Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 37

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

’n Brief wat ons kan help om getrou te volhard tot die einde toe

’n Brief wat ons kan help om getrou te volhard tot die einde toe

[Ons hou stewig vas] aan die vertroue wat ons aan die begin gehad het.”HEB. 3:14.

DOEL

Die praktiese lesse in die brief aan die Hebreërs sal ons help om getrou te volhard tot aan die einde van hierdie wêreld.

1-2. (a) Wat was die situasie in Judea toe die apostel Paulus die brief aan die Hebreërs geskryf het? (b) Hoekom het hierdie geïnspireerde brief op net die regte tyd gekom?

 HEBREEUSE Christene wat in Jerusalem en Judea gebly het, het moeilike tye ondervind in die jare ná Jesus se dood. Kort nadat die Christengemeente gevorm is, is daardie Christene erg vervolg (Hand. 8:1). Toe omtrent 20 jaar later het Christus se volgelinge ernstige ekonomiese probleme ondervind, wat moontlik veroorsaak is deur ’n hongersnood wat vroeër in die land was (Hand. 11:​27-30). Maar in omtrent 61 HJ het Christene relatiewe vrede ondervind in vergelyking met wat vir hulle voorgelê het. Gedurende daardie tydperk het hulle ’n geïnspireerde brief van die apostel Paulus ontvang – ’n brief wat presies was wat hulle op daardie tyd nodig gehad het.

2 Die brief aan die Hebreërs het op net die regte tyd gekom omdat die vrede wat die Christene ondervind het, nie vir ewig sou hou nie. Paulus het praktiese raad voorsien wat daardie Christene sou help om die moeilike tyd te verduur wat hulle binnekort sou ondervind. Die vernietiging van die Joodse wêreldstelsel, wat Jesus voorspel het, het nader gekom (Luk. 21:20). Paulus en die Christene in Judea het natuurlik nie geweet presies wanneer daardie vernietiging sou plaasvind nie. Maar daardie Christene kon die tyd wat oorbly, gebruik om hulleself voor te berei deur eienskappe soos geloof en volharding op te bou. – Heb. 10:25; 12:​1, 2.

3. Hoekom moet Christene van vandag spesiale aandag skenk aan die boek Hebreërs?

3 Ons gaan binnekort ’n verdrukking ondervind wat baie groter is as die een wat die Hebreeuse Christene ondervind het (Matt. 24:21; Op. 16:​14, 16). So kom ons kyk na van die praktiese raad wat Jehovah vir daardie Christene gegee het waarby ons ook kan baat vind.

“WERK [HARD] OM GEESTELIK VOLWASSE TE WORD”

4. Watter uitdagings het Joodse Christene gehad? (Sien ook prent.)

4 Christene met ’n Joodse agtergrond het ’n groot uitdaging gehad. Op een stadium was die Jode Jehovah se uitverkore volk. Jerusalem was vir baie jare ’n belangrike plek, want die koning wat Jehovah verteenwoordig het, het van daar af regeer, en die tempel was die middelpunt van rein aanbidding. Alle getroue Jode het die Wet van Moses gevolg en die wette wat hulle godsdiensleiers hulle geleer het. Daardie wette het hulle dieet, hulle beskouing van besnydenis en selfs hulle assosiasie met nie-Jode beïnvloed. Maar ná Jesus se dood het Jehovah nie meer die Joodse offerandes aanvaar nie. Dit was ’n uitdaging vir Joodse Christene wat daaraan gewoond was om die Wet te volg (Heb. 10:​1, 4, 10). Selfs volwasse Christene, soos die apostel Petrus, het gesukkel om by van hierdie veranderinge aan te pas (Hand. 10:​9-14; Gal. 2:​11-14). As gevolg van hulle nuwe oortuigings het daardie Christene ’n teiken geword van die Joodse godsdiensleiers.

Christene moes aanhou om die waarheid in God se Woord te vertrou en verkeerde leringe van Joodse godsdiensteenstanders te verwerp (Sien paragraaf 4-5)


5. Waarvoor moes Christene versigtig wees?

5 Die Hebreeuse Christene is deur twee groepe mense teëgestaan. Eerstens was daar die Joodse godsdiensleiers wat hulle soos afvalliges behandel het. En dan was daar ook party sogenaamde Christene wat daarop aangedring het dat volgelinge van Christus nog steeds sekere aspekte van die Wet van Moses moet volg, dalk om vervolging te vermy (Gal. 6:12). Wat sou Christene help om getrou aan Jehovah te bly?

