Sleutels tot gesinsgeluk
Kommunikasie met adolessente
“Dit was altyd maklik om met my seun te praat, maar noudat hy 16 is, is dit vir my en my man moeilik om te weet wat hy dink. Hy sonder hom in sy kamer af en praat skaars met ons!”—MIRIAM, MEXIKO.
“Daar was ’n tyd toe my kinders gretig geluister het na enigiets wat ek gesê het. Hulle het alles ingedrink! Vandag, as tieners, dink hulle dat ek nie in voeling is met hulle wêreld nie.”—SCOTT, AUSTRALIË.
AS JY ’n adolessent grootmaak, kan jy jou heel waarskynlik vereenselwig met die ouers wat hierbo aangehaal word. In die verlede het gesprekke met jou kind dalk soos ’n tweerigtinghoofweg gevloei. Nou is dit asof daar ’n versperring in die pad is. “Toe hy ’n kind was, het my seun my altyd met vrae bestook”, sê Angela, ’n ma in Italië. “Nou is ek die een wat gesprekke moet probeer aanknoop. As ek dit nie doen nie, kan dae verloop sonder dat ons ’n enkele betekenisvolle gesprek voer.”
Soos Angela vind jy dalk dat jou eens spraaksame kind in ’n nors adolessent verander het. Alle pogings om ’n gesprek te voer, ontlok net bot antwoorde. “Hoe was jou dag?” vra jy jou seun. “Orraait”, antwoord hy kortaf. “Wat het vandag by die skool gebeur?” vra jy jou dogter. “Niks nie”, sê sy en trek haar skouers op. Jou poging om ’n gesprek met “Hoekom praat jy nie met my nie?” aan die gang te kry, word met kille stilswye beantwoord.
Party adolessente het natuurlik geen probleem om te sê wat hulle dink nie. Maar wat hulle sê, is nie wat hulle ouers wil hoor nie. “My dogter se reaksie wanneer ek haar gevra het om iets te doen, was dikwels: ‘Los my uit’”, vertel Edna, ’n ma in Nigerië. Ramón, in Mexiko, ondervind iets soortgelyks met sy 16-jarige seun. “Ons stry byna elke dag”, sê hy. “As ek hom vra om iets te doen, probeer hy maniere vind om hom daaruit los te wikkel.”
Om met ’n afsydige adolessent te probeer kommunikeer, kan ’n ouer se geduld beproef. Die Bybel erken dat “planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie” (Spreuke 15:22). “Wanneer ek nie weet wat my seun dink nie, raak ek so geïrriteerd dat ek wil skreeu”, erken Anna, ’n enkelouer in Rusland. Waarom verloor jongmense—en hulle ouers—blykbaar die vermoë om te kommunikeer, net wanneer kommunikasie so belangrik word?
Identifiseer die padversperrings
Kommunikasie is meer as om net te praat. Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart praat [die] mond” (Lukas 6:45). Deur goeie kommunikasie leer ons by ander en maak ons dinge oor onsself bekend. Laasgenoemde kan vir adolessente ’n uitdaging wees, want wanneer hulle puberteit bereik, kan selfs die mees uitgaande kind skielik skugter raak. Volgens deskundiges voel die meeste adolessente asof hulle heeltyd op ’n verhoog voor ’n denkbeeldige gehoor is, gedurig in ’n skerp kollig wat elke foutjie uitwys. Eerder as om in hierdie kollig te staan, trek selfbewuste adolessente as ’t ware die gordyn toe en verdwyn hulle in ’n private wêreld wat ouers nie maklik kan betree nie.
Nog ’n faktor wat ’n padversperring vir kommunikasie kan wees, is ’n adolessent se strewe na onafhanklikheid. Jy kan dit nie wegwens nie—jou kind word groot, en ’n deel van daardie proses is dat hy hom van die gesin wil losmaak. Nee, dit beteken nie dat jou adolessent gereed is om die huis te verlaat nie. In baie opsigte het hy of sy jou nodiger as ooit. Die losmaakproses begin egter jare voordat hy volwassenheid bereik. As deel van grootword, verkies adolessente om dinge op hulle eie te deurdink voordat hulle hulle gedagtes met ander deel.
Adolessente is dalk nie so privaat wanneer hulle met hulle portuurs praat nie—iets wat Jessica, ’n ma in Mexico, opgemerk het. “Toe my dogter jonger was, het sy altyd na my toe gekom met haar probleme”, sê sy. “Nou gaan sy na haar vriende toe.” As jou adolessent dit ook doen, moet jy nie tot die slotsom kom dat hy of sy jou as ouer “afgedank” het nie. Inteendeel, opnames toon dat adolessente, selfs al ontken hulle dit, groter waarde heg aan hulle ouers se raad as aan hulle vriende s’n. Maar hoe kan jy seker maak dat die deur van kommunikasie oop bly?
