Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kweek goddelike liefde aan

Kweek goddelike liefde aan

Kweek goddelike liefde aan

WARE liefde word eerste genoem onder die eienskappe wat die vrug van God se gees uitmaak (Galasiërs 5:22, 23). ’n Mens moet God, sy Seun en die hele gemeenskap van Christenbroers regoor die wêreld liefhê (Deuteronomium 6:5; Efesiërs 6:24; 1 Johannes 2:10). Ons moet alle mense, selfs ons vyande, liefhê, en ons moet Christelike dade teenoor hulle verrig (Matteus 5:44). Geen wet kan hierdie liefde beperk nie. Dit kan te eniger tyd of op enige plek en in enige mate betoon word teenoor diegene aan wie dit toekom.

Hoe goddelike liefde optree

Goddelike liefde is so wonderlik dat dit moeilik is om te omskryf. Dit is makliker om te verduidelik hoe dit optree. Die apostel Paulus beskryf verskeie aspekte van liefde in 1 Korintiërs 13:4-7: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.” Ons sal elkeen van hierdie aspekte in die volgende paragrawe ondersoek.

“Die liefde is lankmoedig en goedhartig.” Dit verdra ongunstige omstandighede en die verkeerde dade van ander. Die doelwit hiervan is die uiteindelike redding van diegene wat verkeerd doen en ook om ten slotte Jehovah se soewereiniteit te regverdig (2 Petrus 3:15). Die liefde is goedhartig, ongeag wat die irritasie is. Nietemin kan die liefde ferm wees en ter wille van regverdigheid doen wat reg is. Diegene met gesag in die gemeente dissiplineer oortreders dalk, maar selfs dan moet hulle goedhartigheid aan die dag lê.—Romeine 2:4.

“Die liefde is nie jaloers nie.” Dit is nie afgunstig oor die goeie dinge wat ander kry nie. Die liefde verbly hom wanneer iemand anders ’n posisie van groter verantwoordelikheid ontvang. Dit misgun selfs nie vyande die goeie dinge wat hulle ontvang nie. Dit is vrygewig. God laat sy reën val op die regverdiges en die onregverdiges (Matteus 5:45). God se knegte wat liefde het, is tevrede met hulle lot en hulle plek en tree dus nie aanmatigend op en streef nie uit selfsug iemand anders se posisie na nie.—1 Timoteus 6:6-8.

Die liefde “praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie”. Dit begeer nie die lof en bewondering van mense nie (Psalm 75:4-7). Iemand wat liefde het, sal nie ’n ander verneder om homself beter te laat lyk nie. Hy sal eerder God verheerlik en ander opreg aanmoedig en opbou (1 Tessalonisense 1:2, 3). Hy sal nie spog oor wat hy gaan doen nie (Spreuke 27:1). Hy sal besef dat alles wat hy doen, te danke is aan die krag wat van Jehovah af kom.—Psalm 34:2.

Die liefde “gedra hom nie onwelvoeglik nie”. Dit is nie ongemanierd nie. Dit maak hom nie skuldig aan onwelvoeglike gedrag, soos seksuele wangedrag of skokkende dade nie. Dit is nie onbeskof, vulgêr, ongemanierd, parmantig, grof of oneerbiedig teenoor enigiemand nie. Iemand wat liefde het, sal nie dinge doen wat, weens die indruk wat dit skep of as gevolg van die dade self, sy Christenbroers ontstel nie. Paulus het vir die gemeente in Korinte gesê: “Laat alles welvoeglik en volgens reëling geskied” (1 Korintiërs 14:40). Liefde sal ’n mens ook beweeg om eerbaar te wandel voor ander wat nie Christengelowiges is nie.—Romeine 13:13.

Die liefde “soek nie sy eie belang nie”. Dit pas die beginsel toe: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Korintiërs 10:24). Hierdie opregte besorgdheid oor ander is een van die sterkste dryfvere agter liefde, en dit is ook een van die doeltreffendste en voordeligste dryfvere weens die resultate wat dit voortbring. Iemand wat liefde het, dring nie daarop aan dat alles op sy manier gedoen word nie (1 Korintiërs 9:22, 23). Die liefde dring ook nie op sy “regte” aan nie; dit is meer besorg oor die geestelike welsyn van die ander persoon.—Romeine 14:13, 15.