6. Wat het Paulus sy broers en susters aangemoedig om te doen? (Hebreërs 5:14–6:1)

6 In Paulus se brief aan die Hebreërs het hy sy broers en susters aangemoedig om ’n dieper studie van God se Woord te maak. (Lees Hebreërs 5:14–6:1.) Paulus het die Hebreeuse Geskrifte gebruik om met sy broers te redeneer oor hoekom die Christelike manier van aanbidding baie beter is as Judaïsme. a Paulus het geweet dat meer kennis en ’n beter begrip van die waarheid daardie Christene sou help om verkeerde leringe te identifiseer en te verwerp sodat hulle nie mislei word nie.

7. Watter uitdagings het ons vandag?

7 Soos die Hebreeuse Christene kry ons te doen met mense wat inligting en idees versprei wat teen Jehovah se regverdige standaarde is. Teenstanders val dikwels ons Bybelgebaseerde oortuigings oor sedelikheid aan en sê dat ons bevooroordeeld en wreed is. Die wêreld se gesindhede en opinies beweeg al hoe verder weg van God se volmaakte beskouing van dinge (Spr. 17:15). Daarom moet ons ons vermoë versterk om idees te identifiseer en te verwerp wat teenstanders gebruik om ons te probeer ontmoedig of selfs om ons te mislei. – Heb. 13:9.

8. Wat kan ons help om geestelik volwasse te word?

8 Ons moet ook Paulus se raad aan die Hebreeuse Christene toepas – om hard te werk om geestelik volwasse te word. Dit beteken dat ons die Bybel goed moet bestudeer sodat ons Jehovah en die manier hoe hy dink, beter kan leer ken. Hierdie proses hou aan selfs ná ons toewyding en doop. Maak nie saak hoe lank ons al in die waarheid is nie, ons almal moet God se Woord gereeld lees en studeer (Ps. 1:2). ’n Goeie roetine van persoonlike studie sal ons help om ’n eienskap te versterk wat Paulus beklemtoon het in sy brief aan die Hebreërs: geloof. – Heb. 11:​1, 6.

“ONS IS . . . DIE SOORT WAT GELOOF HET EN DAARDEUR SAL BLY LEWE”

9. Hoekom het die Hebreeuse Christene sterk geloof nodig gehad?

9 Die Hebreeuse Christene sou sterk geloof nodig hê om die komende moeilike tyd in Judea te oorleef (Heb. 10:​37-39). Jesus het sy volgelinge gewaarsku dat hulle na die berge moet vlug wanneer hulle sien dat Jerusalem deur leërmagte omsingel word. Sy raad was op alle Christene van toepassing, of hulle nou in daardie stad gebly het of in die oop platteland (Luk. 21:​20-24). In daardie tyd het mense gewoonlik beskerming gesoek in ’n ommuurde stad soos Jerusalem wanneer hulle deur ’n aanvallende leërmag bedreig was. Om na die berge te vlug, het seker nie logies gelyk nie, en hulle sou sterk geloof nodig hê om dit te doen.

10. Wat sou sterk geloof Christene beweeg om te doen? (Hebreërs 13:17)

10 Die Hebreeuse Christene sou ook dié moes vertrou wat Jesus gebruik het om die gemeente te lei. Dié wat die leiding geneem het, het heel moontlik spesifieke instruksies gegee om almal in die gemeente te help om Jesus se riglyne op die regte tyd en op ’n ordelike manier te volg. (Lees Hebreërs 13:17.) Die Griekse woord wat in Hebreërs 13:17 vir “wees gehoorsaam” gebruik word, gee die idee dat iemand oorreed word om gehoorsaam te wees omdat hy die persoon wat die riglyne gee, vertrou. Dit sluit meer in as om net aan hom gehoorsaam te wees omdat hy die reg het om riglyne te gee. So die Hebreeuse Christene moes vertroue opbou in dié wat die leiding geneem het voordat die moeilike tyd gekom het. As Christene gedurende vreedsame tye gehoorsaam was aan die instruksies van dié wat die leiding geneem het, sou dit vir hulle baie makliker wees om dit in moeilike tye te doen.

