Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Was die Woord “God” of “’n god”?

Was die Woord “God” of “’n god”?

BYBELVERTALERS moet hierdie vraag oorweeg wanneer hulle by die eerste vers van Johannes se Evangelie kom. In die Nuwe Wêreld-vertaling word die vers soos volg weergegee: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was ’n god” (Johannes 1:1). Party ander vertalings gee die laaste deel van hierdie vers so weer dat dit die gedagte oordra dat die Woord “goddelik” of iets soortgelyks was (A New Translation of the Bible, deur James Moffat; The New English Bible). Baie vertalings gee egter die laaste deel van Johannes 1:1 soos volg weer: “En die Woord was God.”—Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling; The Jerusalem Bible.

Griekse grammatika en die konteks gee duidelik te kenne dat die Nuwe Wêreld-vertaling se bewoording juis is en dat “die Woord” nie geïdentifiseer moet word as die “God” na wie daar vroeër in die vers verwys word nie. Party voel nietemin dat dit bevraagteken kan word omdat eerste-eeuse Grieks nie ’n onbepaalde lidwoord (“’n”) gehad het nie. Daarom is ’n Bybelvertaling in ’n taal wat in die vroegste eeue van ons Gewone Jaartelling gepraat is, baie interessant.

 Die taal is die Saïdiese dialek van Kopties. Die Koptiese taal is in die eeue onmiddellik ná Jesus se aardse bediening in Egipte gepraat, en die Saïdiese dialek was ’n vroeë literêre vorm van dié taal. Aangaande die vroegste Koptiese vertalings van die Bybel sê The Anchor Bible Dictionary: “Aangesien die [Septuagint] en die [Christelike Griekse Geskrifte] gedurende die 3de eeu G.J. in Kopties vertaal is, is die Koptiese vertaling gebaseer op [Griekse manuskripte] wat aansienlik ouer is as die oorgrote meerderheid bestaande getuies.”

Die Saïdies-Koptiese teks is om twee redes besonder interessant. Eerstens, soos hierbo aangedui is, toon dit hoe die Skrif verstaan is vóór die vierde eeu, toe die Drie-eenheid ’n amptelike leerstelling geword het. Tweedens is Koptiese grammatika in een belangrike opsig betreklik na aan Afrikaanse en Engelse grammatika. Die vroegste vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte was in Siries, Latyn en Kopties. Siries en Latyn het, soos die Grieks van daardie tyd, nie ’n onbepaalde lidwoord nie. Maar Kopties het wel. Wat meer is, die geleerde Thomas O. Lambdin sê in sy werk Introduction to Sahidic Coptic: “Die gebruik van die Koptiese lidwoorde, bepaald sowel as onbepaald, kom ten nouste ooreen met die gebruik van die lidwoorde in Engels.”

Die Koptiese vertaling verskaf dus interessante bewyse van hoe Johannes 1:1 destyds verstaan is. Wat vind ons? Die Saïdies-Koptiese vertaling gebruik ’n onbepaalde lidwoord saam met die woord “god” in die laaste deel van Johannes 1:1. Wanneer dit in hedendaagse Afrikaans weergegee word, lui die vertaling dus: “En die Woord was ’n god.” Daardie eertydse vertalers het klaarblyklik besef dat Johannes se woorde in Johannes 1:1 nie beteken het dat Jesus as God die Almagtige geïdentifiseer moet word nie. Die Woord was ’n god, nie God die Almagtige nie.