Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Hoe het God die beoefening van sterrewiggelary onder die Israeliete beskou?

Volgens een woordeboek is sterrewiggelary, oftewel astrologie, “die bestudering van die bewegings van die planete, son, maan en sterre in die oortuiging dat hierdie bewegings ’n invloed op mense se lewens kan hê”. Terwyl die aarde elke jaar om die son wentel, lyk dit vanaf die aarde asof sterrebeelde van posisie verander. Sedert vroeë tye het mense hierdie veranderinge gesien en groot betekenis daaraan geheg.

Sterrewiggelary het waarskynlik sy oorsprong by die eertydse Babiloniërs gehad, wat die sterre en sterrebeelde aanbid het. Hierdie vorm van aanbidding is later deur die Israeliete beoefen toe hulle van ware aanbidding afgewyk het. Teen die tyd van die Judese koning Josia is sterrewiggelary algemeen in die land beoefen. God se beskouing van sake was duidelik. Die Mosaïese Wet het eeue tevore die aanbidding van sterre op straf van die dood verbied.—Deuteronomium 17:2-5.

Een van die maatreëls wat koning Josia geneem het om die godsdiensgebruike van die Judeërs te hervorm, was ’n verbod op offerandes “vir die son en vir die maan en vir die sterrebeelde van die diereriem en vir die hele leër van die hemel”. Die Bybelverslag sê dat die koning hierdie stap gedoen het omdat hy ‘Jehovah wou volg en sy gebooie wou onderhou’ (2 Konings 23:3-5). Dit dien vandag nog as ’n voorbeeld vir mense wat God “met gees en waarheid” wil aanbid.—Johannes 4:24.

Wie was die “Seuns van Zeus” wat in Handelinge 28:11 genoem word?

Die Bybelboek Handelinge meld dat die apostel Paulus, op pad na Rome, van Malta na Puteoli geseil het op ’n boot wat die boegbeeld “Seuns van Zeus” gehad het (Handelinge 28:11). Sulke embleme was gewild onder eertydse seemanne en reisigers.

Volgens Griekse en Romeinse mitologie het Zeus (ook bekend as Jupiter) en Leda tweelingseuns gehad, Kastor en Polluks. Hierdie “Seuns van Zeus” is onder andere beskou as vaardige seevaarders wat mag oor die wind en golwe gehad het. Hulle is dus as beskermgode van seemanne vereer. Reisigers het offerandes aan hulle gebring en hulle beskerming tydens storms afgesmeek. Daar is algemeen geglo dat die tweelinggode hulleself en hulle beskermingskrag geopenbaar het in die vorm van die St. Elmsvuur, ’n elektriese gloed wat soms gedurende ’n storm aan die maste van skepe verskyn.

Die aanbidding van Kastor en Polluks was wydverspreid onder die Grieke en Romeine, en een eertydse bron maak spesifiek melding daarvan in die gebied om Sirene, Noord-Afrika. Die boot wat in Handelinge genoem word, was van die nabygeleë Aleksandrië, in Egipte.

[Prent op bladsy 9]

Babiloniese grafsuil wat koning Nasimaroettasj en sterrebeelde uitbeeld

[Prent op bladsy 9]

Denariusmuntstuk met die “Seuns van Zeus” daarop, 114-113 v.G.J.

[Foto-erkennings op bladsy 9]

Grafsuil: Réunion des Musées Nationaux/Art Resource, NY; muntstuk: Courtesy Classical Numismatic Group, Inc./cngcoins.com