Oor gebede wat God verhoor
Wat ons by Jesus leer
Oor gebede wat God verhoor
Jesus het dikwels na ’n privaat plek gegaan om te bid, en hy het aanbeveel dat sy volgelinge dieselfde doen. Die Bybel sê: “Toe hy by een geleentheid op ’n sekere plek besig was om te bid, het een van sy dissipels vir hom gesê nadat hy opgehou het: ‘Here, leer ons hoe om te bid’ . . . Hy [het] vir hulle gesê: ‘Wanneer julle bid, sê: “Vader, laat u naam geheilig word”’” (Lukas 5:16; 11:1, 2). So het Jesus getoon dat gebede tot sy Vader, Jehovah, gerig moet word. Hy alleen is ons Skepper en die “Hoorder van die gebed”.—Psalm 65:2.
Skep God behae in alle gebede?
God skep nie behae in die herhaling van gebede wat uit die kop opgesê word nie. Jesus het gesê: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê [nie]” (Matteus 6:7). Ons moet uit die hart met ons hemelse Vader praat. Jesus het eenkeer vir sy volgelinge beklemtoon dat die gebede van ’n sondige persoon wat opreg wou verander, vir God aanneemliker is as die gebede van ’n trotse man wat godsdiensgebruike nougeset onderhou het (Lukas 18:10-14). As ons dus wil hê dat ons gebede verhoor moet word, moet ons nederig daarna streef om te doen wat God vir ons sê. Selfs Jesus het gesê: “Net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge . . . Ek [doen] altyd die dinge . . . wat hom behaag” (Johannes 8:28, 29). Jesus het in gebed gesê: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied.”—Lukas 22:42.
Waarvoor moet ons bid?
Aangesien God se naam belaster is, het Jesus gesê: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde’” (Matteus 6:9, 10). Ons moet bid dat God se Koninkryk kom omdat dit die regering is wat God sal gebruik om sy wil in die hemel en op die aarde te laat geskied. Jesus het gesê dat ons vir “ons brood vir die dag” kan bid. Ons kan Jehovah ook vra oor sekulêre werk, behuising, klere, gesondheidsake en ander aangeleenthede. Daarbenewens het Jesus gesê dat ons om vergifnis moet bid.—Lukas 11:3, 4.
Moet ons vir ander bid?
Jesus het vir ander gebid. Die Bybel sê vir ons: “Jong kinders [is] na hom toe gebring, sodat hy hulle die hande sou oplê en sou bid” (Matteus 19:13). Jesus het vir die apostel Petrus gesê: “Ek het ’n smeekbede vir jou gedoen dat jou geloof jou nie begewe nie” (Lukas 22:32). Jesus het sy volgelinge aangespoor om vir ander te bid, selfs vir dié wat hulle vervolg en beledig.—Matteus 5:44; Lukas 6:28.
Waarom moet ons volhou met gebed?
Jesus het tyd opsygesit vir gebed en het sy volgelinge aangespoor “om altyd te bid en nie moed op te gee nie” (Lukas 18:1). Jehovah nooi ons om ons vertroue in hom te toon deur herhaaldelik met hom te praat oor dinge wat ons raak. “Hou aan vra, en vir julle sal gegee word”, het Jesus gesê. Dit beteken egter nie dat Jehovah teësinnig is om die gebede te verhoor van diegene wat hom as ’n Vader liefhet en respekteer nie. Inteendeel, Jesus het gesê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!”—Lukas 11:5-13.
Vir verdere inligting, sien hoofstuk 17 van die boek Wat leer die Bybel werklik? a
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.