11. Hoekom is sterk geloof noodsaaklik vir Christene van vandag?

11 Soos die Hebreeuse Christene het ons ook geloof nodig. Ons lewe gedurende ’n tyd dat die meeste mense die Bybel se waarskuwing oor die einde van hierdie wêreld verwerp – en selfs bespot (2 Pet. 3:​3, 4). En al gee die Bybel ’n paar besonderhede oor wat gedurende die groot verdrukking gaan gebeur, is daar baie dinge wat ons nie weet nie. Ons moet sterk geloof hê dat die einde van hierdie wêreld op die regte tyd sal kom en dat Jehovah vir ons sal sorg. – Hab. 2:3.

12. Wat sal ons help om die groot verdrukking te oorleef?

12 Ons moet ook ons geloof versterk in die kanaal wat Jehovah vandag gebruik om ons te lei – “die getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45). Wanneer die groot verdrukking begin, sal ons dalk spesifieke lewensreddende instruksies ontvang, soos dié wat die Hebreeuse Christene dalk ontvang het toe die Romeinse leërmag Jerusalem omsingel het. Dit is nou die tyd om ons vertroue te versterk in die riglyne wat ons ontvang van dié wat die leiding in Jehovah se organisasie neem. Ons kan nie verwag dat ons hulle riglyne gedurende die groot verdrukking vol vertroue sal volg as ons nou sukkel om dit te volg nie.

13. Hoekom was die raad in Hebreërs 13:5 gepas?

13 Terwyl die Hebreeuse Christene gewag het vir die teken om te vlug, moes hulle ook ’n eenvoudige lewe lei en “die liefde vir geld” verwerp. (Lees Hebreërs 13:5.) Party van hulle het al tye van hongersnood en armoede deurgemaak (Heb. 10:​32-34). Al was hulle op een stadium gewillig om moeilike tye ter wille van die goeie nuus te verduur, het party dalk rykdom begin sien as ’n beskerming. Maar geen hoeveelheid geld sou hulle teen die komende vernietiging beskerm nie (Jak. 5:3). Enige iemand wat materiële dinge liefgehad het, sou dit eintlik moeiliker vind om te vlug en hulle huise en besittings agter te laat.

14. Hoe kan sterk geloof nou ons besluite affekteer wanneer dit by materiële dinge kom?

14 Ons sal gemotiveerd wees om materialisme te verwerp as ons sterk geloof het dat die huidige wêreld binnekort vernietig sal word. Gedurende die groot verdrukking sal geld geen waarde hê nie. Die Bybel sê dat mense “hulle silwer op die strate [sal] gooi” omdat hulle sal besef dat “hulle silwer of hulle goud . . . hulle [nie] op die dag van Jehovah se woede [sal] kan red nie” (Eseg. 7:19). Eerder as om daarop te fokus om soveel geld te maak as wat ons kan, moet ons besluite maak wat ons sal help om ’n eenvoudige, maar gebalanseerde lewe te lei. Dit sluit in dat ons die versoeking weerstaan om onnodige skuld te maak of om baie tyd te gebruik om na ons besittings om te sien. Ons moet ook versigtig wees dat ons nie te geheg raak aan die besittings wat ons alreeds het nie (Matt. 6:​19, 24). Ons geloof sal dalk getoets word wanneer dit kom by materiële besittings en ander dinge terwyl ons wag vir die einde van hierdie wêreld om te kom.

“JULLE HET VOLHARDING NODIG”

15. Hoekom het die Hebreeuse Christene veral volharding nodig gehad?

15 Hebreeuse Christene sou toetse van hulle geloof moes verduur terwyl toestande in Judea agteruitgegaan het (Heb. 10:36). Al is party Hebreeuse Christene baie erg vervolg, het baie van hulle die Christelike godsdiens gedurende ’n tydperk van relatiewe vrede aanvaar. So Paulus het hulle daaraan herinner dat hulle hulle moet voorberei vir nog vervolging en gereed moet wees om, soos Jesus, tot die dood toe getrou te bly (Heb. 12:4). Joodse teenstanders het baie kwaad en gewelddadig geword omdat die Christelike godsdiens versprei het. Net ’n paar jaar vroeër het ’n groot groep mense Paulus aangeval toe hy in Jerusalem gepreek het. Meer as 40 Jode “het ’n eed afgelê dat hulle vervloek sou wees as hulle eet of drink voordat hulle Paulus doodgemaak het” (Hand. 22:22; 23:​12-14). Al sou daardie Christene gehaat en vervolg word, moes hulle nog steeds vir aanbidding bymekaarkom, die goeie nuus verkondig en hulle geloof sterk hou.

