Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek weet goed watter pyn hulle ly”

“Ek weet goed watter pyn hulle ly”

Kom nader aan God

“Ek weet goed watter pyn hulle ly”

Eksodus 3:1-10

“HEILIG, heilig, heilig is Jehovah” (Jesaja 6:3). Hierdie geïnspireerde woorde toon dat Jehovah God in die hoogste graad rein en suiwer is. ‘Maak sy heiligheid hom ongevoelig of afsydig?’ vra jy dalk. ‘Kan so ’n heilige God werklik omgee vir my—’n sondige, onvolmaakte mens?’ Kom ons ondersoek God se gerusstellende woorde aan Moses, soos opgeteken in Eksodus 3:1-10.

Terwyl Moses eendag skape opgepas het, het hy op ’n baie ongewone toneel afgekom—’n doringbos het gebrand, en tog is dit “nie verteer nie” (Vers 2). Hy het verwonderd nader gegaan om ondersoek in te stel. Deur middel van ’n engel het Jehovah vanuit die vuur met Moses gepraat: “Moenie hier naby kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waar jy staan, is heilige grond” (Vers 5). Dink net—omdat die heilige God deur middel van ’n engel teenwoordig was, het die grond self heilig geword!

Die heilige God het ’n rede gehad om Moses by ’n gesprek te betrek. God het gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en ek het hulle geroep gehoor oor dié wat hulle dryf om te werk; want ek weet goed watter pyn hulle ly” (Vers 7). God was nie blind vir die ellende van sy volk nie; hy was ook nie doof vir hulle smekinge nie. Hy het eerder hulle pyn gevoel. Let op dat God gesê het: “Ek weet goed watter pyn hulle ly.” Aangaande die woorde “Ek weet goed” sê ’n naslaanwerk: “Die uitdrukking impliseer persoonlike gevoel, teerheid en medelye.” Jehovah se woorde aan Moses openbaar dat hy ’n God is wat diep besorg is en omgee.

Wat sou God doen? Hy het nie net met jammerte toegekyk of met medelye geluister nie. Hy is beweeg om op te tree. Hy het hom voorgeneem om sy volk uit Egipte te verlos en hulle te bring “na ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Vers 8). Met die oog hierop het Jehovah Moses die opdrag gegee: ‘Lei my volk uit Egipte uit’ (Vers 10). Getrou aan hierdie opdrag het Moses Israel in 1513 v.G.J. uit Egipte uitgelei.

Jehovah het nie verander nie. Sy hedendaagse aanbidders kan seker wees dat hy hulle teëspoed sien en hulle hulpgeroep hoor. Hy weet goed watter pyn hulle ly. Maar Jehovah voel nie net medelye vir sy toegewyde knegte nie. Die tere God word beweeg om ten behoewe van hulle op te tree, want hy is besorg oor hulle.—1 Petrus 5:7.

God se medelye gee ons rede vir hoop. Met sy hulp kan ons as onvolmaakte mense in ’n mate heilig en vir hom aanneemlik word (1 Petrus 1:15, 16). Een Christenvrou wat met depressie en ontmoediging geworstel het, het vertroosting gevind in die verslag oor Moses se ondervinding by die doringbos. Sy sê: “As Jehovah selfs die grond heilig kan maak, is daar darem seker hoop vir my. Hierdie gedagte het my werklik gehelp.”

Word jy beweeg om meer oor die heilige God, Jehovah, te leer? ’n Hegte verhouding met hom is moontlik, want Jehovah “weet goed hoe ons gevorm is, gedagtig dat ons stof is”.—Psalm 103:14.