Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 36

LIED 89 Luister en doen wat God sê

Doen wat die Woord sê

Doen wat die Woord sê

“Moenie net hoor wat die woord sê nie . . . doen ook wat dit sê.”JAK. 1:22.

DOEL

Hierdie artikel sal ons nie net help om ons begeerte te versterk om God se Woord daagliks te lees nie, maar ook om daaroor na te dink en om dit meer in ons lewe toe te pas.

1-2. Wat maak God se knegte gelukkig? (Jakobus 1:​22-25)

 JEHOVAH en sy geliefde Seun wil hê dat ons gelukkig moet wees. Die skrywer van Psalm 119:2 sê: “Gelukkig is dié wat aandag skenk aan sy herinneringe, wat hom met hulle hele hart soek.” Jesus het belowe: “Gelukkig is dié wat die woord van God hoor en dit gehoorsaam!”Luk. 11:28.

2 As Jehovah se aanbidders is ons ’n gelukkige volk. Hoekom? Ons het baie redes, maar een belangrike rede is dat ons God se Woord gereeld lees en ons bes probeer om toe te pas wat ons leer. – Lees Jakobus 1:​22-25.

3. Hoe vind ons daarby baat wanneer ons toepas wat ons in God se Woord lees?

3 Daar is ’n hele paar maniere hoe ons baat vind wanneer ons ‘doen wat die woord sê’. Byvoorbeeld, wanneer ons toepas wat ons uit God se Woord leer, maak ons Jehovah gelukkig, en dit maak ons gelukkig (Pred. 12:13). En wanneer ons die raad in God se Woord volg, verbeter ons ons gesinslewe en bou ons sterk vriendskappe met ons broers en susters. Dit het heel moontlik in jou lewe gebeur. Wat meer is, ons vermy baie van die probleme wat mense het wanneer hulle nie gehoorsaam is aan Jehovah se bevele nie. Ja, ons stem saam met koning Dawid. Nadat hy gesing het oor Jehovah se wet, bevele en oordele het hy gesê: “Wanneer ’n mens dit gehoorsaam, is daar ’n groot beloning.” – Ps. 19:​7-11.

4. Hoekom is dit ’n uitdaging om te doen wat God se Woord sê?

4 Dit is natuurlik nie altyd vir ons maklik om te doen wat God se Woord sê nie. Ons moet tyd maak in ons besige lewens om die Bybel te lees en te studeer sodat ons kan verstaan wat Jehovah wil hê ons moet doen. So kom ons kyk na ’n paar voorstelle wat ons kan help om dit gereeld te lees. Ons sal ook bespreek wat ons sal help om te dink oor wat ons lees en om te sien hoe ons wat ons leer, in ons lewe kan toepas.

MAAK TYD OM GOD SE WOORD TE LEES

5. Watter verantwoordelikhede hou ons besig?

5 Die meeste van Jehovah se knegte is baie besig. Ons spandeer ’n groot hoeveelheid tyd daaraan om ons verskillende skriftuurlike verantwoordelikhede na te kom. Byvoorbeeld, die meeste van ons werk sekulêr om vir onsself en ons gesinne te sorg (1 Tim. 5:8). Baie Christene kyk na siek of bejaarde familielede. En ons almal moet na ons eie gesondheid omsien, wat tyd neem. Buiten hierdie verantwoordelikhede het ons toewysings in die gemeente. ’n Belangrike verantwoordelikheid is om ywerig aan die predikingswerk deel te neem. Met al jou persoonlike verantwoordelikhede, hoe kan jy die tyd vind om die Bybel gereeld te lees, na te dink oor wat jy gelees het en toepas wat dit sê?

6. Hoe kan jy Bybellees ’n prioriteit maak? (Sien ook prent.)

6 Bybellees is een van “die belangriker dinge” vir ons as Christene, en daarom moet ons dit ’n prioriteit maak (Fil. 1:10). Die heel eerste psalm sê oor die gelukkige man: “Hy vind vreugde in die wet van Jehovah, en dag en nag lees hy Sy wet en dink hy daaroor na” (Ps. 1:​1, 2). Dit is duidelik dat ons tyd moet maak om die Bybel te lees. Wanneer is die beste tyd om die Bybel te lees? Die antwoord is dalk verskillend vir ons elkeen. Maar eenvoudig gestel, dit sal ’n tyd wees wanneer jy dit gereeld kan doen. ’n Broer met die naam Victor sê: “Ek hou daarvan om my Bybellees in die oggend te doen. Al is ek nie ’n oggendmens nie, is daar minder afleidings vroeg in die oggend. My verstand is helder, en ek kan beter fokus.” Is dit dalk waar in jou geval? Vra jouself: ‘Wanneer is dit vir my die beste tyd om die Bybel te lees?’