16. Hoe kan die brief aan die Hebreërs ons help om die regte beskouing van vervolging te hê? (Hebreërs 12:7)

16 Wat sou die Hebreeuse Christene help om teenstand te verduur? Paulus het geweet dat hulle die regte beskouing van hulle moeilike tye moet hê. Daarom het hy verduidelik dat God dalk sal toelaat dat Christene se geloof getoets word as deel van hulle opleiding. (Lees Hebreërs 12:7.) Sulke opleiding kan ’n persoon help om noodsaaklike Christelike eienskappe te ontwikkel en te verbeter. Deur te fokus op die eindresultaat in sulke moeilike tye sou die Hebreeuse Christene dit makliker vind om te volhard. – Heb. 12:11.

17. Wat het Paulus geleer oor hoe om vervolging te verduur?

17 Paulus het die Hebreeuse Christene aangemoedig om moeilike tye met groter vasbeslotenheid te verduur. Hy kon goeie raad gee oor hoe om vervolging te verduur. Omdat hy Christene voorheen vervolg het, het hy geweet wat hulle deurmaak. Hy het ook geweet hoe om vervolging te verduur. Hy het verskillende vorme van teenstand ondervind nadat hy ’n Christen geword het (2 Kor. 11:​23-25). So Paulus kon met oortuiging praat oor wat dit vereis om te volhard. Hy het daardie Christene daaraan herinner dat hulle gedurende moeilike tye op Jehovah moet vertrou, en nie op hulleself nie. Paulus kon met vertroue sê: “Jehovah is my helper. Ek sal nie bang wees nie.” – Heb. 13:6.

18. Watter inligting omtrent die toekoms kan ons help om vervolging te verduur?

18 Party van ons broers verduur nou vervolging. Ons kan hulle lojaal ondersteun deur middel van ons gebede en soms op praktiese maniere (Heb. 10:33). Maar die Bybel sê duidelik dat “almal wat met toegewydheid aan God as ’n volgeling van Christus Jesus wil lewe, . . . ook vervolg [sal] word” (2 Tim. 3:12). Daarom moet ons almal ons voorberei vir wat voorlê. Ons moet Jehovah ten volle vertrou en oortuig wees dat hy ons sal help om enige moeilike tyd wat op ons pad kom, te verduur. Op die regte tyd sal hy vir sy getroue aanbidders verligting bring. – 2 Tess. 1:​7, 8.

19. Watter praktiese stappe kan ons help om vir die groot verdrukking voor te berei? (Sien ook prent.)

19 Paulus se brief aan die Hebreërs het eerste-eeuse Christene beslis gehelp om vir die moeilike tyd voor te berei wat hulle sou ondervind. Paulus het sy broers aangemoedig om God se Woord goed te studeer en dit beter te verstaan. As hulle dit doen, sou dit hulle help om leringe wat hulle geloof sou verswak, te identifiseer en te verwerp. Hy het hulle aangemoedig om hulle geloof te versterk sodat hulle die riglyne van Jesus en dié wat die leiding in die gemeente neem, onmiddellik sou volg. En hy het Christene gehelp om hulle volharding te versterk deur die regte beskouing van moeilike tye te hê en deur dit te sien as ’n geleentheid om deur hulle liefdevolle Vader opgelei te word. Ons moet ook hierdie geïnspireerde raad toepas. Dan sal ons getrou tot die einde toe kan volhard. – Heb. 3:14.

Getroue Christene was geseën vir hulle volharding. Nadat hulle uit Judea gevlug het, het hulle aangehou om vir aanbidding bymekaar te kom. Wat kan ons hieruit leer? (Sien paragraaf 19)

LIED 126 Staan vas, word sterk, bly waaksaam

a In die eerste hoofstuk alleen haal Paulus sewe keer uit die Hebreeuse Geskrifte aan om te bewys dat die Christelike manier van aanbidding baie beter is as die Joodse manier. – Heb. 1:​5-13.