Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe neem jy persoonlike besluite?

Hoe neem jy persoonlike besluite?

“Gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is.”—EFESIËRS 5:17.

LIEDERE: 69, 57

1. Watter wette vind ons in die Bybel, en hoe vind ons daarby baat as ons dit gehoorsaam?

IN DIE Bybel het Jehovah ons wette gegee wat duidelik toon wat hy wil hê ons moet doen. Hy beveel ons byvoorbeeld om nie te steel, afgode te aanbid, dronk te word of ons aan seksuele onsedelikheid skuldig te maak nie (1 Korintiërs 6:9, 10). En Jehovah se Seun, Jesus, het ’n uitdruklike bevel aan sy volgelinge gegee: “Maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het. En kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20). Alles wat Jehovah en Jesus vir ons sê om te doen, is tot ons beswil. Jehovah se wette leer ons hoe om vir onsself en ons gesin te sorg en help ons om beter gesondheid te geniet en om gelukkig te wees. Nog belangriker, wanneer ons Jehovah se gebooie gehoorsaam, insluitende die gebod om te preek, behaag ons hom en seën hy ons.

2, 3. (a) Waarom bevat die Bybel nie reëls oor elke situasie in die lewe nie? (b) Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word? (Sien prent aan begin van artikel.)

2 Maar die Bybel bevat nie reëls oor elke situasie in die lewe nie. Daar is byvoorbeeld nie spesifieke instruksies in die Bybel oor wat ons moet aantrek nie. Dit toon hoe wys Jehovah is. Mense regoor die wêreld dra verskillende style klere, en modes verander gedurig, maar die Bybel se standaarde is tydloos. Dit bevat ook nie ’n klomp reëls oor watter soort werk, vermaak of gesondheidsorg ons moet kies nie. Jehovah laat individue en gesinshoofde toe om self oor hierdie dinge te besluit.

3 Wanneer ons dus ’n belangrike besluit moet neem wat ’n groot uitwerking op ons lewe sal hê en ons nie ’n wet daaroor in die Bybel vind nie, wonder ons dalk: ‘Maak dit vir Jehovah saak wat ek besluit? Sal hy tevrede wees met my besluit solank ek nie ’n Bybelwet verbreek nie? Hoe kan ek seker wees dat my besluite hom sal behaag?’

ONS BESLUITE HET ’N UITWERKING OP ONS EN ANDER

4, 5. Watter uitwerking kan ons besluite op ons en ander hê?

4 Party mense dink dat hulle kan doen net wat hulle wil. Maar ons wil doen wat Jehovah behaag. Voordat ons ’n besluit neem, moet ons dus nadink oor wat die Bybel sê en dit dan gehoorsaam. Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons wat God se wet oor die gebruik van bloed is, en ons gehoorsaam dit (Genesis 9:4; Handelinge 15:28, 29). Ons kan Jehovah in gebed vra om ons te help om besluite te neem wat hom sal behaag.

5 Ons besluite het ’n uitwerking op ons. ’n Goeie besluit kan ons help om nader aan Jehovah te kom. ’n Slegte besluit kan ons vriendskap met hom skaad. Ons besluite kan ook ander mense raak. Ons wil niks doen wat ons broers kan ontstel of hulle geloof kan laat verswak nie. Ons wil ook nie die oorsaak wees van probleme tussen broers in die gemeente nie. Dit is dus belangrik dat ons goeie besluite neem.—Lees Romeine 14:19; Galasiërs 6:7.

6. Hoe kan ons goeie besluite neem?

6 Hoe kan ons goeie besluite neem wanneer die Bybel nie vir ons sê presies wat ons moet doen nie? Ons moenie ons eie kop volg nie; ons moet eerder goed nadink oor ons situasie en ’n besluit neem wat Jehovah sal behaag. Dan kan ons seker wees dat hy ons sal seën.—Lees Psalm 37:5.

WAT WIL JEHOVAH HÊ MOET EK DOEN?

7. Hoe kan ons uitvind wat Jehovah sal behaag as daar nie ’n Bybelwet is wat ons in ’n sekere situasie kan help nie?

7 Maar hoe kan ons uitvind wat Jehovah sal behaag? Efesiërs 5:17 sê vir ons: “Gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is.” As daar nie ’n spesifieke Bybelwet is wat ons in ’n sekere situasie kan help nie, moet ons begryp, of verstaan, wat Jehovah wil hê ons moet doen. Hoe kan ons dit doen? Ons moet tot hom bid en toelaat dat sy heilige gees ons lei.