Sleutels tot sukses—Breek die versperrings af
Stel jou voor jy ry op ’n lang, reguit hoofweg. Vir kilometers aaneen was dit vir jou nodig om net geringe aanpassings te maak. Dan is daar skielik ’n skerp draai in die pad. Om jou motor op die pad te hou, móét jy eenvoudig aanpassings maak. Iets soortgelyks gebeur wanneer jou kind ’n adolessent word. Dalk was dit jare lank nie vir jou nodig om die manier waarop jy jou kinders grootmaak, veel aan te pas nie. Maar nou het jou kind se lewe by ’n skerp draai gekom, en om “die draai te vat”, moet jy jou tegnieke aanpas. Vra jou die volgende vrae af.
‘Is ek gereed om te kommunikeer wanneer my seun of dogter gereed is om te praat?’ Die Bybel sê: “Soos goue appels in silwersnywerk is ’n woord wat op sy regte tyd gespreek word” (Spreuke 25:11). Soos hierdie teks duidelik toon, is tydsberekening dikwels die sleutel. Ter toeligting: ’n Boer kan die oestyd nie aanjaag of uitstel nie. Hy moet eenvoudig aan die werk spring wanneer die seisoen aanbreek. Dalk is daar ’n sekere tyd wanneer jou adolessent meer bereid is om te praat. Gryp daardie geleentheid aan. “My dogter het dikwels saans na my slaapkamer toe gekom, en soms het ons ’n uur lank gesels”, sê Frances, ’n enkelma in Australië. “Omdat ek nie ’n aandmens is nie, was dit nie maklik nie, maar gedurende daardie laat nagte het ons oor alles gesels.”
PROBEER DIE VOLGENDE: As dit lyk of jou adolessent nie wil praat nie, kan julle iets saam doen—gaan stap, ’n ent gaan ry, ’n speletjie speel of ’n taak in of om die huis verrig. Sulke informele situasies maak dit dikwels vir adolessente makliker om te praat.
‘Verstaan ek die boodskap agter die woorde?’ Job 12:11 sê: “Toets die oor nie woorde soos die verhemelte voedsel proe nie?” Meer as ooit tevore moet jy nou “toets” wat jou seun of dogter sê. Adolessente oordryf dikwels. Byvoorbeeld, jou seun of dogter sê dalk: “Julle behandel my altyd soos ’n kind!” of “Julle luister nooit na my nie!” Pleks van hare te kloof oor die tegniese onjuistheid van “altyd” en “nooit”, moet jy eerder besef dat jou kind dit waarskynlik nie letterlik bedoel nie. Byvoorbeeld, “Julle behandel my altyd soos ’n kind” kan beteken: “Dit voel of julle my nie vertrou nie”, en “Julle luister nooit na my nie” beteken dalk: “Ek wil verduidelik hoe ek regtig voel.” Probeer om die boodskap agter die woorde te verstaan.
PROBEER DIE VOLGENDE: Wanneer jou adolessent ’n sterk stelling maak, kan jy iets sê soos: “Ek kan sien jy is omgekrap, en ek wil weet wat jou pla. Sê vir my hoekom jy voel dat ek jou soos ’n kind behandel.” Luister dan sonder om hom in die rede te val.
‘Ry ek onbewustelik kommunikasie in die wiele deur my adolessent te probeer dwing om te praat?’
Die Bybel sê: “Die saad van die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak” (Jakobus 3:18). Skep deur jou woorde en houding “vreedsame toestande” sodat jou adolessent geneig sal voel om te praat. Onthou, jy is jou kind se advokaat. Wanneer julle ’n saak bespreek, moet jy dus probeer om nie soos ’n aanklaer te klink wat in die hof ’n getuie se geloofwaardigheid wil afbreek nie. “’n Wyse ouer vermy opmerkings soos: ‘Wanneer gaan jy grootword?’ of: ‘Hoeveel keer het ek dit al vir jou gesê?’” sê Ahn, ’n pa in Korea. “Nadat ek heelwat foute in hierdie opsig gemaak het, het ek opgelet dat my seuns nie net geïrriteerd was met die manier waarop ek met hulle gepraat het nie, maar ook met wat ek gesê het.”
PROBEER DIE VOLGENDE: As jou adolessent nie op vrae reageer nie, probeer ’n ander benadering. Byvoorbeeld, pleks van jou dogter oor haar dag uit te vra, kan jy haar van jou dag vertel en kyk of sy daarop reageer. Of, om uit te vind wat jou kind se mening oor ’n saak is, kan jy vrae vra wat nie die aandag op haar vestig nie. Vra haar hoe een van haar vriendinne oor die onderwerp voel. Vra dan watter raad sy haar vriendin sou gee.
Om met adolessente te kommunikeer, is nie onmoontlik nie. Pas die manier waarop jy jou kinders grootmaak volgens hulle behoeftes aan. Praat met ander ouers wat in hierdie opsig suksesvol was (Spreuke 11:14). Wanneer jy met jou seun of dogter kommunikeer, moet jy “gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Moet bowenal nooit ophou om jou adolessent “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” te probeer grootmaak nie.—Efesiërs 6:4.
VRA JOU AF . . .
Watter veranderinge het ek in my kind opgemerk sedert hy of sy ’n adolessent geword het?
Hoe kan ek my kommunikasievaardighede verbeter?