STUDIEARTIKEL 39
LIED 125 ‘Gelukkig is dié wat genade toon!’
Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee
“Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.” – HAND. 20:35.
DOEL
Maniere hoe ons ons geluk kan behou en dit selfs kan vergroot deur te gee.
1-2. Hoe is dit tot ons voordeel dat ons geskep is met die vermoë om te ondervind dat dit ’n mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang?
TOE Jehovah mense geskep het, het hy hulle ontwerp met die vermoë om te ondervind dat dit ’n mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35). Beteken dit dat dit ons glad nie gelukkig maak wanneer ons iets ontvang nie? Nee. Ons weet uit ondervinding dat ons goed voel wanneer ons ’n geskenk ontvang. Maar ons voel selfs gelukkiger wanneer ons die een is wat gee. En dit is eintlik tot ons voordeel dat Jehovah ons op hierdie manier gemaak het. Hoekom?
2 Omdat Jehovah ons op hierdie manier gemaak het, kan ons ons eie geluk beïnvloed. Ons kan ons geluk vergroot deur na nog geleenthede te soek om te gee. Is dit nie ’n wonderlike aspek van hoe ons gemaak is nie? – Ps. 139:14.
3. Hoekom kan Jehovah as “die gelukkige God” beskryf word?
3 Die Bybel verseker ons dat dit ons gelukkig maak om te gee, so dit is geen wonder dat die Bybel Jehovah as “die gelukkige God” beskryf nie (1 Tim. 1:11). Hy is die oorspronklike en grootste Gewer. Soos die apostel Paulus gesê het “lewe en beweeg en bestaan ons” as gevolg van hom (Hand. 17:28). Ja, “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” kom van Jehovah. – Jak. 1:17.
4. Wat sal ons help om gelukkiger te wees?
4 Ons almal sal seker meer van die geluk wil ervaar wat ’n mens kry wanneer jy gee. Ons kan dit doen deur Jehovah se vrygewigheid na te volg (Ef. 5:1). Terwyl ons dit bespreek, let op wat ons kan doen as ons voel dat ander nie waardeer wat ons vir hulle gee nie. Hierdie herinneringe sal ons help om die geluk wat ons kry wanneer ons gee, te behou en selfs te vergroot.
VOLG JEHOVAH SE VRYGEWIGHEID NA
5. Watter materiële dinge gee Jehovah vir ons?
5 Wat is ’n paar maniere hoe Jehovah wys dat hy vrygewig is? Kyk na ’n paar voorbeelde. Jehovah gee vir ons materiële dinge. Ons het dalk nie altyd baie geld nie, maar Jehovah maak seker dat ons altyd het wat ons nodig het. Byvoorbeeld, hy maak dit vir ons moontlik om kos en klere te hê, sowel as ’n plek om te bly (Ps. 4:8; Matt. 6:31-33; 1 Tim. 6:6-8). Voorsien Jehovah in ons fisiese behoeftes net omdat hy verplig voel om dit te doen? Glad nie! Hoekom doen Jehovah dit vir ons?
6. Wat leer ons uit Matteus 6:25, 26?
6 Eenvoudig gestel, Jehovah voorsien in ons fisiese behoeftes omdat hy ons liefhet. Kyk na Jesus se woorde in Matteus 6:25, 26. (Lees.) Jesus gebruik voorbeelde uit die skepping. Hy het die volgende oor voëls gesê: “Hulle saai nie saad nie en hulle oes nie en hulle maak nie in voorraadskure bymekaar nie.” Maar let op wat hy daarna sê: “Tog sorg julle hemelse Vader dat hulle kos het.” Dan vra Jesus: “Is julle nie meer werd as hulle nie?” Wat is die punt? Jehovah se aanbidders is vir hom baie kosbaarder as diere. As Jehovah vir diere sorg, kan ons seker wees dat hy vir ons sal sorg! Soos ’n liefdevolle mensevader sorg hy vir sy familie omdat hy hulle liefhet. – Ps. 145:16; Matt. 6:32.