Wanneer is die beste tyd om die Bybel te lees? Wanneer kan jy dit gereeld doen? (Sien paragraaf 6)


DINK NA OOR WAT JY GELEES HET

7-8. Wat kan keer dat ons ten volle baat vind by wat ons gelees het? Gee ’n voorbeeld.

7 Maar die werklikheid is dat ons dikwels baie inligting kan lees sonder om dit regtig te absorbeer. Het jy al ooit iets gelees en kort daarna kon jy nie onthou wat jy gelees het nie? Dit het al met ons almal gebeur. Ongelukkig kan dit ook gebeur wanneer ons die Bybel lees. Dalk stel ons ’n doelwit om elke dag ’n sekere hoeveelheid hoofstukke van die Bybel te lees. Dit is baie goed. Ons moet doelwitte stel en probeer om dit te bereik (1 Kor. 9:26). Maar om die Bybel te lees, is ’n begin – ’n goeie begin, maar net ’n begin. Ons moet meer doen as om net die Bybel te lees as ons ten volle daarby wil baat vind.

8 Dink aan hierdie vergelyking: Water, dikwels in die vorm van reën, is noodsaaklik vir lewe. Maar as te veel reën in ’n kort tydjie val, kan die grond te nat word. Wanneer dit gebeur, sal nog reën nie goed wees nie. Die grond het tyd nodig om die reën wat geval het, te absorbeer sodat dit dan die plante kan help groei. Net so moet ons dit vermy om die Bybel op ’n gejaagde manier te lees, dit wil sê so vinnig dat ons nie kan absorbeer, onthou en gebruik wat ons gelees het nie. – Jak. 1:24.

Net soos die grond tyd nodig het om reën te absorbeer en te gebruik, het ons tyd nodig om na te dink oor en toe te pas wat ons in God se Woord lees (Sien paragraaf 8)


9. Wat moet ons doen as ons in die gewoonte gekom het om deur ons Bybellees te jaag?

9 Het jy al gevind dat jy soms deur jou Bybellees jaag? Wat moet jy doen? Lees stadiger. Probeer dink oor wat jy lees of nou net gelees het. Dit hoef nie intimiderend te wees nie. As die raad om te bepeins vir jou intimiderend klink, kan jy bepeinsing beskou as om net te dink oor wat jy gelees het. Jy besluit dalk om jou studieperiode langer te maak sodat jy tyd kan hê om te dink oor wat jy gelees het, of om daaroor te bepeins. Aan die ander kant kies jy dalk om minder verse te lees en om die oorblywende tyd te gebruik om na te dink oor wat jy gelees het. “Ek hou my Bybellees kort, miskien een hoofstuk,” sê Victor, wat vroeër aangehaal is. “Omdat ek vroeg in die oggend lees, kan ek regdeur die dag dink oor wat ek gelees het.” Watter metode jy ook al gebruik, dit is baie belangrik om teen ’n pas te lees wat jou sal help om die meeste te kry uit wat jy lees. – Ps. 119:97; sien die venster “ Vrae om oor na te dink”.

10. Gee ’n voorbeeld van hoe jy wat jy leer, kan toepas. (1 Tessalonisense 5:​17, 18)

10 Ongeag wanneer jy jou Bybellees doen en hoeveel tyd jy gebruik om dit te doen, maak seker dat jy na maniere soek om toe te pas wat jy lees. Terwyl jy ’n gedeelte van God se Woord lees, vra jouself: ‘Hoe kan ek hierdie inligting nou of in die nabye toekoms toepas?’ Byvoorbeeld, stel jou voor dat jou Bybellees 1 Tessalonisense 5:​17, 18 (lees) ingesluit het. Nadat jy daardie twee verse gelees het, kan jy stop en dink aan hoe gereeld jy bid en aan hoe diep jou gebede is. En jy kan nadink oor dinge waarvoor jy dankbaar is. Miskien besluit jy dat jy vir Jehovah dankie sal sê vir drie spesifieke dinge. Selfs al gebruik jy net ’n paar minute om te dink aan lesse uit die Bybel, sal dit jou help om God se Woord te verstaan en om te doen wat dit sê. Dink aan hoe jy daarby sal baat vind as jy hierdie proses elke dag herhaal met ander gedeeltes van die Bybel wat jy gelees het. Ja, jy sal groei as iemand wat doen wat God se Woord sê. Maar sê nou dit lyk asof daar so baie dinge is waaraan jy moet werk?

