Hoort die naam Jehovah in die Nuwe Testament?
MAAK dit saak of God se naam in die Bybel verskyn? Dit is duidelik dat God so gedink het. Sy naam, soos voorgestel deur die vier Hebreeuse karakters wat as die Tetragrammaton bekend staan, verskyn amper 7 000 keer in die oorspronklike Hebreeuse teks van wat oor die algemeen die Ou Testament genoem word. *
Bybelgeleerdes erken dat God se persoonlike naam in die Ou Testament, of Hebreeuse Geskrifte, verskyn. Maar baie meen dat dit nie in die oorspronklike Griekse manuskripte van die sogenoemde Nuwe Testament verskyn het nie.
Maar wat dan van gevalle waar ’n skrywer van die Nuwe Testament gedeeltes van die Ou Testament aanhaal waarin die Tetragrammaton verskyn? In sulke gevalle gebruik die meeste vertalers die woord “Here” in plaas van God se persoonlike naam. Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif volg nie hierdie algemene gebruik nie. Dit gebruik die naam Jehovah 237 keer in die Christelike Griekse Geskrifte, of Nuwe Testament.
Met watter probleme het Bybelvertalers te kampe wanneer hulle moet besluit of hulle God se naam in die Nuwe Testament gaan gebruik of nie? Watter grondslag is daar om God se naam in hierdie deel van die Heilige Skrif te gebruik? En hoe raak die gebruik van God se naam in die Bybel jou?
’n Vertaalprobleem
Die manuskripte van die Nuwe Testament wat ons vandag beskikbaar het, is nie die oorspronklikes nie. Die oorspronklike manuskripte wat deur Matteus, Johannes, Paulus en ander geskryf is, is goed gebruik en het ongetwyfeld gou verslete geraak. Kopieë is dus gemaak, en wanneer hulle verslete geraak het, is nog kopieë gemaak. Van die duisende kopieë van die Nuwe Testament wat vandag bestaan, is die meeste ten minste twee eeue ná die opskrifstelling van die oorspronklikes gemaak. Teen daardie tyd lyk dit of dié wat kopieë van die manuskripte gemaak het, die Tetragrammaton vervang het met Ku′ri·os, die Griekse woord vir “Here”, of hulle het kopieë van manuskripte gemaak waarin dit reeds gedoen is. *
Hiermee in gedagte moet ’n vertaler bepaal of daar redelike bewyse is dat die Tetragrammaton wel in die oorspronklike Griekse manuskripte verskyn het. Bestaan sulke bewyse hoegenaamd? Kyk na die volgende argumente:
Toe Jesus uit die Ou Testament aangehaal of gelees het, het hy die goddelike naam gebruik (Deuteronomium 6:13, 16; 8:3; Psalm 110:1; Jesaja 61:1, 2; Matteus 4:4, 7, 10; 22:44; Lukas 4:16-21). In die dae van Jesus en sy dissipels, net soos vandag, het die Tetragrammaton verskyn in kopieë van die Hebreeuse teks van wat dikwels die Ou Testament genoem word. Maar geleerdes het eeue lank gedink dat die Tetragrammaton nie in manuskripte van die Griekse Septuagint-vertaling van die Ou Testament of in manuskripte van die Nuwe Testament verskyn het nie. Toe, in die middel van die 20ste eeu, het iets merkwaardigs onder geleerdes se aandag gekom—’n paar baie ou fragmente van die Griekse Septuagint-vertaling wat in Jesus se dag bestaan het, is ontdek. Daardie fragmente bevat die persoonlike naam van God wat in Hebreeuse karakters geskryf is.
Jesus het God se naam gebruik en dit aan ander bekend gemaak (Johannes 17:6, 11, 12, 26). Jesus het duidelik gesê: “Ek het in die naam van my Vader gekom.” Hy het ook beklemtoon dat sy werke “in die naam van [sy] Vader” gedoen is. Trouens, Jesus se eie naam beteken “Jehovah is redding”.—Johannes 5:43; 10:25.
Die goddelike naam verskyn in sy verkorte vorm in die Griekse Geskrifte. Die goddelike naam kom voor in die uitdrukking “Halleluja” in Openbaring 19:1, 3, 4, 6. Hierdie uitdrukking beteken letterlik “Loof Jah!” Jah is ’n verkorte vorm van die naam Jehovah.
