Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Redding is nodig!

Redding is nodig!

’N STEENKOOLMYN naby Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA, is skielik deur miljoene liters water oorstroom. Nege mynwerkers was in ’n lugholte 73 meter onder die oppervlak vasgekeer. Drie dae later was hulle weer bogronds, heeltemal veilig. Hoe is hulle gered?

Met behulp van kaarte van die myn en die globale posisioneringstelsel het reddingswerkers ’n gat van 65 sentimeter in deursnee geboor en ’n silindervormige hok laat afsak na waar die mans was. Die mynwerkers is een vir een in hierdie hok na die oppervlak gebring, uit wat hulle graf kon gewees het. Almal was verheug, verlig en dankbaar dat hulle gered is.

Die meeste van ons sal nooit ondergronds vasgekeer word soos daardie nege mynwerkers of die dood as gevolg van ’n ramp in die gesig staar nie. Maar ons almal het redding nodig, want ons kan nie die gevolge van siekte en die ouderdom en uiteindelik die dood vryspring nie. “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis”, het die getroue aartsvader Job gesê. “Soos ’n bloeisel het hy te voorskyn gekom en word hy afgesny, en hy vlug soos die skaduwee en bly nie bestaan nie” (Job 14:1, 2). Vandag, ongeveer 3 500 jaar later, is hierdie woorde nog steeds waar, want wie van ons kan die lewe se rampspoedige einde—die dood—vryspring? Ongeag waar ons woon of hoe goed ons na ons gesondheid kyk, ons moet uit die kloue van lyding, die ouderdom en die dood gered word.

Wetenskaplikes en ander beywer hulle om die lewensduur wat vandag as normaal beskou word, te verleng. Een organisasie sê dat dit sy taak is “om die onvermydelikheid van die dood te bowe te kom” en “om sy lede te help om fisiese onsterflikheid vir die mens moontlik te maak”. Maar tot dusver het gevorderde wetenskap tesame met groot wilskrag nie die menselewe veel langer gemaak as die 70 of 80 jaar wat Moses 3 500 jaar gelede gemeld het nie.—Psalm 90:10.

Of jy soos Job oor die lewe en die dood voel of nie, dit is onvermydelik dat jy ook met die verloop van die jare ‘soos die skaduwee sal vlug’, ver weg van jou vriende, jou familie, jou huis en alles wat jy bereik het—na die dood. “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf”, het die wyse koning Salomo van eertydse Israel geskryf. “Wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks, en ook het hulle geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis is vergeet.”—Prediker 9:5.

Die droewige werklikheid is, soos die Bybel toon, dat die dood “as koning”, soos ’n tirannieke heerser, oor die mensdom ‘heers’. Ja, die dood is die laaste vyand waarvan die mensdom gered moet word (Romeine 5:14; 1 Korintiërs 15:26). Die bes opgeleide en bes toegeruste noodwerkers in die wêreld kan jou nie permanent hiervan red nie. Maar die mens se Skepper, Jehovah God, het juis so ’n redding moontlik gemaak.