Waarom gebruik Jehovah se Getuies nie beelde in hulle aanbidding nie?
Ons lesers vra
Waarom gebruik Jehovah se Getuies nie beelde in hulle aanbidding nie?
Dwarsoor die wêreld beskou Hindoes, Boeddhiste, Katolieke en lede van die Ortodokse Kerk die gebruik van afgode, beelde en ikone as ’n noodsaaklike deel van hulle aanbidding. In dele van Afrika vereer mense beelde van hout of klip waarin ’n god of die gees van ’n god glo woon.
In teenstelling hiermee gebruik Jehovah se Getuies nie afgode of ikone in enige vorm in hulle aanbidding nie. As jy hulle vergaderplekke besoek, wat as Koninkryksale bekend staan, sal jy nie ikone van “heiliges” of beelde van Jesus of Maria daar vind nie. a Waarom nie? Let op wat die Bybel oor hierdie onderwerp sê.
Wat het God van die Israeliete vereis?
Nadat Jehovah God die Israeliete uit Egipte bevry het, het hy vir hulle duidelike riglyne gegee oor hoe hy aanbid wou word. Die tweede gebod van die Tien Gebooie sê: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of ’n afbeelding van enigiets maak wat bo in die hemel is of wat onder op die aarde is of wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie, want ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.”—Eksodus 20:4, 5.
Terwyl God hierdie gebooie vir Moses gegee het, het die Israeliete ’n goue kalf gemaak, waarskynlik in navolging van Egiptiese diereaanbidding. Hulle het die beeld nie na ’n Egiptiese god vernoem nie. Hulle het dit eerder met die aanbidding van Jehovah verbind (Eksodus 32:5, 6). Hoe het God gereageer? Sy toorn het ontvlam teen diegene wat die afgod vereer het, en Moses het dit vernietig.—Eksodus 32:9, 10, 19, 20.
Later het Jehovah God uitgebrei op die tweede gebod. Hy het die Israeliete deur Moses herinner dat hulle nie vir hulle “’n gesnede beeld [moet] maak nie, die gedaante van enige simbool, die afbeelding van ’n man of ’n vrou, die afbeelding van enige dier wat op die aarde is, die afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die hemel vlieg, die afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, die afbeelding van enige vis wat in die waters onder die aarde is” (Deuteronomium 4:15-18). Dit is duidelik dat die Israeliete nie afgode in enige vorm of gedaante in die aanbidding van God moes gebruik nie.
Nietemin het Israel later in afgodediens verval. Om hulle tereg te wys, het Jehovah profete gestuur wat hulle gewaarsku het dat hulle weens hulle afgodediens beslis gestraf sou word (Jeremia 19:3-5; Amos 2:8). As ’n nasie het Israel God se waarskuwings geïgnoreer. Daarom het Jehovah die Babiloniërs in 607 v.G.J. toegelaat om Jerusalem te vernietig en die nasie gevange te neem.—2 Kronieke 36:20, 21; Jeremia 25:11, 12.
Wat het die eerste-eeuse Christene geglo?
Toe nie-Jode hulle in die eerste eeu tot die Christelike geloof bekeer het, het hulle opgehou Handelinge 19:25, 26.
om afgode in hulle aanbidding van God te gebruik. Let op wat Demetrius, ’n silwersmid wat afgode in Efese gemaak het, oor die apostel Paulus se predikingswerk gesê het: “Manne, julle weet goed dat ons ons voorspoed aan hierdie bedryf te danke het. Ook sien en hoor julle hoe hierdie Paulus nie net in Efese nie, maar in byna die hele landstreek Asië ’n aansienlike menigte oorreed het en hulle tot ’n ander mening gebring het deur te sê dat dié wat met hande gemaak word, nie gode is nie.”—Demetrius se beskuldiging word bevestig deur wat Paulus self gesê het. Toe Paulus met die Grieke in Atene gepraat het, het hy gesê: “Ons [moenie] dink dat die Goddelike Wese gelyk is aan goud of silwer of klip nie, aan iets wat deur die kunsvaardigheid en vindingrykheid van die mens gebeeldhou is nie. God het weliswaar die tye van sulke onkunde oorgesien, maar nou sê hy vir die mensdom dat hulle almal oral berou moet hê” (Handelinge 17:29, 30). Paulus het oor dieselfde onderwerp aan dié in Tessalonika geskryf en hulle geprys met die woorde: ‘Julle het julle van julle afgode tot God gekeer.’—1 Tessalonisense 1:9.
Christene is nie net deur Paulus nie, maar ook deur die apostel Johannes teen die gebruik van afgode in hulle aanbidding gewaarsku. Aan die einde van die eerste eeu het Johannes hulle streng beveel: “Bewaar julle van afgode.”—1 Johannes 5:21.
Jehovah se Getuies is gehoorsaam aan God se duidelike riglyne om nie enige soort beelde in hulle aanbidding te gebruik nie. Hulle neem Jehovah God ernstig op wanneer hy sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie, en ook nie my lof aan gesnede beelde nie.”—Jesaja 42:8.
[Voetnoot]
a In sommige Koninkryksale is daar skilderye van Bybelkarakters. Hierdie prente word egter as versiering gebruik en nie as godsdiensikone vereer nie. Jehovah se Getuies bid nie tot hierdie prente nie en buig hulle ook nie daarvoor neer nie.
[Lokteks op bladsy 31]
“Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie, en ook nie my lof aan gesnede beelde nie.”—Jesaja 42:8.