Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies”

“Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies”

“Gaan . . . en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het.”—MATTEUS 28:19, 20.

LIEDERE: 141, 97

1, 2. Watter vrae ontstaan wanneer ons Jesus se woorde in Matteus 24:14 lees?

JESUS het voorspel dat die goeie nuus van die Koninkryk in die laaste dae aan alle mense verkondig sal word (Matteus 24:14). As Jehovah se Getuies is ons wêreldwyd bekend vir ons predikingswerk. Party mense hou van die boodskap wat ons verkondig, terwyl ander nie daarvan hou nie. Maar selfs party mense wat nie van ons boodskap hou nie, respekteer ons omdat ons hierdie werk doen. Ons beweer dat ons die godsdiens is wat die werk doen wat Jesus voorspel het. Het ons die reg om dit te sê? Hoe kan ons seker wees dat ons die predikingswerk doen wat Jesus voorspel het?

2 Baie godsdiensgroepe beweer dat hulle Jesus se boodskap verkondig. Maar hulle predikingswerk is beperk tot preke in die kerk, op televisie of op die Internet, of hulle vertel ander bloot hoe hulle tot bekering gekom het. Ander meen dat hulle evangelisasiewerk doen as hulle behoeftiges help of liefdadigheidswerk doen, hetsy as dokters, verpleegsters of onderwysers. Maar het Jesus hierdie bedrywighede bedoel toe hy van die predikingswerk gepraat het?

3. Watter vier dinge moet Jesus se volgelinge volgens Matteus 28:19, 20 doen?

3 Wou Jesus hê dat sy dissipels moet wag dat mense na hulle toe kom? Nee! Jesus het ná sy opstanding vir honderde van sy volgelinge gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). As Jesus se volgelinge moet ons dus vier dinge doen. Ons moet dissipels maak, hulle doop en hulle leer. Maar ons moet eerstens na die mense toe gaan. ’n Bybelgeleerde verduidelik: “Om te ‘gaan’ is die taak van elke gelowige, hetsy dit oor die straat is of oor die oseaan.”—Matteus 10:7; Lukas 10:3.

4. Wat het Jesus bedoel toe hy sy dissipels genooi het om “vissers van mense” te word?

4 Wat het Jesus van sy dissipels verwag? Wou hy hê dat hulle op hulle eie moes preek, of wou hy hê dat hulle as ’n georganiseerde groep moes preek? Aangesien dit vir een persoon onmoontlik sou wees om vir “al die nasies” te preek, sou sy dissipels ’n georganiseerde groep moes wees. Dit is wat Jesus bedoel het toe hy sy dissipels genooi het om “vissers van mense” te word. (Lees Matteus 4:18-22.) Jesus het nie verwys na een visserman wat sy lyn en aas ingooi en wat dan wag vir ’n vis om te byt nie. Jesus het eerder hier verwys na ’n visvangmetode wat die gebruik van nette behels. Om op hierdie manier vis te vang, verg harde werk, organisasie en baie mense.—Lukas 5:1-11.

5. Watter vier vrae moet beantwoord word, en waarom?

5 Om vas te stel wie die goeie nuus vandag verkondig, moet ons die volgende vier vrae beantwoord:

  • Watter boodskap moet Jesus se volgelinge verkondig?

  • Wat moet hulle beweegrede wees?

  • Watter metodes moet hulle gebruik?

  • Wat moet die omvang van die werk wees, en hoe lank moet dit voortduur?

Die antwoorde op hierdie vrae sal ons help bepaal wie hierdie lewensreddende werk doen en sal ons begeerte versterk om aan te hou preek.—1 Timoteus 4:16.

WAT MOET DIE BOODSKAP WEES?

6. Waarom kan jy seker wees dat Jehovah se Getuies die regte boodskap verkondig?

6 Lees Lukas 4:43. Jesus het “die goeie nuus van die koninkryk” verkondig, en hy wil hê dat sy dissipels dieselfde moet doen. Watter groep verkondig hierdie boodskap aan alle mense? Net Jehovah se Getuies! Selfs mense wat nie van ons hou nie, erken dit. Byvoorbeeld, ’n sendelingpriester wat al in verskeie lande gewoon het, het vir een van Jehovah se Getuies vertel dat hy in elke land vir die Getuies gevra het watter boodskap hulle verkondig. Wat het hulle hom geantwoord? Die priester het gesê: “Hulle was almal so dom dat hulle dieselfde antwoord gegee het: ‘Die goeie nuus van die Koninkryk.’” In werklikheid bewys die priester se aanmerking dat ons nie dom is nie, maar dat ons verenig is as ware Christene (1 Korintiërs 1:10). God se Koninkryk is ook die hoofboodskap van Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Hierdie tydskrif is beskikbaar in 254 tale, en die gemiddelde druksyfer per nommer is byna 59 000 000 eksemplare, wat dit die tydskrif met die grootste verspreiding ter wêreld maak!

