LEWENSVERHAAL
’n Opwindende en bevredigende lewe in Jehovah se diens
IN 1951 het ek pas in Rouyn, ’n klein dorp in die Kanadese provinsie Quebec, aangekom. Ek het aan die deur geklop van die adres wat ek gegee is. Marcel Filteau, a ’n Gilead-opgeleide sendeling, het na die deur toe gekom. Hy was 23 jaar oud en lank; ek was 16 en korter. Ek het vir hom my pioniertoewysingsbrief gewys. Hy het dit gelees, na my gekyk en gesê: “Weet jou ma dat jy hier is?”
EK WORD GROOT IN ’N GODSDIENSTIG VERDEELDE HUIS
Ek is in 1934 aan Switserse immigrante gebore wat in Timmins, ’n myndorpie in Ontario, Kanada, gebly het. Omtrent 1939 het my ma die Wagtoring-tydskrif begin lees en vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon. Sy het my en my ses broers en susters saam met haar geneem. Kort daarna het sy een van Jehovah se Getuies geword.
Pa was nie gelukkig oor haar besluit nie, maar Ma was lief vir die waarheid en was vasbeslote om lojaal aan Jehovah te bly. Sy het dit selfs gedoen gedurende die vroeë 1940’s toe die werk van Jehovah se Getuies in Kanada verbied is. En sy het Pa altyd liefdevol en met respek behandel, al het hy lelik met haar gepraat. Haar uitstekende voorbeeld het my en my broers en susters gehelp om ook die waarheid te aanvaar. Ons was so bly toe Pa se gesindheid later verander het en hy ons familie liefdevoller begin behandel het.
EK BEGIN MET VOLTYDSE DIENS
Gedurende die somer van 1950 het ek die Teokrasie se vermeerdering-byeenkoms in die stad New York bygewoon. Ek was baie gemotiveerd om meer in Jehovah se diens te doen nadat ek broers en susters van regoor die wêreld ontmoet het en geluister het na opwindende onderhoude van gegradueerdes wat die Gileadskool bygewoon het! Ek was meer vasbeslote as ooit om met die voltydse diens te begin. Die oomblik toe ek by die huis kom, het ek aansoek gedoen om ’n gewone pionier te word. Die takkantoor in Kanada het teruggeskryf en voorgestel dat ek eers gedoop word. Ek is toe op 1 Oktober 1950 gedoop. ’n Maand later het ek ’n gewone pionier geword en my eerste toewysing in Kapuskasing gekry. Daardie dorp was baie ver van waar ek op daardie tyd gebly het.
In die lente van 1951 het die takkantoor Getuies wat Frans kon praat, genooi om dit te oorweeg om na die Franssprekende provinsie Quebec te trek. Daar was ’n groot behoefte aan verkondigers daar. Omdat ek Frans en Engels kon praat, het ek die uitnodiging aanvaar en is ek na Rouyn gestuur. Ek het niemand daar geken nie. Al wat ek gehad het, was ’n adres soos ek vroeër vertel het. Maar dinge het goed uitgedraai. Ek en Marcel het goeie vriende geword, en ek het dit geniet om vir die volgende vier jaar in Quebec te dien, later as ’n spesiale pionier.
GILEAD EN UITGESTELDE VERWAGTINGE
Terwyl ek in Quebec was, het ek ’n uitnodiging na die 26ste klas van die Gileadskool in South Lansing, New York, ontvang, en ek was baie opgewonde daaroor. Ek het op 12 Februarie 1956 gegradueer, en ek is gestuur na wat nou Ghana, b Wes-Afrika, is. Maar voordat ek kon gaan, moes ek vir “’n paar weke” teruggaan na Kanada totdat my reisdokumente gereed was.
Op die ou end het ek sewe maande in Toronto vir daardie dokumente gewag. Gedurende daardie tyd het ek by die Cripps-gesin gebly, en ek het Sheila, hulle dogter, leer ken. Ons het op mekaar verlief geraak. Net voordat ek haar gevra het om te trou, het my visa gekom. Ek en Sheila het daaroor gebid en besluit dat ek na my toewysing toe moet gaan. Maar ons het ook besluit om in kontak te bly om te sien of en wanneer ons dalk in die toekoms kon trou. Dit was nie ’n maklike besluit nie, maar soos dinge uitgedraai het, was dit die regte een.
Nadat ek ’n maand lank per trein, vragskip en vliegtuig gereis het, het ek in Accra, Ghana, aangekom. Daar is ek aangewys om as ’n streekopsiener te dien. So ek moes regdeur Ghana sowel as die naburige Ivoorkus (nou Côte d’Ivoire) en Togoland (nou Togo) reis. Die meeste van die tyd het ek alleen gereis in ’n kar wat aan die takkantoor behoort het. Ek het elke minuut van daardie tyd geniet!
