Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy bang vir die dooies?

Is jy bang vir die dooies?

Is jy bang vir die dooies?

BAIE mense beantwoord hierdie vraag met ’n eenvoudige: “Nee. Waarom sou ek bang wees?” Hulle glo dat die afgestorwenes werklik dood is. Maar miljoene is oortuig dat die dooies as geeste voortleef.

In Benin, Wes-Afrika, glo baie dat die dooies kan terugkeer om ander lede van hulle gesin dood te maak. Mense verkoop besittings of maak skuld om te betaal vir diereoffers en seremonies om afgestorwe familielede te paai. Party beoefen spiritisme, wat die gedagte insluit dat ’n geestelike deel van die mens ná die dood voortleef en met die lewendes kan kommunikeer. Ander het angswekkende ondervindinge wat hulle toeskryf aan die invloed van geeste van die dooies.

Agboola, ’n man wat naby die grens tussen Benin en Nigerië woon, het so ’n ondervinding gehad. Hy sê: “Spiritisme oorheers die lewe in ons gebied. Dit is die gebruik om lyke seremonieel te was om hulle vir die geesteryk voor te berei. Ek het dikwels van die stukkies oorskietseep bymekaargemaak en dit met sekere blare gemeng. Dan het ek, terwyl ek die konkoksie aan my jaggeweer gesmeer het, hardop gesê watter soort diere ek wil skiet. Sulke gebruike is algemeen en het skynbaar gewerk. Maar sekere aspekte van spiritisme was skrikwekkend.

“Toe twee van my seuns op geheimsinnige wyse dood is, het ek vermoed dat iemand spiritisme teen my gebruik. Om uit te vind, het ek na ’n ou man gegaan wat bekend was vir sy spiritistiese magte. Hy het my vermoede bevestig. Nog erger, hy het verduidelik dat my seuns nou in die geestewêreld wag om knegte van hulle moordenaar te word wanneer hy sterf. Die ou man het bygevoeg dat dieselfde lot op my derde seun wag. ’n Paar dae later was dié seun ook dood.”

Toe het Agboola vir John ontmoet, een van Jehovah se Getuies uit die naburige Nigerië. John se verduideliking van die toestand van die dooies was op die Bybel gegrond. Hierdie verduideliking het Agboola se lewe verander. Dit kan jou lewe ook verander.

Lewe die dooies?

Wie kan hierdie vraag die beste beantwoord? Geen mens nie, al is hy ook hoe beroemd. Maar Jehovah, die Skepper van alle lewe “in die hemele en op die aarde . . . , die sigbare dinge en die onsigbare dinge”, het die antwoord (Kolossense 1:16). Hy het engele geskep om in die geesteryk te woon en mense en diere om op die aarde te lewe (Psalm 104:4, 23, 24). Alle lewe is van Hom afhanklik (Openbaring 4:11). Kyk dus wat God se Woord, die Bybel, oor die dood sê.

Jehovah was die eerste persoon wat van die dood gepraat het. Hy het gewaarsku dat Adam en Eva sou sterf as hulle aan hom ongehoorsaam is (Genesis 2:17). Wat het dit beteken? Jehovah het verduidelik: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). By die dood ontbind die liggaam; dit keer terug tot die stof. Die lewe eindig.

Adam en Eva was moedswillig ongehoorsaam en is derhalwe ter dood veroordeel. Hulle het egter nie eerste gesterf nie. Hulle seun Abel het. Sy ouer broer, Kain, het hom vermoor (Genesis 4:8). Kain was nie bang dat sy dooie broer sou kon wraak neem nie. Kain was eerder bang vir wat lewende mense aan hom kon doen.—Genesis 4:10-16.

Baie eeue later was koning Herodes ontsteld toe sterrewiggelaars hom inlig dat ’n “koning van die Jode” in sy ryk gebore is. Herodes was daarop uit om hierdie moontlike mededinger uit die weg te ruim en het beplan om al die seuntjies in Betlehem van twee jaar en jonger te laat doodmaak. Maar ’n engel het Josef gewaarsku om Jesus en Maria te neem en te “vlug na Egipte”.—Matteus 2:1-16.

Toe Herodes gesterf het, het die engel vir Josef gesê om na Israel terug te keer, “want diegene wat die siel van die jong kindjie gesoek het, is dood” (Matteus 2:19, 20). Die engel, wat self ’n geespersoon was, het geweet dat Herodes Jesus nie meer leed kon aandoen nie. Josef was nie bang vir die dooie koning Herodes nie. Maar Josef was wel bang vir wat Herodes se tirannieke seun, Argelaus, kon doen. Daarom het Josef met sy gesin in Galilea, buite Argelaus se jurisdiksie, gaan woon.—Matteus 2:22.

Hierdie verslae help ons om te sien dat die dooies magteloos is. Hoe kan die ondervindinge van Agboola en ander dan verklaar word?

“Demone”, of onrein geeste

As ’n volwassene het Jesus bose geesskepsele teëgekom. Hulle het Jesus herken en hom as die “Seun van God” aangespreek. Jesus het eweneens geweet wie hulle is. Hulle was nie die geeste van afgestorwe mense nie. Jesus het hulle eerder as “demone”, of onrein geeste, geïdentifiseer.—Matteus 8:29-31; 10:8; Markus 5:8.

