Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 38

LIED 25 ’n Spesiale besitting

Skenk jy aandag aan die waarskuwings?

Skenk jy aandag aan die waarskuwings?

“Die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.”MATT. 24:40.

DOEL

Ons sal kyk na drie van Jesus se illustrasies en bespreek hoe dit verband hou met die tyd van oordeel wat sal plaasvind aan die einde van hierdie wêreld.

1. Watter oordeel sal binnekort plaasvind?

 ONS lewe gedurende ’n tyd van groot verandering! Jesus sal binnekort elke lewende persoon oordeel. Jesus het die tyd voor hierdie oordeel beskryf deur vir sy dissipels ’n profetiese “teken” te gee van sy onsigbare teenwoordigheid en van “die einde van die wêreldstelsel” (Matt. 24:3). Hierdie profesieë is opgeteken in Matteus hoofstuk 24 en 25 en in die parallelle verslae van Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek, en hoekom sal dit ons help?

2 Jesus het drie illustrasies vertel wat waarskuwings vir ons bevat. Dit is die illustrasies van die skape en die bokke, die verstandige en die onverstandige maagde en die talente. Elke illustrasie help ons om te verstaan hoe ’n persoon se gedrag ’n uitwerking sal hê op die manier hoe hy geoordeel sal word. In hierdie artikel gaan ons hierdie illustrasies ondersoek en kyk watter lesse ons daaruit kan leer. Die eerste illustrasie wat ons sal bespreek, is dié van die skape en die bokke.

DIE SKAPE EN DIE BOKKE

3. Wanneer sal Jesus mense oordeel?

3 In die illustrasie van die skape en die bokke het Jesus die oordeel beskryf van mense wat die geleentheid het om die goeie nuus te aanvaar en om sy gesalfde broers te ondersteun (Matt. 25:​31-46). Gedurende die “groot verdrukking” sal hy hierdie oordeel uitspreek net voor Armageddon (Matt. 24:21). Net soos ’n herder skape van die bokke skei, sal Jesus dié wat sy gesalfde volgelinge lojaal ondersteun, skei van dié wat dit nie doen nie.

4. Volgens Jesaja 11:​3, 4, hoekom kan ons seker wees dat Jesus mense op ’n regverdige manier sal oordeel? (Sien ook voorblad.)

4 Bybelprofesieë wys dat Jesus, as Jehovah se aangestelde Regter, regverdig sal wees in die manier hoe hy oordeel. (Lees Jesaja 11:​3, 4.) Hy hou die gedrag, gesindheid en spraak van mense dop – insluitende hoe hulle sy gesalfde broers behandel (Matt. 12:​36, 37; 25:40). Jesus sal weet wie die gesalfde broers en hulle werk ondersteun het. a Een van die hoofmaniere waarop iemand Christus se broers kan ondersteun, is deur hulle te help in die predikingswerk. Dié wat hulle op hierdie manier ondersteun, sal as “regverdiges” geoordeel word en sal die vooruitsig hê om “ewige lewe” op die aarde te ontvang (Matt. 25:46; Op. 7:​16, 17). Wat ’n wonderlike beloning vir dié wat hulle integriteit behou! Deur getrou te bly gedurende die groot verdrukking en daarna hou hulle hulle name “in die boek van die lewe”. – Op. 20:15.

In die nabye toekoms sal Jesus oordeel of mense gewys het dat hulle soos skape of soos bokke is (Sien paragraaf 4)


5. Wat is die les van die illustrasie van die skape en die bokke, en wie moet daarin belangstel?

5 Wees getrou en lojaal. Jesus se illustrasie van die skape en die bokke fokus hoofsaaklik op dié wat die aardse hoop het. Hulle wys dat hulle geloof het, nie net deur Christus se broers in die predikingswerk te help nie, maar ook deur die leiding van die klein groepie gesalfde broers wat Jesus gekies het, lojaal te aanvaar (Matt. 24:45). Maar dié met ’n hemelse hoop moet ook aandag skenk aan die waarskuwingsboodskap in die illustrasie. Hoekom? Omdat Jesus hulle gedrag, gesindheid en spraak dophou. Hulle moet ook getrou wees. Eintlik het Jesus nog twee illustrasies vertel wat spesifieke waarskuwings vir die gesalfdes bevat. Ons vind ook hierdie illustrasies in Matteus hoofstuk 25. Kom ons bespreek nou die illustrasie van die verstandige en die onverstandige maagde.