7. Wat is een manier hoe ons Jehovah se vrygewigheid kan navolg? (Sien ook prent.)
7 Soos Jehovah kan ons ook ander materieel help omdat ons hulle liefhet. Byvoorbeeld, ken jy ’n broer of ’n suster wat kos of klere nodig het? Jehovah kan jou gebruik om daardie persoon te help. Jehovah se volk is veral bekend vir hulle vrygewigheid wanneer daar ’n ramp is. Byvoorbeeld, gedurende die COVID-19-pandemie het broers en susters kos, klere en ander voorraad gedeel met dié wat dit nodig gehad het. Baie het ook bydraes vir die wêreldwye werk gemaak. Hierdie bydraes het gehelp met noodlenigingswerk regoor die wêreld. Hierdie vrygewige broers het die woorde van Hebreërs 13:16 toegepas: “[Moenie] vergeet om goed te doen en om wat jy het, met ander te deel nie, want sulke offerandes maak God bly.”
8. Op watter maniere vind ons baat by Jehovah se krag? (Filippense 2:13)
8 Jehovah gee krag. Dit maak Jehovah gelukkig om sy onbeperkte krag met sy getroue aanbidders te deel. (Lees Filippense 2:13.) Het jy al ooit vir die krag gebid om versoeking te weerstaan of om ’n moeilike tyd te verduur? Jy het dalk al ook net vir genoeg krag gebid om deur die dag te kom. Toe Jehovah jou die krag gegee het, kon jy met die apostel Paulus saamstem, wat geskryf het: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.” – Fil. 4:13.
9. Hoe kan ons die vrygewige manier waarop Jehovah sy krag gebruik, navolg? (Sien ook prent.)
9 Al is ons onvolmaakte mense, kan ons die vrygewige manier waarop Jehovah sy krag gebruik, navolg. Ons kan nie letterlik vir ander krag, of energie, gee nie. Maar ons kan ons krag gebruik om hulle te help. Byvoorbeeld, ons kan takies of huiswerk vir ’n bejaarde of sieklike Christen doen. As ons omstandighede ons toelaat, kan ons aanbied om te help om die Koninkryksaal skoon te maak en in stand te hou. As ons ons krag op sulke maniere gebruik, help ons ander wat Jehovah aanbid.
10. Hoe kan ons die krag van woorde gebruik om ander te help?
10 Moet ook nie vergeet dat woorde krag het nie. Kan jy aan iemand dink wat aangemoedig sou word as jy hulle opreg prys? Ken jy iemand wat vertroosting nodig het? As dit die geval is, hoekom neem jy nie die inisiatief om na daardie persoon uit te reik nie? Jy kan hom besoek, bel of dalk ’n kaartjie, ’n e-pos of ’n teksboodskap stuur. Moenie jou te veel bekommer oor wat om te sê nie. ’n Paar eenvoudige woorde uit die hart is dalk presies wat die persoon nodig het om vir nog ’n dag getrou te bly of om beter te voel oor sy situasie. – Spr. 12:25; Ef. 4:29.
11. Hoe gebruik Jehovah sy wysheid?
11 Jehovah gee wysheid. Die dissipel Jakobus het geskryf: “As een van julle dan wysheid nodig het, moet hy aanhou om God te vra, want hy gee oorvloedig aan almal sonder om fout te vind” (Jak. 1:5; vtn.). Soos hierdie woorde wys, hou Jehovah nie sy wysheid vir homself nie. Hy gee dit oorvloedig aan ander. Let ook op dat wanneer Jehovah wysheid gee, hy dit doen “sonder om te verwyt,” of “sonder om fout te vind”. Hy laat ons nooit sleg voel wanneer ons erken dat ons sy leiding nodig het nie. Eintlik moedig hy ons aan om daarvoor te vra. – Spr. 2:1-6.