Vroeë Joodse geskrifte dui aan dat Joodse Christene die goddelike naam in hulle geskrifte gebruik het. The Tosefta, ’n geskrewe versameling mondelinge wette wat teen omstreeks 300 G.J. voltooi is, sê aangaande Christelike geskrifte wat op die Sabbat verbrand is: “Die boeke van die Evangeliste en die boeke van die minim [vermoedelik Joodse Christene] red hulle nie uit ’n vuur nie. Maar hulle word toegelaat om te brand, . . . tesame met die verwysings na die Goddelike Naam wat in hulle voorkom.” Volgens hierdie selfde bron het rabbi José die Galileër, wat aan die begin van die tweede eeu G.J. gelewe het, gesê dat ’n mens op ander weeksdae “die verwysings na die Goddelike Naam uitsny wat daarin [die Christelike geskrifte] voorkom, dit wegbêre en die res verbrand”. Daar is dus kragtige bewyse dat die Jode wat in die tweede eeu G.J. gelewe het, geglo het dat Christene Jehovah se naam in hulle geskrifte gebruik het.
Hoe het vertalers hierdie kwessie hanteer?
Is die Nuwe Wêreld-vertaling die enigste Bybel wat God se naam in die Griekse Geskrifte herstel? Nee. Weens die bogenoemde bewyse het baie Bybelvertalers gevoel dat die goddelike naam herstel moet word wanneer hulle die Nuwe Testament vertaal.
In die boeke van die Nuwe Testament wat S.J. Du Toit in Afrikaans vertaal het en van 1898 tot 1908 verskyn het, het hy die naam “Jehowa” deurgaans gebruik. Baie ander vertalings van die Nuwe Testament in Afrikatale asook in Amerikaanse, Asiatiese en Pasifiese tale gebruik die goddelike naam vryelik. (Sien tabel op bladsy 21.) Sommige van hierdie vertalings het onlangs verskyn, soos die Rotumaanse Bybel (1999), wat die naam Jihova 51 keer in 48 verse van die Nuwe Testament gebruik, en die Batak-Toba vertaling (1989) van Indonesië, wat die naam Jahowa 110 keer in die Nuwe Testament gebruik. Die goddelike naam het ook al in Franse, Duitse en Spaanse vertalings verskyn. Byvoorbeeld, Pablo Besson het die Nuwe Testament in die vroeë 20ste eeu in Spaans vertaal. Sy vertaling gebruik Jehová in Judas 14, en byna 100 voetnote dui aan dat die goddelike naam waarskynlik ’n geskikte vertaling sal wees.
Hieronder is ’n paar voorbeelde van Engelse vertalings wat God se naam in die Nuwe Testament gebruik het:
A Literal Translation of the New Testament . . . From the Text of the Vatican Manuscript, deur Herman Heinfetter (1863)
The Emphatic Diaglott, deur Benjamin Wilson (1864)
The Epistles of Paul in Modern English, deur George Barker Stevens (1898)
St. Paul’s Epistle to the Romans, deur W. G. Rutherford (1900)
The Christian’s Bible—New Testament, deur George N. LeFevre (1928)
The New Testament Letters, deur J.W.C. Wand, biskop van Londen (1946)
Onlangs het die 2004-uitgawe van die gewilde New Living Translation hierdie kommentaar gelewer in sy voorwoord onder die opskrif “Die vertaling van goddelike name”: “Ons het die tetragrammaton (JHWH) as ’n reël deurgaans met ‘die HERE’ weergegee en ’n vorm met klein hoofletters gebruik wat algemeen in Engelse vertalings is. Sodoende sal dit onderskei word van die naam ′adonai, wat ons met ‘Here’ weergee.” Dan, wanneer dit oor die Nuwe Testament kommentaar lewer, sê dit: “Die Griekse woord kurios word deurgaans met ‘Here’ vertaal, maar waar die teks van die Nuwe Testament ook al direk uit die Ou Testament aanhaal en dit daar in klein hoofletters verskyn, word dit met ‘HERE’ vertaal.” (Ons kursiveer.) Die vertalers van hierdie Bybel erken dus dat die Tetragrammaton (JHWH) weergegee moet word in hierdie aanhalings in die Nuwe Testament.
