Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verander die Bybel nog steeds jou lewe?

Verander die Bybel nog steeds jou lewe?

“Word verander deur julle verstand te hervorm.”—ROMEINE 12:2.

LIEDERE: 61, 52

1-3. (a) Watter veranderinge is dalk ná ons doop moeilik om aan te bring? (b) Watter vrae kom dalk by ons op wanneer dit moeiliker is om vordering te maak as wat ons verwag het? (Sien prente aan begin van artikel.)

KEVIN het jare lank gedobbel, gerook, te veel gedrink en dwelms gebruik. [1] (Sien eindnota.) Toe het hy van Jehovah geleer en wou hy sy vriend word. Maar om dit te doen, moes hy groot veranderinge in sy lewe aanbring. Met Jehovah se hulp en die krag van sy Woord, die Bybel, was Kevin in staat om te verander.—Hebreërs 4:12.

2 Nadat Kevin gedoop is, moes hy nog steeds veranderinge in sy persoonlikheid aanbring sodat hy ’n beter Christen kon word (Efesiërs 4:31, 32). Hy het byvoorbeeld sy humeur baie gou verloor. Kevin het gesê: “Dit was baie moeiliker om te leer om my humeur in toom te hou as wat dit was om die slegte gewoontes te oorkom wat ek voor my doop gehad het!” Maar intense gebede en deeglike Bybelstudie het hom gehelp om veranderinge aan te bring.

3 Voor ons doop moes baie van ons groot veranderinge in ons lewe aanbring sodat ons in ooreenstemming met Bybelstandaarde kon lewe. Maar ons besef dat daar nog steeds kleiner veranderinge is wat ons moet aanbring om meer soos God en Christus te wees (Efesiërs 5:1, 2; 1 Petrus 2:21). Byvoorbeeld, ons besef miskien dat ons baie kla of dikwels skinder en gemene dinge oor ander sê. Of dalk swig ons soms voor mensevrees. Ons probeer miskien al jare lank om te verander, maar ons hou aan om dieselfde foute te maak. Ons wonder dalk: ‘Waarom is dit so moeilik vir my om hierdie kleiner veranderinge aan te bring? Wat moet ek doen om toe te pas wat die Bybel sê sodat ek my persoonlikheid voortdurend kan verbeter?’

JY KAN JEHOVAH BEHAAG

4. Waarom kan ons Jehovah nie ten volle behaag nie?

4 Ons is lief vir Jehovah, en dit is ons hartsbegeerte om hom te behaag. Maar weens ons onvolmaaktheid kan ons hom ongelukkig nie ten volle behaag nie. Ons voel dikwels soos die apostel Paulus, wat gesê het dat hy die begeerte het om te doen wat goed is, maar nie die vermoë het om hierdie begeerte uit te voer nie.—Romeine 7:18; Jakobus 3:2.

5. Watter veranderinge het ons aangebring voordat ons gedoop is, maar teen watter swakhede stry ons miskien nog steeds?

5 Voordat ons deel van die gemeente kon wees, moes ons ophou om dinge te beoefen wat Jehovah haat (1 Korintiërs 6:9, 10). Maar ons is nog steeds onvolmaak (Kolossense 3:9, 10). Daarom hou ons aan om foute te maak, al is ons reeds jare lank gedoop. Van tyd tot tyd kom verkeerde begeertes en gevoelens dalk by ons op, of ons vind dit miskien moeilik om ’n sekere swakheid te oorkom. Trouens, ons moet dalk jare lank teen dieselfde swakheid stry.

6, 7. (a) Waarom kan ons Jehovah se vriende wees, al is ons onvolmaak? (b) Waarom moet ons nie huiwer om Jehovah om vergifnis te vra nie?

6 Al is ons onvolmaak, kan ons nog steeds Jehovah se vriend wees en hom dien. Moenie vergeet hoe jou vriendskap met Jehovah begin het nie. Hy was die Een wat die goeie in jou gesien het en wat wou hê dat jy hom moet leer ken (Johannes 6:44). Hy het ook geweet dat jy swakhede het en dat jy foute sal maak. Maar Jehovah wou nog steeds hê dat jy sy vriend moet wees.