Naweke het ek aanwysings by kringbyeenkomste gehad. Daar was nie Byeenkomssale nie. Daarom het die broers ’n tydelike dak met bamboespale gebou wat hulle met palmtakke bedek het om ons teen die warm son te beskerm. Omdat daar nie yskaste vir die kafeteria was nie, is lewendige diere aangehou en geslag soos wat dit nodig was om te sorg dat daar kos is vir almal wat die byeenkoms bygewoon het.
Ons het ’n paar snaakse ondervindinge by daardie byeenkomste gehad. Terwyl Herb Jennings, c ’n ander sendeling, eenkeer ’n toespraak gegee het, het ’n koei uit die kafeteria ontsnap. Dit het tussen die verhoog en die gehoor rondgehardloop. Herb het opgehou praat, en die dier het heeltemal verskrik gelyk. Maar vier sterk broers kon dit vang en terugneem na die kafeteria terwyl die gehoor hande geklap het.
Gedurende die week het ek ons film The New World Society in Action in dorpies daar naby gewys. Om dit te doen, het ek ’n stuk wit lap gebruik wat ek tussen twee pale of tussen twee bome opgehang het. Die mense was mal daaroor! Vir baie was dit die eerste fliek wat hulle al ooit gekyk het. Hulle het hard hande geklap wanneer hulle tonele gesien het van mense wat gedoop word. Daardie film het regtig dié wat dit gesien het, gehelp om te besef dat ons ’n verenigde wêreldwye organisasie is.
Ná omtrent twee jaar in Afrika was ek opgewonde om die internasionale byeenkoms in die stad New York in 1958 by te woon. Ek was so bly om Sheila te sien, wat van Quebec af gekom het, waar sy as ’n spesiale pionier gedien het. Ons het vir mekaar briewe geskryf, maar noudat ons weer saam was, het ek haar gevra om met my te trou, en sy het ja gesê. Ek het vir broer Knorr d geskryf en gevra of Sheila Gilead kon bywoon en by my in Afrika kon aansluit. Hy het ja gesê. Sheila het uiteindelik in Ghana aangekom. Ons is op 3 Oktober 1959 in Accra getroud. Ons het gevoel dat Jehovah ons regtig geseën het omdat ons hom eerste in ons lewens gestel het.
ONS DIEN SAAM IN KAMEROEN
In 1961 is ons na die land Kameroen gestuur. Ek is gevra om te help om ’n nuwe takkantoor te begin, so ek was baie besig. As ’n nuwe takkneg het ek baie gehad om te leer. Toe in 1965 het ons uitgevind dat Sheila swanger is. Ek erken dat dit ons ’n rukkie gevat het om gewoond te raak aan die idee dat ons ouers gaan word. Maar net toe ons begin opgewonde raak oor hierdie nuwe verantwoordelikheid en planne begin maak om terug te gaan na Kanada het iets gebeur wat ons harte gebreek het.
Sheila het ’n miskraam gehad. Die dokter het vir ons gesê dat ons ongebore kind ’n seuntjie was. Dit is meer as 50 jaar gelede, maar ons het dit nooit vergeet nie. Al was ons baie hartseer oor wat gebeur het, het ons in ons toewysing gebly, waarvoor ons baie lief was.
Die broers in Kameroen is dikwels vervolg as gevolg van hulle politieke neutraliteit. Die situasie was veral erg gedurende die tyd dat nuwe presidente verkies is. Ons ergste vrese het op 13 Mei 1970 waar geword toe die werk van Jehovah se Getuies amptelik verbied is. Die pragtige nuwe takkantoor, waar ons net vyf maande vroeër ingetrek het, is deur die regering gekonfiskeer. Binne ’n week is al die sendelinge – insluitende ek en Sheila – gedwing om die land te verlaat. Dit was moeilik om die broers en susters agter te laat omdat ons so lief was vir hulle en bekommerd was oor wat in die dae wat voorlê met hulle sou gebeur.
Ons was vir die volgende ses maande by die takkantoor in Frankryk. Daar het ek aangehou om alles te doen wat ek kon om om te sien na die behoeftes van ons broers in Kameroen. In Desember daardie jaar is ons na die takkantoor in Nigerië gestuur, wat begin omsien het na die werk in Kameroen. Die broers en susters in Nigerië het ons liefdevol verwelkom, en ons het dit geniet om vir ’n hele paar jaar daar te dien.