Die liefde “raak nie ergerlik nie”. Dit soek nie na ’n geleentheid of ’n verskoning om ergerlik te raak nie. Dit word nie beweeg tot vlae van toorn, wat een van die werke van die vlees is nie (Galasiërs 5:19, 20). Iemand wat liefde het, neem nie maklik aanstoot aan wat ander sê of doen nie. Hy is nie bang dat sy persoonlike “waardigheid” dalk geskend sal word nie.

Die liefde “hou nie boek van die kwaad nie”. Dit beskou ’n onreg nie as iets waarvan ‘boekgehou’ moet word en waarvoor daar later vergoed moet word nie, terwyl dit intussen geen verhouding toelaat tussen die veronregte en die oortreder nie. Dít sou ’n wraaksugtige gees openbaar, wat in die Bybel veroordeel word (Levitikus 19:18). Die liefde sal nie bose beweegredes aan iemand anders toeskryf nie, maar sal geneig wees om toegewings te maak en ander die voordeel van die twyfel te gee.—Romeine 14:1, 5.

Die liefde “is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid”. Die liefde is bly saam met die waarheid selfs as dit vorige opvattings omverwerp. Dit bly by God se Woord van waarheid. Dit kies altyd kant vir wat reg is en skep geen behae in verkeerde dinge, in leuens of in enige vorm van ongeregtigheid nie, ongeag wie die slagoffer is, al is dit ’n vyand. As iets verkeerd of misleidend is, is die liefde nie bang om dit ter wille van die waarheid en van ander bloot te lê nie (Galasiërs 2:11-14). Dit sal ook eerder onreg ly as om nog ’n onreg te pleeg in ’n poging om die saak reg te stel.—Romeine 12:17, 20.

Die liefde “verdra alles”. Dit is bereid om te volhard, om ter wille van regverdigheid te ly. Iemand wat liefde het, sal nie gou wees om ander te vertel van die een wat hom veronreg het nie. As die oortreding nie te ernstig is nie, sal hy dit oor die hoof sien. Anders sal hy, indien dit van toepassing is, die riglyne volg wat Jesus in Matteus 18:15-17 aanbeveel het. As die ander persoon in so ’n geval om vergifnis vra nadat die oortreding privaat aan hom uitgewys is en hy die skade herstel, sal iemand wat liefde het, hom opreg vergewe.—Spreuke 17:9.

Die liefde “glo alles”. Die liefde glo wat God in sy Woord van waarheid sê, selfs al lyk dit op die oog af of dit nie so kan wees nie en al spot die ongelowige wêreld daarmee. Die liefde stel ook vertroue in God se leiding van die Christengemeente en Sy aangestelde knegte en ondersteun hulle besluite wat op God se Woord gegrond is (Hebreërs 13:17). Die liefde is egter nie liggelowig nie, en dit toets alles teen die Bybel as meetsnoer (1 Johannes 4:1). Die liefde wek vertroue in getroue Christenbroers; ’n Christen sal hulle nie met agterdog bejeën of wantrou tensy daar onweerlegbare bewyse is dat hulle verkeerd is nie.—2 Korintiërs 2:3.

Die liefde “hoop alles”. Dit hoop op alles wat Jehovah belowe het (Romeine 12:12). Dit hou aan werk en wag geduldig dat Jehovah vrugte laat voortspruit, dinge laat groei (1 Korintiërs 3:7). Iemand wat liefde het, sal hoop op die beste vir sy Christenbroers in watter omstandighede hulle ook al verkeer, selfs al is party dalk swak in die geloof.—2 Petrus 3:15.

Die liefde “verduur alles”. Liefde is noodsaaklik as ’n Christen sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah God wil handhaaf. Ongeag wat die Duiwel doen om die egtheid van ’n Christen se toegewydheid en getrouheid aan God te toets, die liefde sal dit verduur op ’n wyse wat die Christen aan God getrou laat bly.—Romeine 5:3-5.

“Die liefde faal nooit nie.” Dit sal nooit tot ’n einde kom of ophou bestaan nie. Nuwe kennis en begrip stel dalk dinge reg wat ons vroeër geglo het; hoop verander wanneer die verwagte dinge verwesenlik word en daar op nuwe dinge gehoop word, maar liefde bly altyd en word al hoe sterker.—1 Korintiërs 13:8-13.