7 Jehovah se liefde vir ons is so groot dat hy ons ’n kosbare gawe gegee het. Hy het sy Seun, Jesus, aarde toe gestuur sodat hy sy lewe as ’n losprys vir ons sondes kon gee (Johannes 3:16). Wanneer ons ’n fout begaan, kan ons Jehovah om vergifnis vra. En weens die losprys kan ons seker wees dat hy ons sal vergewe en dat ons nog steeds sy vriende sal kan wees (Romeine 7:24, 25; 1 Johannes 2:1, 2). Hou in gedagte dat Jesus vir berouvolle sondaars gesterf het. Daarom moet ons nooit ophou om Jehovah te vra om ons te vergewe nie, al voel ons miskien dat ons onrein of sondig is. As ons hom nie vra om ons te vergewe nie, sal dit wees soos om te weier om ons hande te was wanneer dit vuil is. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah dit vir ons moontlik gemaak het om sy vriende te wees, al is ons onvolmaak!—Lees 1 Timoteus 1:15.

As ons nader aan Jehovah wil kom, moet ons hom en sy Seun voortdurend probeer navolg

8. Waarom moet ons nie ons swakhede ignoreer nie?

8 Ons kan natuurlik nie ons swakhede ignoreer of verskonings daarvoor bly maak nie. Jehovah sê vir ons watter soort mense hy as sy vriende wil hê (Psalm 15:1-5). As ons dus nader aan hom wil kom, moet ons hom en sy Seun voortdurend probeer navolg. Ons moet ook teen ons verkeerde begeertes stry, en dalk sal ons party van hierdie begeertes selfs kan oorkom. Ongeag hoe lank ons al gedoop is, ons moet ons persoonlikheid voortdurend verbeter.—2 Korintiërs 13:11.

9. Hoe weet ons dat dit ’n voortdurende proses is om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee?

9 Die apostel Paulus het vir Christene gesê: “Julle [moet] die ou persoonlikheid . . . aflê, wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en wat volgens sy bedrieglike begeertes verderf word; maar [julle moet vernuwe] word in die krag wat julle verstand aandryf en julle met die nuwe persoonlikheid . . . beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:22-24). Die woorde ‘julle moet vernuwe word’ dui daarop dat dit ’n voortdurende proses is om te verander en om ons “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee”. Ons kan dus altyd meer omtrent Jehovah se eienskappe leer, ongeag hoe lank ons hom al dien. En die Bybel kan ons help om voortdurend veranderinge in ons persoonlikheid aan te bring sodat ons meer soos God kan word.

WAAROM IS DIT SO MOEILIK?

10. Wat moet ons doen as ons voortdurend veranderinge wil aanbring, en watter vrae ontstaan?

10 Ons almal wil die Bybel se raad volg. Maar ons moet ons inspan as ons voortdurend veranderinge wil aanbring. Waarom verg dit soveel inspanning? Kan Jehovah dit nie vir ons makliker maak om te doen wat reg is nie?

11-13. Waarom verwag Jehovah dat ons ons moet inspan om ons swakhede te oorkom?

11 Wanneer ons dink aan die heelal en alles daarin, besef ons dat Jehovah die krag het om enigiets te doen. Hy het byvoorbeeld die son gemaak, en dink net watter krag die son het. Elke sekonde straal die son ’n ontsaglike hoeveelheid lig en hitte uit, maar slegs ’n klein hoeveelheid van hierdie energie is nodig om lewe op die aarde te onderhou (Psalm 74:16; Jesaja 40:26). Jehovah gee ook krag aan sy knegte hier op die aarde wanneer hulle dit nodig het (Jesaja 40:29). As Jehovah wou, kon hy dit dus vir ons baie maklik gemaak het om teen ons swakhede te stry en om verkeerde begeertes te oorkom. Waarom doen hy dit dan nie?

12 Jehovah het ons wilsvryheid gegee. Hy laat ons toe om self te besluit of ons hom wil gehoorsaam of nie. Wanneer ons kies om hom te gehoorsaam en ons inspan om sy wil te doen, toon ons dat ons lief is vir hom en hom wil behaag. Satan beweer dat Jehovah nie die reg het om te heers nie. Maar as ons Jehovah gehoorsaam, toon ons dat ons hom as ons Heerser wil hê. En ons kan seker wees dat ons liefdevolle Vader dit waardeer wanneer ons ons inspan om hom te gehoorsaam (Job 2:3-5; Spreuke 27:11). Dit is nie maklik om ons swakhede te oorkom nie, maar as ons hard stry om dit te oorkom, toon ons dat ons lojaal is aan Jehovah en hom as ons Heerser wil hê.