’N MOEILIKE BESLUIT
In 1973 moes ons ’n baie moeilike besluit neem. Sheila het gesukkel met ernstige gesondheidsprobleme. Terwyl ons in New York was vir ’n byeenkoms, het sy vir my gesê: “Ek kan net nie meer aangaan nie. Ek is die meeste van die tyd doodmoeg en siek.” Sy het toe al vir meer as 14 jaar saam met my in Wes-Afrika gedien. Ek was so trots op haar getroue diens, maar ons moes ’n paar veranderinge maak. Nadat ons ons situasie bespreek het en lank en hard daaroor gebid het, het ons besluit dat ons moet teruggaan Kanada toe, waar ons beter vir haar gesondheid kon sorg. Om ons sendingtoewysing en die voltydse diens te verlaat, was beslis die moeilikste en hartseerste besluite wat ons ooit moes maak.
Nadat ons in Kanada aangekom het, het ek werk gekry by ’n ou vriend wat karre verkoop het in ’n dorp noord van Toronto. Ons het ’n woonstel gehuur, tweedehandse meubels gekoop en getrek sonder om enige skuld te
maak. Ons wou ons lewe eenvoudig hou omdat ons gehoop het dat ons eendag weer met die voltydse diens kon begin. Tot ons verbasing het dit gouer gebeur as wat ons ooit gedink het.Ek het Saterdae as ’n vrywilliger begin dien en gehelp om ’n nuwe Byeenkomssaal in Norval, Ontario, te bou. Later is ek gevra om die Byeenkomssaalopsiener te wees. Sheila se gesondheid het verbeter, en ons het gevoel dat sy hierdie nuwe toewysing kon hanteer. Daarom het ons in Junie 1974 by die Byeenkomssaalwoonstel ingetrek. Ons was so bly om weer in die voltydse diens te wees!
Ons is baie dankbaar dat Sheila se gesondheid aanhou verbeter het. Twee jaar later kon ons ’n toewysing in die kringwerk aanvaar. Die kring was in Manitoba, ’n Kanadese provinsie wat bekend is vir sy verskriklike winters. Maar ons het die warm liefde van die broers en susters daar baie geniet. Ons het geleer dat dit nie eintlik saak maak waar ons dien nie – die sleutel is om aan te hou om Jehovah te dien waar ons ook al is.
EK LEER ’N BELANGRIKE LES
Ná ’n hele paar jaar in die kringwerk is ons in 1978 genooi om by die Bethel in Kanada te dien. Nie lank daarna nie het ek ’n moeilike maar belangrike les geleer. Ek is gevra om ’n uur en ’n half lange toespraak in Frans te gee by ’n spesiale vergadering in Montreal. Ongelukkig het die gehoor belangstelling in my toespraak verloor, en ’n broer van die Diensafdeling het vir my raad gegee daaroor. Om eerlik te wees, ek moes toe besef het wat ek nou besef – ek is nou nie die heel beste spreker nie. Maar ek het nie die raad baie goed gevat nie. Ons persoonlikhede het gebots. Ek het gevoel dat hy baie krities is – hy het my glad nie geprys nie. Ek het die fout gemaak om die raad te oordeel gebaseer op hoe dit gegee is en op hoe ek gevoel het oor die persoon wat dit gegee het.
’n Paar dae later het ’n lid van die Takkomitee met my oor die saak kom praat. Ek het erken dat ek nie goed op die raad gereageer het nie en jammer gesê. Daarna het ek met die broer gepraat wat my raad gegee het. Hy het my liefdevol vergewe. Daardie ondervinding het my ’n les in nederigheid geleer wat ek nooit sal vergeet nie (Spr. 16:18). Ek het al baie hieroor tot Jehovah gebid, en ek is vasbeslote om nooit weer so negatief oor raad te voel nie.
Ek is nou al vir meer as 40 jaar by die Bethel in Kanada, en ek dien vanaf 1985 op die Takkomitee. In Februarie 2021 het my geliefde Sheila gesterf. Ek verlang baie na haar, en ek het ook my eie gesondheidsprobleme. Maar Jehovah se diens hou my so besig en gelukkig dat ek “skaars nadink oor wat in [my] lewe gebeur” (Pred. 5:20). Al het ek al baie uitdagings in my lewe gehad, is die vreugdes wat ek ondervind het baie meer. Om Jehovah eerste in my lewe te stel en om 70 jaar in die voltydse diens te geniet, was regtig bevredigend. Ek bid dat ons jong broers en susters aanhou om Jehovah ook eerste te stel, want ek is oortuig dat hulle ook ’n bevredigende en opwindende lewe sal geniet wat net moontlik is wanneer ons Jehovah dien.
a Lees Marcel Filteau se lewensverhaal “Jehovah is my toevlug en sterkte” in Die Wagtoring van 1 Februarie 2000.
b Tot 1957 was hierdie streek van Afrika ’n Britse kolonie wat die Goudkus genoem is.
c Lees Herbert Jennings se lewensverhaal ‘Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie’ in Die Wagtoring van 1 Desember 2000.
d Nathan H. Knorr het op daardie stadium die leiding in ons werk geneem.