Slegs Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van God se Koninkryk

7. Hoe weet ons dat die geestelikes van die Christendom nie die regte boodskap verkondig nie?

7 Die geestelikes van die Christendom verkondig nie God se Koninkryk nie. As hulle wel oor die Koninkryk praat, sê baie van hulle dat dit ’n gevoel in ’n mens se hart is (Lukas 17:21). Hulle leer mense nie dat die Koninkryk ’n hemelse regering is wat deur Jesus regeer word nie. En hulle verduidelik nie dat die Koninkryk al die mensdom se probleme sal oplos en binnekort alle goddeloosheid van die aarde sal verwyder nie (Openbaring 19:11-21). Hulle lê eerder tydens Kersfees of Paasfees klem op Jesus. Dit is duidelik dat die Christendom se leiers nie weet wat Jesus as Koning van God se Koninkryk sal doen nie. En omdat hulle Jesus se boodskap nie verstaan nie, verstaan hulle ook nie waarom hulle moet preek nie.

MET WATTER BEWEEGREDE MOET ONS DIE WERK DOEN?

8. Wat is die verkeerde beweegrede om die predikingswerk te doen?

8 Jesus se dissipels moenie preek om geld te maak en indrukwekkende geboue te bou nie. Jesus het gesê: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Matteus 10:8). Dit is dus verkeerd om wins te maak uit die predikingswerk (2 Korintiërs 2:17). Jesus se dissipels moenie betaling vra om die predikingswerk te doen nie. (Lees Handelinge 20:33-35.) Al is Jesus se opdrag baie duidelik, gee die meeste kerke nie gehoor daaraan nie en samel hulle geld in om hulle kerk aan die gang te hou en hulle geestelikes en ander werknemers te betaal. Gevolglik het baie van die Christendom se leiers skatryk geword.—Openbaring 17:4, 5.

Dit is verkeerd om wins te maak uit die predikingswerk

9. Hoe het Jehovah se Getuies getoon dat hulle die predikingswerk met die regte beweegrede doen?

9 Neem Jehovah se Getuies kollektes op by hulle Koninkryksale of byeenkomste? Nee! Hulle werk word deur vrywillige donasies ondersteun (2 Korintiërs 9:7). Tog het Jehovah se Getuies verlede jaar byna tweemiljard uur daaraan bestee om die goeie nuus te verkondig, en hulle het elke maand meer as negemiljoen Bybelstudies gehou. Hulle word nie vir hulle predikingswerk betaal nie; hulle is bereid om hulle eie geld hiervoor te gebruik. ’n Navorser het oor die werk van Jehovah se Getuies gesê: “Die hoofdoel is om te preek en te onderrig.” Hy het ook gesê dat Jehovah se Getuies nie ’n betaalde geestelikeklas het nie. As ons beweegrede om die predikingswerk te doen, nie geld is nie, wat is dit dan? Ons is gewillig om hierdie werk te doen omdat ons lief is vir Jehovah en vir mense. Hierdie gesindheid vervul die profesie in Psalm 110:3. (Lees.)

WATTER METODES MOET GEBRUIK WORD?

Ons preek waar ons ook al mense vind (Sien paragraaf 10)

10. Watter metodes het Jesus en sy dissipels gebruik om te preek?

10 Watter metodes het Jesus en sy dissipels gebruik om te preek? Hulle het gegaan waar daar ook al mense was. Hulle het byvoorbeeld op straat en by markte gepreek. Hulle het mense ook by hulle huise besoek (Matteus 10:11; Lukas 8:1; Handelinge 5:42; 20:20). Die predikingswerk van huis tot huis het dit moontlik gemaak om alle soorte mense op ’n georganiseerde manier te bereik.

11, 12. Hoe vergelyk die Christendom se pogings om die goeie nuus te verkondig met dié van Jehovah se volk?

11 Verkondig die kerke van die Christendom die goeie nuus soos Jesus dit gedoen het? Betaalde geestelikes hou gewoonlik ’n preek vir hulle gemeentelede. Hierdie leiers maak nie nuwe dissipels nie, maar probeer eenvoudig om die gemeentelede wat hulle reeds het, te behou. Hulle het al probeer om hulle gemeentelede aan te spoor om te preek. In die jaar 2001 het pous Johannes-Paulus II byvoorbeeld in ’n brief gesê dat kerklidmate die Evangelie moet verkondig en dieselfde ywer moet openbaar as die apostel Paulus, wat gesê het: “Wee my as ek die Evangelie nie verkondig nie.” Die Pous het toe gesê dat hierdie predikingswerk nie net deur ’n paar opgeleide mense gedoen moet word nie, maar deur alle kerklidmate. Maar min mense het dit gedoen.