12. Watter geleenthede het ons om ons wysheid te deel?
12 Wat van ons? Kan ons Jehovah navolg deur ons wysheid te deel? (Ps. 32:8). Jehovah se volk het baie geleenthede om dit wat hulle geleer het, met ander te deel. Byvoorbeeld, ons lei dikwels nuwes in die bediening op. Ouermanne help bedieningsknegte en gedoopte broers geduldig om te leer hoe om hulle toewysings in die gemeente te hanteer. En dié met ondervinding in konstruksie en instandhouding help om dié met minder ondervinding op te lei om werk te doen aan teokratiese fasiliteite.
13. Hoe kan ons die manier hoe Jehovah sy wysheid deel, navolg wanneer ons ander oplei?
13 Dit is goed wanneer dié wat opleiding voorsien, Jehovah navolg in die manier hoe hy sy wysheid deel. Onthou dat Jehovah sy wysheid oorvloedig aan ander gee. Net so deel ons ons kennis en ondervinding vryelik met dié wat leer. Ons hou nie van ons kennis terug omdat ons bang is dat die leerder ons dalk uiteindelik sal vervang nie. En ons dink ook nie: ‘Niemand het my opgelei nie! Hy moet maar self leer.’ So ’n gesindheid behoort nie onder Jehovah se volk nie. Ons deel eerder graag al ons kennis, en ons doen alles wat ons kan om ander op te lei (1 Tess. 2:8). Ons hoop dat hulle “dan weer bekwaam sal wees om ander te onderrig” (2 Tim. 2:1, 2). In daardie sin kan ons deel wees van ’n aanhoudende siklus van vrygewigheid wat lei tot ’n siklus van geluk.
WANNEER DIT LYK ASOF MENSE ONDANKBAAR IS
14. Hoe reageer die meeste mense op ons vrygewigheid?
14 Wanneer ons vrygewig is, veral teenoor ons broers en susters, wys hulle dikwels hulle waardering. Hulle stuur dalk ’n dankiesê-kaartjie of wys hulle dankbaarheid op ’n ander manier (Kol. 3:15). Wanneer dit gebeur, maak dit ons selfs gelukkiger.
15. Wat moet ons onthou wanneer party nie waardering wys nie?
15 Maar soms wys mense nie dat hulle dankbaar is vir wat ons vir hulle gedoen het nie. Partykeer gee ons dalk van ons tyd, energie of middele, maar daarna wonder ons of dit ooit vir die persoon saak gemaak het. Hoe kan ons keer dat ons ons vreugde verloor of bitter word as dit gebeur? Onthou die woorde van ons temateks, Handelinge 20:35. Die geluk wat ons kry wanneer ons gee, hang nie af van hoe die persoon reageer nie. Ons kan kies om dit te geniet om te gee, al lyk dit asof ander dit nie waardeer nie. Hoe? Kyk na ’n paar maniere.
16. Waarop moet ons fokus wanneer ons gee?
16 Fokus daarop om Jehovah na te volg. Hy gee vir mense goeie dinge of hulle dit nou waardeer of nie (Matt. 5:43-48). Jehovah belowe dat ons “beloning . . . groot [sal] wees” wanneer ons ook gee “sonder om te hoop om iets terug te kry” (Luk. 6:35). So moenie teleurgesteld wees as mense nie altyd hulle waardering wys nie. Onthou, Jehovah sal ons altyd beloon vir die goeie dinge wat ons doen om ander te help en omdat ons “met vreugde gee”. – Spr. 19:17; 2 Kor. 9:7.
17. Hoe kan ons die regte beskouing behou? (Lukas 14:12-14)
17 Ons vind ’n waardevolle beginsel in Lukas 14:12-14 (lees) wat ons sal help om die regte beskouing te behou wanneer ons gee. Dit is nie verkeerd om gasvry te wees of om op ander maniere vrygewig te wees teenoor dié wat iets soortgelyks vir ons kan doen nie. Maar wat as ons besef dat ons dikwels aan ander gee omdat ons hoop om iets terug te kry? Dit sal goed wees as ons probeer doen wat Jesus voorgestel het. Ons kan gasvry wees teenoor iemand al weet ons dat daardie persoon nie in staat is om gasvry teenoor ons te wees nie. Dan sal ons gelukkig wees omdat ons Jehovah navolg. Daardie selfde beskouing sal ons ook help om ons vreugde te behou wanneer ander nie waardering wys nie.