Dit is interessant dat The Anchor Bible Dictionary die volgende kommentaar lewer onder die opskrif “Tetragrammaton in die Nuwe Testament”: “Daar is bewyse dat die Tetragrammaton, die Goddelike Naam, Jahweh, in party of in al die N[uwe] T[estament] se aanhalings uit die O[u] T[estament] verskyn het toe die NT-dokumente aanvanklik geskryf is.” En die geleerde George Howard sê: “Aangesien die Tetragram nog steeds verskyn het in die kopieë van die Griekse Bybel [die Septuagint] wat die Skrif van die vroeë kerk was, is dit redelik om te glo dat die skrywers van die N[uwe] T[estament] die Tetragram in die Bybelse teks behou het wanneer hulle uit die Skrif aangehaal het.”
Twee dwingende redes
Dit is dus duidelik dat die Nuwe Wêreld-vertaling nie die eerste Bybel is waarin die goddelike naam in die Nuwe Testament verskyn nie. Soos ’n regter wat gevra word om ’n beslissing te lewer in ’n hofsaak waarvoor daar geen lewende ooggetuies is nie, het die New World Bible Translation Committee al die relevante bewyse noukeurig oorweeg. Hulle het na aanleiding van die feite besluit om Jehovah se naam in hulle vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in te sluit. Let op twee dwingende redes waarom hulle dit gedoen het.
(1) Aangesien die Christelike Griekse Geskrifte ’n geïnspireerde toevoeging tot die heilige Hebreeuse Geskrifte is, het dit vir die vertalers gelyk of die skielike verdwyning van Jehovah se naam uit die teks inkonsekwent is.
Waarom is dit ’n redelike gevolgtrekking? Omstreeks die middel van die eerste eeu G.J. het die dissipel Jakobus aan die ouer manne in Jerusalem gesê: “Simeon het breedvoerig vertel hoe God vir die eerste keer sy aandag op die nasies gerig het om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem” (Handelinge 15:14). Klink dit vir jou logies dat Jakobus so iets sou sê as niemand in die eerste eeu God se naam geken of gebruik het nie?
(2) Toe kopieë van die Septuagint ontdek is wat die goddelike naam eerder as Ku′ri·os (Here) gebruik het, het die vertalers besef dat kopieë van die vroeë Geskrifte in Grieks—en natuurlik dié in Hebreeus—wel in Jesus se dag die goddelike naam bevat het.
Die godonterende tradisie om die goddelike naam uit die Griekse manuskripte te verwyder, het blykbaar eers later ontwikkel. Wat dink jy? Sou Jesus en sy apostels so ’n tradisie bevorder het?—Matteus 15:6-9.
Roep “die naam van Jehovah” aan
Ja, die Skrif self is soos die oortuigende verklaring van ’n ooggetuie dat vroeë Christene wel Jehovah se naam in hulle geskrifte gebruik het, veral wanneer hulle gedeeltes uit die Ou Testament aangehaal het wat daardie naam bevat. Die Nuwe Wêreld-vertaling het dus sonder twyfel vaste grondslag om die goddelike naam, Jehovah, in die Christelike Griekse Geskrifte te herstel.
Hoe raak hierdie inligting jou? Die apostel Paulus het uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal en die Christene in Rome herinner: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.” Toe het hy gevra: “Hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie?” (Romeine 10:13, 14; Joël 2:32). Bybelvertalings wat God se naam gebruik wanneer dit gepas is, help jou om nader aan God te kom (Jakobus 4:8). Ja, wat ’n eer is dit tog vir ons om toegelaat te word om God se persoonlike naam, Jehovah, te ken en dit aan te roep.
^ par. 2 Die Tetragrammaton verwys na die vier letters, JHWH, wat God se naam in Hebreeus voorstel. Dit word in Afrikaans dikwels as Jehovah of Jahweh vertaal.
^ par. 7 Vir meer inligting oor hierdie verwikkeling, sien die brosjure Die Goddelike naam wat vir ewig sal bestaan, uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsye 23-27.