12 Wat van Jehovah se Getuies? Hulle is die enigstes wat verkondig dat Jesus al sedert 1914 as Koning heers. Hulle gehoorsaam Jesus en beskou die predikingswerk as baie belangrik (Markus 13:10). Die boek Pillars of Faith—American Congregations and Their Partners het gesê dat die predikingswerk baie belangrik is vir Jehovah se Getuies. Dit het ook gesê: “Wanneer hulle mense teëkom wat honger, eensaam en siek is, probeer hulle hulle help, . . . maar hulle vergeet nooit dat hulle hoofdoel is om ’n geestelike boodskap te verkondig oor die naderende einde van die wêreld en die belangrikheid daarvan om redding te verkry nie.” Jehovah se Getuies hou aan om hierdie boodskap te verkondig en om die predikingsmetodes van Jesus en sy dissipels te volg.

WAT MOET DIE OMVANG VAN DIE WERK WEES, EN HOE LANK MOET DIT VOORTDUUR?

13. Wat moet die omvang van die predikingswerk wees?

13 Jesus het gesê dat sy volgelinge die goeie nuus oor “die hele bewoonde aarde” sal verkondig. Hulle is beveel om dissipels te maak van mense van “al die nasies” (Matteus 24:14; 28:19, 20). Dit beteken dat die goeie nuus wêreldwyd verkondig moet word.

14, 15. Wat bewys dat Jehovah se Getuies Jesus se profesie oor die omvang van die werk vervul het? (Sien prente aan begin van artikel.)

14 Net Jehovah se Getuies vervul Jesus se profesie dat die goeie nuus wêreldwyd verkondig sal word. Waarom sê ons so? In die Verenigde State is daar sowat 600 000 geestelikes in die Christendom, terwyl daar omtrent 1 200 000 Getuies van Jehovah is wat die goeie nuus in daardie land verkondig. Regoor die wêreld is daar ongeveer 400 000 Katolieke priesters, maar daar is meer as 8 miljoen Getuies van Jehovah wat die goeie nuus in 240 lande verkondig. Dit is duidelik dat Jehovah se Getuies die goeie nuus wêreldwyd verkondig tot lof en eer van Jehovah!—Psalm 34:1; 51:15.

15 As Jehovah se Getuies is dit ons doelwit om die goeie nuus aan soveel mense as moontlik te verkondig voordat die einde kom. Om hierdie werk te doen, druk ons miljoene boeke, tydskrifte, traktate en byeenkoms- en Gedenkmaaluitnodigings. Van hierdie publikasies is in meer as 700 tale vertaal. Ons bied dit kosteloos aan. Verlede jaar alleen het ons omtrent 4,5 miljard stukke Bybellektuur gedruk. Ons het ook meer as 200 miljoen eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in meer as 130 tale gedruk. Op ons amptelike webwerf is inligting in meer as 750 tale beskikbaar. Slegs Jehovah se Getuies neem deel aan hierdie wonderlike werk.

16. Hoe weet ons dat Jehovah se Getuies God se gees het?

16 Hoe lank sou die predikingswerk voortduur? Jesus het gesê dat die goeie nuus verkondig sal word totdat die einde kom. Dit is slegs met die hulp van God se heilige gees dat ons as Jehovah se Getuies in staat is om gedurende die laaste dae in die predikingswerk te volhard (Handelinge 1:8; 1 Petrus 4:14). Party godsdienstige mense sê miskien: “Ons het die heilige gees.” Maar kan hulle die werk doen wat Jehovah se Getuies gedurende hierdie laaste dae doen? Party groepe het op dieselfde manier as ons probeer preek, maar hulle kon nie daarin slaag nie. Ander is bereid om te preek, maar net vir ’n kort tydjie. Dan is daar ander wat dalk wel van huis tot huis preek, maar hulle verkondig nie die goeie nuus van die Koninkryk nie. Hulle doen dus nie die werk wat Jesus begin het nie.

WIE VERKONDIG WERKLIK VANDAG DIE GOEIE NUUS?

17, 18. (a) Waarom kan ons seker wees dat dit Jehovah se Getuies is wat vandag die goeie nuus van die Koninkryk verkondig? (b) Wat stel ons in staat om vol te hou met die predikingswerk?

17 Wie verkondig dus vandag die goeie nuus van die Koninkryk? Slegs Jehovah se Getuies! Waarom kan ons so sê? Omdat ons die regte boodskap, die goeie nuus van die Koninkryk, verkondig. Ons gebruik die regte metodes, aangesien ons in ons bediening na mense soek. Ons doen die predikingswerk met die regte beweegrede, dit wil sê uit liefde vir Jehovah en vir mense. Ons predikingswerk het die grootste omvang, want ons preek vir mense van alle nasies en tale. En ons sal aanhou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig totdat die einde kom!

18 Dit is verstommend om te sien watter wonderlike werk Jehovah se volk doen om die goeie nuus gedurende hierdie laaste dae te verkondig. Maar wat stel ons in staat om hierdie werk te doen? Die apostel Paulus verduidelik: “Dit is God wat, ter wille van sy welbehae, in julle werk sodat julle kan wil sowel as werk” (Filippense 2:13). Mag Jehovah voortgaan om ons die nodige krag te gee sodat ons ons bes kan doen om aan te hou om die goeie nuus te verkondig!—2 Timoteus 4:5.