Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra

Waarom word party gebede nie verhoor nie?

Waarom word party gebede nie verhoor nie?

God is baie toeganklik. Net soos ’n liefdevolle vader bly is as sy kinders vryelik met hom praat, verwelkom Jehovah God ons gebede. Maar soos enige wyse vader, het God goeie redes waarom hy nie party versoeke verhoor nie. Is sy redes onverklaarbaar, of openbaar hy iets daaromtrent in die Bybel?

Die apostel Johannes verduidelik: “Dít is die vertroue wat ons teenoor hom het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Ons versoeke moet in ooreenstemming met God se wil wees. Party mense bid vir dinge wat beslis nie God se wil is nie—om byvoorbeeld die lotery of ’n weddenskap te wen. Ander bid met verkeerde beweegredes. Die dissipel Jakobus waarsku teen hierdie misbruik van gebed en sê: “Julle vra, en tog ontvang julle nie, want julle vra met ’n verkeerde doel, om dit aan julle begeertes na sinsgenot te bestee.”—Jakobus 4:3.

Byvoorbeeld, stel jou voor albei spanne in ’n sokkerwedstryd bid om te wen. Daar kan nouliks van God verwag word om sulke teenstrydige gebede te verhoor. Dieselfde geld vir hedendaagse oorloë wanneer strydende partye bid om te wen.

Diegene wat God se wet minag, bid tevergeefs. Jehovah het eenkeer verplig gevoel om vir huigelagtige aanbidders te sê: “Selfs al doen julle baie gebede, luister ek nie; julle hande is vol bloedvergieting” (Jesaja 1:15). Die Bybel sê: “Hy wat sy oor afwend om die wet nie te hoor nie—selfs sy gebed is iets verfoeiliks.”—Spreuke 28:9.

Daarenteen sal Jehovah altyd luister na die opregte gebede van aanbidders wat hulle bes doen om hom in ooreenstemming met sy wil te dien. Maar beteken dit dat hy al hulle versoeke sal toestaan? Nee. Beskou ’n paar Bybelse voorbeelde.

Moses het ’n besonder hegte verhouding met God gehad; maar ook hy moes “volgens [God se] wil vra”. In stryd met God se verklaarde voorneme het Moses toestemming gevra om die land Kanaän binne te gaan: “Laat my asseblief oortrek en die goeie land sien wat oorkant die Jordaan lê.” Maar weens sy sonde is daar vroeër vir Moses gesê dat hy nie daardie land sal binnegaan nie. Daarom het Jehovah nie nou Moses se versoek toegestaan nie, maar eerder vir hom gesê: “Dit is nou genoeg! Moet nooit weer met my oor hierdie saak praat nie.”—Deuteronomium 3:25, 26; 32:51.

Die apostel Paulus het gebid vir verligting van wat hy sy “doring in die vlees” genoem het (2 Korintiërs 12:7). Hierdie “doring” verwys moontlik na ’n chroniese oogkwaal of na die voortdurende teistering deur teenstanders en “valse broers” (2 Korintiërs 11:26; Galasiërs 4:14, 15). Paulus het geskryf: “Ek [het] die Here drie keer dringend versoek dat dit van my sou wyk.” Maar God het geweet dat Paulus se volharding in die predikingswerk ondanks hierdie knaende “doring in die vlees” God se krag en Paulus se volkome vertroue op Hom duidelik sou openbaar. God het dus nie Paulus se versoek toegestaan nie, maar eerder vir hom gesê: “My krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring.”—2 Korintiërs 12:8, 9.

Ja, God weet beter as ons of dit in ons belang is om sekere versoeke toe te staan. Jehovah tree altyd tot ons voordeel op, in ooreenstemming met sy liefdevolle voornemens wat in die Bybel opgeteken is.