Die Bybel praat van geeste wat aan God lojaal is en van dié wat teen hom in opstand gekom het. Die boek Genesis sê dat Jehovah, toe hy die ongehoorsame Adam en Eva uit die tuin van Eden uitgedryf het, gerubs, of engele, aan die oostekant van die tuin geplaas het om te keer dat enigiemand daar ingaan (Genesis 3:24). Dit was blykbaar die eerste keer dat geeste vir mense sigbaar geword het.

’n Ruk later het ’n aantal engele aarde toe gekom en menslike gedaantes aangeneem. Jehovah het hulle nie gestuur om enige toewysing op die aarde uit te voer nie. Hulle het eerder “hulle eie gepaste woonplek [in die geesteryk] verlaat” (Judas 6). Hulle beweegredes was selfsugtig. Hulle het vrouens geneem, wat geboorte gegee het aan ’n basternageslag wat die Nefilim genoem is. Die Nefilim en hulle opstandige vaders het die aarde met geweld en ander baie slegte dinge gevul (Genesis 6:1-5). Jehovah het die situasie reggestel deur die aardwye Vloed van Noag se dag te bring. Die vloedwater het goddelose manne en vroue sowel as die basternageslag vernietig. Wat het van die engele geword?

Die Vloed het hulle gedwing om na die geesteryk terug te keer. Maar Jehovah het hulle verhinder om “hulle oorspronklike posisie” terug te neem (Judas 6). Die Bybel sê dat “God hom nie daarvan weerhou het om die engele te straf wat gesondig het nie, maar hulle, deur hulle in Tartarus te werp, aan kuile van dik duisternis oorgelewer het om vir die oordeel bewaar te word”.—2 Petrus 2:4.

Tartarus is nie ’n spesifieke plek nie; dit is ’n verlaagde gevangenistoestand wat die bedrywighede van hierdie uitgeworpenes beperk. Die demone kan nie meer materialiseer nie, maar hulle oefen nog steeds groot mag en invloed oor verstande en lewens uit. Hulle kan in mense en diere invaar (Matteus 12:43-45; Lukas 8:27-33). Hulle kan mense ook bedrieg deur hulle voor te doen as die geeste van die dooies. Waarom? Om te keer dat mense Jehovah op ’n manier aanbid wat hom behaag en om hulle te verwar ten opsigte van die ware toestand van die dooies.

Hoe om vrees te oorkom

Agboola het gesien dat die Bybel se verduidelikings in verband met die dood en die identiteit van die geeste redelik is. Hy het besef dat hy meer moet leer. Hy het die Bybel en Bybelpublikasies saam met John begin lees. Agboola is vertroos deur die wete dat sy seuns in die graf slaap en nie in die geesteryk wag om hulle moordenaar se knegte te word nie.—Johannes 11:11-13.

Agboola het ook besef dat hy heeltemal van spiritistiese gebruike moet wegbreek. Hy het al sy besittings verbrand wat met die okkulte verband gehou het (Handelinge 19:19). Party in die gemeenskap het hom gewaarsku dat dit die geeste kwaad sou maak. Maar Agboola was nie bang nie. Hy het die raad in Efesiërs 6:11, 12 gevolg: “Trek die volle wapenrusting van God aan, . . . want ons het ’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte.” Hierdie geestelike wapenrusting sluit waarheid, regverdigheid, die goeie nuus van vrede, geloof en die swaard van die gees, God se Woord, in. Hierdie wapenrusting kom van God en is kragtig!

Agboola is deur party van sy vriende en familielede verstoot toe hy gebruike verwerp het wat met spiritisme verband hou. Maar by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies het hy nuwe vriende gevind, wat glo wat die Bybel leer.

Agboola weet nou dat Jehovah binnekort die aarde van goddeloosheid sal reinig en die demone tot algehele onbedrywigheid sal bring. Uiteindelik sal Hy hulle vernietig (Openbaring 20:1, 2, 10). God sal “almal wat in die gedenkgrafte is”, hier op die aarde opwek (Johannes 5:28, 29). Dit sal Abel, die onskuldige kinders wat deur koning Herodes vermoor is en miljoene ander insluit. Agboola glo dat dit ook sy drie seuns sal insluit. Jou afgestorwe dierbares sal heel moontlik ook onder hulle wees. Al hierdie verresenes sal bevestig dat hulle, vanaf hulle dood tot hulle opstanding, van hoegenaamd niks bewus was nie—ook nie van enige seremonies wat vir hulle gehou is nie.

Jy het geen rede om bang te wees vir die dooies nie. Jy kan eerder daarna uitsien om met afgestorwe dierbares herenig te word. Intussen kan jy gerus die Bybel bestudeer om jou geloof te versterk. Assosieer met dié wat glo wat die Bybel leer. As jy enigsins by spiritisme betrokke is, moet jy dadelik hierdie betrokkenheid stopsit. Beskerm jouself teen die demone deur “die volle wapenrusting van God” aan te trek (Efesiërs 6:11). Jehovah se Getuies sal jou met graagte help. Hulle bied gratis tuisbybelstudies aan en gebruik die boek Wat leer die Bybel werklik? a

Agboola is nie meer bang vir die dooies nie, en hy het geleer hoe om die demone te weerstaan. Hy sê: “Ek weet nie wie vir die dood van my drie seuns verantwoordelik was nie. Maar vandat ek Jehovah begin dien het, het ek nog sewe kinders bygekry. Niemand in die geesteryk het hulle enige leed aangedoen nie.”

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 13]

Agboola is nie meer bang vir die dooies nie, en hy het geleer hoe om die demone te weerstaan

[Prent op bladsy 12]

Kain was nie bang dat sy dooie broer sou kon wraak neem nie