8. Hoe het Jesus begryp wat Jehovah wou hê hy moet doen? Gee ’n voorbeeld.

8 Jesus het altyd begryp wat Jehovah wou hê hy moet doen. Byvoorbeeld, die Bybel meld twee geleenthede toe die skares wat Jesus gevolg het, honger geword het. Jesus het gebid en hulle daarna wonderdadig gevoed (Matteus 14:17-20; 15:34-37). Tog het hy geweier om klippe in brode te verander toe hy honger was en deur die Duiwel in die wildernis versoek is. (Lees Matteus 4:2-4.) Omdat hy sy Vader baie goed geken het, het hy geweet dat Jehovah nie wou hê dat hy heilige gees moet gebruik om homself te bevoordeel nie. Hy was seker dat sy Vader hom sou lei en van die nodige voedsel sou voorsien.

9, 10. Wat sal ons help om wyse besluite te neem? Verduidelik.

9 Soos Jesus kan ons goeie besluite neem as ons op Jehovah se leiding vertrou. Die Bybel sê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak. Moenie wys word in jou eie oë nie. Vrees Jehovah en wyk af van die kwaad” (Spreuke 3:5-7). Wanneer ons die Bybel studeer en Jehovah se denke leer ken, sal ons begryp wat hy wil hê ons in ’n sekere situasie moet doen. En hoe beter ons Jehovah se denke leer ken, hoe makliker sal dit vir ons wees om besluite te neem wat hom sal behaag. Ja, ons sal meer “ingestel [wees] op God se leiding”.—Esegiël 11:19, voetnoot in NW.

10 Stel jou voor dat ’n getroude vrou ’n paar mooi skoene sien terwyl sy inkopies doen. Maar dit is baie duur. Al is haar man nie by haar nie, weet sy hoe hy daaroor sal voel as sy soveel geld uitgee. Hoe weet sy dit? Hulle is al ’n paar jaar getroud, en daarom weet sy hoe hy wil hê hulle hulle geld moet gebruik. Net so sal ons, as ons Jehovah se denke leer ken en nadink oor wat hy in die verlede gedoen het, weet wat hy in verskillende situasies van ons verwag.

HOE KAN JY JEHOVAH SE DENKE LEER KEN?

11. Watter vrae kan ons ons afvra wanneer ons die Bybel lees of studeer? (Sien die venster “ Wanneer jy die Bybel studeer, moet jy jou afvra”.)

11 Hoe kan ons Jehovah se denke leer ken? Ons moet allereers die Bybel gereeld lees en studeer. Terwyl ons dit doen, kan ons ons afvra: ‘Wat leer dit my omtrent Jehovah? Waarom het hy so opgetree?’ En soos Dawid moet ons Jehovah vra om ons te help om Hom beter te leer ken. Dawid het geskryf: “Maak u weë aan my bekend, o Jehovah; leer my u paaie. Laat my in u waarheid wandel en leer my, want u is my God van redding. Op u het ek die hele dag gehoop” (Psalm 25:4, 5). Wanneer ons iets omtrent Jehovah leer, kan ons aan situasies probeer dink waar ons hierdie inligting kan gebruik. Kan ons dit in die gesin, by die werk, by die skool of in die bediening gebruik? As ons aan ’n spesifieke situasie dink, sal dit makliker wees om te begryp hoe Jehovah wil hê ons die inligting moet gebruik.

As ons Jehovah se denke wil leer ken, moet ons die Bybel gereeld lees en studeer

12. Hoe kan ons publikasies en die vergaderinge ons help om Jehovah se denke oor verskeie sake te leer ken?

12 Nog ’n manier waarop ons Jehovah se denke kan leer ken, is om noukeurig aandag te skenk aan wat sy organisasie ons uit die Bybel leer. Byvoorbeeld, wanneer ons ’n besluit moet neem, kan die Watch Tower Publications Index en die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies ons help om Jehovah se denke oor die saak te kry. Ons kan ook baat vind by ons Christelike vergaderinge as ons aandagtig luister, kommentaar lewer en nadink oor wat ons leer. Dit sal ons help om ons denke in ooreenstemming te bring met Jehovah se denke. Dan sal ons besluite kan neem wat hom sal behaag en wat hy sal seën.

LAAT JEHOVAH SE DENKE JOU LEI WANNEER JY ’N BESLUIT NEEM

13. Hoe kan ons ’n wyse besluit neem as ons Jehovah se denke in ag neem? Gee ’n voorbeeld.

13 Kom ons kyk na ’n voorbeeld wat toon hoe ons ’n wyse besluit kan neem as ons Jehovah se denke in ag neem. Miskien wil jy pionier. Jy het veranderinge in jou lewe aangebring sodat jy meer tyd in die bediening kan deurbring. Maar jy is nog nie seker of jy werklik tevrede sal wees met minder geld en besittings nie. Die Bybel sê natuurlik nie dat ons moet pionier om Jehovah te dien nie. Ons kan hom ook as verkondigers getrou dien. Maar Jesus het gesê dat Jehovah diegene seën wat opofferings vir die Koninkryk maak. (Lees Lukas 18:29, 30.) Die Bybel sê ook dat dit Jehovah behaag wanneer ons alles in ons vermoë doen om hom te loof, en hy wil hê dat ons gelukkig moet wees in sy diens (Psalm 119:108; 2 Korintiërs 9:7). As ons hieroor bid en peins, sal ons ’n besluit kan neem wat prakties is vir ons situasie en wat deur Jehovah geseën sal word.