13 Jehovah sê dus vir ons dat “ywerige inspanning” nodig is om sy eienskappe na te volg. (Kolossense 3:12; lees 2 Petrus 1:5-7.) Hy verwag ook dat ons ons moet inspan om ons denke en gevoelens te beheers (Romeine 8:5; 12:9). Wanneer ons ook al hard moet werk om ’n verandering aan te bring en ons daarin slaag, maak dit ons baie gelukkig.

LAAT GOD SE WOORD JOU VOORTDUREND VERANDER

14, 15. Wat moet ons doen om die eienskappe aan te kweek waarvoor Jehovah lief is? (Sien die venster “ Die Bybel en gebed het hulle lewe verander”.)

14 Wat moet ons doen om die eienskappe aan te kweek waarvoor Jehovah lief is? Pleks van self te besluit watter veranderinge ons moet aanbring, moet ons toelaat dat God ons hierin lei. Romeine 12:2 sê: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” Om uit te vind wat Jehovah van ons verwag, moet ons dus gebruik maak van die hulp wat hy voorsien. Ons moet die Bybel elke dag lees, peins oor wat ons lees en Jehovah in gebed vir sy heilige gees vra (Lukas 11:13; Galasiërs 5:22, 23). Dit kan ons help om te verstaan wat Jehovah behaag en kan ons leer om soos Jehovah te dink. Dan sal ons denke, woorde en dade hom nog meer behaag. Maar ons sal nog steeds teen ons swakhede moet stry.—Spreuke 4:23.

Versamel artikels wat in ons publikasies verskyn of Bybeltekste wat jou help om teen jou swakhede te stry en lees dit weer van tyd tot tyd (Sien paragraaf 15)

15 Ons moet die Bybel nie net elke dag lees nie; ons moet dit ook studeer met behulp van ons publikasies, soos Die Wagtoring en Ontwaak! Baie artikels in hierdie tydskrifte leer ons hoe ons Jehovah se eienskappe kan navolg en hoe ons teen ons swakhede kan stry. Ons vind miskien sekere artikels of tekste wat ons baie help. Ons kan dit versamel sodat ons dit van tyd tot tyd weer kan lees.

16. Waarom moet ons nie mismoedig voel as dit lank neem om veranderinge in ons lewe aan te bring nie?

16 Dit neem tyd om te leer hoe om Jehovah se eienskappe na te volg. As jy voel dat jy nog nie al die veranderinge aangebring het wat jy wil nie, moet jy geduldig wees. Aanvanklik sal jy jou dalk moet dwing om te doen wat die Bybel sê. Maar hoe meer jy jou denke en gedrag verander om Jehovah te behaag, hoe makliker sal dit vir jou word om soos hy te dink en om te doen wat reg is.—Psalm 37:31; Spreuke 23:12; Galasiërs 5:16, 17.

DINK AAN ONS WONDERLIKE TOEKOMS

17. Na watter wonderlike toekoms kan ons uitsien as ons lojaal aan Jehovah is?

17 Ons sien uit na die tyd wanneer ons volmaak sal wees en Jehovah vir ewig sal dien. Dan sal ons nie meer teen enige swakhede hoef te stry nie, en dit sal baie makliker vir ons wees om Jehovah na te volg. Maar ons kan Jehovah nou al dien omdat hy ons die gawe van die losprys gegee het. Hoewel ons onvolmaak is, kan ons hom behaag as ons voortdurend hard werk om veranderinge aan te bring en as ons toepas wat hy ons in die Bybel leer.

18, 19. Hoe weet ons dat die Bybel ons kan help om ons lewe voortdurend te verander?

18 Kevin het alles in sy vermoë gedoen om te leer om sy humeur in toom te hou. Hy het nagedink oor wat hy in die Bybel gelees het en hard probeer om veranderinge in sy lewe aan te bring. Hy het ook die raad van mede-Christene gevolg. Hoewel dit Kevin ’n paar jaar geneem het om te verbeter, het hy later as ’n bedieningskneg gedien. En hy dien al die afgelope 20 jaar as ’n ouer man. Maar hy weet dat hy nog steeds teen sy swakhede moet stry.

19 Net soos Kevin kan ons aanhou om ons persoonlikheid te verbeter. As ons dit doen, sal ons al hoe nader aan Jehovah kom (Psalm 25:14). En as ons alles in ons vermoë doen om hom te behaag, sal hy ons help om suksesvol te wees. Ons kan seker wees dat ons met behulp van die Bybel voortdurend veranderinge in ons lewe sal kan aanbring.—Psalm 34:8.

^ [1] (paragraaf 1) Die naam is verander.