STEL REDELIKE DOELWITTE

11. Hoekom sal jy dalk soms oorweldig voel? Gee ’n voorbeeld.

11 Wanneer jy die Bybel lees en na maniere soek om die raad daarin toe te pas, sal jy dalk soms oorweldig voel. Dink aan hierdie scenario: Vandag sluit jou Bybellees raad in dat ons nie mense moet voortrek nie (Jak. 2:​1-8). Jy sien dat jy kan verbeter wanneer dit kom by hoe jy ander behandel, en daarom besluit jy om ’n paar veranderinge te maak. Dit is uitstekend! En môre lees jy ’n gedeelte wat beklemtoon hoe belangrik dit is om jou spraak te beheer (Jak. 3:​1-12). Jy besef dat jou spraak soms ’n bietjie negatief was. Daarom besluit jy dat jy positiewer en opbouender sal wees. Die volgende dag sluit jou Bybellees ’n waarskuwing in dat ons nie ’n vriend van die wêreld moet word nie (Jak. 4:​4-12). Jy besef dat jy versigtiger moet wees wanneer dit kom by jou keuse van vermaak. Teen die vierde dag voel jy dalk baie oorweldig deur al die dinge waaraan jy moet werk.

12. Hoekom moet jy nie mismoedig wees as jou Bybellees wys dat jy veranderinge moet maak nie? (Sien ook voetnoot.)

12 As jy ’n paar veranderinge of verbeteringe moet maak, moenie mismoedig wees nie. Dit bewys dat jy ’n goeie hartstoestand het. Iemand wat nederig en eerlik met homself is, lees die Bybel en soek na maniere om te verbeter. a Onthou ook dat dit ’n aanhoudende proses is om “die nuwe persoonlikheid” aan te trek. (Kol. 3:10; vergelyk die studienota “is being made new” in die Engelse Studiebybel.) Wat sal jou help om aan te hou om te doen wat God se Woord sê?

13. Hoe kan jy ’n redelike hoeveelheid doelwitte stel? (Sien ook prent.)

13 In plaas daarvan om alles wat jy gelees het, gelyk te probeer toepas, stel ’n redelike hoeveelheid doelwitte (Spr. 11:2). Probeer die volgende: Maak ’n lys van die dinge waaraan jy moet werk en kies dan eers een of twee dinge om aan te werk, en los die ander vir later. Waar moet jy begin?

In plaas daarvan om gelyk te probeer werk aan alles wat jy in die Bybel lees, hoekom stel jy nie redelike doelwitte nie? Fokus dalk op een of twee punte (Sien paragraaf 13-14)


14. Met watter doelwitte kan jy begin?

14 Jy besluit dalk om met ’n doelwit te begin wat vir jou makliker is om te bereik. Of jy kies dalk om aan iets te werk waarin jy voel jy die meeste moet verbeter. Sodra jy jou doelwit geïdentifiseer het, doen navorsing in ons publikasies, en gebruik dalk die Watch Tower Publications Index of die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. Bid oor jou doelwit en vra Jehovah om jou “die begeerte en die krag om op te tree” te gee (Fil. 2:13). Probeer dan toepas wat jy geleer het. As jy vordering maak met jou eerste doelwit, sal jy heel moontlik meer gemotiveerd voel om aan ’n ander doelwit te werk. Om die waarheid te sê, wanneer jy verbeter in een aspek van jou Christelike lewenswyse of wanneer dit kom by een Christelike eienskap sal dit heel moontlik vir jou makliker word om ander veranderinge te maak.

LAAT GOD SE WOORD “IN JULLE . . . AAN DIE WERK” WEES

15. Hoe verskil Jehovah se volk van baie wat al die Bybel gelees het? (1 Tessalonisense 2:13)

15 Party mense sê dat hulle die Bybel al baie keer gelees het. Maar glo hulle regtig in die Bybel? Het hulle dit toegepas of dit toegelaat om hulle lewenswyse te affekteer? Ongelukkig is die antwoord dikwels nee. Maar dit is so anders met Jehovah se volk. Soos die eerste-eeuse Christene aanvaar ons die Bybel “vir wat dit waarlik is, die woord van God”. En ons probeer hard om te wys dat dit in ons lewe aan die werk is. – Lees 1 Tessalonisense 2:13.

16. Wat kan ons help om te doen wat die Woord sê?

16 Dit is nie altyd maklik om God se Woord te lees en toe te pas nie. Ons sukkel dalk om tyd te vind om dit te lees. Of ons lees dalk teen ’n baie vinnige pas en absorbeer nie baie van wat ons lees nie. Of ons voel dalk oorweldig deur al die veranderinge wat ons moet maak. Dit maak nie saak wat jou uitdaging is nie, dit is nie te moeilik om te hanteer nie. Met Jehovah se hulp kan jy dit oorkom. Mag ons vasbeslote wees om sy hulp te aanvaar sodat ons nie hoor en vergeet nie, maar doen wat die Woord sê. As ons God se Woord meer lees en dit in ons lewens toepas, sal ons beslis gelukkiger wees. – Jak. 1:25.

LIED 94 Dankbaar vir God se Woord

a Kyk op jw.org die video Wat ander jongmense sê – Bybellees.