DIE VERSTANDIGE EN DIE ONVERSTANDIGE MAAGDE

6. Hoe het vyf van die maagde gewys dat hulle verstandig is? (Matteus 25:​6-10)

6 In die illustrasie van die maagde het Jesus gepraat van tien maagde wat uitgegaan het om ’n bruidegom te ontmoet (Matt. 25:​1-4). Hulle almal het gehoop om saam met die bruidegom na sy huweliksfees te gaan. Jesus het vyf van hulle beskryf as “verstandig” en die ander vyf as “onverstandig”. Die verstandige maagde was voorbereid en waaksaam. Hulle was gereed om vir die bruidegom te wag solank as wat nodig was, selfs al het hy laat in die aand gekom. Daarom het hulle olielampe saamgebring sodat hulle in die donker kon sien. Hulle het selfs ekstra olie gebring ingeval die bruidegom lank vat om te kom. So hulle was voorbereid om hulle lampe aan die brand te hou. (Lees Matteus 25:​6-10.) Toe die bruidegom kom, het die verstandige maagde saam met hom ingegaan na die huweliksfees. Net so sal gesalfde Christene wat gewys het dat hulle gereed is deur waaksaam en getrou te bly totdat Christus gekom het, as waardig geoordeel word om saam met die Bruidegom, Jesus, in sy hemelse Koninkryk in te gaan (Op. 7:​1-3). b Wat van die vyf onverstandige maagde?

7. Wat het met die vyf onverstandige maagde gebeur, en hoekom?

7 Anders as die verstandige maagde was die vyf onverstandige maagde nie gereed toe die bruidegom kom nie. Hulle lampe was besig om dood te gaan, en hulle het nie ekstra olie saamgebring nie. Toe hulle hoor dat die bruidegom binnekort sou kom, moes hulle gaan olie koop. Hulle was nog nie terug toe die bruidegom kom nie. Toe het “die maagde wat gereed was . . . saam met hom ingegaan na die huweliksfees, en die deur is gesluit” (Matt. 25:10). Later toe die onverstandige maagde terugkom en wou ingaan, het die bruidegom vir hulle gesê: “Ek ken julle nie” (Matt. 25:​11, 12). Daardie maagde was nie voorbereid om vir die bruidegom te wag solank as wat dit nodig was nie. Wat is die les vir gesalfdes?

8-9. Watter les kan gesalfdes leer uit die illustrasie van die maagde? (Sien ook prent.)

8 Wees gereed en waaksaam. Jesus het nie voorspel dat daar twee groepe gesalfdes sou wees nie – een wat gereed was om te wag tot die einde van hierdie wêreld en een wat nie gereed was nie. Hy het eerder verduidelik wat met gesalfdes sou gebeur as hulle nie gereed was om getrou tot die einde te volhard nie. In daardie geval sou hulle nie hulle beloning ontvang nie (Joh. 14:​3, 4). Dit is baie ernstig! Of ons nou ’n hemelse of ’n aardse hoop het, ons almal moet aandag skenk aan die waarskuwing in die illustrasie van die maagde. Ons elkeen moet aanhou waak en voorbereid wees, gereed om tot die einde te volhard. – Matt. 24:13.

9 Nadat Jesus die illustrasie van die maagde vertel het om te beklemtoon hoe belangrik dit is om voorbereid en waaksaam te wees, het hy die illustrasie van die talente vertel. Daardie illustrasie beklemtoon hoe belangrik dit is om hardwerkend te wees.