18. Wat kan ons help om nie sleg te dink van ander nie?
18 Moenie ander se motiewe bevraagteken nie (1 Kor. 13:7). As ander nie waardering wys nie, kan ons ons afvra: ‘Is hulle regtig ondankbaar of het hulle net vergeet om te wys dat hulle dankbaar is?’ Dalk is daar ander redes hoekom hulle nie gereageer het soos ons dalk verwag het nie. Party is dalk baie dankbaar, maar sukkel om dit te wys. Hulle is dalk skaam omdat hulle hulp ontvang het, veral as hulle in die verlede dié was wat ander gehelp het. Wat ook al die geval is, Christelike liefde sal ons motiveer om nie sleg te dink van ons broers en susters nie en om aan te hou om met vreugde te gee. – Ef. 4:2.
19-20. Hoekom is dit goed om geduldig te wees wanneer ons aan ander gee? (Sien ook prent.)
19 Wees geduldig. Wyse koning Salomo het in verband met vrygewigheid geskryf: “Stuur jou brood uit op die water, want eendag sal jy dit terugkry” (Pred. 11:1). Hierdie woorde leer ons dat mense dalk soms hulle waardering eers ná ’n lang tyd – “eendag” – sal wys. Kyk na ’n ondervinding wat hierdie waarheid beklemtoon.
20 Baie jare gelede het ’n kringopsiener se vrou ’n mooi briefie vir ’n pas gedoopte suster geskryf en haar aangemoedig om getrou te bly. Omtrent agt jaar later het die suster ’n briefie teruggeskryf en gesê: “Ek wil jou regtig net laat weet hoe baie jy my die afgelope paar jaar gehelp het sonder dat jy dit eers besef.” Sy het verder geskryf: “[Jou briefie] was baie liefdevol, maar dit was die teks wat my hart geraak het, en ek het dit nooit vergeet nie.” a Nadat die suster vir haar vertel het van party van die uitdagings wat sy gehad het, het sy gesê: “Soms wou ek alles net los, die waarheid los, die verantwoordelikhede los – alles net los. Maar dan het ek altyd aan die teks gedink wat jy vir my geskryf het, en dit het my die krag gegee om getrou te bly.” Sy het verder gesê: “Gedurende daardie agt jaar het niks anders so ’n uitwerking op my gehad nie.” Dink net hoe bly die kringopsiener se vrou was toe sy hierdie briefie ná so ’n lang tyd ontvang het! Iemand sal dalk ook eers lank nadat ons iets goeds vir hulle gedoen het, wys dat hulle dankbaar is.
21. Hoekom is jy vasbeslote om Jehovah se vrygewigheid te bly navolg?
21 Soos genoem is, het Jehovah ons met ’n spesiale vermoë geskep. Al geniet ons dit om te ontvang, maak dit ons selfs gelukkiger wanneer ons aan ander gee. Ons voel goed wanneer ons ons broers en susters kan help. En ons is bly wanneer hulle hulle waardering wys. Maar of die ontvanger nou waardering wys of nie, ons kan bly wees dat ons die regte ding gedoen het. Moet nooit vergeet dat “Jehovah . . . vir [jou] baie meer” kan gee as wat jy ooit vir ander kan gee nie (2 Kron. 25:9). So Jehovah sal jou altyd met baie meer beloon! En wanneer ons deur Jehovah beloon word, is dit die beste beloning ooit. Laat ons dan vasbeslote wees om aan te hou om ons vrygewige hemelse Vader na te volg.
LIED 17 ‘Ek wil, ja’
a Die teks wat met die suster gedeel is, is 2 Johannes 8, wat sê: “Pasop dat julle nie die dinge verloor waarvoor ons gewerk het nie, sodat julle ’n volle beloning kan verkry.”
b BESKRYWING VAN PRENT: In hierdie prent sien ons hoe die kringopsiener se vrou ’n aanmoedigende brief vir ’n suster skryf. Jare later ontvang sy ’n briefie van waardering.