Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maria se rol in God se voorneme

Maria se rol in God se voorneme

Maria se rol in God se voorneme

TYDENS Jesus se bediening het ’n vrou haar stem bo die geraas van die skare verhef en uitgeroep: “Gelukkig is die moederskoot wat u gedra het en die borste waaraan u gedrink het!” As Jesus wou gehad het dat sy moeder vereer moes word, het hy hier ’n gulde geleentheid gehad om hierdie vorm van verering te bevorder. Maar hy het eerder geantwoord: “Nee, gelukkig is eerder dié wat die woord van God hoor en dit nakom!”—Lukas 11:27, 28.

Jesus het nie sy moeder vir enige spesiale eerbewyse uitgesonder nie; en hy het ook nooit vir sy volgelinge gesê om dit te doen nie. Hoe strook dit met die verering wat talle opregte gelowiges aan Maria gee? Kom ons kyk in die lig van die Heilige Skrif na party van die algemene leerstellings oor Jesus se moeder.

“Begenadigde”, “Geseënd . . . onder die vroue”

Die engel Gabriël het aan Maria bekend gemaak wat haar rol in God se voorneme sou wees. By hierdie geleentheid het hy haar gegroet met die woorde: “Goeiedag, hoogbegunstigde, Jehovah is met jou” (Lukas 1:28). ’n Ander vertaling van hierdie selfde groet is: “Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Kort daarna het Elisabet Maria gegroet met die woorde: “Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou moederskoot!” (Lukas 1:42). Toon hierdie uitdrukkings nie dat Maria spesiale verering verdien nie?

Nee, nie werklik nie. Hoewel hierdie woorde deel is van ’n gebed wat Katolieke tot Maria rig, word die gebruik om tot haar te bid, geensins deur die Bybel geregverdig nie. Gabriël en Elisabet het erken watter uitsonderlike voorreg Maria ontvang het as die een wat die Messias sou baar, maar die gedagte om tot haar te bid, het geen skriftuurlike grondslag nie. Inteendeel, toe Jesus se dissipels hom gevra het om hulle te leer hoe om te bid, het hy aangedui dat gebede tot sy Vader gerig moet word. Trouens, Jesus se beroemde modelgebed begin met die woorde: “Ons Vader in die hemele.”—Matteus 6:9.

Een van die heersers

Nog ’n algemene leerstelling aangaande Maria is dat sy nou “die Hemelkoningin” is. Die Bybel ken nêrens so ’n titel aan haar toe nie. Maar dit toon wel dat sy ’n spesiale plek in God se hemelse reëling het. Watter plek?

Jesus het aangedui dat party van sy getroue dissipels saam met hom in sy Koninkryk sal regeer (Lukas 22:28-30). Jesus sal hierdie uitverkorenes die gesag gee om te dien as “priesters vir ons God . . . , en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Openbaring 5:10). Die Bybel lei ons duidelik tot die slotsom dat Maria onder diegene is wat hierdie verhewe voorreg ontvang. Waarom kan ons so sê?

Jy sal onthou dat Maria ná Jesus se dood “volhard [het] in gebed” saam met Jesus se dissipels en sy broers. Omtrent 120, insluitende “’n aantal vroue”, het met hierdie doel vergader (Handelinge 1:12-15). “In die loop van . . . die Pinksterfees”, sê die Bybel, “was hulle almal op dieselfde plek bymekaar” toe God se heilige gees op hulle uitgestort is, wat hulle in staat gestel het om in ander tale te praat.—Handelinge 2:1-4.

Die feit dat Maria onder dié was wat op hierdie manier geseën is, toon dat sy en die ander vroue wat die heilige gees ontvang het, gekies is om deel van Jesus se hemelse Koninkryk te wees. Ons het dus alle rede om te glo dat Maria nou saam met Jesus hemelse heerlikheid geniet (Romeine 8:14-17). Kyk na party van die voorregte wat sy en Jesus se ander medeheersers in die vervulling van God se voornemens sal hê.

Die uitstorting van wonderlike seëninge

Die Bybelboek Openbaring sê dat 144 000 persone tot hemelse heerlikheid opgewek sal word om saam met Jesus as priesters, regters en konings te dien (Openbaring 14:1, 4; 20:4, 6). As priesters sal hulle ’n aandeel daaraan hê om die voordele van Jesus se offerande ten behoewe van alle gehoorsame mense aan te wend en hulle tot geestelike, sedelike en liggaamlike volmaaktheid te verhef (Openbaring 21:1-4). Wat ’n voorreg sal dit tog vir alle lojale aanbidders van Jehovah wees om hierdie wonderlike tyd te sien! a

Maria het destyds ’n rol in die vervulling van Jehovah se voornemens gespeel, en sy speel vandag nog steeds ’n rol. Haar nederigheid, geloof, gehoorsaamheid en toegewydheid as ’n moeder, om nie eens te praat van haar volharding onder beproewinge nie, maak haar ’n navolgenswaardige voorbeeld. Sy verdien groot respek weens die feit dat sy aan die Messias geboorte gegee het en weens die aandeel wat sy daaraan sal hê om ewige seëninge op die mensdom uit te stort.

Die belangrikste les wat ons egter by Maria leer, is dat sy, soos alle ander getroue knegte van God, Jehovah aanbid, en geen ander god nie. Maria roep saam met Christus se ander medeheersers in die hemel uit: “Aan die Een wat op die troon sit [Jehovah God] en aan die Lam [Jesus Christus] die lof en die eer en die heerlikheid en die mag vir ewig en altyd.”—Openbaring 5:13; 19:10.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor hierdie seëninge, sien hoofstuk 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 10]

Maria se nederigheid, geloof en gehoorsaamheid is navolgenswaardig