Dit sal goed wees as ons elkeen die waarskuwing in die illustrasie van die maagde ernstig opneem deur voorbereid en waaksaam te wees, gereed om tot die einde te volhard (Sien paragraaf 8-9)


DIE TALENTE

10. Hoe het twee slawe gewys dat hulle getrou is? (Matteus 25:​19-23)

10 In die illustrasie van die talente het Jesus van twee slawe gepraat wat getrou aan hulle meester was en van een wat nie was nie (Matt. 25:​14-18). Die twee slawe het gewys dat hulle getrou is deur hard te werk om meer geld vir hulle meester te maak. Voordat hy na die buiteland gereis het, het hy vir hulle talente gegee – ’n groot bedrag geld. Die twee getroue slawe was hardwerkend en het die geld goed gebruik. Die gevolg? Toe hulle meester teruggekom het, het hulle die bedrag wat hy vir hulle gegee het, verdubbel. Die meester het hulle geprys, en hulle was “bly saam met [hulle] meester”. (Lees Matteus 25:​19-23.) Maar wat van die derde slaaf? Wat het hy met die geld gedoen wat sy meester vir hom gegee het?

11. Wat het met die “lui” slaaf gebeur, en hoekom?

11 Die derde slaaf het een talent ontvang, maar hy was “lui”. Sy meester het verwag dat hy die talent goed moet gebruik, maar hy het dit in die grond begrawe. Toe die meester terugkom, het hierdie slaaf niks ekstra gehad om hom te gee nie. Die slaaf het nie ’n goeie gesindheid gehad nie. Eerder as om jammer te sê vir die feit dat hy nie die meester se besittings vermeerder het nie, het die slaaf gesê dat die meester “’n man is wat baie vereis”. Hierdie slaaf het nie sy meester se goedkeuring ontvang nie. Wat meer is, die talent is van hom af weggeneem, en hy is uit die meester se huishouding gegooi. – Matt. 25:​24, 26-30.

12. Wie word vandag deur die twee getroue slawe verteenwoordig?

12 Die twee getroue slawe verteenwoordig getroue gesalfde Christene. Die Meester, Jesus, nooi hulle om “saam met [hulle] meester [bly te wees]”. Hulle ontvang hulle hemelse beloning, die eerste opstanding (Matt. 25:​21, 23; Op. 20:5b). Aan die ander kant is die slegte voorbeeld van die lui slaaf ’n waarskuwing vir gesalfdes. Hoe so?

13-14. Watter les leer gesalfdes uit die illustrasie van die talente? (Sien ook prent.)

13 Wees hardwerkend en ywerig. In die illustrasie van die talente, soos in die illustrasie van die maagde, het Jesus nie voorspel dat die gesalfdes lui sou word nie. Hy het eerder verduidelik wat sou gebeur as hulle ooit hulle ywer verloor. Hulle sou nie hulle “roeping en verkiesing . . . verseker” nie, en hulle sou nie toegelaat word om in die hemelse Koninkryk in te gaan nie. – 2 Pet. 1:10.

14 Jesus se illustrasie oor die maagde en die talente maak dit duidelik dat alle gesalfde Christene voorbereid en waaksaam moet wees, sowel as hardwerkend en ywerig. Maar het Jesus nog iets gesê wat ’n waarskuwing vir die gesalfdes is? Ja, hy het! Jesus se woorde in Matteus 24:​40, 41 hou ook verband met die finale oordeel van gesalfdes.

Jesus wil hê dat die gesalfdes hardwerkend en ywerig moet wees (Sien paragraaf 13-14) d


WIE SAL “SAAMGENEEM WORD”?

15-16. Hoe beklemtoon Matteus 24:​40, 41 hoe belangrik dit vir gesalfdes is om aan te hou waak?

15 Voordat Jesus die drie illustrasies vertel het, het hy ’n finale oordeel van die gesalfdes beskryf wat sou wys wie goedgekeur is. Hy het van twee mans gepraat wat op ’n landery werk en van twee vrouens wat by ’n handmeul maal. In elke geval lyk dit of die twee dieselfde werk doen, maar Jesus het gesê dat een “saamgeneem [sal] word en die ander een agtergelaat [sal] word”. (Lees Matteus 24:​40, 41.) Toe het hy vir sy volgelinge gesê: “Hou dus aan waak, want julle weet nie op watter dag julle Here kom nie” (Matt. 24:42). Jesus het iets soortgelyks gesê nadat hy die illustrasie van die maagde vertel het (Matt. 25:13). Hou hierdie dinge met mekaar verband? Dit lyk so. Net opregte, getroue gesalfdes sal “saamgeneem word” en deur Jesus in die hemelse Koninkryk ontvang word. – Joh. 14:3.