14. Hoe kan jy vasstel of ’n sekere klerestyl Jehovah behaag?

14 Hier is nog ’n voorbeeld: Jy hou baie van ’n sekere klerestyl, maar jy weet dat party in die gemeente dalk aanstoot sal neem as jy hierdie styl dra. Die Bybel sê niks oor hierdie spesifieke styl nie. Hoe kan jy vasstel wat Jehovah sal behaag? Die Bybel sê vir ons dat “vroue hulle met goed versorgde kleredrag moet versier, met beskeidenheid en gesonde verstand, nie met haarvlegtery en goud of pêrels of baie duur klere nie, maar soos dit vroue betaam wat bely dat hulle God vereer, naamlik deur goeie werke” (1 Timoteus 2:9, 10). Hierdie raad is natuurlik op al Jehovah se knegte, mans sowel as vroue, van toepassing. As ons beskeie is, dink ons aan die uitwerking wat ons kleredrag op ander kan hê. En omdat ons lief is vir ons broers, wil ons hulle nie ontstel of aanstoot gee nie (1 Korintiërs 10:23, 24; Filippense 3:17). As ons in ag neem wat die Bybel sê, kan dit ons help om Jehovah se denke te leer ken en kan ons besluite neem wat hom sal behaag.

15, 16. (a) Hoe voel Jehovah daaroor as ons aan seksueel onsedelike dinge bly dink? (b) Hoe kan ons vasstel wat Jehovah behaag wanneer ons vermaak kies? (c) Wat moet ons doen wanneer ons belangrike besluite moet neem?

15 Die Bybel sê vir ons dat dit Jehovah diep seermaak wanneer mense goddeloos optree en aan slegte dinge dink. (Lees Genesis 6:5, 6.) Dit is duidelik dat Jehovah nie wil hê dat ons oor seksuele onsedelikheid moet fantaseer nie. Trouens, as ons aan sulke dinge bly dink, sal ons dit dalk uiteindelik doen. Jehovah wil hê dat ons eerder aan rein en goeie dinge moet dink. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie” (Jakobus 3:17). Die Bybel leer ons dus dat ons enige vermaak moet vermy wat onrein gedagtes of begeertes by ons kan wek. En as ons ’n duidelike begrip het van wat Jehovah liefhet en wat hy haat, sal dit vir ons maklik wees om te weet watter boeke, rolprente of speletjies ons kan kies. Dit sal nie vir ons nodig wees om ander te vra wat ons moet doen nie.

16 Wanneer ons ’n besluit moet neem, is daar dikwels verskeie opsies wat Jehovah sal behaag. Maar wanneer ons ’n baie belangrike besluit moet neem, sal dit dalk goed wees om ’n ouer man of ’n ander ervare broer of suster vir raad te vra (Titus 2:3-5; Jakobus 5:13-15). Ons moet hierdie persoon natuurlik nie vra om die besluit vir ons te neem nie. Ons moet eerder goed nadink oor wat die Bybel sê en dan ons eie besluit neem (Hebreërs 5:14). Die apostel Paulus het gesê: “Elkeen sal sy eie vrag van verantwoordelikheid dra.”—Galasiërs 6:5, voetnoot in NW.

17. Watter voordele geniet ons as ons besluite neem wat Jehovah behaag?

17 Wanneer ons besluite neem wat Jehovah behaag, kom ons nader aan hom en geniet ons sy goedkeuring en seën (Jakobus 4:8). Dit versterk ons geloof in Jehovah. Ons moet dus peins oor wat ons in die Bybel lees sodat ons Jehovah se denke kan leer ken. Ons sal natuurlik altyd nuwe dinge oor Jehovah leer (Job 26:14). Maar as ons hard werk om hom nou beter te leer ken, sal ons wys word en goeie besluite kan neem (Spreuke 2:1-5). Mense se idees en planne verander, maar Jehovah verander nooit nie. Die psalmis het gesê: “Die raad [of “besluite”] van Jehovah sal tot onbepaalde tyd standhou; die gedagtes van sy hart is van geslag tot geslag” (Psalm 33:11). Dit is duidelik dat ons die beste besluite sal neem as ons ons denke in ooreenstemming bring met Jehovah se denke en dan doen wat hom behaag.