie, selfs aan mense wat min van die Bybel weet. Sy storie is al vertel in toneelstukke, liedjies en films. Maar sy lewe is nie net ’n interessante storie nie. Ons kan baie leer by hierdie man van groot geloof.