16 Hou aan waak. Enige gesalfdes wat nie geestelik wakker bly nie, sal nie saam met dié wat “uitgekies” is, bymekaargemaak word nie (Matt. 24:31). En al God se knegte, maak nie saak watter hoop hulle het nie, moet Jesus se woorde om aan te hou waak en getrou te bly as ’n waarskuwing beskou.

17. Hoekom moet ons nie bekommerd wees oor wanneer Jehovah kies om party met sy heilige gees te salf nie?

17 Ons het Jehovah baie goed leer ken, en daarom vertrou ons sy oordeel. Ons is nie bekommerd as Jehovah gekies het om party getroues in meer onlangse jare te salf nie. c Ons onthou wat Jesus in sy illustrasie van die wingerd gesê het oor die werkers wat van die 11de uur af gewerk het (Matt. 20:​1-16). Dié wat later in die dag genooi is om in die wingerd te werk, het dieselfde betaling ontvang as dié wat vroeër in die dag begin werk het. Net so sal gesalfdes die hemelse beloning ontvang as hulle as getrou geoordeel word, maak nie saak wanneer hulle gekies is nie.

SKENK AANDAG AAN DIE WAARSKUWINGS

18-19. Watter lesse en waarskuwings het ons bespreek?

18 Wat het ons bespreek? Vir dié wat hoop om vir ewig op die aarde te lewe, beklemtoon die illustrasie van die skape en die bokke hoe belangrik dit is om getrou en lojaal aan Jehovah te bly – nou en gedurende die komende groot verdrukking. Op daardie toekomstige tyd sal Jesus getroues as waardig oordeel om “die ewige lewe” te ontvang. – Matt. 25:46.

19 Ons het ook twee illustrasies bespreek wat waarskuwings vir die gesalfdes bevat. In Jesus se illustrasie van die verstandige en die onverstandige maagde het vyf van hulle gewys dat hulle verstandig is. Hulle was voorbereid en waaksaam, gereed om solank as wat dit nodig is vir die bruidegom te wag. Maar die onverstandige maagde was onvoorbereid. Daarom het die bruidegom geweier dat hulle by sy huweliksfees inkom. Ons moet ook gereed wees om te wag totdat Jesus ’n einde aan hierdie wêreld maak ongeag hoe lank dit vat. En in Jesus se illustrasie van die talente het ons die twee getroue slawe bespreek wat hardwerkend en ywerig was. Hulle het hard gewerk vir hulle meester en sy goedkeuring verkry, maar die lui slaaf is verwerp. Die les? Ons moet besig bly in Jehovah se diens tot die einde toe. Laastens het ons bespreek hoe gesalfdes waaksaam moet bly sodat Jesus hulle ‘saamneem’ na hulle hemelse beloning. Hulle sien met groot afwagting daarna uit om by Jesus in die hemel “bymekaar gebring [te] word”. Ná die oorlog van Armageddon sal hulle Jesus se bruid in die huwelik van die Lam wees. – 2 Tess. 2:1; Op. 19:9.

20. Wat sal Jehovah doen vir dié wat aandag skenk aan sy waarskuwings?

20 Al is die oordeelstyd vinnig op pad, het ons geen rede om bang te wees nie. As ons getrou bly, sal ons liefdevolle hemelse Vader ons “die krag wat bo die normale is,” gee sodat ons “voor die Seun van die mens sal kan staan” (2 Kor. 4:7; Luk. 21:36). Of ons nou die hemelse of die aardse hoop het, ons sal ons Vader gelukkig maak as ons aandag skenk aan die waarskuwings in Jesus se illustrasies. As gevolg van Jehovah se onverdiende goedheid sal ons name “in die boek [van die lewe] opgeskryf” word. – Dan. 12:1; Op. 3:5.

LIED 26 Julle het dit vir my gedoen

a Sien die artikel “Wat weet ons omtrent Jehovah se toekomstige oordele?” in Die Wagtoring van Mei 2024.

b Vir meer inligting sien die artikel “Sal jy ‘aanhou waak’?” in Die Wagtoring van 15 Maart 2015.

[Voetnoot]

d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Gesalfde suster hou ’n Bybelstudie met ’n jong vrou wat sy in die bediening ontmoet het.